Flenter-vlerke liefde

0 $

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout

Ek en Krismis

Deur: Jan N. Alleman

Op mooi Engels sê ons baie gemaklik, na ’n besonderse indringende verskil van opinies: “to each his own.” Ek struikel nog so effens met ’n mooi, suiwer Afrikaansevertaling. Nogal soos ek worstel met “rollercoaster” en “gut feeling.” Wipkarretjies en kropgevoel doen dit nie vir my nie.

Iets soos ek en krismis! Ons loop jare al saam. Ons het mekaar doer iewers in die sestigs leer ken, maar ek het hom later jare “ontvriend.” En elke jaar, soos klokslag dan loop klop hy hier aan my deur. En elke jaar, soos soveel jare in die verlede, dan staan en stry ek en krismis dat die spoeg spat.     

Maar hierdie jaar is anders. Hierdie jaar het ek die deurklokkie se batterye uitgehaal en om alles te kroon, ek ry weg! Weg na ’n ander oord toe. Daar waar daar nie ‘lektrisiteit is nie, of selfoon ontvangs, of enige draadlose internet, of enige iets in dier voege nie. ik heb een broertje doodaan alle krakelingen.

Verstaan tog, asseblief: Ek glo aan ’n skeppende Vader wat Sy Seun gestuur het vir die deurmekaar gedolwe, die Nederlanders sê dit tog so raak, rommelig gedolwe mensdom. Rommelig klink vir my besonders raak…

Daar is legio wat nie met my saam gesels nie, maar, dan is daar legio wat glad nie eers met my WIL gesels nie. Dit is ook goed, ek verstaan. Julle het, soos ek, ook binnegoedjies. Verstaan tog asseblief, ek dink ek het dit al gevra, ek hou nie van die ou met die rooi jas wat die kinders so belieg nie. Soos ’n vrind van ouds sou gesê het: “Ek laaik hom niks!”

Dis nou hier waar ons by daai vertaling kom en ek dink dis nogal gepas om te sê: “elkeen maak soos hy smaak.” Vir die wat verkies om Afrikaans uit ’n porseleinkoppie, pinkie in die lug, teugie vir teugie te proe: Elkeen na sy eie smaak …

Die Taal van die Hart

0 $

Deur Jan N. Alleman

 


Geliefdes, dierbares, vriende, vriendinne, familie, kollegas, volgelinge, vervolgers en belangstellendes, elke horende en nie horende oor:

Ieder het al ietwat te sê gehad oor ’n sanger en sy politieke polemieke. Lief my. Loof my. Draai maar ’n dowe oor of ’n blinde oog of braai my, maar my stoelkussing brand rooi-warm stoofplaat onder my agterend.

Dit is hoogtyd dat ek ook tog ’n stuiwertjie in die beurs moet plaas. Let wel, plaas, nie gooi nie. Nee, gooi klink gewelddadig en dit is allermins my bedoeling. Ook nie werp nie, dit klink soos roekeloos wegslinger. Plaas, netjies en sagkens met innige gevoel van deernis en ‘n deur dronke empatie met hoe andersdenkendes van my volkie voel.

Dink ek aan die nuwe Phoenix van Afrikaans en sy welkome pogings om so ’n Louis Botha van ouds die Afrikaner volkie tot nuwe hoogtes aan te roer. Dié streef om hulle te verenig in mensies met ’n doel! Dan kan ek nie anders as om aan die ou tante op die klein dorpie iewers in die suiderland te dink nie. Die tante was welbekend vir haar geduld, wysheid en onvermoë om kwaad in enige mens te sien.

Welbekende storie hierdie, welbekend. Dit was juis die tante se roekelose onvermoë wat die plaaslike kerkraad en bekleër van die toga warm onder die boordjie gelaat het. Tog! Daar is waarheid: Elke mense moet een of ander tyd besef dat daar nie net goed in alles is nie. Gewapen met ’n strikvraag, nes ’n fariseër van ouds, neem dominee die plig op hom om die tante te besoek en te verlig. Dit is nou verlig soos in die Oosterse konteks – om die oë te laat oopgaan!

