Vrees is die moordenaar.

So ek is vir ‘n paar dae in selfopgelegde issolasie. As gevolg van ‘n normale slegte verkoue.

Nee, ek het nie Covid-19 nie, maar die histerie en vrese van my mede-burgers het my die besluit laat neem om maar eers by die huis klaar te hoes, proes en nies.

Verkoue en griep tas die respiratoriese (longe en hart) gedeeltes van ons liggame aan en verswak ons immunstelsels – grootliks as gevolg van ‘n tekort aan suurstof na die res van ons liggaam.

So, nommer 1 wil ek niemand met selfs net die gewone verkoue aansteek nie, want ek sien in my geestesoog die rimpel effek van ‘n enkele nies in die straat.

Aaaitsjoe!!! … en die 10 mense wat dit hoor en sien word oombliklik deur vrees oorval. In die volgende paar ure stroom hulle met hul hele families dokter toe vir toetse, die dokters se spreekkamers loop oor van mense wat mekaar verdruk om getoets te word.

Hul druk die werklike siekes, kanker en hart pasiente en ander met ernstige siektes uit die pad om te probeer ontsnap van die vrees van ‘n moontlike infeksie. Vrees verander normale mense in diere wat “stampede” om te probeer voor kom uit die pad van gevaar – werklike of verbeelde gevaar.

Ons land het net een hospitaal wat ingerig is vir kwarantyn. Windhoek Sentraal het ‘n afdeling wat spesiaal baie modern en tegnologies kompeterend met opgeleide personeel ingerig is vir enige pandemiese siekte. Maar hier is 2 probleme.  Daar is ‘n beperkte hoeveelheid spasie en beddens, en verder dink die meerderheid mense wat hier gaan lees dat hulle te goed is vir Sentraal en gaan daarop wil aandring om in die moderner private hospitale opgeneem te word.

Dit kan en mag nie gebeur nie. Nie een van ons ander hospitale kan en mag pandemiese aansteeklike gevalle opneem nie – WAT VAN DIE ANDER MENSE DAAR? Die bestaande gewone siek mense se immunstelsels is reeds verswak agv wat ookal hul rede vir ‘n hospitaal is. Wil jy werklik honderde ander in gevaar stel net omdat JY glo jy moet beter behandeling kry as wat vir jou uitgesit is?

Jy moenie eens met ‘n gewone verkoue siek mense in ‘n hospitaal besoek nie. Dis selfsugtig en gevaarlik.

Nou vertrap ons die dokters en spreekkamers en noodgevalle om getoets te word vir elke nies en loopneus. Ons bestorm die winkels en trek al ons spaargeld om rakke leeg te koop. Ons “spam” ons sosiale media met elke sensasiesoekende skinderstorie – waar of vals. Elkeen doen sy deeltjie om te help om vrees en paniek te saai.

More, oormore het ons gemaskerde bendes wat in die strate loop en mense met verkoue of griep aanrand of vermoor!

Intussen is daar werklike ernstige probleme soos werkloosheid in ons 2de grootste ekonomiese faktor: – Toerisme. Almal en elke besigheid wat staat maak op toerisme word daadwerklik geraak met verlies aan inkomste. Mense verloor hul werk. Werkloosheid, armoede en binnekort hongersnood is op ons deur en is ‘n baie groter en werklike gevaar as ‘n verkoue op steroids.

Ons Nam Dollar is gekoppel aan die Rand – en die is besig om ‘n ernstige pak slae te kry. Besighede wat staatmaak op invoer gaan oornag ‘n ernstige kontantvloei probleem ontwikkel – dit gebeur al klaar.

Ek kyk na wat op sosiale media aangaan en ek sien en besef dat maak nie saak of Covid-19 werklik is of nie, mensgemaak is of nie, gekoppel is aan 5G of nie, deur diere oorgedra word of nie, ‘n spookstorie is of nie, –

Die massa histerie en onbevange vertrappende vrees wat dit veroorsaak het – DIT IS WERKLIK.

En intussen het ons land en ekonomie klaar begin bloei.

Ek gaan more terug werk toe. Daar is dinge wat gedoen moet word en die son gaan nog steeds opkom.  En die wereld bly draai en die lewe gaan aan. Solank as wat dit moontlik is sal ek ‘n eenman sanksie hê teen vrees, en positief bly en my deeltjie doen om voort te gaan met dit waarvoor ons elkeen verantwoordelik is – die voortbou van ons besighede, ekonomie en land.

Dis reg en goed om op hoogte te bly van die feite en om redelike voorsorg te tref, maar probeer dit asseblief doen op ‘n manier wat nie alles rondom jou ontwrig nie. Wees bedagsaam. Leef jou menslikheid uit.

Meraai