Diere ABC

A a 
Die aasvoël kla,”Ek is nie mooi nie,
en daarom het ek nie ‘n nooi nie.
Ek wens ek was ‘n pou,
want hy is mooi en hy’t ‘n vrou.”

B b 
Bobbejaan, bobbejaan, jy dink jy’s slim,
omdat jy oor Boer se draad kan klim,
maar Boer is vir jou baie kwaad,
en span nou orals hakiesdraad.

C c 
Ch, ch, ch , ch, snork oupa beer.
nag vir nag en weer en weer.
Oumatjie beer is desperaat,
en wil nou sommer die land verlaat.

D d 
Die dassie spring van klip tot klip.
Sy ore gespits, sy stertjie wip-wip.
Hy’s vinning soos blits en baie rats.
Nou sien jy hom, dan’s hy weg woert-warts.

E e 
Vyf klein eendjies stap in ‘n ry
om te gaan swem in die vlei.
Ag nee, die vlei is dan kurkdroog,
en die plaasdam se muur is veels te hoog.

F f 
Die hele familie fisant
Krap heel dag rond in die sand.
Wat hulle doen , wil jy weet?
Hulle soek wurms om te eet.

G g 
Ek loop teen mure op en af,
partykeer is ek sommer net laf,
en lat val myself – kadoef – op jou bedjie
en dink dis baie snaaks as jy skree: “Mamaaa, ‘n geitjie!”

H h 
As ‘n honderdpootjie skoene nodig het,
is dit vir sy papa geheel en al geen pret.
“Vyftig paar skoene”, sug hy swaar,
“kos ‘n klomp geld so wrintie waar”.

I i 
As ietermago is ek bekend.
Ek is ‘n baie komieklike vent.
Raak jy aan my, rol ek myself op,
en jy weet nie, waar’s my stert en waar’s my kop.

J j 
Jakkals wou gaan hoenders steel, 
op Tant Ralie se perseel.
Min het hy geweet, die stomme dier,
die hoenders het by die bure verjaarsdag gaan vier.

K k 
By die rivier bly Krokodil Morkel.
Hy wil so graag sy tande borsel.
Sy ma dink wat dan nou gedaan,
waar kry ek so ‘n groot tandeborsel vandaan?

L l 
Op ‘n dag wandel koning leeu deur die veld.
“Ek is vir niks bang nie,” spog hy, “ek is ‘n held,
Ek hardloop vir niks en niemand weg nie”.
Toe trap hy in ‘n byenes en kon nie ophou hardloop nie.

M m 
Kyk ‘n bietjie na die flukse mier, my kind,
Iemand wat harder werk sal jy nêrens vind.
Oplaai, aflaai, heen en weer geskarrel, dag vir dag.
Geen gekla nie, nooit ooit lui nie, dit is sy gedrag.

N n 
Naaldekokertjie so fraai en so fyn,
met vleuels wat blink in die helder sonskyn.
As ek so sit en na jou kyk,
sien ek dat jy amper soos ‘n helikopter lyk.

O o 
“O, grote Griet”, roep olifant
“my toonnaels is veels te lank!”
Te hulp kom veearts, Oudok Byl,
Met sy groot skêr en almintige vyl.

P p
Nou die dag stap Pikkie Pikkewein al langs die strand,
en sien kinders in bont klere kastele bou in die sand.
Net daar en dan het hy toe besluit:
“As ek weer strand toe kom, trek ek my manelpak uit.

Q q
Quentin sit by die tafel met ‘n groot woordeboek.
‘n Dier wat met ‘Q’ begin, nes sy naam, dis waarna hy soek.
Maar dis alles verniet, glo my vry.
want so ‘n dier sal hy nie kry.

R r
Renoster se beste vriend sit op sy rug,
Dis renostervoël wat hom waarsku as hy moet vlug.
En as die bosluise renoster pla op sy lyf en sy kop,
Pik-pik sy kleine vriend hul een vir een op.

S s
Stadig, stadig, trap vir trap,
kom skilpad hierlangs aangestap.
Nou is hy moeg en trek sy kop
en al vier sy voetjies binne in sy dop.

