Kortkuns Gr 10 -12 #2

Griffel Wenners

2de plek: Susanne du Toit van WAP, Windhoek

Genadelose genade

(Petteri Sianio)

Die vroeë briesie ritsel die vars groen blare wakker na die lang winterkoue. Kinderlaggies warrel op en meng met die sagte agtergrondmusiek komende uit die sitkamer van die ou klassieke huis. Vrolike stemme smelt in die geselligheid wat homself afspeel in die lowergroen tuin voor die huis. Die huis is wit afgeëts teen die golwende groen heuwels.  Lanings vrugtebome vorm die roete huis toe. Helderkleurige blomme breek die wit mure en die reuk van jasmyn kan duidelik uitgeken word. 

Die afbeelding van ‘n man en ‘n vrou skyn helder teen die wit muur waar hulle grasieus dans.  Klein kinderhandjies klap vrolik saam.  Langs die ou bloekomboom kreun tafels onder borde vol geurige kos en vul die area met harmonie en geluk. 

En dan word die geselligheid gebreek deur die weergalming van die harde klanke van geweerskote.  Verwarring en die reuk van kruit omskep hierdie geselligheid in ‘n warboel van bewegings.  Perdepote klink helder op soos die hoefysters die plaveisel tref.  Skril stemmetjies meng met die angs van onsekerheid.  Bevele word uitgeskree en almal word soos vasgekeerde diere omsingel. 

‘n Dreigende soektog word geloods en soldate in bruin uniforms geklee, marsjeer tussen hulle deur.  Voetstappe weerklink op die houttrappe van die huis.  ‘n Skaduwee skuif stil-stil agter die eeu-oue staanhorlosie in die hoek van die sitkamer.  Stewels klink helder op en die asemhalings skeur die oomblik.  Die formidabele skaduwee smelt ineen met die afbeelding van die staanhorlosie en tyd gaan staan stil.  Sekondes tik af.  Die reuk van sweet en angs vul die vertrek soos  vyand en vriende mekaar aanvoel, maar fisies ontwyk.  Kamerdeure word oop en toe gemaak en die soektog duur voort.  Die lang geweefde gordyne hang swaar en geruisloos, terwyl die miershoop van bedrywighede die lug vul.  Swaar voetstappe sleep tot voor die staanhorlosie en sekondes word minute en ewig word ‘n moontlikheid.  Die staanhorlosie slaan hard en stadig begin die tyd weer tik-tik.

Bruin uniforms en swaar stewels beweeg uit en in gelid verlaat die bedreigings die huis en saam ook die angs wat soos ‘n donderslag gedreig het. 

‘n Skaduwee verskyn van agter die staanhorlosie en die groot beeld van ‘n man kom staan weer sy plek vol voor sy vrou en kinders.  Genade knak sy knieë en hy sak stadig neer tot op die plaveisel.  Liefde en verligting slaan sy arms om die ewigheid van nou.

Met trots geborg

COUNTRY HEIMWEE

Liewe DNS’er, ek hoor in die verte ‘n radio speel country musiek en die onderstaande prentjie kom by my op. In my storm en drang jare het ek in Windhoek gewoon en sluit my skrywe af met ‘n tikseltjie onthou van daardie tyd. Hoop julle geniet die een.

WESTERN SALOON

Ek stap in by die swaaideure van die enigste kroeg en hotel op die klein dorpie waar ontwikkeling van die omgewing sy ontstaan gekry het.

Buite staan perde aan ‘n reëing vas en dit reën saggies terwyl  iemand op ‘n klavier in die kroeg ‘n honkey tonk wysie tokkel.  Sy voete trap ‘n riel op die plank vloer wat lyk of hy op warme kole loop.  ‘n Ander een, wat duidelik meer as een druiwe korrel in verwerkte vorm gesluk het, probeer saam sing. Sy stem stry verbete om wysie te hou maar so af en toe spring daar ‘n jodel uit wat kompleet klink of iemand op ‘n kat se stert getrap het maar die glimlag op die sanger se gesig spreek van momentele geluk en lekkerte wat regmaak vir ‘n kopseer  die volgende dag en gedagtes wat die vog van die druif uit sy lewe gaan verban. Twee voortande van die sanger is gebreek, moontlik weens ‘n geveg voorheen en die “s” se uitspraak klink eerder soos sjewe sjakke sjout want die glimlag op sy gesig laat nie toe dat sy onder en bo-lip lank genoeg sluit om woorde reg uit te spreek nie.

