cumulus mediocris

sigbare massa vloeistofdruppels

of selfs bevrore kristalle wat

hoog in die atmosfeer hang

bo die aarde of hemelliggame

soms selfs verwys na as: nebulae


hoe dit ook al sy – wolke maak

ons nederig dankbaar vir reën

drie dennebome kyk hoopvol

op na die hemel en sug sag

wanneer kom die reën uit Sy hand?


©Marlene Erasmus

31/01/2019

sonsoekende sonneblom

al in jou botselstadium soek jy die son
draai jy jou kop om son se spoor te volg
met sonop tuur jy blindelings ooswaarts

soos die dag sleepvoet aanstap volg jy
slaafs die son van die ooste na die weste
geveerdes en soogdiere klein baljaar in jou

met jou giggelgeel blomblare straal jy 
sonstraal vreugde uit in gerwe geluk 
Helianthus annuus – sonnige suksesverhaal …

©Marlene Erasmus
29/01/2019

Flenter-vlerke liefde

0 $

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout

Lied van die sondaars

0 $

(‘n pastiche nav Lina Spies se “Lied van die kinders”)
“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die SS soldaat
wat sy geweer gerig het
op ‘n Jood,
sy lip in nare krul,
op sy skoen ‘n groot, rooi vlek.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Kongolese militant
tronend op swaar stewels
van haar, wurm, weggedraai
terwyl aan sy penis
bloed en skande hang.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Hamas-heilige
swaai sy hande langs ‘n vuur
spuug bloed en bomme
om vryheid van onskuld te verhaal.

Kom na my toe, almal wat moeg soek na vergewe
saamgespan voor Pilatus en Herodes
honde wat honger na lug hap
Kom na my toe, volk van die Messias
wat julle aan ‘n kruis gehang het
toe in bloed en vloek en skande
my Vader jul vergeef het.

Ek sal julle rus gee
moordenaars
verkragters
verloënaars
tollenaars
sondaars

Julle moet ek by tuisgaan
Julle hou leë hande uit
en voete om te was

Kom na my toe

Petrus
Saggeus
Rower aan die kruis

Ek sal saam met julle
in die paradys wees

©Marieta McGrath

Afrika

as die gemsbok teen die duin
se horings in die fel-son blink
… sien ek Afrika

as die eerste donder-druppels
op die dorheid van sy aarde val
… ruik ek Afrika

as die jakkals teen die sekelmaan
sy eensaam lot hartseer bekla
… hoor ek Afrika

as sy son my brand
waar ek kaalvoet loop
na waar wye horisonne roep
… voel ek Afrika

as ek op my maag plat gaan lê
my dors met sy soete waters les
waar rooivin vissies dartel-swem
in sy blinkskoon bergstoom koel
… proe ek Afrika

as ek vanaand my kop neerlê
onder sy nagswart sterkombers
in stilte ongehoord
… lief ek Afrika

dan skrik ek uit my droom
met vreemde onverstaan
ek sien die meslem blink
sy reuk is bitter-rubber rook
ji-ji-ji sy haatspraak taal
sy waters groen geslik
hy brand … hy brand
en die donderwolke trane
sis in sy haat se vlam

die troos … my troos
as die kluite op die blinkplank val
dan oplaas in ongekende vredeslied
word ek geheel-en-al
… deel van my Afrika

(c)Johann Muller

‘n Meisie loop op met die bult

Sy tree vernuftige kwashale
‘n heuningkwas swiep in die naat
gety van die lyf wat stoot teen die lyne
geanker, lig, aan die raam
sy’ s figuurtjie in haar eie skets
haar voete verf ‘n seker droom
en as sy bo kom
is sy heuning in die vlug
sonskadu’ s oor die aarde

Meisie wat die bult op loop
mag jou hande altyd odes verf
mag jy nooit jou eie hale prys
want meisie wat die bult op loop
ons vlerke is ons net geleen

©Marieta McGrath

om die waarheid

Om die waarheid
sal ek’ ie skrik,
van hoe se en wie se en
wat gesê van leeg lat lê
dis ʼn oorvol gedruk,
my klein ding vergifnis
daar in die hoek
sommer nou belangrik gevloek

 

wat my nou net gebeur het, o treur
het met jou gebeur en toe
dit alles om ‘n veer …
kruis woord, huis besoek
hier lê ons tale dwars oor die tafel
dronk van geregtigheid
vrot gemoed
o wee

 

vader, geen geheim of raaisel meer
dis as of die wêreld
drie keer weer uit sy dop
loop ting-tingkie speel
en almal glo opnuut daar in,
van voor af verbeel 
en verder galop