T t
Toktokkie, jy’s darem ‘n oulike goggatjie.
Klop-klop hardloop jy rond op soek na jou meisie.
As jy skrik, val jy – woeps – op jou rug,
En speel-speel jy’s dood met jou beentjies stokstyf in die lug

U u
Professor Uil is ‘n knap onderwyser,
maar die ouers is erg geteister,
omdat Prof. Uil die hele dag net slaap,
en die kinders in die klas sit en ginnegaap.

V v
Verkleurmannetjie, ek wonder hoe jy dit doen,
loop jy oor ons grasperk word jy groen,
klim jy stadig langs die boomstam op,
word jy grys van jou tone tot by jou kop.

W w
So ‘n wurmpie is darem ‘n vraat,
dink net aan kos van vroeg tot laat.
Vreet gate dwarsdeur appels, pere en lemoene
en sowaar ook deur die harde skille van pampoene.

X x
Met sy bekkie klein speel die voëltjie 
op die xilifoon ‘n opgewekte deuntjie.
Die brulpadda-koor sing saam uit volle bors,
Almal dans en lag, net ou vlakvark bly steeds nors.

Y y
Miena Krimpvarkie is verlief op Jan Ystervark.
En nooi hom vir ‘n piekniek in die park.
Haar mandjie vol gepak met vlieë, muskiete en lekker goggas.
Jan is nie verheug nie, want hy eet net plante, blare en groen gras.

Z z
Zoem, zoem,zoem vlieg ‘n by
Hier by my neus verby.
Gaan sit op my koeldrankblikkie
en drink ewe astrant ‘n slukkie.

Z z
Weet jy wat is ‘n zoempie?
Dis ‘n oulike, klein duikertjie.
Sy vel het ‘n blou skynsel en is snoesig sag,
as jy hom wil sien, moet jy opstaan in die nag.

©Kopiereg Gisela Tietz-Santos (2010)

Illistrasies deur
© Gerrie van Zyl

Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

2018 – Dankie

Hello DNS’ers

Vanmore wil ek sommer so losweg met julle gesels oor ‘n paar dingetjies:

Eerstens wil ek vir elkeen op hierdie blad dankie sê vir hul deelname hier. As skrywers, as lesers en as saamgeselsers.

Ek dink nie julle ouens besef hoeveel julle vir jul lesers / volgelinge en medeskrywers beteken nie. In die laaste paar weke het ek baie terugvoer gekry in vonkpos, whatsapp, messenger, telefoon oproepe en sommer mense wat my op straat en in die winkels voorgekeer het – Wat dankie en voorspoed sê vir die groep, die Skryf Blaaie (selfs daar sien ek gedurig nuwe boodskappe aan die skrywer bedoel van dankie en mooi wense) en die Blog. Daardie dankie en wense behoort aan julle.

Tweedens wil ek net weer die doel van DNS noem.

Hierdie is ‘n platform vir jou as skrywer. ‘n Wegspring en ondersteuning. ‘n Plekkie om jou vlerke te oefen en te sprei. Om jou voete en selfvertroue te vind.

Gaan uit daar buite en toets die water en jouself. Daar is baie nuwe en ou groepe wat dalk vir jou nuwe deure kan oopmaak. Toets elkeen. Kuier ‘n rukkie daar. Neem wat jy kan om jou te help groei. Wen nuwe ondersteuners en ondersteuning.

Neem deel aan kompetisies. Doen ‘n slypskool of twee. Gaan kyk na groepe en plekke soos:

Potpourri https://www.facebook.com/groups/malherbepotpourri/

PADLANGS
https://www.facebook.com/groups/815895471945763/

PENdit.za
https://www.facebook.com/groups/1916633848454903/

en daar is vele meer.

DNS bly steeds jou Moederhuis waar jy altyd welkom sal wees en met ope arms ontvang word. Hier sal ons jou troos as jy ‘n nare ondervinding daar buite opgedoen het. Of saam met jou juig as jy êrens sukses behaal.