“Hand me down that wottel of sequila “ sing hy vir die meisie agter die toonbank en trap twee tree vorentoe, een sywaarts en twee terug en beland met ‘n sug op die sofa wat neffens die klavier staan en daar sit hy.  Sy arms wil hom nie genoeg stut om op te staan nie en sy bene vou soos swembad noodles onder sy gewig wat dreig om hulle te gebruik. Die spore aan sy stewels klingel moedig om hom te laat weet hulle is nie weg nie.

Links van die swaai deure sit ‘n paar manne en kaart speel.  Gesigte uitdrukkingloos.  Oë nou getrek dat niemand tog enige emosie moet lees nie.  Elke paar lippe klou verbete vas aan ‘n rokende sigaar in die een mondhoek wat nou en dan soos ‘n klein stoom treintjie ‘n wolkie uitstoot om te wys daar is nog lewe.  Kaarte wissel hande en  geld word met minagting neergegooi om die beeld van selfversekerdheid verder uit te dra.  “Don’t count your money when the dealen’s done” klink op van die klavier se kant af en die spanning onder die spelers is duidelik sigbaar hoewel hulle voorgee om rustig en berekenend te wees.  Poef, poef stoom die sigare een na die ander en die deler werk versigtig om die spelers betrokke te hou.

Die meubels in die kroeg is modern vir die tyd en duidelik sorgsaam met die hand gemaak.  Teen die mure hang ou gewere en pistole wat uit die oorlog kom wat die westerlinge teen plaaslike volke van die tyd geveg het. En ‘n ou wawiel en “wanted” plakkate  vir skelms wat gesoek word.  Een geweer se loop het oopgebars  en ‘n swaard wat iemand iets mee gekap het en vol happe is, hang verder weg.  Die spieels teen die mure lyk of hulle al te veel gesigte en gebeure gesien het want daar is ‘n dofheid wat geen prentjie meer baie duidelik teruggee nie.

By die toonbank sit ‘n paar manne en drink. Elkeen het ‘n bottel  met ‘n klein glasie wat gereeld volgemaak en agter in die keel gegooi word.  Gesigte trek ‘n gril vir die smaak wat die tong tref want die goed smaak nie lekker nie, dit maak net lekker.  Hulle is almal duidelik op hulle hoede want vir elke kraak van die swaai deure kyk almal versigtig en nuuskierig om om die nuwe aankomeling te takseer en te weet wie hy is.

Die kaggel vuur brand gesellig in die een hoek en ‘n paar dames met wye rokke en lae halse waarvan die prentjie soos ‘n nuwerwetse kitskos restaurant advertensie lyk ,kyk ook belangstellend na elke nuweling.  Lippies en wangetjies is baie baie rooi en die oë geplak met genoeg blousel om ‘n hele hotel se lakens spierwit skoon te was.  Wimpertjies wat met inlegsels verleng is knip stadig en versluier die blink oë wat dit laat lyk soos ‘n neon advertensie wat van boodskap verander en ‘n elektriese impuls by tye verloor om langer te neem om te ruil as wat nodig is.

Die ou op die sofa is baie ongelukkig met die sheriff wat op sy hand getrap het toe hy by die kroeg wou uitkruip.  Hy dreig om die gereg van die dorp hof toe te vat oor die disrespek wat die sheriff hom betoon het.  Hy is baie haastig om buite te kom want die eentand kelnerin wat hy nounet ontmoet het en nie eers haar naam ken nie, het gesê sy sal met hom trou en hierdie kans kan hy nie laat verbygaan nie.   Die pianis kap nou die klavier met mening om sy klanke bo die geruis van die kroeg te laat geld terwyl ‘n country orkes gereed maak om te speel.  Daar is kitare en viole en die onmisbare steel guitar wat in elke lied die geloei van die wind laat hoor om die ervaring van elke lied met passie tuis te bring.  En ‘n banjo speler wat tussenin sy stem met mening uitbring om ook sy bydrae te beklemtoon.  Die voorsanger nooi iemand om saam met hom te kom, skoene uit te skop, die ligte af te sit en ‘n aand van passie mee te maak.  Elkeen van die orkes lede het cowboy hoede op wat laag oor die oë hang sodat die meisies daar nie kan sien wanneer hulle onderlangs beloer word nie.  Net so swaai die hoek se dames die groot “M” advertensies met swier rond vir voornemende gebruikers om te waardeer.