 

om die waarheid
sal ek’ie skrik,
al kom jy hier aan riet uitgeknip
pou oppie toring se punt
later gaan jy tog maar saam
stadig en gebukkend voort
nes ons ma vanaand

 

Dirk Van Agter

van toe af…

Dit was op ʼn stoep iewers

vroeg in my kinder vel toe die skemer uur

die grond pad horison se oker stof

so heup stok bo die aarde lê en huiwer

en die eerste druppel reën

sy geur laat val

en bars van diep kaneel

 

dis toe dat die wêreld kantel

om die hemel van ons plaas

waar die ewigheid deur die laaste

skrefie van die dag vir my gewink het

en die heelal begin sypel soos

musiek uit die voorkamer

en kerse oppie tafel

 

‘n tuin miskien ‘n duisend

wei velde hier vandaan

toe die ou kruis-hond my kom soek

by die getap van ʼn dam

bad water dan ma se geroep

so voor die kaalvoet nag

geheim vol van niks en alles, huil of lag

 

weet jy

ek soek nog nimmer daai kind

sonder sien of praat goed gebind

so verlief en van die liefde vry

oor niks en niemand

 

Deur Dirk van Agter

Gebrooke taal

Agteraan die stem in my
draai die draadloos rondom vry
weerkaats die spieel soms agteruit
vou die vierkant maan se skadu fluit

Net soos jou hou vas my kom kry
glip die liefde weer verby
klink die spyker-siekte uit n droom
val ons teddy beertjies agteroor

Fluister reenboog operas in n skag
vol van donker blink van lag
ag dink my diep diep tot innie see
van sielsikloon tot nimmer meer

want agteraan die stem in my
hang die draadloos aan sy sy
van kamma sis en kamma stag
in allie soek wat jy verwag

en sing die mond n gebroke taal
oor tyd en stryd die ou verhaal
so trek die geelstreep horison
van my pen tot by jou blom

wat torring aan die mense hier
reis agent of passasier
as elke een sy huis verlaat
val krom komberse innie straat…

HANDE

Foto: Ekke Aandiestrand

Ag Jirre, ekke wonner of U se hanne lyk soos myne? U loop soek gedurig na ‘n skaap of ‘n bok wat verlore geraak het en dan tel U vir daai bok op in U se sterkke grote hanne en dra vir hom terug na U se kraal. U se hanne het die aardbol gemaak, die klippertjies, die boompietjies, die dassies en die hasies en die Gemsbok vannie groot sand wêreld. My se hanne is vol dik velle van vashou aan ‘n graaf en ‘n stok. Net soos ekke ‘n skuilte gemaak het vir my vrou en kinners so het U se hanne vir ons almal ‘n skuilte gemaak en ‘n Kameeldoring virrie koelte. Jirre U se hanne vat ok sag want as onse harte pyn vat U se hanne sag die pyne weg. Jirre segen myse hanne solat hulle nog lank hulle vatte kan vat en hulle se make kan maak. Amin.

Sanet Bezuidenhout

Die bruinvy

Van altyd af was vye vir my spesiaal. Lank voordat dit nog modekos was, was dit al my geliefkoosde vrug.

“Woestynkos,” het Pa gesê. “Dit en granate en turksvye en dadels. Dis hoekom die Bybel van die vroegste tye af daarvan praat en dis hoekom dit hier groei.”

Op ons bykans waterlose plaas in Namibië, was die twee reuse vyebome, die turksvye langs die dam en die granaatbos langs die watertenk vir ons kosbaar. By Ouma en Oupa op die dorp, was daar dadelbome langs die voor van die waterputs wat nog uit die Duitse tyd dateer het. Tot vandag toe, is dit vir my ondenkbaar om die lewe in te dink sonder vye, granate, turksvye en dadels.

Ma het van die die vye vir ons vyelekkers, vyerolle en gedroogde vye gemaak. Daarvan van gedroogdevye my heel, heel gunsteling.  Die dadels het sy in plastieksakkies laat sweet en weggepak vir die vrugtehonger wat saam met die winter en die westewind kom. Sy het turksvystroop en turksvykonfyt gekook. Natuurlik het sy ook vyekonfyt gekook. En granaatstroop wat ons in die somer met water en ys gedrink het. Baie werk, liefdeswerk.

Maar die lekkerste, die heel, heel lekkerste, was as ek soggens kon opstaan, die vye uit die boom gaan pluk , met die nag se koelte nog tussen die blare en in die pienk blommetjiesharte van die witvye. Die jeukerigheid wat die blare veroorsaak het, het jy sommer in die krip gaan afspoel. Daar was vye wat papryp was. Pure stroop, heerlike soetheid.

