Verganklikheid

onverganklike spatsel lig
in vergangklike vrotvleis
vasgevang, gevangene

stry en stryd om te skyn
sukkelend deur tralies
wat jou hart omhein
en gordyne, sluiers
oor jou vensters

ooo om uit te breek
los te maak
hoog te sweef 
kuns en kwas
woorde verweef
in sprokie en sprak
siel skeppend
gedwing bo-oor die grense
van stoflike sel
uitvlug uit hierdie hel
van menslikself
skep jy tyd
en skep jy tydelik
in nabootsing 
van die Lig

spatsel lig onverganklik
polsend lewend wagtend
groeiend in die dieper donker
spartelend teen die grendels

jou tyd van tydloosheid 
en ewige vryheid
sal ook kom …

Meraai

Bestaan môre se leef?

Ons sukkel so
om ‘n bestaan te maak,
dat ons heel vergeet
om te strewe na lewe.

En dan!

In pyn en angs stop die klok.
Benoude donkerte,
lugleë longe,
‘n bees op jou bors
wat wil in …
‘n Tier wat wil uit!

En jy weet –

Dis klaar. Die stryd is verby.
En daar is geen wenner
of verloorder.
Daar is net een plek op die podium,
stom spoke applous op die stadion.

En die sproeiligte gaan aan:

Spotlight op jou.
En jy is stil. Kalm. 
En dan bedonnerd!

Nog? Nog tyd?
Om mee te wat?
Fok die onafgehandelde!
Fok die stukkende drome!
Fok die verlore jare!
Fok die potensiële niks
van môre se miskien!

Fok my stukkende hart
Wat weier om op te hou klop.

En môre?

Dis te vêr. 
Nou, hier in hierdie oomblik
is daar stilte en kalmte.
En storms en orkane.
En stilte en kalmte …

En die tyd vir leef?

Kloppedie klop – met elke slag
Tel dit af
en af
Lup – een minder dup
om te leef.

Intussen?

Intussen bestaan ons –
miskien kan ons môre begin leef.

(c)Meraai

Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

‘In Lewende Lywe’

Dialoog verhaal. Verskyn ook in Koos Magazine se Maart uitgawe.

In lewende lywe.
© Jaco Groenewald

“Stefaans, kom kyk hier.”
“Wat nou weer Japie? Ek sien deur jou!”
“Nuwe ou, hy praat met Kerneels.”
“Oh, salig onbewus.”
“Presies! Gaan ons bietjie pret hê?”
“Soek julle twee weer vermaak?”
“Dis die bier Gawie, dit gaan regdeur my!”
“En julle grappies bly dieselfde. Hoekom beweeg julle nie aan nie?”
“Hoor wie praat! Jy sit al hier van 1978 af Gawie.”
“Ja, maar ek weet wat op my wag!”
“Hoe nou? Jy kan mos nie dit weet nie.”
“Glo my ek weet Japie! As ek gelukkig is, gaan die knakstert my kry.”
“Nee wag-wag! Hoop jy om hel toe te gaan?”
“Ja Stefaans! Is dit so moeilik om te glo?”
“Ja wel…. Eerste spook wat hel, bo saligheid verkies…”
“Gmmmmpffff. Saligheid. My vroutjie wag daar. Ek kies eerder Lucifer.”
“So erg?”
“Gawie, ek het eenmaal saam my bierman die wingerdwa gery, en effens laat tuis gekom. Toe steek sy my met ñ spitvurk!”
“Ek is seker sy sou jou al vergewe het.”
“Met rotgif? Ek was by haar begrafnis, saam met Betty Green. Die Ingelse meisie op die dorp.”
“Sjoe Gawie!”
“Die volgende dag toe rol ek die tjor. Sê jy vir my…. Sou jy ingegaan het?”

“Kyk hoe sit die kroeglopers en maak of hulle drink!”
“Jis Kerneels. Sien jy het ñ nuwe slagoffer. Waar is hy nou?”
“Hou jou in Japie. Die man is op na sy kamer toe. Hy dink hy pak uit.”

