Kortkuns Gr 10 -12 #2

Griffel Wenners

2de plek: Susanne du Toit van WAP, Windhoek

Genadelose genade

(Petteri Sianio)

Die vroeë briesie ritsel die vars groen blare wakker na die lang winterkoue. Kinderlaggies warrel op en meng met die sagte agtergrondmusiek komende uit die sitkamer van die ou klassieke huis. Vrolike stemme smelt in die geselligheid wat homself afspeel in die lowergroen tuin voor die huis. Die huis is wit afgeëts teen die golwende groen heuwels.  Lanings vrugtebome vorm die roete huis toe. Helderkleurige blomme breek die wit mure en die reuk van jasmyn kan duidelik uitgeken word. 

Die afbeelding van ‘n man en ‘n vrou skyn helder teen die wit muur waar hulle grasieus dans.  Klein kinderhandjies klap vrolik saam.  Langs die ou bloekomboom kreun tafels onder borde vol geurige kos en vul die area met harmonie en geluk. 

En dan word die geselligheid gebreek deur die weergalming van die harde klanke van geweerskote.  Verwarring en die reuk van kruit omskep hierdie geselligheid in ‘n warboel van bewegings.  Perdepote klink helder op soos die hoefysters die plaveisel tref.  Skril stemmetjies meng met die angs van onsekerheid.  Bevele word uitgeskree en almal word soos vasgekeerde diere omsingel. 

‘n Dreigende soektog word geloods en soldate in bruin uniforms geklee, marsjeer tussen hulle deur.  Voetstappe weerklink op die houttrappe van die huis.  ‘n Skaduwee skuif stil-stil agter die eeu-oue staanhorlosie in die hoek van die sitkamer.  Stewels klink helder op en die asemhalings skeur die oomblik.  Die formidabele skaduwee smelt ineen met die afbeelding van die staanhorlosie en tyd gaan staan stil.  Sekondes tik af.  Die reuk van sweet en angs vul die vertrek soos  vyand en vriende mekaar aanvoel, maar fisies ontwyk.  Kamerdeure word oop en toe gemaak en die soektog duur voort.  Die lang geweefde gordyne hang swaar en geruisloos, terwyl die miershoop van bedrywighede die lug vul.  Swaar voetstappe sleep tot voor die staanhorlosie en sekondes word minute en ewig word ‘n moontlikheid.  Die staanhorlosie slaan hard en stadig begin die tyd weer tik-tik.

Bruin uniforms en swaar stewels beweeg uit en in gelid verlaat die bedreigings die huis en saam ook die angs wat soos ‘n donderslag gedreig het. 

‘n Skaduwee verskyn van agter die staanhorlosie en die groot beeld van ‘n man kom staan weer sy plek vol voor sy vrou en kinders.  Genade knak sy knieë en hy sak stadig neer tot op die plaveisel.  Liefde en verligting slaan sy arms om die ewigheid van nou.

Met trots geborg

Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

cumulus mediocris

sigbare massa vloeistofdruppels

of selfs bevrore kristalle wat

hoog in die atmosfeer hang

bo die aarde of hemelliggame

soms selfs verwys na as: nebulae


hoe dit ook al sy – wolke maak

ons nederig dankbaar vir reën

drie dennebome kyk hoopvol

op na die hemel en sug sag

wanneer kom die reën uit Sy hand?


©Marlene Erasmus

31/01/2019

oëverblindery

jou voorkoms in stervorm

fyn haartjies dans op jou

so vredig volmaak gevorm

vlesig blare in maroen omvou


met jou mooie aansien

verblind jy menigte mens

dit moet egter ander doel dien

voortbestaan is jou enigste wens


vlesig blare in fyn fluweel

met dansend diep donker kleure

wil jy insekte se vryheid steel

lok hul aan met vrot vleis geure


Vader, gee dat ons eie geur

U prent in ons mooi sal kleur ...