Natuurlik wou ek my eie vyeboom hê toe ek uiteindelik die grond, die tyd en die plek het om tuin te maak. Ek kry nêrens vyebome te koop nie. Tot nou die dag. Ek koop twee boompies. ‘n Kaapse bruinvy en ‘n adamsvy. Ek kon die eerste ryp bruinvytjie Sondag pluk. Ek neem die foto. Ek ruik aan hom en dra hom op ‘n glasbakkie na my Lief in sy kantoor. Ek lees Opperman se  gedig vir hom:

DANK

Ek bring aan jou die eerte vrugte van die land/ met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:

‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand/gedra as nuwe hulde van seisoen en tyd;

jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei/ waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel

sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my / en val die geil reëns van die berge sonder doel.

Toe deel ek die vye in twee. Dit smaak hemels, dis kosbaar, dis dankbaarheid. Een enkele vy wat my so ryk en bevoorreg laat voel.

Geskryf deur: Brechje Visagie

 

Kat (k?) en hare

Moeg geveg.

Nee, ek sit nie 4hoo in die oggend en skryf omdat ek insomnia het of niks beters het om met my tyd te doen nie.

Ek sit en skryf omdat ek die oorsprong van die gesegde K@k en hare bedink.

Iemand het êrens in die verlede hierdie ding verkeerd gehoor en toe is hy maar so verkeerd-verkeerd voortgedra.

Laat ek by die begin begin. Lees meer Kat (k?) en hare

My moeg is moeg

Goeie more maters,

Ja hierdie jaar is besig met sy laaste doodsnikke.

Ek ervaar ‘n algehele en algemene lamte en moegheid – ag kom ek sê maar die woord:- Gatvol! – orals by alles en almal.

Die hitte vang ons hier in die Suidlande. Dit dra nie by tot ons pogings om te oorleef nie. Finale uitdagings wat eis vir afhandeling voor die jaar sy deure toemaak, dra by tot ‘n algehele gees van stress en moedeloosheid.

Selfs die Taxi bestuurders is meer bedagsaam en minder agressief op die paaie. Dit is ‘n besliste teken van ‘n groot moeg wat oor alles hang.

Hier op ons groepie het ek ook ‘n besliste afname in bydraes gesien. Ook die gesels is maar lammerig en tammerig. Vir ‘n oomblik was ek bekommerd – maar na ek bietjie op die ander groot groepe gaan kuier het – sien ek dat daar selfs nog minder aangaan as hier by ons.

Al wat ek vir elkeen kan sê is vasbyt en sterkte. Vat elke dag asof dit die enigste dag in jou lewe is (wat die werklike waarheid is).

Moenie energie vermors op gister nie – jy kan absoluut niks doen om hom oor te doen nie.

More is nog nie gebore nie – so moet ook nie tyd en energie wat aan vandag se leef behoort daarop spandeer nie.

In hierdie tyd waar dit voel asof jou uurglas ‘n gat in het en jy amper die sandkorrels kan tel, is dit nou absoluut belangrik om buite tyd vir jouself tyd te maak.

Vat ‘n oomblik om diep en stadig asem te haal. Teug aan daai koffie en geniet elke slukkie asof dit die enigste ding in die heelal is wat saakmaak.

Voor jy uithardloop om die dag te jaag – vat ‘n intense moment vas en laat tyd stilstaan deur jou geliefde hartsogtelik te soen.

Spandeer ‘n gehalte oomblik stil saam met JOU.

Stop die klok! Moenie vasgevang word in die “stampede” nie.

Hoop julle elkeen het ‘n wonderlike dag.

 

 

Oom Fred, die leeu en die stadshond

0 $

Oom Fred Siemens het op die plaas Robyn geboer, doer in vandag se Damaraland (dit was nou voor die Odendaal-komissie die plase uitgekoop het om die gebied te vorm wat vandag bekend staan as die Kaokoveld, oftewel Damaraland).

Daardie jare was daar ongelooflik baie leeus in daardie gebied en die boere het baie beeste en kleinvee verloor. Die leeus het gou agter gekom dat ‘n bees makliker vang as ‘n gemsbok. Die geveg tussen boer en leeu was dus ‘n realiteit. Oom Fred het baie honde verloor in sulke gevegte, want ‘n hond moet van anner stoffasie gemaak wees om ‘n leeu te pak.