“Kyk die sot! Kom sit sommer op my skoot!”
“Hahaha. Ai ou Gawie. Hy kan jou mos nie sien nie. Hy is net ñ venter, vertrek weer môre.”
“Ek gee nie om nie Kerneels! Maniere kos niks. Wat is sy kamer nommer? Vanaand tjop hy af!”
“Ai ou Gawie!”
“Terwyl julle so op my pik. Wat is julle ekskuus?”
“Ek geniet nog die dwaalwandel.”
“Regtig Stefaans?”
“Ek is nou eers ñ week ñ paaiboelie!”
“Japie?”
“Ek wag dat my vrou gaan. As sy trou voor dit, gaan ek daar loop spook. Waar is Kerneels?”
“Hy maak maar so.”
“Gawie, jy is al lank hier, weet jy wat Kerneels se storie is? Hy is so vaag oor die saak.”
“Dis ñ baie lang en baie hartseer verhaal.”
“Tyd het ons beslis niks van nie!”
“Slimjan word toe dooie-jan! Dit gaan oor Sally, sy verloofde. Sy het weggeraak, op die vooraand van hulle troue, soos mis voor die son. Niemand het ooit weer ñ woord van haar gehoor nie. Hy kan dit nie oor sy hart kry, om hier weg te gaan nie! Hulle sou albei daardie jaar vyftig geword het.”
“Is hy bang sy kom terug?”
“Einste Stefaans.”
“Dis nie so lang verhaal nie.”
“Daar was twee ander meisies ook, weke voor sy Sally vedwyn het. Die vermoede was ñ reeksmoordenaar, maar hy is steeks om dit te glo.”
“Hoe lank drentel hy nou al?”
“Beste part van vyf jaar Japie.”
“Jis ou Gawie, jy weet hoe baie het ek hier gesuip! As ek geweet het julle klomp dwaalgeeste bly hier, het julle my nooit gesien nie.”
“Ek weet Stefaans. Jy het nooit op my skoot kom sit nie, daarom was ek jou genadig.”
“Bly hy net in die hotel?”
“Nee Japie, hy dwaal bietjie rond. Nooit verder as die grense van die dorp nie. Jy sal nog die manne hoor praat, veral op volmaan.”
“Wat gebeur dan?”
“Die vertelsel lui, dat sy huil-roep op sulke nagte, wyd gehoor kan word. Baie sweer hulle hoor sy rouklaag dan vir ure!”
“Wie sweer wat?”
“Bliksem Kerneels! Vir wat laat jy my so skrik?”
“Jis ou Gawie, mens sal sweer jy het ñ spook gesien!”
“Grapgat!”

“Kyk! Die nuwe ou…”

“Middag oomies. Wat maak ñ man hier, om sy keel nat te kry?”
“Ek sou myself eers voorstel. Jy is nou op die platteland mannetjie. Ek is Stephaans, die is Japie en die gromgat is Gawie. Jy ken vir Kerneels.”
“Ag jammer oom. Ek is Tommy, van Pretoria.”
“Snaakse van.”
“Sharrup Gawie. Jy maak die man se nerve lam.”
“Dis oraait oom. Ek voel bietjie snaaks.”
“Dwaallig?”
“Moet jou nie steur aan Gawie nie. Hy is net boos oor sy vrou hom gesteek het.”
“Oom Japie, waar ek vandaan kom, is dit nie ñ slegte ding nie.”
“Met ñ spitvurk?”
“Oh nee. Jammer oom. Waar is oom Kerneels?”
“Hy is maar ñ skim jong. Wat maak jy in die wêreld seun?”
“Ek is nie nou so seker nie oom Japie. Ek dink ek moet bietjie sit.”
“Van die dood in die lewe gekom het, is ons nie eers meer ons lewe seker nie.”
“Vervlaks Gawie. Moet jy altyd ñ jandooi wees?”
“Wel ek is nie ñ jan-lewe nie!”
“Haal diep asem en raak rustig, dan dink jy mooi. Wat maak jy hier Tommy. Ons gaan jou help”
“Van die wal af.”
“Is jy alleen hier?”
“Nee oom, my vroutjie rus.”
“In vrede?”
“Skuus oom Gawie?”
“Hy spoeg net spookasem Tommy.”
“Ek onthou nou. Ons is besig om te verhuis.”
“Onthou net, die spook trek saam!”
“Stefaans! Nie jy ook nie!”
“Oh bliksem! Ek dink ek moet gaan slaap.”
“Ek is bevrees Tommy, daardie luuksheid is vir eers verby.”
“Oom Gawie?”
“Genoeg! Julle twee is sotte! Stap saam my.”
“Waar gaan ons?”
“Kom net! Kyk in die spieël en vertel my wat sien jy!”
“N-n-n-n….”
“Niks! Dis die woord wat jou ontduik. Jy is dood seun. Lepel in die dak, emmer geskop, bokveld toe. Nes jy wil. Help nie ons draai doekies om nie.”
“Ek dink ek gaan flou raak.”
“Nog ñ luuksheid wat verby is.”
“Ons was in ñ ongeluk! Bloed! Brand! Baie bloed!”
“Dit kom nou terug na jou. Dis ñ goeie ding, denial is nie net ñ rivier in die vleispotte nie!”
“My vrou?”
“Jy het alleen hier aangekom. As sy dood is, het sy reeds aanbeweeg of jou net gelos.”
“My bokkie! Ek moet haar kry!”
“Nou wag nou….”