Laat jou woorde wyd en vêr vlieg! Dis my wens vir jou.

Droom Jy Nog Alleman

0 $

Deur: Jan N. Alleman

 

Walt Disney het gesê dat as jy dit kan droom, kan jy dit doen.

Die warm windjie woel tussen die blare van die palmbome. Goue strande lok mense uit hulle huisies na waar vonkelende waters rond baljaar. Naby die pragtige wit sand, droom houthuisies met glas vloere, hulle voete ‘n meter diep in die vlak water. Net ‘n gedagtesprong verder, langs die rotse, steek ‘n klein hout kaaitjie sy vinger die see in. ‘n Soel somersaand op ‘n paradys eiland. … Ek staar, ek dink, en ek dink en ek staar. PARADYS EILAND.

Later die oggend wys ek, bedeesd opgewonde, steeds dromend en heel onnadenkend, die kleur brosjure aan my Vlam. Vroulief kyk, en kyk, en kyk, vlug met my Suid-Pool toe en druk my kop die ys water in: “Jan, kom terug aarde toe…,”

En Jan kom terug aarde toe.

Geveg gereed kom Jan terug aarde toe. “Ek droom. Dit kos mý niks en dit kos jou nog minder.” Vies dat mý droom op mý paradys eiland so wrede aborsie moes ondergaan, tog kalm en bedaard, ten volle in beheer, giet my Vlammetjie olietjies op die troebel stormwaters: “Ek weet, ou Strooi, en ek is vreeslik jammer om jou droom so te verpletter, maar…” Lees meer Droom Jy Nog Alleman

Dagboek van ‘n Straatkat – Oor wegloop.

Moortjie

Waar loop die Moorkat vanaand?

Laas nag het hy nat en druipstert kom skuiling soek na sy kos vir meer as ‘n week onaangeraak buite staan en oud word het.

So met die nadersluip vertel hy my – geen vrae nie asseblief. Ek kry ‘n vinnige vryf en dan verdwyn hy die huis in om homself êrens op te krul en droog en ordelik te maak.

Vanmore is hy weer weg sonder n woord.

Nou sit ek op die trap en wag vir die straatkat om sy verskyning te maak. Die wereld is nat en koud… en hier is mos ‘n droë warm plekkie.

Màar daar is g’n teken van hom nie.

Les… Moenie jou hart vir ‘n straatkat gee as jy nie bereid is om die wegloop te aanvaar as deel van die pakket nie.

Les… Moenie verwagtinge omtrent ‘n straatkat hê nie. Lief hom as hy opdaag, seën hom as hy weglam.

Hoop jy het êrens ‘n warm droë kolletjie vanaand, Moortjie…

Sien jou met jou volgende besoek.

(C) Meraai

Die Taal van die Hart

0 $

Deur Jan N. Alleman

 


Geliefdes, dierbares, vriende, vriendinne, familie, kollegas, volgelinge, vervolgers en belangstellendes, elke horende en nie horende oor:

Ieder het al ietwat te sê gehad oor ’n sanger en sy politieke polemieke. Lief my. Loof my. Draai maar ’n dowe oor of ’n blinde oog of braai my, maar my stoelkussing brand rooi-warm stoofplaat onder my agterend.

Dit is hoogtyd dat ek ook tog ’n stuiwertjie in die beurs moet plaas. Let wel, plaas, nie gooi nie. Nee, gooi klink gewelddadig en dit is allermins my bedoeling. Ook nie werp nie, dit klink soos roekeloos wegslinger. Plaas, netjies en sagkens met innige gevoel van deernis en ‘n deur dronke empatie met hoe andersdenkendes van my volkie voel.

Dink ek aan die nuwe Phoenix van Afrikaans en sy welkome pogings om so ’n Louis Botha van ouds die Afrikaner volkie tot nuwe hoogtes aan te roer. Dié streef om hulle te verenig in mensies met ’n doel! Dan kan ek nie anders as om aan die ou tante op die klein dorpie iewers in die suiderland te dink nie. Die tante was welbekend vir haar geduld, wysheid en onvermoë om kwaad in enige mens te sien.