So bel ‘n kennis van die Siemense eendag uit Windhoek. Oom Fred tel die telefoon op: “Siemens hier.”
“Middag, Fred, dit is Klaas hier van Windhoek wat praat. Hoe gaan dit?”
“Middag, Klaas, dit gaan goed man, dis goed om van jou te hoor, die leeus pla net baie, maar die veld is geil vanjaar en die bees blink van die vet!” antwoord oom Fred. Lees meer Oom Fred, die leeu en die stadshond

My verlatenheid huil

0 $

onder die geloei van die wind
waaier wolke deur kliptralies
soos droombesems waar hulle
teen die gekneusde horison
stilweg prentjies verf

deur die growwe klipvenster klink
my gesug soos monniksgebede
onder die son wat water trek
teen die blou-blou lug

die dink het my hier verloor
terwyl wind en sand
banaal tot in ewigheid
skommel en bly voortwoel

my verlatenheid huil
in somber kleure
(buite ‘n bekende
wentelbaan) waar
dit in bittertrane
losbreek en vlug

© Anzé Bezuidenhout

Jy is my vrede

0 $

waar jy my hare saggies in sterstof verf
het die maan jaloers gekyk
hoe die melkweg in spikkels
deur my oë tree

my vingers boetseer jou hart se klop
as jy ‘n duisend vuurvliegies inmekaarvleg
en dit laat sirkel om die skerfiemaan
tot dit in my hartklop kon anker gooi

die son van jou liefde het soos
‘n oranje appelkoos geskitter
en my getrek soos ‘n mot na ‘n kers
met my vlerke wiegend op die wind

in jou hitte het ek vrede gevind.

© Anzé Bezuidenhout

As Petrus Kraai

(’n Wekroep)

Petrus kraai. Iewers in die agtertuin kraai Petrus met soveel oorgawe dat ek in my slaap verwarde geestesoog sien hoe die kam op sy kop skoon skeef sit. Dit is vieruur in die môre en Petrus is seker soos ek al vir ‘n tweede keer bedseer gelê. Stadig sit ek regop en swaai my bene oor die rand van die bed. My voete soek ywerig en bang na my pantoffels. Ywerig, want hulle hou nie van kaal loop nie. Bang, want wie weet wat het in die nag in my pantoffel huis kom maak.

Saggies trek ek ‘n ou ietsie oor my kaal skouers en sluip uit kombuis toe. By die kamerdeur loer ek om na die ander gestaltetjie in die bed. Ek wil nie graag die meisie van my hart so vroeg wakker maak nie. Ek trek die deur versigtig toe. Vier-twintig gorrel die koffiemakertjie die laaste spoegsel water deur. Ek skink vir my ‘n beker troos en stap by die deur op die agterste tronk stoep uit.

Petrus bekla nog steeds sy lot terwyl die soel oggend bries my verwelkom. Die voorspel van nog ‘n snikhete dag. Ek kom tot rus in my stoel en skakel die leeslamp aan. Ek neem my Bybel en my Pitkos en Padkos en slaan dit oop. Ek laat toe dat die skrywer maar voorskryf: Spreuke 15:1-4
“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord…” 

Lees meer As Petrus Kraai

Aantekenaar en Bydraer

Hier volg 2 videos om jou te help om jou pad op die blad te vind.

Die 1ste is vir subscriber/Bydraer as jy pas aangesluit het – of nog wil aansluit.

Die 2de is nadat jy opgradeer is na bydraer/contributor.

Hier volg die stappe vir die heel maklikste en eenvoudigste manier om te pos. Dit is net die begin van jou avontuur by ons. Sodra jy gemaklik is met Classic – kan jy VC (Visual Composer) probeer.

Geniet en moenie bang wees nie – ek kan meeste dinge wat jy hier verkeerd doen regmaak.

Laat die reis begin!

Kritiese Kommentaar

Dankie vir Kritiek:

Vandat ek die eerste keer iets op Namib Skryf gelees het, het ek tuis gevoel. Ek ken mos die dinge waarvan almal praat. Die talent het my stomgeslaan. Ek kan verreweg nie alles lees wat daagliks gepubliseer word nie, maar dit wat ek wel lees, is baie goed.

Ek het aangedui dat ek nie omgee indien my skryfwerk aan die kastyding en kommentaar van die lede en die professionele ontleders onderwerp word nie. My Granaatbos-gedig wat ek verlede week geplaas het (Anoniem) is van alle kante bygekom. Eina!


Maar! Vanoggend druk ek die kommentare uit en begin werk. Lees, voeg by, laat weg, spel reg, lees weer. Skryf oor, herrangskik, pluk-pluk hier aan ’n wegstaan woord en skaaf daar aan iets wat moeilik lees. En toe, so in medewerking, in aanneem en afwys, kry my gedig nuwe lewe.
Lees meer Kritiese Kommentaar