“Tante, u sien net altyd goed en praat net altyd goed van ander, maar daar moet tog iemand wees wat u as boos, of sleg, of minder goed beskou, dan nie?”

Die tante kyk van haar hekelwerk op en dominee raak effens op sy senuwees en las haastig aan: “Ek bedoel nou neem die ou listige duiwel, wat goed is daar in hom?”

Die tante sit haar hekelwerk op die tafel neer en staar stip in die man van die kleed se oë. Na ’n lang, baie ongemaklike stilte sê sy: “Dominee, jy moet erken, die duiwel het geen lui haar op sy kop nie…”

Nou laat dit baie duidelik en onomwonde hier op skrif staan: Vir geen oomblik vergelyk ek onse sangertjie met die duiwel nie! Nooit sal ek dit durf waag om so iets kwyt te raak nie! Wat my wel roer is hoe die herder en die raad so innig meegevoer was deur die vloed van hulle begeertes om iets te probeer bewys dat hulle die kruks van die saak gemis het! “Die pot mis gesit het,” sou my Oumatjie gesê het, en vir al die minder jonger garde wat weet van katels, koffers en kose sal die prentjie in my geestesoog baie mooi verstaan.

Ek betwyfel vir geen oomblik dat onse sangertjie belang daarin het om Afrikaans en die belange van die Afrikaner te bevorder nie, maar, soos die Ingelse sal sê, wat is die “spinoff” daarvan vir hom? Wag, wag! Moenie my sê nie. Gratis bemarking. Gratis massa bemarking en ’n ondersteuners aanwas van… wie weet en wie kan raai – en wie gee ‘n duit om.

Ons vir jou Suid-Afrika. Ons werp ons stuiwers, munt en noot, in beurse – beurse wat soos voerkraal beeste gedy. Solank iemand net tog asseblief die regte goeterse sê. Solank die voor-praters tog net klink asof hulle ons “song” sing. Solank my ras verkleurde hart net ’n strooihalm hoop kan vasgryp en glo dat God ons uitverkies het…

Sit ek hier voor my rekenaartjie en ek wonder hoeveel van Meester Adam Small se mense se stemme saam sal opklink oor hulle se taal – Afrikaans. Of ou Maria, ons Sotho huishoudster in die 70’s, wat sonder skroom niks ander as Afrikaans wou praat nie. Hoe voel sy? Hoe voel die kinders van die Kaapse vlaktes wat net in Afrikaans kan speel, maar wat swart onder die Afrika-son verbrand is! Ja, Afrikaans is GROOT! Dis groter as ’n kleur, ’n sanger, ’n politikus of enige groep mense.

Hier is my stuiwer, wat ek sagkens, liefdevol in die oorvol koffer wil plaas: Afrikaans is die taal van ’n hart, nie die taal van ’n velkleur nie.

 

Taxi is ‘n Emosie

Deur – Jan N. Alleman

 

(Vir regverdigheid moet ons toelaat dat alle manlike vorme ook die vroulike mag insluit)

 

Net ‘n taxi!

 

  • Dit is etenstyd en almal blits met die korste moontlike roete huis toe. Niemand hou van herkou-siekte nie: Wanneer jy by die huis sluk en by die werk kou. Almal is haastig.  Almal wil graag genoeg tyd hê om te kan kou, te sluk en te begin verteer voordat hulle van die bak na die vak moet terug haas. Net ‘n taxi kan langs jou by die rooi verkeerslig stop en op die laaste oomblikke, net voor die verkeerslig na groen verander, voor jou in draai. Net ‘n taxi kan dan, met ewige onskuld, by die volgende kruising voor jou stop om “kliënte te diens.” Die verkeerslig verander net drie keer…