Die drank vloei en die mense lag en gesels oor wie weet wat alles en die hotelier glimlag breed want die wolle rol en die sakke word vol.  Die trappe wat na die bo-vertekke toe loop dra swaar verkeer weens die verdowing van sinne wat manne kry as die wingerdstok se wortels te diep in sy hart kom nesskop en die stof  en sweet van die lang rit te perd sy klere soos gestyselde lappe om sy lyf laat sit. Stoppelbaarde kort net ‘n cut throat skeermes, ‘n skeer kwassie en warm water om verdere groei in te perk en die draer weer soos iets te laat lyk wat in die samelewing opgeneem kan word.  Slierterige hare wat dae laas bietjie water gesien het moet gewas word en sokkies wat vanself regop staan en die vorm van die stewel waarin dit diens doen aangeneem het.  

‘n Paar casa novas wat onder die bedekking van sweet, stof en nog sweet en nog stof soos uitgediende slang vangers gelyk het, kom die trappe af  na die bad en skeer sessie,  en laat die “M”  advertensie draers weer met hoop vir die mensdom na nuwe besigheid uitreik.  Tande wys en wimpers flikker opnuut om die nuwelinge te verwelkom want netnou praat die tequila weer ons taal.

Die perde staan buite sopnat gereën en wag geduldig vir hulle ruiters om strompelend uit ‘n plek te kom waar daar net geraas word en soms ‘n skoot of twee van ‘n six shooter gehoor kan word as iemand en iemand anders daar binne oor ‘n saak verskil. ‘n Geluid wat perde van die tyd goed ken.  Hulle weet ook om versigtig te trap as ruiter in die saal is want uit die saal val gebeur maklik as die greep op die lewe effens verloor is.  Maar hulle gaan nog lank wag want Goodnight Irene word dalk eers heelwat later gespeel.  Hier maak die kroeg toe wanneer daar nie meer gelag word nie en elke stoel in die vertek beset word met ‘n zombie-agtige figuur wat voor hom uit staar soos iemand wat hout soek en die koppie wikkel onvas op die nek rond wat hom nie meer kan regop hou nie en die oë net so dof soos die spieëls teen die mure lyk. Elke oog kyk waar hy wil en om op iets te focus vat baie konsentrasie want die kop, nek en oë volg mekaar teësinnig in dieselfde rigting.

Hier stap ‘n groot man nou in.  Die geluide in die kroeg versag merkbaar want by die toonbank sit ‘n aantreklike vrou .  Het haar in ‘n spieel gesien en besluit om kennis te maak.  Die groot man in die spieël  stap reguit na haar toe.  Hy het groot vereelte hande wat duidelik harde werk gewoond is en ek verbeel my vir ‘n oomblik dat ek oorlede is.  Hy kom staan by haar en hy bewe soos ‘n riet.  Ignoreer almal om hom  en sê dat sy nou ‘n goeie tyd gekies het om hom te verlaat terwyl die oes op die veld ryp is en daar vier honger kindertjies in die huis is.  Ek weet nie wat om te doen nie. Sit net versteend in my stoel en verloor die mistigheid wat ook my oë verdof het en sien die tragedie wat voor my afspeel.  Ek het die wil om te sluk verloor en sien net die vlamme van die vuur in die kaggel teen my glas weerkaats.  Die lewe staan stil en soos baie ander staar ek ook net voor my in ‘n tydgleuf waar die verlede soos ‘n rolprent ook in my gedagtes afspeel. Die stof op die toonbank praat ook met my.

Ek dink aan dae wat nutteloos verbygegaan het en iewers in die asdrom van die lewe lê en verrot.  En ek wonder wat die nut van Sheila en haar tequila is en die ligte afsit met iemand wat  skaars bekend, en die uittand kelnerin wat sommer met die top heavy kruiper wil trou op wie se hand die sheriff getrap het.