Welbekende storie hierdie, welbekend. Dit was juis die tante se roekelose onvermoë wat die plaaslike kerkraad en bekleër van die toga warm onder die boordjie gelaat het. Tog! Daar is waarheid: Elke mense moet een of ander tyd besef dat daar nie net goed in alles is nie. Gewapen met ’n strikvraag, nes ’n fariseër van ouds, neem dominee die plig op hom om die tante te besoek en te verlig. Dit is nou verlig soos in die Oosterse konteks – om die oë te laat oopgaan!

“Tante, u sien net altyd goed en praat net altyd goed van ander, maar daar moet tog iemand wees wat u as boos, of sleg, of minder goed beskou, dan nie?”

Die tante kyk van haar hekelwerk op en dominee raak effens op sy senuwees en las haastig aan: “Ek bedoel nou neem die ou listige duiwel, wat goed is daar in hom?”

Die tante sit haar hekelwerk op die tafel neer en staar stip in die man van die kleed se oë. Na ’n lang, baie ongemaklike stilte sê sy: “Dominee, jy moet erken, die duiwel het geen lui haar op sy kop nie…”

Nou laat dit baie duidelik en onomwonde hier op skrif staan: Vir geen oomblik vergelyk ek onse sangertjie met die duiwel nie! Nooit sal ek dit durf waag om so iets kwyt te raak nie! Wat my wel roer is hoe die herder en die raad so innig meegevoer was deur die vloed van hulle begeertes om iets te probeer bewys dat hulle die kruks van die saak gemis het! “Die pot mis gesit het,” sou my Oumatjie gesê het, en vir al die minder jonger garde wat weet van katels, koffers en kose sal die prentjie in my geestesoog baie mooi verstaan.

Ek betwyfel vir geen oomblik dat onse sangertjie belang daarin het om Afrikaans en die belange van die Afrikaner te bevorder nie, maar, soos die Ingelse sal sê, wat is die “spinoff” daarvan vir hom? Wag, wag! Moenie my sê nie. Gratis bemarking. Gratis massa bemarking en ’n ondersteuners aanwas van… wie weet en wie kan raai – en wie gee ‘n duit om.

Ons vir jou Suid-Afrika. Ons werp ons stuiwers, munt en noot, in beurse – beurse wat soos voerkraal beeste gedy. Solank iemand net tog asseblief die regte goeterse sê. Solank die voor-praters tog net klink asof hulle ons “song” sing. Solank my ras verkleurde hart net ’n strooihalm hoop kan vasgryp en glo dat God ons uitverkies het…

Sit ek hier voor my rekenaartjie en ek wonder hoeveel van Meester Adam Small se mense se stemme saam sal opklink oor hulle se taal – Afrikaans. Of ou Maria, ons Sotho huishoudster in die 70’s, wat sonder skroom niks ander as Afrikaans wou praat nie. Hoe voel sy? Hoe voel die kinders van die Kaapse vlaktes wat net in Afrikaans kan speel, maar wat swart onder die Afrika-son verbrand is! Ja, Afrikaans is GROOT! Dis groter as ’n kleur, ’n sanger, ’n politikus of enige groep mense.

Hier is my stuiwer, wat ek sagkens, liefdevol in die oorvol koffer wil plaas: Afrikaans is die taal van ’n hart, nie die taal van ’n velkleur nie.

 

Lied van die sondaars

0 $

(‘n pastiche nav Lina Spies se “Lied van die kinders”)
“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die SS soldaat
wat sy geweer gerig het
op ‘n Jood,
sy lip in nare krul,
op sy skoen ‘n groot, rooi vlek.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Kongolese militant
tronend op swaar stewels
van haar, wurm, weggedraai
terwyl aan sy penis
bloed en skande hang.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Hamas-heilige
swaai sy hande langs ‘n vuur
spuug bloed en bomme
om vryheid van onskuld te verhaal.

Kom na my toe, almal wat moeg soek na vergewe
saamgespan voor Pilatus en Herodes
honde wat honger na lug hap
Kom na my toe, volk van die Messias
wat julle aan ‘n kruis gehang het
toe in bloed en vloek en skande
my Vader jul vergeef het.