©Marlene Erasmus

30/01/2019

sonsoekende sonneblom

al in jou botselstadium soek jy die son
draai jy jou kop om son se spoor te volg
met sonop tuur jy blindelings ooswaarts

soos die dag sleepvoet aanstap volg jy
slaafs die son van die ooste na die weste
geveerdes en soogdiere klein baljaar in jou

met jou giggelgeel blomblare straal jy 
sonstraal vreugde uit in gerwe geluk 
Helianthus annuus – sonnige suksesverhaal …

©Marlene Erasmus
29/01/2019

saad-woorde

saad-woorde

 

gedagtes word woord-sade

uit my siele-huis groei genade

my gedagtes wat groei en bloei

dra vrugte: ink wat op papier vloei

 

soms sê dit min en soms meer

alles wat my droom en begeer

versorg met omgee en verstaan

in my siel se herfstuin bestaan

koester ek my hart met sonskyn lag

beskerm teen kil koue wintersnag

mag daar in my sielstuin geen verniel

wees want woorde is sade van my siel ...

 

©Marlene Erasmus

24/01/2019

 

 

Digter voor die Here

0 $


Ek het vermetel gestaan voor die Here

en gepraat oor die brandende spoelklip.

Here, hy gloei rooi van skeppingsvuur –

dis ‘n stom klip wat swaar klots

aan gedompelde ongekende gesange.

Neem U die skroeiende rots

en stort dit in die see

sou dit U Naam geval

Maar die Here laat die klippe kabbel.

Gloeiing word ‘n branding,

swiep my suinige verwagting

nuut.

O gloed van vervulling as die woord

volrond kom lê in die mond!

O vloek van die aanskyn se sweet!

O vloek van ‘n nuutgeskape god

aan wie ek offer my vrede vir ‘n lensiepot vol nyd!

Ja, ek beitel ‘n beeld uit die bot klip –

‘n stoornis van heilige stiltes.

Ek veg om die groter gloed,

‘n binneaarse wete van Woord en Gees.

Here, ek bid: hoe maak ek hierdie klip

ondergeskik?

©Marieta McGrath

Die Berghaan Bid

0 $

Ek onthou so goed toe ek die berghaan afgeneem het en gedink het, die voël bid dan! Dit was half vier die middag, skroeiend warm. Die sweet het sulke straaltjies teen my rug afgeloop, maar ek wou nie die kamera neersit nie. Die kar se ruite was almal oop, en nie ‘n luggie het getrek nie. En al wat jy hoor, is die stilte, jy kon tot die versengende hitte se hortende asemhaling hoor.

Soos die berghaan, het ek die een oog in die lens gehou en met die ander ene na bo gekyk. Op soek na ‘n wolkie. ‘n Wolkie wat belofte kan bring…of hoop…

Maar daar was niks. Net die blou blou uitspansel, met ‘n groot geel kol agter my, wat alles verskroei het. Daar is geen genade nie. Jy moet dit uitsweet, jou versugtinge, jou hoop, jou onuitgesproke gebede, jou verlange na wie weet wat.

Die berghaan het sy kop laat sak, en begin bid. Ek het saam met hom gebid. Vir uitkoms, vir lafenis, vir vergifnis.

©Rae de Lange 5/01/2019
foto’s geneem deur myself

Tik-tak

Daar loop sy in haar mini
Manne, jul wil dit nie sien nie
Tik-tak, tik-tak trippel sy daar
Ek moet net keer om nie te staar

Die boudjies swaai heen en weer
Ek kan my glimlag nie keer
Waar gaan sy so arrogant heen
Met haar slanke lyfie, soos geeneen

Met haar onberispelike houding
Lyk dit of sy vir die sterre kan sing
Met wimpers wat wapper en wink
Wonder sy wat almal van haar dink

“My mens, en toe gebeur dit mos:
Daar trek sy met n geblaf los!
Boeta, jy verstaan nie, jy moes dit hoor-
Die gekef klink toe soos ‘n “kief-kief” op die oor!