En toe word ek wakker en sien die grys mure om my en weet dat dit net ‘n droom was soos in die bekende liedjie beskryf is wat praat oor die sad old padre en die groen gras waarop Mary en ek so gereeld gespeel het.  Hier gaan die lekkerte van die lewe by ‘n mens verby en voeg geen waarde toe nie. Nutteloos en tyd verkwistend.   Soos die Prediker skryf; Dis net’n gejaag na wind.

Ek hou van Country musiek.  Elke liedjie vertel ‘n storie. Soms tragies en soms plesierig en die instrumente wat dit vergesel onderskryf die gevoel van wat gebeur.  As die viool en die steel guitar kerm om klem te lê op die gebeure, roer dit my hart se snare en stem ek saam met die sangeres wat gevra het om die lewe een dag op ‘n slag te kry en te doen wat gedoen moet word.

Nie baie lang jare terug nie, in Windhoek se Ausspannplatz was daar ‘n hotel genaamd Wesfälisher Hoff waar dit amper gegaan het soos hierbo.  Kyk, as jy lus was vir een sluk bier en ses fights voor die tweede, moes jy daarheen gaan.  Groot manne met groot hande en vroue met kekkel laggies was volop en polisie karre het soms vanself van die stasie af vertrek om hulle bestuurders hotel toe te vat om ‘n nuwe fight te gaan aanskou. Bloed, spoeg en………….

Maar net hier was daar nie reëlings vir perde nie maar parkeerplek vir Datsun SSS’e, en Capri Peranas en  Shev SS’e wat nie sonder tollende wiele kon wegtrek en mekaar “dice” nie.  Six shooters was nie gedra nie maar kort broeke met lang sokkies met ‘n staal kam en manne met lang kuiwe wat gereeld met ‘n swaai van die kop in plek geskud is.  En Gunsten en Texan plain.

Good Night Irene good night Irene, I’ll see you in my dream!!!  En selfs die perde weet dis huistoegaan tyd.  Waar’s my kar?????

Diere ABC

A a 
Die aasvoël kla,”Ek is nie mooi nie,
en daarom het ek nie ‘n nooi nie.
Ek wens ek was ‘n pou,
want hy is mooi en hy’t ‘n vrou.”

B b 
Bobbejaan, bobbejaan, jy dink jy’s slim,
omdat jy oor Boer se draad kan klim,
maar Boer is vir jou baie kwaad,
en span nou orals hakiesdraad.

C c 
Ch, ch, ch , ch, snork oupa beer.
nag vir nag en weer en weer.
Oumatjie beer is desperaat,
en wil nou sommer die land verlaat.

D d 
Die dassie spring van klip tot klip.
Sy ore gespits, sy stertjie wip-wip.
Hy’s vinning soos blits en baie rats.
Nou sien jy hom, dan’s hy weg woert-warts.

E e 
Vyf klein eendjies stap in ‘n ry
om te gaan swem in die vlei.
Ag nee, die vlei is dan kurkdroog,
en die plaasdam se muur is veels te hoog.

F f 
Die hele familie fisant
Krap heel dag rond in die sand.
Wat hulle doen , wil jy weet?
Hulle soek wurms om te eet.

G g 
Ek loop teen mure op en af,
partykeer is ek sommer net laf,
en lat val myself – kadoef – op jou bedjie
en dink dis baie snaaks as jy skree: “Mamaaa, ‘n geitjie!”

H h 
As ‘n honderdpootjie skoene nodig het,
is dit vir sy papa geheel en al geen pret.
“Vyftig paar skoene”, sug hy swaar,
“kos ‘n klomp geld so wrintie waar”.

I i 
As ietermago is ek bekend.
Ek is ‘n baie komieklike vent.
Raak jy aan my, rol ek myself op,
en jy weet nie, waar’s my stert en waar’s my kop.

J j 
Jakkals wou gaan hoenders steel, 
op Tant Ralie se perseel.
Min het hy geweet, die stomme dier,
die hoenders het by die bure verjaarsdag gaan vier.