Ek sal julle rus gee
moordenaars
verkragters
verloënaars
tollenaars
sondaars

Julle moet ek by tuisgaan
Julle hou leë hande uit
en voete om te was

Kom na my toe

Petrus
Saggeus
Rower aan die kruis

Ek sal saam met julle
in die paradys wees

©Marieta McGrath

Taxi is ‘n Emosie

Deur – Jan N. Alleman

 

(Vir regverdigheid moet ons toelaat dat alle manlike vorme ook die vroulike mag insluit)

 

Net ‘n taxi!

 

  • Dit is etenstyd en almal blits met die korste moontlike roete huis toe. Niemand hou van herkou-siekte nie: Wanneer jy by die huis sluk en by die werk kou. Almal is haastig.  Almal wil graag genoeg tyd hê om te kan kou, te sluk en te begin verteer voordat hulle van die bak na die vak moet terug haas. Net ‘n taxi kan langs jou by die rooi verkeerslig stop en op die laaste oomblikke, net voor die verkeerslig na groen verander, voor jou in draai. Net ‘n taxi kan dan, met ewige onskuld, by die volgende kruising voor jou stop om “kliënte te diens.” Die verkeerslig verander net drie keer…

 

  • Jy sit rustig in jou motor. Onverstoord besig met jou amateur-sielkunde. Dit is ‘n fyn kuns om mense so op die straat te beoordeel. Net ‘n taxi kan langs jou kom parkeer en die mees ondenkbare, onluisterbare, brein benewelende kakofonie op jou ore ontlaai. Net ‘n taxi kan dit teen die hoogste moontlike volume speel terwyl die bestuurder luidkeels na moontlike kliënte roep. Net ‘n taxi kan jou die volgende dag vermaan om jou strelende musiek sagter te stel sodat hy sy middagslapie kan geniet terwyl sy passasier geld by die outo-teller trek.

 

  • Net ‘n taxi kan van die vêrste regterkantse verkeersbaan links oor die verkeer draai. ‘n Taxi mag dit doen… net ’n druk of twee op die toeter en alles is reg, of weg!

 

  • Jy sit gerus, met die vrede van die heelal in jou hart, in die middel van die verkeer. Die Proteas het vir die eerste keer in ses en sestig jaar weer ‘n wedstryd gewen en, al het die Springbokke verloor, is die lewe goed, fantasties. Eensklaps ruk A707 voor jou totstilstand en drie deure vlieg gelyktydig oop. Jou eie YouTube-kapping flits voor jou oë. A707 het net gou in die middelste verkeersbaan gestop om passasiers op en af te laai. Hy skroom nie vir ‘n oomblik om jou baie duidelik, en met geen onseker handgebare, te laat verstaan dat jy die keuse het om of links of regs by hom verby te gaan nie. Net ‘n Taxi kan daardie emosie van woede en blydskap gelyktydig in jou laat op wel. Soet en bitter water in dieselfde put.

 

  • Net ‘n taxi kan teen die verkeer in ’n een rigting straatop ry omdat hy sestig sekondes van besigheid sal verloor as hy om die blok moes ry.

 

  • Net ‘n taxi kan in die druk verkeer dubbel parkeer om die stof van sy motor af te vee. Net ‘n taxi kan twee minute later al sy frustrasie op jou ontlaai omdat jy dit durf waag om iemand anders ’n kans te gee om uit ’n parkeerplek te trek sodat jy daar kan parkeer.

 

  • ‘n Volkswagen kombi word geregistreer om sewe persoon te vervoer, maar jan en alleman weet, en ons was almal daar, dat jy heelwat meer mensies kan in bondel. Net ‘n taxi kan meer mense in ’n Volkswagen Polo laai.

 

Net ‘n taxi kan jou briesend histeries laat lag. ‘n Taxi is die verpersoonliking van gemengde gevoelens. Dis nie net ’n voertuig nie, dit is ’n emosie!

 

“Springbok rugby gee my so taxi gevoel.”