 

  • Jy sit rustig in jou motor. Onverstoord besig met jou amateur-sielkunde. Dit is ‘n fyn kuns om mense so op die straat te beoordeel. Net ‘n taxi kan langs jou kom parkeer en die mees ondenkbare, onluisterbare, brein benewelende kakofonie op jou ore ontlaai. Net ‘n taxi kan dit teen die hoogste moontlike volume speel terwyl die bestuurder luidkeels na moontlike kliënte roep. Net ‘n taxi kan jou die volgende dag vermaan om jou strelende musiek sagter te stel sodat hy sy middagslapie kan geniet terwyl sy passasier geld by die outo-teller trek.

 

  • Net ‘n taxi kan van die vêrste regterkantse verkeersbaan links oor die verkeer draai. ‘n Taxi mag dit doen… net ’n druk of twee op die toeter en alles is reg, of weg!

 

  • Jy sit gerus, met die vrede van die heelal in jou hart, in die middel van die verkeer. Die Proteas het vir die eerste keer in ses en sestig jaar weer ‘n wedstryd gewen en, al het die Springbokke verloor, is die lewe goed, fantasties. Eensklaps ruk A707 voor jou totstilstand en drie deure vlieg gelyktydig oop. Jou eie YouTube-kapping flits voor jou oë. A707 het net gou in die middelste verkeersbaan gestop om passasiers op en af te laai. Hy skroom nie vir ‘n oomblik om jou baie duidelik, en met geen onseker handgebare, te laat verstaan dat jy die keuse het om of links of regs by hom verby te gaan nie. Net ‘n Taxi kan daardie emosie van woede en blydskap gelyktydig in jou laat op wel. Soet en bitter water in dieselfde put.

 

  • Net ‘n taxi kan teen die verkeer in ’n een rigting straatop ry omdat hy sestig sekondes van besigheid sal verloor as hy om die blok moes ry.

 

  • Net ‘n taxi kan in die druk verkeer dubbel parkeer om die stof van sy motor af te vee. Net ‘n taxi kan twee minute later al sy frustrasie op jou ontlaai omdat jy dit durf waag om iemand anders ’n kans te gee om uit ’n parkeerplek te trek sodat jy daar kan parkeer.

 

  • ‘n Volkswagen kombi word geregistreer om sewe persoon te vervoer, maar jan en alleman weet, en ons was almal daar, dat jy heelwat meer mensies kan in bondel. Net ‘n taxi kan meer mense in ’n Volkswagen Polo laai.

 

Net ‘n taxi kan jou briesend histeries laat lag. ‘n Taxi is die verpersoonliking van gemengde gevoelens. Dis nie net ’n voertuig nie, dit is ’n emosie!

 

“Springbok rugby gee my so taxi gevoel.”

 

 

My verlatenheid huil

0 $

onder die geloei van die wind
waaier wolke deur kliptralies
soos droombesems waar hulle
teen die gekneusde horison
stilweg prentjies verf

deur die growwe klipvenster klink
my gesug soos monniksgebede
onder die son wat water trek
teen die blou-blou lug

die dink het my hier verloor
terwyl wind en sand
banaal tot in ewigheid
skommel en bly voortwoel

my verlatenheid huil
in somber kleure
(buite ‘n bekende
wentelbaan) waar
dit in bittertrane
losbreek en vlug

© Anzé Bezuidenhout

Jy is my vrede

0 $

waar jy my hare saggies in sterstof verf
het die maan jaloers gekyk
hoe die melkweg in spikkels
deur my oë tree

my vingers boetseer jou hart se klop
as jy ‘n duisend vuurvliegies inmekaarvleg
en dit laat sirkel om die skerfiemaan
tot dit in my hartklop kon anker gooi

die son van jou liefde het soos
‘n oranje appelkoos geskitter
en my getrek soos ‘n mot na ‘n kers
met my vlerke wiegend op die wind

in jou hitte het ek vrede gevind.