K k 
By die rivier bly Krokodil Morkel.
Hy wil so graag sy tande borsel.
Sy ma dink wat dan nou gedaan,
waar kry ek so ‘n groot tandeborsel vandaan?

L l 
Op ‘n dag wandel koning leeu deur die veld.
“Ek is vir niks bang nie,” spog hy, “ek is ‘n held,
Ek hardloop vir niks en niemand weg nie”.
Toe trap hy in ‘n byenes en kon nie ophou hardloop nie.

M m 
Kyk ‘n bietjie na die flukse mier, my kind,
Iemand wat harder werk sal jy nêrens vind.
Oplaai, aflaai, heen en weer geskarrel, dag vir dag.
Geen gekla nie, nooit ooit lui nie, dit is sy gedrag.

N n 
Naaldekokertjie so fraai en so fyn,
met vleuels wat blink in die helder sonskyn.
As ek so sit en na jou kyk,
sien ek dat jy amper soos ‘n helikopter lyk.

O o 
“O, grote Griet”, roep olifant
“my toonnaels is veels te lank!”
Te hulp kom veearts, Oudok Byl,
Met sy groot skêr en almintige vyl.

P p
Nou die dag stap Pikkie Pikkewein al langs die strand,
en sien kinders in bont klere kastele bou in die sand.
Net daar en dan het hy toe besluit:
“As ek weer strand toe kom, trek ek my manelpak uit.

Q q
Quentin sit by die tafel met ‘n groot woordeboek.
‘n Dier wat met ‘Q’ begin, nes sy naam, dis waarna hy soek.
Maar dis alles verniet, glo my vry.
want so ‘n dier sal hy nie kry.

R r
Renoster se beste vriend sit op sy rug,
Dis renostervoël wat hom waarsku as hy moet vlug.
En as die bosluise renoster pla op sy lyf en sy kop,
Pik-pik sy kleine vriend hul een vir een op.

S s
Stadig, stadig, trap vir trap,
kom skilpad hierlangs aangestap.
Nou is hy moeg en trek sy kop
en al vier sy voetjies binne in sy dop.

T t
Toktokkie, jy’s darem ‘n oulike goggatjie.
Klop-klop hardloop jy rond op soek na jou meisie.
As jy skrik, val jy – woeps – op jou rug,
En speel-speel jy’s dood met jou beentjies stokstyf in die lug

U u
Professor Uil is ‘n knap onderwyser,
maar die ouers is erg geteister,
omdat Prof. Uil die hele dag net slaap,
en die kinders in die klas sit en ginnegaap.

V v
Verkleurmannetjie, ek wonder hoe jy dit doen,
loop jy oor ons grasperk word jy groen,
klim jy stadig langs die boomstam op,
word jy grys van jou tone tot by jou kop.

W w
So ‘n wurmpie is darem ‘n vraat,
dink net aan kos van vroeg tot laat.
Vreet gate dwarsdeur appels, pere en lemoene
en sowaar ook deur die harde skille van pampoene.

X x
Met sy bekkie klein speel die voëltjie 
op die xilifoon ‘n opgewekte deuntjie.
Die brulpadda-koor sing saam uit volle bors,
Almal dans en lag, net ou vlakvark bly steeds nors.

Y y
Miena Krimpvarkie is verlief op Jan Ystervark.
En nooi hom vir ‘n piekniek in die park.
Haar mandjie vol gepak met vlieë, muskiete en lekker goggas.
Jan is nie verheug nie, want hy eet net plante, blare en groen gras.

Z z
Zoem, zoem,zoem vlieg ‘n by
Hier by my neus verby.
Gaan sit op my koeldrankblikkie
en drink ewe astrant ‘n slukkie.

Z z
Weet jy wat is ‘n zoempie?
Dis ‘n oulike, klein duikertjie.
Sy vel het ‘n blou skynsel en is snoesig sag,
as jy hom wil sien, moet jy opstaan in die nag.

©Kopiereg Gisela Tietz-Santos (2010)

Illistrasies deur
© Gerrie van Zyl

Ja, Jan Alleman …

Sommer net – deur Ta’ Meraai

Ag jong ek wou al so lankal terugskryf, maar dit was ‘n paar maande van breke en breuke.