“Sien jy Stefaans? Dis hoe jy ñ paar weke terug gelyk het!”
“Waarheen hol die mannetjie Japie?”
“Vader weet alleen. Miskien sien ons hom nooit weer nie!”

“Jinne Gawie! Daar is mooier maniere om die soort ding te doen.”
“Kerneels, luister mooi na my, ek sit al dertig jaar met die soort gemors! Kry dit oor en verby, anders kom die aasvoëls net om die spot te dryf.”
“Japie en Stefaans is skadeloos, hulle soek ook maar net vermaak.”
“As ek nog een maal moet hoor: ‘die bier gaan regdeur my’ of ‘jy sien regdeur my’, gaan ek ñ spookberoerte kry!”
“Bedaar Gawie!”
“Ek sien hulle soort al jare kom en gaan. Die grappies was nie die eerste mijoen keer snaaks nie, gaan ook nie die volgende miljoen wees nie.”
“Dis net so bietjie oppervlakkig en deursigtig van jou!”
“Ag jou moer Kerneels!”
“Jammer, jammer Gawie. Jou pa was nie dalk ñ glasmaker nie?”

“Haha. Kerneels jy moenie die ou fantoom so verwilder nie.”
“Eie medisyne Stefaans. My soekende siel het ook rus nodig.”
“Wat bedoel jy?”
“As ek hom kwaad maak, sien ek hom soms vir dae nie. Ander kere koel hy gou af en is ñ paar ure later terug.”
“Waar dink jy is Tommy heen?”
“Hopelik gaan hy vrede vind Japie.”
“Die plek het skielik leeg geraak! Ek dink ek gaan ook maar bietjie dwaal. Sien julle manne en los bier vir my!”
“Mooi sweef Stefaans!”
“Gaan ‘skate’ op die ys Japie!”

“Kerneels, is die verhaal van Gawie waar?”
“Ek het geen idee wat om te glo nie, selfs na vyf jaar. Hy vertel vir elke nuwe klomp, ñ nuwe verhaal. Die kern bly gewoonlik dieselfde, maar ek vermoed hy is ook net verveeld. Hy wil nie meer nie. Dis die ander rede hoekom ek sy moermeter soms opjaag, miskien raak hy so moeg en gaan net oor!”
“Dertig jaar is ñ leeftyd.”
“Dooie-tyd in die geval.”
“My hart gaan uit na hom toe, dit kan nie maklik wees nie.”
“Jou hart gaan uit na niemand toe nie, maar ek hoor jou Japie.”
“Kerneels, is dit waar oor Sally?”
“Ek het geweet Gawie gaan julle vertel! Die swaap het ñ eet gesweer! Ja dis waar, sy kon met geeste praat.”
“Dis nie wat ek bedoel het nie, maar nou weet ek dit ook!”
“Ons almal het al so iemand raakgeloop, mens kan hulle ñ myl sien aankom.”

