Flenter-vlerke liefde

0 $

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout

Gebrooke taal

Agteraan die stem in my
draai die draadloos rondom vry
weerkaats die spieel soms agteruit
vou die vierkant maan se skadu fluit

Net soos jou hou vas my kom kry
glip die liefde weer verby
klink die spyker-siekte uit n droom
val ons teddy beertjies agteroor

Fluister reenboog operas in n skag
vol van donker blink van lag
ag dink my diep diep tot innie see
van sielsikloon tot nimmer meer

want agteraan die stem in my
hang die draadloos aan sy sy
van kamma sis en kamma stag
in allie soek wat jy verwag

en sing die mond n gebroke taal
oor tyd en stryd die ou verhaal
so trek die geelstreep horison
van my pen tot by jou blom

wat torring aan die mense hier
reis agent of passasier
as elke een sy huis verlaat
val krom komberse innie straat…

HANDE

Foto: Ekke Aandiestrand

Ag Jirre, ekke wonner of U se hanne lyk soos myne? U loop soek gedurig na ‘n skaap of ‘n bok wat verlore geraak het en dan tel U vir daai bok op in U se sterkke grote hanne en dra vir hom terug na U se kraal. U se hanne het die aardbol gemaak, die klippertjies, die boompietjies, die dassies en die hasies en die Gemsbok vannie groot sand wêreld. My se hanne is vol dik velle van vashou aan ‘n graaf en ‘n stok. Net soos ekke ‘n skuilte gemaak het vir my vrou en kinners so het U se hanne vir ons almal ‘n skuilte gemaak en ‘n Kameeldoring virrie koelte. Jirre U se hanne vat ok sag want as onse harte pyn vat U se hanne sag die pyne weg. Jirre segen myse hanne solat hulle nog lank hulle vatte kan vat en hulle se make kan maak. Amin.

Sanet Bezuidenhout

Die bruinvy

Van altyd af was vye vir my spesiaal. Lank voordat dit nog modekos was, was dit al my geliefkoosde vrug.

“Woestynkos,” het Pa gesê. “Dit en granate en turksvye en dadels. Dis hoekom die Bybel van die vroegste tye af daarvan praat en dis hoekom dit hier groei.”

Op ons bykans waterlose plaas in Namibië, was die twee reuse vyebome, die turksvye langs die dam en die granaatbos langs die watertenk vir ons kosbaar. By Ouma en Oupa op die dorp, was daar dadelbome langs die voor van die waterputs wat nog uit die Duitse tyd dateer het. Tot vandag toe, is dit vir my ondenkbaar om die lewe in te dink sonder vye, granate, turksvye en dadels.

Ma het van die die vye vir ons vyelekkers, vyerolle en gedroogde vye gemaak. Daarvan van gedroogdevye my heel, heel gunsteling.  Die dadels het sy in plastieksakkies laat sweet en weggepak vir die vrugtehonger wat saam met die winter en die westewind kom. Sy het turksvystroop en turksvykonfyt gekook. Natuurlik het sy ook vyekonfyt gekook. En granaatstroop wat ons in die somer met water en ys gedrink het. Baie werk, liefdeswerk.

Maar die lekkerste, die heel, heel lekkerste, was as ek soggens kon opstaan, die vye uit die boom gaan pluk , met die nag se koelte nog tussen die blare en in die pienk blommetjiesharte van die witvye. Die jeukerigheid wat die blare veroorsaak het, het jy sommer in die krip gaan afspoel. Daar was vye wat papryp was. Pure stroop, heerlike soetheid.

Natuurlik wou ek my eie vyeboom hê toe ek uiteindelik die grond, die tyd en die plek het om tuin te maak. Ek kry nêrens vyebome te koop nie. Tot nou die dag. Ek koop twee boompies. ‘n Kaapse bruinvy en ‘n adamsvy. Ek kon die eerste ryp bruinvytjie Sondag pluk. Ek neem die foto. Ek ruik aan hom en dra hom op ‘n glasbakkie na my Lief in sy kantoor. Ek lees Opperman se  gedig vir hom:

DANK

Ek bring aan jou die eerte vrugte van die land/ met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:

‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand/gedra as nuwe hulde van seisoen en tyd;

jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei/ waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel

sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my / en val die geil reëns van die berge sonder doel.

Toe deel ek die vye in twee. Dit smaak hemels, dis kosbaar, dis dankbaarheid. Een enkele vy wat my so ryk en bevoorreg laat voel.

Geskryf deur: Brechje Visagie

 

Oom Fred, die leeu en die stadshond

0 $

Oom Fred Siemens het op die plaas Robyn geboer, doer in vandag se Damaraland (dit was nou voor die Odendaal-komissie die plase uitgekoop het om die gebied te vorm wat vandag bekend staan as die Kaokoveld, oftewel Damaraland).

Daardie jare was daar ongelooflik baie leeus in daardie gebied en die boere het baie beeste en kleinvee verloor. Die leeus het gou agter gekom dat ‘n bees makliker vang as ‘n gemsbok. Die geveg tussen boer en leeu was dus ‘n realiteit. Oom Fred het baie honde verloor in sulke gevegte, want ‘n hond moet van anner stoffasie gemaak wees om ‘n leeu te pak.