Die een demmitse ding na die ander het speek gebreek en die wiele bly stukkend.

Die moeilikheid het al hier einde 2018 se kant begin. Klein jakkaltjies … Probleem is teen die tyd wat ek begin besef het – toe staan die moeilikheid geil op die land. Dis tog vreemd hoe ons so blindloop tussen die probleme. Jy sien en weet en neem selfs so in die verbygaan notisie – en stel dan uit vir later, want dis mos nog nie ernstig nie.

Seker die dat ons in Afrikaans so baie spreekwoorde daarvoor het. Die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. Of die strooihalm wat die kameel se rug knak.

In elk geval – hierdie jaar is op ‘n stewige drafstap oppad middel toe en die meeste van die vet jakkalse (hulle het nie klein gebly nie) is geslag en die velletjies brei mooi vir ‘n winterskaros.

Ek wou jou maar net laat weet dat alles weer glad loop en sien tog uit na jou volgende gesels.

Stuur groete vir die vrou en soen die kleinkenners – hulle is tog al wat nou nog ‘n sonopkoms die moeite werd maak.

Liefgroete

Ta’ Meraai

Flenter-vlerke liefde

0 $

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout

Vir Pa’s en Seuns

0 $

Deur: Jan N. Alleman

Hierdie werk is opgedra aan my pa; vir hom wat vir my kosbaar is – waar ek ook eers pa moes word om werklik kind te kon wees


My trane lê hoogwater vanaand. My gedagtes woel soos springgety branders. Beelde van vervloë jeugdigheid spoel teen die strande van my herinneringe aan. Dit kasty my strande. Tog, soos net ’n springgety kan, breek dit ook die kosbaarhede oop. Skatte wat lank vergete onder die sand van tyd verberg was word opnuut ontbloot.

Die 380 kilometer van die kus terug na wat ons tans huis noem, lê uitgerek deur die woestyn en doring bome. Twee ure later word ek bewus dat ek die skoonheid van my hartland heel gemis het. Die klip-vlaktes van die Namib het geluidloos by my verby geswiep, so diep was ek in my gedagtes versonke. Ons draai die bosveld in. Die sonsondergang kom lê gehoorsaam hier aan ons linkerkant, byna gereed om die laaste wolkies met goud te verf voordat die koel grys die nag aankondig. 

Vir oulaas, net buite Omaruru, kyk ek uit oor die son-bestreelde Kameeldoring land kort voordat die son sy skemer werk begin. Die woorde wat hier, aand die einde van Sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en moeisaam spoor ek agterna…

Baie ken die eens sterk profiel wat nou uitgeteer die kanker veg. Van trots en waagmoed is daar geen sprake meer nie, maar nederig vra hy vir Ma om die kombersie oor sy bene te kom gooi. Sy moeder maar. Ek laat toe dat my gemoed gordyne voor die vensters van my siel kom span, terwyl sý weerloosheid mý meer weerloos laat. 

Die aand snel traag verby. Die muur-horlosie beduie dat die nag wag en dat ons totsiens moet sê. Die kinders groet en my seun soen Oupa op sy voorkop soos hy altyd doen. Soos hy altyd ook met my doen en in ’n onbewaakte oomblik gee ek my pa ’n druk… Pa… ek en Pa was nooit kontak mense nie. ’n Handdruk is korrek, mans soen net vrouens, mans wat mans druk is besig met verbondenhede: So het die reëls vas gestaan. 

Ek stap regop by die deur uit en kyk vol in die tere oë van my vrou, ’n traan strompel oor haar wang. “Hy’t jou nodig Johan,”fluister sy en toe ek om kyk toor Pa sy sakdoek weg. Sy oë is rooi en sy skouers ruk. Rebellie maak my hart sy huis en reëls, wat geen reëls moes wees, verdamp soos mis voor die son. Ek draai nogmaals om en gee hom weer ’n druk en vir ’n wyle hou ek hom vas. My hart hervorm onder die voorbeeld van my seun.

Die woorde wat hier, aand die einde van sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en vasberade spoor ek agterna. Ek keer dit teen die grensdraad van my gedagtes vas. 

