‘In Lewende Lywe’

Dialoog verhaal. Verskyn ook in Koos Magazine se Maart uitgawe.

In lewende lywe.
© Jaco Groenewald

“Stefaans, kom kyk hier.”
“Wat nou weer Japie? Ek sien deur jou!”
“Nuwe ou, hy praat met Kerneels.”
“Oh, salig onbewus.”
“Presies! Gaan ons bietjie pret hê?”
“Soek julle twee weer vermaak?”
“Dis die bier Gawie, dit gaan regdeur my!”
“En julle grappies bly dieselfde. Hoekom beweeg julle nie aan nie?”
“Hoor wie praat! Jy sit al hier van 1978 af Gawie.”
“Ja, maar ek weet wat op my wag!”
“Hoe nou? Jy kan mos nie dit weet nie.”
“Glo my ek weet Japie! As ek gelukkig is, gaan die knakstert my kry.”
“Nee wag-wag! Hoop jy om hel toe te gaan?”
“Ja Stefaans! Is dit so moeilik om te glo?”
“Ja wel…. Eerste spook wat hel, bo saligheid verkies…”
“Gmmmmpffff. Saligheid. My vroutjie wag daar. Ek kies eerder Lucifer.”
“So erg?”
“Gawie, ek het eenmaal saam my bierman die wingerdwa gery, en effens laat tuis gekom. Toe steek sy my met ñ spitvurk!”
“Ek is seker sy sou jou al vergewe het.”
“Met rotgif? Ek was by haar begrafnis, saam met Betty Green. Die Ingelse meisie op die dorp.”
“Sjoe Gawie!”
“Die volgende dag toe rol ek die tjor. Sê jy vir my…. Sou jy ingegaan het?”

“Kyk hoe sit die kroeglopers en maak of hulle drink!”
“Jis Kerneels. Sien jy het ñ nuwe slagoffer. Waar is hy nou?”
“Hou jou in Japie. Die man is op na sy kamer toe. Hy dink hy pak uit.”

“Kyk die sot! Kom sit sommer op my skoot!”
“Hahaha. Ai ou Gawie. Hy kan jou mos nie sien nie. Hy is net ñ venter, vertrek weer môre.”
“Ek gee nie om nie Kerneels! Maniere kos niks. Wat is sy kamer nommer? Vanaand tjop hy af!”
“Ai ou Gawie!”
“Terwyl julle so op my pik. Wat is julle ekskuus?”
“Ek geniet nog die dwaalwandel.”
“Regtig Stefaans?”
“Ek is nou eers ñ week ñ paaiboelie!”
“Japie?”
“Ek wag dat my vrou gaan. As sy trou voor dit, gaan ek daar loop spook. Waar is Kerneels?”
“Hy maak maar so.”
“Gawie, jy is al lank hier, weet jy wat Kerneels se storie is? Hy is so vaag oor die saak.”
“Dis ñ baie lang en baie hartseer verhaal.”
“Tyd het ons beslis niks van nie!”
“Slimjan word toe dooie-jan! Dit gaan oor Sally, sy verloofde. Sy het weggeraak, op die vooraand van hulle troue, soos mis voor die son. Niemand het ooit weer ñ woord van haar gehoor nie. Hy kan dit nie oor sy hart kry, om hier weg te gaan nie! Hulle sou albei daardie jaar vyftig geword het.”
“Is hy bang sy kom terug?”
“Einste Stefaans.”
“Dis nie so lang verhaal nie.”
“Daar was twee ander meisies ook, weke voor sy Sally vedwyn het. Die vermoede was ñ reeksmoordenaar, maar hy is steeks om dit te glo.”
“Hoe lank drentel hy nou al?”
“Beste part van vyf jaar Japie.”
“Jis ou Gawie, jy weet hoe baie het ek hier gesuip! As ek geweet het julle klomp dwaalgeeste bly hier, het julle my nooit gesien nie.”
“Ek weet Stefaans. Jy het nooit op my skoot kom sit nie, daarom was ek jou genadig.”
“Bly hy net in die hotel?”
“Nee Japie, hy dwaal bietjie rond. Nooit verder as die grense van die dorp nie. Jy sal nog die manne hoor praat, veral op volmaan.”
“Wat gebeur dan?”
“Die vertelsel lui, dat sy huil-roep op sulke nagte, wyd gehoor kan word. Baie sweer hulle hoor sy rouklaag dan vir ure!”
“Wie sweer wat?”
“Bliksem Kerneels! Vir wat laat jy my so skrik?”
“Jis ou Gawie, mens sal sweer jy het ñ spook gesien!”
“Grapgat!”