 

 

Kat (k?) en hare

Moeg geveg.

Nee, ek sit nie 4hoo in die oggend en skryf omdat ek insomnia het of niks beters het om met my tyd te doen nie.

Ek sit en skryf omdat ek die oorsprong van die gesegde K@k en hare bedink.

Iemand het êrens in die verlede hierdie ding verkeerd gehoor en toe is hy maar so verkeerd-verkeerd voortgedra.

Laat ek by die begin begin. Lees meer Kat (k?) en hare

Skoenmaker, Wiskunde en Lees – Deur Jan N. Alleman

0 $

Daar is redes hoekom sekere onderwysers sekere vakke aanbied. Ek dink dit het iets met vakkunde te doen. Daar is beslis ’n rede hoekom wiskunde onderwysers, soos skoenmakers, hulle by hulle lees moet hou.

Die klas luister aandagtig en werk spontaan mee terwyl ons na die lees gewoontes en vaardighede van ander volke regoor die wêreld kyk. Ons is besig met statistiek en die voorstelling daarvan in persentasie op grafieke. Die gemiddelde Amerikaanse kind spandeer slegs ’n baie klein persentasie van sy of haar tyd aan lees oor die algemeen. In ’n poging om vas te stel of my leerlinge lees en wat en hoe hulle lees, wend ek my tot van die meer klassieke werke…

Lees meer Skoenmaker, Wiskunde en Lees – Deur Jan N. Alleman

Kritiese Kommentaar

Dankie vir Kritiek:

Vandat ek die eerste keer iets op Namib Skryf gelees het, het ek tuis gevoel. Ek ken mos die dinge waarvan almal praat. Die talent het my stomgeslaan. Ek kan verreweg nie alles lees wat daagliks gepubliseer word nie, maar dit wat ek wel lees, is baie goed.

Ek het aangedui dat ek nie omgee indien my skryfwerk aan die kastyding en kommentaar van die lede en die professionele ontleders onderwerp word nie. My Granaatbos-gedig wat ek verlede week geplaas het (Anoniem) is van alle kante bygekom. Eina!


Maar! Vanoggend druk ek die kommentare uit en begin werk. Lees, voeg by, laat weg, spel reg, lees weer. Skryf oor, herrangskik, pluk-pluk hier aan ’n wegstaan woord en skaaf daar aan iets wat moeilik lees. En toe, so in medewerking, in aanneem en afwys, kry my gedig nuwe lewe.
Lees meer Kritiese Kommentaar

Precious Needles – Karin Bester

Precious Needles

Hello, My naam is Karin Bester, en ek stel jou graag voor aan my besigheid.

Jou Alles in Een Stop Handwerk Hoekie.

Precious Needles se ontstaan is as gevolg van my liefde vir mense, naaldwerk en ander kunste.

Precious Needles  is in Okahandja, Namibië geleë. Hier doen ons naaldwerk, borduurwerk, applique werk, glas "brand" (etching) en nog baie meer.

Ons maak klere, las dit, lap dit, sit ritsluiters in, en wat ookal jy nodig het.

Ons maak TRADISIONELE klere en maak klere vir TROUES.

Ons lief dit om vir die skole hul konsert klere vir die kinders te maak en ook enige ander "FANCY DRESS" klere. Enige tema klere geniet ons om te maak

Ons maak verskillende skole se skooldrag en borduur ook skoolwapens.

Ons maak geskenk pakke (hampers). Ons print ook op klere, bekers, blikbekers, beddegoed en vele meer. Ons trek stoel kussings oor en maak gordyne. Ons doen ook nommerplate vir troues en matriek afskeid.

Ons sien ons self as n "ÉEN STOP WINKEL". 

ONS WERK IS REG OOR NAMIBIA EN SELFS IN RSA. Ons versend na enige plek in Namibia.

Kontak my:

Selfoon: +264 81 601 5404

Besigheids ure: 8:00 tot 16:00

Vonkpos: karinrust@yahoo.com

FB: https://www.facebook.com/pg/preciousneedles/about/?ref=page_internal