So bel ‘n kennis van die Siemense eendag uit Windhoek. Oom Fred tel die telefoon op: “Siemens hier.”
“Middag, Fred, dit is Klaas hier van Windhoek wat praat. Hoe gaan dit?”
“Middag, Klaas, dit gaan goed man, dis goed om van jou te hoor, die leeus pla net baie, maar die veld is geil vanjaar en die bees blink van die vet!” antwoord oom Fred. Lees meer Oom Fred, die leeu en die stadshond

My verlatenheid huil

0 $

onder die geloei van die wind
waaier wolke deur kliptralies
soos droombesems waar hulle
teen die gekneusde horison
stilweg prentjies verf

deur die growwe klipvenster klink
my gesug soos monniksgebede
onder die son wat water trek
teen die blou-blou lug

die dink het my hier verloor
terwyl wind en sand
banaal tot in ewigheid
skommel en bly voortwoel

my verlatenheid huil
in somber kleure
(buite ‘n bekende
wentelbaan) waar
dit in bittertrane
losbreek en vlug

© Anzé Bezuidenhout

Jy is my vrede

0 $

waar jy my hare saggies in sterstof verf
het die maan jaloers gekyk
hoe die melkweg in spikkels
deur my oë tree

my vingers boetseer jou hart se klop
as jy ‘n duisend vuurvliegies inmekaarvleg
en dit laat sirkel om die skerfiemaan
tot dit in my hartklop kon anker gooi

die son van jou liefde het soos
‘n oranje appelkoos geskitter
en my getrek soos ‘n mot na ‘n kers
met my vlerke wiegend op die wind

in jou hitte het ek vrede gevind.

© Anzé Bezuidenhout

Rooikappie #2018

0 $

Rooikappie #2018

Geskryf deur Brechje Visagie.

Die man se skaduwee raak-raak aan die soom van Rooikappie se mantel. Rooikappie loer oor haar skouer. Die straatlig gooi die man wat haar agtervolg se lang skaduwee voor hom uit en sy gesig is in die donker, maar sy herken hom onmiddellik.

“Ag nee, dêmmit!” brom Rooikappie en rek haar treë om van die man weg te kom. Die eeue het hul merk gelaat en gister se pilatesklas was straf. “Sal die bleddie houtkapper nooit leer dat ek nie sy hulp nodig het nie,” skel sy saggies. Sy stap weer stadiger.

Die houtkapper het haar sprokie gesteel. Dit is wat daardie dag in die bos gebeur het. Sý was die mooi kind met die lang, goue vlegsels en die rooi manteltjie. Haar regte plek in die geskiedenis moes langs die van Raponsie, Sneeuwitjie en Aspoestertjie gewees het. Húlle tree as heldinne, prinsesse en koninginne uit die stryd. Maar nie Rooikappie nie. Sy is die stout kind, die een wat afdwaal en vir Ouma laat opvreet van die wolf! Almal is altyd verlig as die houtkapper in haar storie opdaag, vir Ouma red en Wolf doodmaak. Wolf was die enigste opwinding in haar lewe op daardie stadium. Nou is sy eeu na eeu niks meer as ’n sedelessie vir kinders nie.

Lees meer Rooikappie #2018

Adverteer Jouself

 

Onder die afdeling “Wie doen Wat” gee ons aan elkeen van ons skrywers geleentheid om ‘n artikel of advertensie te plaas wat hul persoonlike produkte, handwerk of dienste bekendstel en bemark.

Vertel ons ook meer van jouself en waar jy jou bevind.

Verder – indien jy ‘n skakel het na jou eie webtuiste of fb-blad waar jou produk/diens geadverteer word – kan jy die skakel ook op jou artikel inbring.

Maak gerus gebruik van hierdie geleentheid – dit is gratis vir alle DNS-lede.

Namibgroete

Meraai

 

Namibnuus en Artikels

Ons is nou op die stadium waar die skrywers wat sover opgeteken het, elkeen sy eie blad het en in rus en vrede hul blad kan versorg.

Maar ons kan nie daar gaan stilstaan nie. Om mense te lok wat weer en weer terugkom – nie net as besoekers nie, maar as intekenaars – het ons jul samewerking nodig om die blad interessant te maak en te hou.

Daarom gaan ek nog ‘n afdeling inbring:-

Groete en Goeters:- hier soek ek asseblief gereelde bydraes met foto’s en videos van interessante en mooi dinge wat in jou dorp of area gebeur.

Nie net in Namibia nie, maar van oral in die wereld waar ons Afrikaanse skrywers hulle mag bevind.

Jy kan jou artikel of nuus direk plaas as ‘n nuwe Post – of jy kan die inligting vir my vonkpos en ek sal dit laai.

Gebruik die kitspos gedeelte by “Kontak” ons of stuur dit direk aan my.

Opskud – ek wag!

Namibgroete

Meraai

Veg of vlug – deur Martha Poller

“Goeie dôner, Emma, het jy nou wragtag gedink ek gaan jou nie herken nie?”