Ek moes ook eers vader word voordat ek waarlik kind kon wees…

Lied van die sondaars

0 $

(‘n pastiche nav Lina Spies se “Lied van die kinders”)
“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die SS soldaat
wat sy geweer gerig het
op ‘n Jood,
sy lip in nare krul,
op sy skoen ‘n groot, rooi vlek.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Kongolese militant
tronend op swaar stewels
van haar, wurm, weggedraai
terwyl aan sy penis
bloed en skande hang.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Hamas-heilige
swaai sy hande langs ‘n vuur
spuug bloed en bomme
om vryheid van onskuld te verhaal.

Kom na my toe, almal wat moeg soek na vergewe
saamgespan voor Pilatus en Herodes
honde wat honger na lug hap
Kom na my toe, volk van die Messias
wat julle aan ‘n kruis gehang het
toe in bloed en vloek en skande
my Vader jul vergeef het.

Ek sal julle rus gee
moordenaars
verkragters
verloënaars
tollenaars
sondaars

Julle moet ek by tuisgaan
Julle hou leë hande uit
en voete om te was

Kom na my toe

Petrus
Saggeus
Rower aan die kruis

Ek sal saam met julle
in die paradys wees

©Marieta McGrath

Oom Fred, die leeu en die stadshond

0 $

Oom Fred Siemens het op die plaas Robyn geboer, doer in vandag se Damaraland (dit was nou voor die Odendaal-komissie die plase uitgekoop het om die gebied te vorm wat vandag bekend staan as die Kaokoveld, oftewel Damaraland).

Daardie jare was daar ongelooflik baie leeus in daardie gebied en die boere het baie beeste en kleinvee verloor. Die leeus het gou agter gekom dat ‘n bees makliker vang as ‘n gemsbok. Die geveg tussen boer en leeu was dus ‘n realiteit. Oom Fred het baie honde verloor in sulke gevegte, want ‘n hond moet van anner stoffasie gemaak wees om ‘n leeu te pak.

So bel ‘n kennis van die Siemense eendag uit Windhoek. Oom Fred tel die telefoon op: “Siemens hier.”
“Middag, Fred, dit is Klaas hier van Windhoek wat praat. Hoe gaan dit?”
“Middag, Klaas, dit gaan goed man, dis goed om van jou te hoor, die leeus pla net baie, maar die veld is geil vanjaar en die bees blink van die vet!” antwoord oom Fred. Lees meer Oom Fred, die leeu en die stadshond

My verlatenheid huil

0 $

onder die geloei van die wind
waaier wolke deur kliptralies
soos droombesems waar hulle
teen die gekneusde horison
stilweg prentjies verf

deur die growwe klipvenster klink
my gesug soos monniksgebede
onder die son wat water trek
teen die blou-blou lug

die dink het my hier verloor
terwyl wind en sand
banaal tot in ewigheid
skommel en bly voortwoel

my verlatenheid huil
in somber kleure
(buite ‘n bekende
wentelbaan) waar
dit in bittertrane
losbreek en vlug

© Anzé Bezuidenhout

Jy is my vrede

0 $

waar jy my hare saggies in sterstof verf
het die maan jaloers gekyk
hoe die melkweg in spikkels
deur my oë tree

my vingers boetseer jou hart se klop
as jy ‘n duisend vuurvliegies inmekaarvleg
en dit laat sirkel om die skerfiemaan
tot dit in my hartklop kon anker gooi

die son van jou liefde het soos
‘n oranje appelkoos geskitter
en my getrek soos ‘n mot na ‘n kers
met my vlerke wiegend op die wind

in jou hitte het ek vrede gevind.

© Anzé Bezuidenhout

Rooikappie #2018

0 $

Rooikappie #2018

Geskryf deur Brechje Visagie.

Die man se skaduwee raak-raak aan die soom van Rooikappie se mantel. Rooikappie loer oor haar skouer. Die straatlig gooi die man wat haar agtervolg se lang skaduwee voor hom uit en sy gesig is in die donker, maar sy herken hom onmiddellik.

“Ag nee, dêmmit!” brom Rooikappie en rek haar treë om van die man weg te kom. Die eeue het hul merk gelaat en gister se pilatesklas was straf. “Sal die bleddie houtkapper nooit leer dat ek nie sy hulp nodig het nie,” skel sy saggies. Sy stap weer stadiger.