© Anzé Bezuidenhout

Heitsi Eibeb

Image result for eland jackal

Heitsi Eibeb.

In my kinderdae was daar ‘n paar Boesmans wat vir my pa op die plaas Scott gewerk het. Hul het almal ‘n deel van my lewe geword. Dis immers by hul wat ek baie van my veld kennis geleer het.

Alex was die baas storie verteller en nabootser. In die aande het ek en my broer ure by die boesmans se vure gesit en luister na sy stories. Alex was die enigste Jul’hoansi of soos ons sommer gesê het, Tsumkwe boesman.

Die ander boesmans op die plaas was almal Hi//Kum ( direk vertaal boomslapers) Hul taal het ‘n bietjie van ‘n ander dialek as die Tsumkwes. Maar die gode, gebruike en spoke was maar by altwee die selfde.

Lees meer Heitsi Eibeb

JAKOB, STAAN OP!

 

 

 

 

 

 

 

 

Dis Saterdagoggend. Die son maak groot oog op die oosterkim. Hy verf die paar wolkies met ‘n prag keuse van rooi en oranje. Die skril gil van ‘n paar sonbesies voorspel ‘n snikhete dag. Almal, mens en dier, verstaan dat ‘n rusplekkie in die skaduwee vandag ‘n genadige voorreg is.

Ek sit hier op my naweek stoel en staar oor die vroegoggend vlaktes; diep versonke in gedagtes oor die lot van die wêreld. Gevoelentes woel hier in my borskas en breinkas! Ek sukkel om die haat en nyd en verdriet en woede van die mensdom te verstaan. Die arms van rede kry dit nie reg om die oorsaak van die goeters vas te gryp nie. Ek sukkel en… ek staar.

“Waarna staar jy?” vra die oulikste, en mooiste, mens in my lewe hier neffens my.

Lees meer JAKOB, STAAN OP!

Adverteer Jouself

 

Onder die afdeling “Wie doen Wat” gee ons aan elkeen van ons skrywers geleentheid om ‘n artikel of advertensie te plaas wat hul persoonlike produkte, handwerk of dienste bekendstel en bemark.

Vertel ons ook meer van jouself en waar jy jou bevind.

Verder – indien jy ‘n skakel het na jou eie webtuiste of fb-blad waar jou produk/diens geadverteer word – kan jy die skakel ook op jou artikel inbring.

Maak gerus gebruik van hierdie geleentheid – dit is gratis vir alle DNS-lede.

Namibgroete

Meraai

 

Namibnuus en Artikels

Ons is nou op die stadium waar die skrywers wat sover opgeteken het, elkeen sy eie blad het en in rus en vrede hul blad kan versorg.

Maar ons kan nie daar gaan stilstaan nie. Om mense te lok wat weer en weer terugkom – nie net as besoekers nie, maar as intekenaars – het ons jul samewerking nodig om die blad interessant te maak en te hou.

Daarom gaan ek nog ‘n afdeling inbring:-

Groete en Goeters:- hier soek ek asseblief gereelde bydraes met foto’s en videos van interessante en mooi dinge wat in jou dorp of area gebeur.

Nie net in Namibia nie, maar van oral in die wereld waar ons Afrikaanse skrywers hulle mag bevind.

Jy kan jou artikel of nuus direk plaas as ‘n nuwe Post – of jy kan die inligting vir my vonkpos en ek sal dit laai.

Gebruik die kitspos gedeelte by “Kontak” ons of stuur dit direk aan my.

Opskud – ek wag!

Namibgroete

Meraai

Veg of vlug – deur Martha Poller

“Goeie dôner, Emma, het jy nou wragtag gedink ek gaan jou nie herken nie?”

Die woorde galm in haar ore. Sy was dan so seker dat sy dit vanaand sal vryspring. Koue rillings gly op en af met haar rug.

