Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

Vir Pa’s en Seuns

0 $

Deur: Jan N. Alleman

Hierdie werk is opgedra aan my pa; vir hom wat vir my kosbaar is – waar ek ook eers pa moes word om werklik kind te kon wees


My trane lê hoogwater vanaand. My gedagtes woel soos springgety branders. Beelde van vervloë jeugdigheid spoel teen die strande van my herinneringe aan. Dit kasty my strande. Tog, soos net ’n springgety kan, breek dit ook die kosbaarhede oop. Skatte wat lank vergete onder die sand van tyd verberg was word opnuut ontbloot.

Die 380 kilometer van die kus terug na wat ons tans huis noem, lê uitgerek deur die woestyn en doring bome. Twee ure later word ek bewus dat ek die skoonheid van my hartland heel gemis het. Die klip-vlaktes van die Namib het geluidloos by my verby geswiep, so diep was ek in my gedagtes versonke. Ons draai die bosveld in. Die sonsondergang kom lê gehoorsaam hier aan ons linkerkant, byna gereed om die laaste wolkies met goud te verf voordat die koel grys die nag aankondig. 

Vir oulaas, net buite Omaruru, kyk ek uit oor die son-bestreelde Kameeldoring land kort voordat die son sy skemer werk begin. Die woorde wat hier, aand die einde van Sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en moeisaam spoor ek agterna…

Baie ken die eens sterk profiel wat nou uitgeteer die kanker veg. Van trots en waagmoed is daar geen sprake meer nie, maar nederig vra hy vir Ma om die kombersie oor sy bene te kom gooi. Sy moeder maar. Ek laat toe dat my gemoed gordyne voor die vensters van my siel kom span, terwyl sý weerloosheid mý meer weerloos laat. 

Die aand snel traag verby. Die muur-horlosie beduie dat die nag wag en dat ons totsiens moet sê. Die kinders groet en my seun soen Oupa op sy voorkop soos hy altyd doen. Soos hy altyd ook met my doen en in ’n onbewaakte oomblik gee ek my pa ’n druk… Pa… ek en Pa was nooit kontak mense nie. ’n Handdruk is korrek, mans soen net vrouens, mans wat mans druk is besig met verbondenhede: So het die reëls vas gestaan. 

Ek stap regop by die deur uit en kyk vol in die tere oë van my vrou, ’n traan strompel oor haar wang. “Hy’t jou nodig Johan,”fluister sy en toe ek om kyk toor Pa sy sakdoek weg. Sy oë is rooi en sy skouers ruk. Rebellie maak my hart sy huis en reëls, wat geen reëls moes wees, verdamp soos mis voor die son. Ek draai nogmaals om en gee hom weer ’n druk en vir ’n wyle hou ek hom vas. My hart hervorm onder die voorbeeld van my seun.

Die woorde wat hier, aand die einde van sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en vasberade spoor ek agterna. Ek keer dit teen die grensdraad van my gedagtes vas. 

Ek moes ook eers vader word voordat ek waarlik kind kon wees…