(c) Katrien

Die Boek

Dit is altyd nodig om te weet
Dat Jesus het jou lief
En ons moet nimmer ooit vergeet
Die Bybel is ‘n brief

‘n Liefdes brief geskryf vir jou en my
Met aanwysings om op Sy pad te bly
Om die Bybel altyd goed te lees
Moet vir my en jou baie kosbaar wees

Die Here sê, kom na My, groot en klein
Want ‘n lewensplan het ek met elke een
Ek sal jou was, en Ek maak jou rein
As jy wil, kan jy op My skouer ween

Ja, die Bybel is ‘n heiligeboek
En ons hoef nie veel verder te soek
Vir vreugde, geluk en voorsiening kan ons vra
As ons die aanwysings volg, sê Jesus altyd JA!

(c)Katrien

Vertel die storie

Kom ek vertel die storie
Van die Here wat ek ken
Die Teer en sagte Vader
Wat sorg vir jou en my
In swaarkry en in teenspoed
Ons seerkry en ons pyn
Die Vader wat als weer reg maak
Vir jou en vir my

As mens moet ons mos sterk staan
Maak nie saak wat gebeur nie
Hy sit en wag vir jou en my
Moenie wag nie, roep Hom aan

Kom ek vertel jou van ons Heer
Ons Teer en sagte Vader
Hy praat nie uit nie, vetrou die Heer
Hy wag vir jou en my
Saggies en teer neem Hy die seer
En dra jou in Sy Hand
Hy druk jou styf teen Hom nou vas
En beloon jou vir elke traan

(c)Katrien

Kaalvoet kind

Dit is n dorre dag
Die buite lug skerp en hard
Sy sit daar in die son
Geen hoed of skoen

Die briesie stoot saggies deur haar blonde hare
Haar hare lank, dor en droog
Sy lyk salig en tevrede

Haar vel donker gebrand deur die son
Haar kleerjies skraal en min
Want dit is net sy alleen

Sy staan stadig op
Soos n wildsbokkie in die ope natuur
Huppel sy na die waterstroompie
Haar tenger lyfie sit sy neer in die rustigeid van die water

Haar huisie arrig en min
Met net vier mure en n stikkende dak
Haar bedjie net n lap op die grond
Haar kleertjies hang op n paar stokkies rond

Sy straal van vrede en geluk
Dit wat sy uitstraal wil jy vas vang
Jy wil dit hê, vir altyd hou
Saggies en stil koester

Die skoonheid van haar dorre omgewing sus haar
Met so min is sy tevrede
Die rustigheid van die niks vang mens vas
Vir nou, vir altyd, vrede

Na die winter

Van winter na somer
Ons het dit almal al ervaar
Die lug was koud en stil
Van ons se gemoed was swaar

Die wind begin speel; saggies
Dit is asof die mens weer lewe kry
Die skare raak al groter
met die wind voel mens vry

Dan, net dan begin dit reen
Eers saggies dan harder en harder
N glimlag verander in n sagte lag
die kettings breek die een na die ander

(c)Katrien

Pierie hoender

Hy skop my hier
Hy skop my daar
Hy skop my op jou wie weet waar

Pierie hoender
Ek gaan jou nek omdraai
Pierie hoender
Ek gaan jou lekker braai

O gaats daar kom hy weer
Ek kan niks doen om hom te keer
Eina! Hy skop my weer
Dit is sommer baie seer

Pierie hoender 
Ek gaan jou nek omdraai
Pierie hoender
Ek gaan jou lekker braai

Nee los!! Dis MY hoender daai

(c)Katrien

Lank lank gelede

Sy sit rustig in die dag se stilte, met net haar gedagtes: diep en stil. Die geraas en gewoel buite pla haar nie regtig nie.

In haar sagte blou oë kan jy haar hart sien glimlag. Haar gedagte het haar very weg geneem.

