‘n Bruin blaar tuimel

woordvanger 

ek gooi die net blindelings in
sleep die woorde nes blink lywe op droë papier
om die brak te verlos
sodat sout in waardige kristalle
of swart of wit
selfs pienk gekaats word
vir onlawwe smaak, ontsmetting en preservering

woorde moet uiteindelik swart op wit lê

(c)Henriëtte van Wyk
Bestel op Amazon

Henriëtte van Wyk deel met alle eer na Bo haar skrywersvreugde met die DNS-ers.

Haar bundel, ‘n Bruin blaar tuimel, is teen November (N$220) op die rakke, maar dit is vooraf teen n winskopieprys (N$195) by die onderstaande skakels beskikbaar. Geen koerierkoste te betale.

“Ek het vir Hen leer ken as een van die mees stabiliserende invloede in my lewe – en ook in my skryfwerk. Hierdie bundel van haar is ‘n moet! Op haar sagte, maar ferm en bitterlik regverdige manier, vat sy die lewe vas in flits oomblikke met woorde wat tref.” Meraai

“Henriëtte verbeeld uiters raak (en nie sonder humor nie) die naderende wegtuimel vanaf dit wat ons “lewe” noem. Enersyds word daar oopkop vrede gemaak met die erosieproses. Andersyds verwonder die liriese spreker haar daaraan dat sy dit wat voorheen misterieus en onsienbaar was, juis nóú – vanweë die stadiger pas – kan uitken en geniet.”

Aldus dr. Chrisna Beuke-Muir, Senior Lektor (Afrikaans en Nederlands) UNAM en medestigter van die Windhoek Woordfees (2013)

Die bundel kan by Minimal Press en by Amazon bestel word.

Ek’s so moeg

0 $

Vroeg oggend staan hy op
Sy treë weer swaar en stadig
Skiffel, skiffel skuif sy voete vorentoe
langsaam, tree vir tree

Sy kop hang, asof dit te swaar is vir sy nek.
Die selfde nek wat eens op ‘n tyd net spiere was.
Nou, sag en vol lewenslyne. 
Lewenslyne van lief, leed, swaar kry en gelukkig wees.

Sy gesig is somber, sonder enige emosie.
Hy lyk ver weg. Sy eens glinsterende oe, 
nou sag; maar dof, amper leweloos

Sjhloep sjhloep beur hy vorentoe.
“Ek kan nie meer nie”, fluister hy
“Ek wil nie meer nie”, met ‘n amper nie hoorbare stem.

Stadig vorentoe. Tot by sy stoel. 
‘n Stoel wat al jare lank op die selfde plek staan.
Met ‘n sug sak hy op sy stoel neer.
“Hoe lank nog”, fluister hy

Dan kyk hy stadig op. 
Hy kry so ‘skelm glimlag’ op sy gesig terwyl hy vir my kyk.
Ëk lief jou ou dier” sê hy met ‘n sagte stem.
Vir ‘n oomblik is daar ‘n vonkel in sy oë,
maar dan’s dit weg. Die smile, die vonkel, die opkyk.

Hy haal swaar en stadig asem.
“Ïs jy ok?”vra ek
Met moeite lig hy weer sy kop. 
Hy kyk na my met swaar dowwe oë….
Eens op ‘n tyd die mooiste blou vonkelinde oe vol ondeundheid en liefde.

Om die oë, nou net sagte lag plooitjies vir onthou.
Sy gesig, vol sterk lewens lyne deur ons Vader gevorm en geplaas vir elke tree gestap.

Dan praat hy saggies dog ernstig
“Ëk kan nie meer nie” sê hy sê hy sag.
“Ek is moeg”. Hy haal diep asem:
“Ek is so moeg. Ek wil huis toe gaan”
Fluister hy. Sy kop sak weer stadig.

Ek vat sy hande styf tussen myne waar ek langs hom sit. Ek skyf nog nader en sit my arm om sy eens gespierde lyf en lê met my kop op sy skouer.
Ek haal stadig diep asem, en sê in ‘n sagte, rustige stem:-
“Hy sal kom, ou man. Hy sal kom. Op Sy tyd, sal hy jou kom haal”. 
Ek sluit my oë en dank my Vader vir nog ‘n dag.