“Kyk! Die nuwe ou…”

“Middag oomies. Wat maak ñ man hier, om sy keel nat te kry?”
“Ek sou myself eers voorstel. Jy is nou op die platteland mannetjie. Ek is Stephaans, die is Japie en die gromgat is Gawie. Jy ken vir Kerneels.”
“Ag jammer oom. Ek is Tommy, van Pretoria.”
“Snaakse van.”
“Sharrup Gawie. Jy maak die man se nerve lam.”
“Dis oraait oom. Ek voel bietjie snaaks.”
“Dwaallig?”
“Moet jou nie steur aan Gawie nie. Hy is net boos oor sy vrou hom gesteek het.”
“Oom Japie, waar ek vandaan kom, is dit nie ñ slegte ding nie.”
“Met ñ spitvurk?”
“Oh nee. Jammer oom. Waar is oom Kerneels?”
“Hy is maar ñ skim jong. Wat maak jy in die wêreld seun?”
“Ek is nie nou so seker nie oom Japie. Ek dink ek moet bietjie sit.”
“Van die dood in die lewe gekom het, is ons nie eers meer ons lewe seker nie.”
“Vervlaks Gawie. Moet jy altyd ñ jandooi wees?”
“Wel ek is nie ñ jan-lewe nie!”
“Haal diep asem en raak rustig, dan dink jy mooi. Wat maak jy hier Tommy. Ons gaan jou help”
“Van die wal af.”
“Is jy alleen hier?”
“Nee oom, my vroutjie rus.”
“In vrede?”
“Skuus oom Gawie?”
“Hy spoeg net spookasem Tommy.”
“Ek onthou nou. Ons is besig om te verhuis.”
“Onthou net, die spook trek saam!”
“Stefaans! Nie jy ook nie!”
“Oh bliksem! Ek dink ek moet gaan slaap.”
“Ek is bevrees Tommy, daardie luuksheid is vir eers verby.”
“Oom Gawie?”
“Genoeg! Julle twee is sotte! Stap saam my.”
“Waar gaan ons?”
“Kom net! Kyk in die spieël en vertel my wat sien jy!”
“N-n-n-n….”
“Niks! Dis die woord wat jou ontduik. Jy is dood seun. Lepel in die dak, emmer geskop, bokveld toe. Nes jy wil. Help nie ons draai doekies om nie.”
“Ek dink ek gaan flou raak.”
“Nog ñ luuksheid wat verby is.”
“Ons was in ñ ongeluk! Bloed! Brand! Baie bloed!”
“Dit kom nou terug na jou. Dis ñ goeie ding, denial is nie net ñ rivier in die vleispotte nie!”
“My vrou?”
“Jy het alleen hier aangekom. As sy dood is, het sy reeds aanbeweeg of jou net gelos.”
“My bokkie! Ek moet haar kry!”
“Nou wag nou….”

“Sien jy Stefaans? Dis hoe jy ñ paar weke terug gelyk het!”
“Waarheen hol die mannetjie Japie?”
“Vader weet alleen. Miskien sien ons hom nooit weer nie!”

“Jinne Gawie! Daar is mooier maniere om die soort ding te doen.”
“Kerneels, luister mooi na my, ek sit al dertig jaar met die soort gemors! Kry dit oor en verby, anders kom die aasvoëls net om die spot te dryf.”
“Japie en Stefaans is skadeloos, hulle soek ook maar net vermaak.”
“As ek nog een maal moet hoor: ‘die bier gaan regdeur my’ of ‘jy sien regdeur my’, gaan ek ñ spookberoerte kry!”
“Bedaar Gawie!”
“Ek sien hulle soort al jare kom en gaan. Die grappies was nie die eerste mijoen keer snaaks nie, gaan ook nie die volgende miljoen wees nie.”
“Dis net so bietjie oppervlakkig en deursigtig van jou!”
“Ag jou moer Kerneels!”
“Jammer, jammer Gawie. Jou pa was nie dalk ñ glasmaker nie?”