Die houtkapper het haar sprokie gesteel. Dit is wat daardie dag in die bos gebeur het. Sý was die mooi kind met die lang, goue vlegsels en die rooi manteltjie. Haar regte plek in die geskiedenis moes langs die van Raponsie, Sneeuwitjie en Aspoestertjie gewees het. Húlle tree as heldinne, prinsesse en koninginne uit die stryd. Maar nie Rooikappie nie. Sy is die stout kind, die een wat afdwaal en vir Ouma laat opvreet van die wolf! Almal is altyd verlig as die houtkapper in haar storie opdaag, vir Ouma red en Wolf doodmaak. Wolf was die enigste opwinding in haar lewe op daardie stadium. Nou is sy eeu na eeu niks meer as ’n sedelessie vir kinders nie.

Lees meer Rooikappie #2018

Adverteer Jouself

 

Onder die afdeling “Wie doen Wat” gee ons aan elkeen van ons skrywers geleentheid om ‘n artikel of advertensie te plaas wat hul persoonlike produkte, handwerk of dienste bekendstel en bemark.

Vertel ons ook meer van jouself en waar jy jou bevind.

Verder – indien jy ‘n skakel het na jou eie webtuiste of fb-blad waar jou produk/diens geadverteer word – kan jy die skakel ook op jou artikel inbring.

Maak gerus gebruik van hierdie geleentheid – dit is gratis vir alle DNS-lede.

Namibgroete

Meraai

 

Namibnuus en Artikels

Ons is nou op die stadium waar die skrywers wat sover opgeteken het, elkeen sy eie blad het en in rus en vrede hul blad kan versorg.

Maar ons kan nie daar gaan stilstaan nie. Om mense te lok wat weer en weer terugkom – nie net as besoekers nie, maar as intekenaars – het ons jul samewerking nodig om die blad interessant te maak en te hou.

Daarom gaan ek nog ‘n afdeling inbring:-

Groete en Goeters:- hier soek ek asseblief gereelde bydraes met foto’s en videos van interessante en mooi dinge wat in jou dorp of area gebeur.

Nie net in Namibia nie, maar van oral in die wereld waar ons Afrikaanse skrywers hulle mag bevind.

Jy kan jou artikel of nuus direk plaas as ‘n nuwe Post – of jy kan die inligting vir my vonkpos en ek sal dit laai.

Gebruik die kitspos gedeelte by “Kontak” ons of stuur dit direk aan my.

Opskud – ek wag!

Namibgroete

Meraai

Veg of vlug – deur Martha Poller

“Goeie dôner, Emma, het jy nou wragtag gedink ek gaan jou nie herken nie?”

Die woorde galm in haar ore. Sy was dan so seker dat sy dit vanaand sal vryspring. Koue rillings gly op en af met haar rug.

Wanneer het dit dan alles so verander? Wie het wanneer haar vrede kom steel? Was dit die dag toe Phillip … . Nee! Moenie daaraan dink nie, bly weg daar, Emma. Dis nie veilig vir jou om daar te gaan nie. Hulle gaan jou gryp en seermaak, Emma. Los uit! Bly weg!

Sy asem brand in haar nek. Sy loop vinniger en vinniger, maar die asem kom nader, al nader. Die boosheid ruik na salpeter en verbrande bloed, dink sy by haarself. Sy weet sy moet hardloop, maar haar bene is soos met lood gevul – sy kan haar voete beswaarlik oplig om voort te vlug.

Lees meer Veg of vlug – deur Martha Poller

BESINNING

Soms kom die winter met sagte snikke

In die somerstof

En die bome skinder saam

Oor verskroeide lentedrome

 

Soms donder die wolke in malende woede

En streep die bliksems my met sambokhale

Totdat ek bibberend skuil

In die holtes van ‘n winterhart.

 

Eentonig en ysig is die inkeertyd

Gedagtes wat verkil

tot blinkwit sneeu van vergeet en verspoel

in strome droefheid oor die gisters

en môre se leegtes waar eens drome was.

©Rita Smit

16 Junie 2015.