“Oom Stefaans! Stefaans wag vir my!”
“My vader Tommy, wat dool jy so rond?”
“Ek was op pad terug na die hotel, na ek my drie-wiel gespin het, toe ek oom sien uitstap. Ek het nog nie die moed om die manne te sien nie en het leiding nodig. Ek het al met baie dinge in my lewe gespook, maar met nog niks in my dood nie. Wat nou?”
“Vra jy my raad?”
“Ja oom!”
“Jy beter seker wees van jou saak seun!”
“Ek is oom.”
“Die dag as jy die tydelike met die ewige verwissel, moet jy jouself eers een vraag vra. Hoe seker is ek, dat as ek daardie tonnel ingaan, ek op die goeie plek gaan eindig. Antwoord dit vir my, voor ons verder praat.”
“Sjoe, nee ek is glad nie oortuig oor dit nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek bid nie, lees nie Bybel nie, gaan nie kerk toe nie en vloek vreeslik. Dan het ek nog ñ klomp tatoeëermerke ook. Waar gaan ons?”
“Ons flaneer net! Die volgende vraag aan jouself, aangesien jy baie tyd op hande gaan hê: Wil jy soos Gawie word en net rondsit of wil jy die spookwees geniet?”
“Wat behels geniet?”
“Ronddool, mense bang maak, met ñ doel voor oë dinge doen! Ons kan ñ goeie span maak!”
“Klink soos Pinky and the Brain!”
“Solank jy nie daardie ‘naarf’ geluide maak nie!”
“Oom Stefaans, dit klink perfek!”
“As jy op die pad is, is daar geen omdraai nie!”
“Ek was nog nooit in my lewe, of my dood, so seker van iets nie.”
“Volg my!”

“Tommy, Sally, Sally Tommy! Jy sal nog hoor van haar, maar hier is wat jy moet weet. Sy kan met ons praat. Moenie dat sy jou manipuleer nie. Jou eerste taak is, om ñ plan te maak om vir haar kos te bring. Sy het nie meer lank oor nie en sodra sy hier uitkom, lewendig of anders, gaan sy vir Kerneels soek. Dit het ons nie nodig nie. Verstaan?”

Phalaenopsis

pronk teen ʼn spierwit muur
flankeer met brose briese
van die wind – in skaduwee
en son troon jy trots bo ander uit

eksoties in eenvoud uniek
duidelike delikate dele
inmekaar gestrengel
kunstig aanmekaar geweef

skouspel sigbaar in kleur
kan ook uiters geurig wees
vlinderorgideë feëvlerk vrolik 
verfraai jy enige vertrek …

©Marlene Erasmus
01/02/2019

cumulus mediocris

sigbare massa vloeistofdruppels

of selfs bevrore kristalle wat

hoog in die atmosfeer hang

bo die aarde of hemelliggame

soms selfs verwys na as: nebulae


hoe dit ook al sy – wolke maak

ons nederig dankbaar vir reën

drie dennebome kyk hoopvol

op na die hemel en sug sag

wanneer kom die reën uit Sy hand?


©Marlene Erasmus

31/01/2019

oëverblindery

jou voorkoms in stervorm

fyn haartjies dans op jou

so vredig volmaak gevorm

vlesig blare in maroen omvou


met jou mooie aansien

verblind jy menigte mens

dit moet egter ander doel dien

voortbestaan is jou enigste wens


vlesig blare in fyn fluweel

met dansend diep donker kleure

wil jy insekte se vryheid steel

lok hul aan met vrot vleis geure


Vader, gee dat ons eie geur

U prent in ons mooi sal kleur ...

©Marlene Erasmus

30/01/2019

sonsoekende sonneblom

al in jou botselstadium soek jy die son
draai jy jou kop om son se spoor te volg
met sonop tuur jy blindelings ooswaarts

soos die dag sleepvoet aanstap volg jy
slaafs die son van die ooste na die weste
geveerdes en soogdiere klein baljaar in jou

met jou giggelgeel blomblare straal jy 
sonstraal vreugde uit in gerwe geluk 
Helianthus annuus – sonnige suksesverhaal …

©Marlene Erasmus
29/01/2019

saad-woorde

saad-woorde

 

gedagtes word woord-sade

uit my siele-huis groei genade

my gedagtes wat groei en bloei

dra vrugte: ink wat op papier vloei

 

soms sê dit min en soms meer

alles wat my droom en begeer

versorg met omgee en verstaan

in my siel se herfstuin bestaan

koester ek my hart met sonskyn lag

beskerm teen kil koue wintersnag

mag daar in my sielstuin geen verniel

wees want woorde is sade van my siel ...