Wanneer het dit dan alles so verander? Wie het wanneer haar vrede kom steel? Was dit die dag toe Phillip … . Nee! Moenie daaraan dink nie, bly weg daar, Emma. Dis nie veilig vir jou om daar te gaan nie. Hulle gaan jou gryp en seermaak, Emma. Los uit! Bly weg!

Sy asem brand in haar nek. Sy loop vinniger en vinniger, maar die asem kom nader, al nader. Die boosheid ruik na salpeter en verbrande bloed, dink sy by haarself. Sy weet sy moet hardloop, maar haar bene is soos met lood gevul – sy kan haar voete beswaarlik oplig om voort te vlug.

Lees meer Veg of vlug – deur Martha Poller

Meer oor Koster

Uittreksel uit Straatligte in die mis:-

 

12. My Moeder

Ek sien my moeder glimlag uit die hemel vir my

Sy was die beste mamma op aarde te kry

Sy het ons laat opgroei om mekaar lief te hê

Die heel beste mamma kan ek met reg sê

 

Lees meer Meer oor Koster

Meer oor Moekie

0 $

                                                          Tweede kans

Hy het lelik drooggemaak. Soos wat hy al in sy lewe verbrou het, is dit geen wonder dis nou pay back time nie.

Gustavo van Zyl is ʼn gesogte vrygesel. Sy ouers het seker toentertyd al baie gelees om hom so ʼn nie-Afrikaanse naam te gee.

Vir jare het hierdie naam met sy eksotiese klank deure by die skoner geslag vir hom geopen. Net by die aanhoor van sy naam, nog voor hulle hom ontmoet het, swymel hulle al. Menige blind date het in ʼn ernstige verhouding ontaard. Maar trou en rustig raak? Aikona.

Lees meer Meer oor Moekie

Meer van Marsofine

Woorde wat waai

Marsofine se debuutbundel is pas vrygestel.

Sy het verskeie ATKV toekennings vir die gedigte in hierdie bundel ontvang.

Bestel hierdie “moet hê”  direk by haar teen 

N$ 150-00

Jy kan haar vonkpos by marsdrey@yahoo.com

of ‘n boodskap op hierdie blog los of op kontak haar op haar skryfblad

https://www.facebook.com/Marsofine-Skryf-163290104621296/

Meer van Martha

Boeke deur Martha Poller

Tuiskoms:

Bestaan uit kort stukkies wat op haar blog verskyn het.

Hagar:

‘n Bybelse roman oor die lewe van Hagar, Sara en Abraham.

Albei is uitgegee deur Malherbe Uitgewers en kan bestel word by die volgende skakel.

https://www.malherbe-uitgewers.co.za/martha-poller

Of los vir Martha ‘n boodskap op die blog of op haar blad onder Skrywers.

 

 

Proeflees


ek vra nie
vir wonderwerke en weelde nie.
ook nie vir oplossings of antwoorde nie.
al wat ek begeer,
is om gelees te word.
verdwaal in my grysdoolhof, waar verlange en behoeftes gekerf is,
waar onthou-skatte en wil-wese lê en wag.
lees tussen my lyne,
sien dieper as die kurwes en letsels,
die rondings en smag-lippe.
blaai rustig deur die girtselings van gisters en harsingshades.
lees my, skaaf aan my gedig,
en maak van my ‘n meesterstuk

@ANGELHEYNS

Jy en My

Kokon my toe
in ragfyn sy.
Bely dan,
herhaaldelik,
jou gevoel vir my.
Stryk my neer,
maak glad my siel;
Laat my vergeet
ek was ooit verniel.
Beveg die drake,
ontbind die vloek…
Oortuig my
dat ek
al een is,
waarna jy na soek.
Gee
aan my
asem,
en maak my weer heel:
met die hartswoorde
en
smagsels,
Wat my
heelhart
steel.
©ANGELHEYNS