Die woorde galm in haar ore. Sy was dan so seker dat sy dit vanaand sal vryspring. Koue rillings gly op en af met haar rug.

Wanneer het dit dan alles so verander? Wie het wanneer haar vrede kom steel? Was dit die dag toe Phillip … . Nee! Moenie daaraan dink nie, bly weg daar, Emma. Dis nie veilig vir jou om daar te gaan nie. Hulle gaan jou gryp en seermaak, Emma. Los uit! Bly weg!

Sy asem brand in haar nek. Sy loop vinniger en vinniger, maar die asem kom nader, al nader. Die boosheid ruik na salpeter en verbrande bloed, dink sy by haarself. Sy weet sy moet hardloop, maar haar bene is soos met lood gevul – sy kan haar voete beswaarlik oplig om voort te vlug.

Lees meer Veg of vlug – deur Martha Poller

Meer oor Koster

Uittreksel uit Straatligte in die mis:-

 

12. My Moeder

Ek sien my moeder glimlag uit die hemel vir my

Sy was die beste mamma op aarde te kry

Sy het ons laat opgroei om mekaar lief te hê

Die heel beste mamma kan ek met reg sê

 

Lees meer Meer oor Koster

DNS Woeker!

 

Sjoe (vr)ouens! Ek is nie seker wat en hoe dinge besig is om te gebeur nie ?! Dis absoluut fenomenaal.

Ek het presies 2 weke terug met die idee van die blog en ‘n blad vir elke skrywer begin. Van die 40 skrywers wat nou elk ‘n blad op die blog het – is omtrent 30 gelink aan splinter nuwe Fb Skryfblad.

Lees meer DNS Woeker!

Meer van Marsofine

Woorde wat waai

Marsofine se debuutbundel is pas vrygestel.

Sy het verskeie ATKV toekennings vir die gedigte in hierdie bundel ontvang.

Bestel hierdie “moet hê”  direk by haar teen 

N$ 150-00

Jy kan haar vonkpos by marsdrey@yahoo.com

of ‘n boodskap op hierdie blog los of op kontak haar op haar skryfblad

https://www.facebook.com/Marsofine-Skryf-163290104621296/

Meer van Martha

Boeke deur Martha Poller

Tuiskoms:

Bestaan uit kort stukkies wat op haar blog verskyn het.

Hagar:

‘n Bybelse roman oor die lewe van Hagar, Sara en Abraham.

Albei is uitgegee deur Malherbe Uitgewers en kan bestel word by die volgende skakel.

https://www.malherbe-uitgewers.co.za/martha-poller

Of los vir Martha ‘n boodskap op die blog of op haar blad onder Skrywers.

 

 

My liefde is nie pyle uit ‘n boog nie

My liefde is nie…

my  liefde is nie pyle uit ‘n boog nie
my liefde vir jou is diep voue in my aardkors
in flennie vou ek jou frummellyfie
in die voue van my bors bêre ek jou
en voed jou wit goud
ek laat jou neerlê in my lyf se boog
gespan vir elke asemteug
my boog skuil skerpskutter in die nag
ook in die dag kokon ek jou
maar soos boë van jou mates ontvou,
larwespartel jy teen my
pyle tong ek op jou
tot jou bang kokon verfrummel en, geskud
tot in my aardkors, ek my lyf om joune doekvou
om my pyle af te weer.
©Marieta McGrath

Proeflees


ek vra nie
vir wonderwerke en weelde nie.
ook nie vir oplossings of antwoorde nie.
al wat ek begeer,
is om gelees te word.
verdwaal in my grysdoolhof, waar verlange en behoeftes gekerf is,
waar onthou-skatte en wil-wese lê en wag.
lees tussen my lyne,
sien dieper as die kurwes en letsels,
die rondings en smag-lippe.
blaai rustig deur die girtselings van gisters en harsingshades.
lees my, skaaf aan my gedig,
en maak van my ‘n meesterstuk

@ANGELHEYNS

Karsinoom

Die Siekte
het jou leeg gesuip,
tot op die been.
Jy het lankal Vader Tyd se hand in die heelal gevoel,
selfs skalks vasgehou met tye…
Todat die laaste bietjie murg,
weer oorlog verklaar het teen verganklikheid.
Vir jóú vriend,
sal ek die son gaan haal,
deur die lug sleep van waar die hemel en aarde een word.
Vir ‘n leeftyd lank was jy
klipstom,
of donderweer duidelik,
deel van my beskeie pad.
En kon ek op jou reken
In tye van vreugdesfees, of, al was my oë dik en wange nat.
Hoe kan ek in jou laaste dae
kla…
Oor hoe ek jou nodig het
En hoe my hart sal bloei daar waar jy stadig los skeur?
Ek wil jou klingel-lag en “I told you so” wéét,
vasmessel in my nou,
en jou hê in my “Eendag op ‘n reëndag” kasteel-stories.
Sielsgenoot:
Jy weet waar jou “wil nie meer nie” begin.
Ek sal daar ook jou hart in my hande neem
En steeds vir ewig bemin.

©ANGELHEYNS