Nasionale Waltons-Griffelkompetisie 2020

Uit die pen van Janru Smit (WAP) – 1ste plek in die kategorie “Kortkuns Graad 10 – 12”

Die waatlemoen-revolusie

‘n Magneetgedrewe trein blits om die skitterende wolkekrabbers wat deel vorm van die nuwe Sentrale. Silwer geboue blink in die son en is geanker in die droë, klipperige grond. Hier staan ek: voete geplant soos ‘n boom wat nie meer bestaan nie.

Die huilende weermagklok dwing my terug na my kamer. Die leë gange eggo met elke tree wat ek gee. Klankdempers skuif teen die mure uit om my teenwoordigheid te versteek. Koel-warm lug stroom oor my tong en tussendeur my lippe. Die melodie fluit deur die gang, maar word onmerkbaar deur die dempers geabsorbeer.

‘n Hologram maak sy verskyning op my 3E-model armband. Al die werkers wat in die Sentrale woon, kry ‘n 3E-model armband. Die groen waatlemoen-diagram herinner my aan my pligte: tuinmaak. ‘n Groot verseëldeur skuif oop terwyl ek my groen tuinhandskoene aantrek. Die reuk van rose oorheers my reuksintuig. Ek ruik die geur van Selonsrose van ver af. My outomatiese ploeg berei die grond voor vir ‘n baie spesiale saadjie – die saadjie van Afrikaans se toekoms. Ek fluit weer my gunsteling melodie op die maat van water wat oor klippies kabbel. Die silwer gevlekte saadjie word neergelê op ‘n bed van humus in die grond.

Die verseëldeur blits weer oop en my groen, temperatuur-weerstandige handskoene word versigtig weggebêre in ‘n kabinet wat outomaties sluit. My voete ken die pad deur die lang, koue gange. Ek voel soos ‘n robot – ‘n 2042-model. My bene buig nie, my gewrigte haak vas (anders as die nuwe 2050-model). ‘n Blou lig flits oor my oë en my kamerdeur sluit oop. My oog vang die bekende teks wat al vir jare op my deur verskyn: “Welcome home, Kyle.”

Ek voel hoe ‘n sweetdruppel oor my wang rol. Die skalpel wig ‘n sag gekweekte waatlemoenpit in twee dele. Ek tel ‘n klein gekodeerde toestel met ‘n mikro-beheer op en laat sak dit stadig by die pit in. ‘n Klop aan my deur word gevolg deur my vriend, Alex, wat by die kamer invaar. Hy gaan sit stadig op my enkelbed en staar stip na my gekodeerde waatlemoenpitte. Ek probeer keer – hy mag dit nie sien nie… 

Die kamer se stroombaan word oorlaai met elektrisiteit en die gloeilampe bars. Die klank van meganiese geraas vul die kamer soos wat die gloeilampe vanself omgeruil word. Alex is weg. Miskien is hy bang vir die donker?  Ek gryp na my kamersleutels en sluit die staaldeur. Die slot klap toe.

Die oomblik wat ek weer aan my mikro-beheer vat, verander die atmosfeer. Die staaldeur bars oop en mans, toegedraai in metaal beskermingsklere, stamp my teen die boekrak vas. Boeke, tuingereedskap en jare se tydskrifversamelings fladder rond. My gekodeerde waatlemoenpitte word vinnig deur ‘n suigpyp verorber. Hý het Afrikaans se laaste hoop vernietig – opgesuig. Alex het my verraai.

***

Ek sit stil – sonder ‘n enkele beweging – buite die Sentrale. Die son brand my vel, ek sien die droë grond en ek voel die wind van mislukking wat oor my waai. Die duiwel self sit langs my op die bankie. Alex se oë is uitdrukkingloos. Sy hande gaan stadig oop en die silwer gevlekte pitte blink in die son. Ek kyk verdwaas na hom. Hy moes die pitte gesteel het. Hy het geweet die Sentrale is bewus van my plan. My bewerige hande gryp die pitte uit Alex se palm en ek worstel oor die droë grond terug na die Sentrale. Die groot staaldeure, wat die Sentrale beskerm, kraak stadig oop en die helder wit lig van die portaal flits in my oë.

My bene ruk my deur die lang gange – dié keer soos ‘n 2050-model robot. Ek hardloop vinniger as enige lewende wese en die dempers steek eers kop uit ná ek deur die gang geblits het. Die verseëldeur skuif oop, die saadjie word haastig in die grond geplant. Ek gaan deur al die funksies op my 3E-armband en my vinger plant op die “waatlemoen” knoppie. 

Presies 56 Afrikaners storm by die gebou uit met waatlemoen hologramme op hulle armbande. Die melodie vul die lug rondom die Sentrale: “Saai die waatlemoen, saai die waatlemoen. My pappa roer die skuitjie, my mamma blaas die fluitjie, my boetie draai die orreltjie. Saai die waatlemoen!” 

Die Sentrale kraak onder die bomme wat ontplof. Afrikaans triomfeer.