Skiedelik is dit of sy iets gewaar. Haar kop draai stadig skuins na links. Haar oë beweeg stadig; eers na links, dan weer opwaarts.
Met ‘n effense frons wat op haar voorkop verskyn, kan jy sien iets het haar gedagtes nou in ‘n ander rigting geneem. Iets moois, want sy begin te glimlag.

Wat kan dit wees? Waar het ek dit al geruik? Ek ken dit! Ek kan onthou! Die reuk kom vêr uit my verlede. Baie vêr. Wat het so geruik!?
Dan: skiedelik; verhelder haar gesig. Ek weet! Ek weet! dink sy. Nou onthou ek…… My ouma! Die Plaas! Wow, ek sal daai reuk nooit vergeet.

(c)Katrien

Spore 1

Vier pare spore, so het dit gevoel: of was dit vyf? Ja vyf pare spore met liefde in my hart getrap.

Ses pare spore. Soveel vreugde, soveel liefde. Die trane, die lag, die saamwees.

Toe; is daar net vier. Spore van liefde … maar hoekom soveel trane. Waar is die ander spore heen.

Dit voel soos gister. Dit is seer. Sal dit stop? Dan begin die spore verdof. Voel dit beter?

Net dan, nog spore. Dit trap mens, dit dra mens. Dit maak jou seer. Dit maak jou bly.

Spore vervang die donker met lig. Die lag spore, die trane spore, die opgewonde spore.

Dan, ja dan is daar nege pare spore. Soveel seeninge, of is dit? Soveel liefde, soveel omgee, soveel genade!,

Waar is al die spore heen? Hoekom voel ek so alleen? Hoekom voel die spore so min?

Waar is die spore wat my hart so na verlang? Soms voel ek dit! Ja, dan voel jy hoe die vreugde in jou hart bons! Die liefde, die omgee, die warmte.
Dan is dit weer weg.

Dan wonder jy oor daai een paar spore. Hoe sou dit wees? Die een paar spore: uit jou lewe geskeur! Trane wat niemand sien nie.

Nege pare spore wat trap. Party dae sag, party dae harder, en soms, dan wonder ek, hoekom voel ek dit nie? Vra ek te veel? Verstaan hulle nie?

Daar is ook die altyd spore. Elke dag, wat diep trap! Soveel liefde. Soveel trane. Soveel geduld, wat diep spore in my hart trap.

Met elke dag se harts vreugde wat mens so waardeer. Hierdie ou hart, wat net met spore funksioneer.

Flenter-vlerke liefde

0 $

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout

adiós y aureola

OUJAARSDAG 2018 …

Soos die uurglas se sand uitloop, loop die minute van 2018 uit … Met ‘n mengelmoes van gevoelens kyk ek terug op hierdie jaar. Die jaar het verbygesnel waar dit tog soms gevoel het of die dag nooit einde wil kry.

By tye ‘n “klipperige grondpad”-jaar en by tye “sweef op die wolke”-jaar. As mens gespaar word om aan die einde van nog ‘n jaar stil te word en terug te kyk op die jaar wat was, slaag jou binneste ‘n sug van verlugting …

Soveel om voor dankbaar te wees – soveel om oor opgewonde te wees, ja – met tye het dit gelyk of die donker wolke op jou lewenshorison geen silwer randjie het nie – maar as ek vandag terugkyk, besef ek: ek is deur die minder aangename tye.

Wanneer ek stil word en asem skep – besef ek weereens: God is en bly in beheer … niks gebeur sonder ‘n rede of sonder Sy wil, al lyk dit dikwels vir ons nie so nie.

As ek dan terugkyk en ek beskou my voetspore in die sand is dit met groot dankbaarheid dat ek vol verwagting vorentoe kyk en opgewonde die nuwe roete in jou geestesoog sien …

Nuwe jaar …

Nuwe begin …

Nuwe kanse …

Hiermee vaarwel aan 2018 en hallo aan 2019 …

Marlene Erasmus

31/12/2018