“Haha. Kerneels jy moenie die ou fantoom so verwilder nie.”
“Eie medisyne Stefaans. My soekende siel het ook rus nodig.”
“Wat bedoel jy?”
“As ek hom kwaad maak, sien ek hom soms vir dae nie. Ander kere koel hy gou af en is ñ paar ure later terug.”
“Waar dink jy is Tommy heen?”
“Hopelik gaan hy vrede vind Japie.”
“Die plek het skielik leeg geraak! Ek dink ek gaan ook maar bietjie dwaal. Sien julle manne en los bier vir my!”
“Mooi sweef Stefaans!”
“Gaan ‘skate’ op die ys Japie!”

“Kerneels, is die verhaal van Gawie waar?”
“Ek het geen idee wat om te glo nie, selfs na vyf jaar. Hy vertel vir elke nuwe klomp, ñ nuwe verhaal. Die kern bly gewoonlik dieselfde, maar ek vermoed hy is ook net verveeld. Hy wil nie meer nie. Dis die ander rede hoekom ek sy moermeter soms opjaag, miskien raak hy so moeg en gaan net oor!”
“Dertig jaar is ñ leeftyd.”
“Dooie-tyd in die geval.”
“My hart gaan uit na hom toe, dit kan nie maklik wees nie.”
“Jou hart gaan uit na niemand toe nie, maar ek hoor jou Japie.”
“Kerneels, is dit waar oor Sally?”
“Ek het geweet Gawie gaan julle vertel! Die swaap het ñ eet gesweer! Ja dis waar, sy kon met geeste praat.”
“Dis nie wat ek bedoel het nie, maar nou weet ek dit ook!”
“Ons almal het al so iemand raakgeloop, mens kan hulle ñ myl sien aankom.”

“Oom Stefaans! Stefaans wag vir my!”
“My vader Tommy, wat dool jy so rond?”
“Ek was op pad terug na die hotel, na ek my drie-wiel gespin het, toe ek oom sien uitstap. Ek het nog nie die moed om die manne te sien nie en het leiding nodig. Ek het al met baie dinge in my lewe gespook, maar met nog niks in my dood nie. Wat nou?”
“Vra jy my raad?”
“Ja oom!”
“Jy beter seker wees van jou saak seun!”
“Ek is oom.”
“Die dag as jy die tydelike met die ewige verwissel, moet jy jouself eers een vraag vra. Hoe seker is ek, dat as ek daardie tonnel ingaan, ek op die goeie plek gaan eindig. Antwoord dit vir my, voor ons verder praat.”
“Sjoe, nee ek is glad nie oortuig oor dit nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek bid nie, lees nie Bybel nie, gaan nie kerk toe nie en vloek vreeslik. Dan het ek nog ñ klomp tatoeëermerke ook. Waar gaan ons?”
“Ons flaneer net! Die volgende vraag aan jouself, aangesien jy baie tyd op hande gaan hê: Wil jy soos Gawie word en net rondsit of wil jy die spookwees geniet?”
“Wat behels geniet?”
“Ronddool, mense bang maak, met ñ doel voor oë dinge doen! Ons kan ñ goeie span maak!”
“Klink soos Pinky and the Brain!”
“Solank jy nie daardie ‘naarf’ geluide maak nie!”
“Oom Stefaans, dit klink perfek!”
“As jy op die pad is, is daar geen omdraai nie!”
“Ek was nog nooit in my lewe, of my dood, so seker van iets nie.”
“Volg my!”

“Tommy, Sally, Sally Tommy! Jy sal nog hoor van haar, maar hier is wat jy moet weet. Sy kan met ons praat. Moenie dat sy jou manipuleer nie. Jou eerste taak is, om ñ plan te maak om vir haar kos te bring. Sy het nie meer lank oor nie en sodra sy hier uitkom, lewendig of anders, gaan sy vir Kerneels soek. Dit het ons nie nodig nie. Verstaan?”