 

©Marlene Erasmus

24/01/2019

 

 

Digter voor die Here

0 $


Ek het vermetel gestaan voor die Here

en gepraat oor die brandende spoelklip.

Here, hy gloei rooi van skeppingsvuur –

dis ‘n stom klip wat swaar klots

aan gedompelde ongekende gesange.

Neem U die skroeiende rots

en stort dit in die see

sou dit U Naam geval

Maar die Here laat die klippe kabbel.

Gloeiing word ‘n branding,

swiep my suinige verwagting

nuut.

O gloed van vervulling as die woord

volrond kom lê in die mond!

O vloek van die aanskyn se sweet!

O vloek van ‘n nuutgeskape god

aan wie ek offer my vrede vir ‘n lensiepot vol nyd!

Ja, ek beitel ‘n beeld uit die bot klip –

‘n stoornis van heilige stiltes.

Ek veg om die groter gloed,

‘n binneaarse wete van Woord en Gees.

Here, ek bid: hoe maak ek hierdie klip

ondergeskik?

©Marieta McGrath

Digter voor die Here

Ek het vermetel gestaan voor die Here
en gepraat oor die brandende spoelklip.
Here, hy gloei rooi van skeppingsvuur –
dis ‘n stom klip wat swaar klots
aan gedompelde ongekende gesange.
Neem U die skroeiende rots
en stort dit in die see
sou dit U Naam geval


Maar die Here laat die klippe kabbel.
Gloeiing word ‘n branding,
swiep my suinige verwagting
nuut.


O gloed van vervulling as die woord
volrond kom lê in die mond!
O vloek van die aanskyn se sweet!
O vloek van ‘n nuutgeskape god
aan wie ek offer my vrede vir ‘n lensiepot vol nyd!


Ja, ek beitel ‘n beeld uit die bot klip –
‘n stoornis van heilige stiltes.
Ek veg om die groter gloed,
‘n binneaarse wete van Woord en Gees.
Here, ek bid: hoe maak ek hierdie klip
ondergeskik?
©Marieta McGrath

Ek Onthou


Om te onthou is om dinge wat vergeet geraak het weer te laat lewe- is dit van enige nut?

Die onthou wat uit die dieptes van die emosionele wegbêre plekke kom het gewoonlik ‘n stimulus nodig om wakker te word uit die slaap- die drome word weer werklikheid voor die geestes oog en oortref gou die werklikheid want dis omhul deur ‘n waas van heerlikheid.

Die waas verdof dit in die verlede tot ‘n vaagheid wat selfs met ietwat van ‘n goue raam ook deelmaak van die onthou. Wat sal die onthou wees as jy nog steeds in die werklikheid sit?- daarom is die onthou veral lekker vir diegene wat nie meer daar is nie: jy sit weg van dit wat jy wil onthou -veral as dit met konkrete werklike aardse goed te doen het: onthou van ‘n afstand maak die beeld tog mooier. 

Jy voel die warmte dorheid van die Oostewind teen die Weskus met minder felheid- die Suidewind stof raak jou nie, en net die sleepmis van die Weskus sit op jou vel, tong en in jou oë. Dis dan wat die gevoel van emosionele onthou inskiet en als mooi maak, selfs die dorheid en stof begin deel raak van die emosionele wentelbaan.

En jy onthou als-ook die pyn en goedheid en hartseer en blydskap en ..pik ‘n traan weg. 

En jy dink en wil terug na was, maar wil ook nie.  

(uittreksel uit die inleiding tot my boeke -Ek Onthou, boeke 1 tot 3- wat tans by Malherbe-Uitgewers beskikbaar is: dis die volg van my voetspore vanuit die stofstrate van Alexanderbaai tot in die operasiekamers van Rusland, Ukraine, Verenigde Koninkryk, Nederland, België en Turkye. Die onthou van jou komvandaan is egter die grootste onthou, want dis waar jou wortels is)

Ek’s so moeg

0 $

Vroeg oggend staan hy op
Sy treë weer swaar en stadig
Skiffel, skiffel skuif sy voete vorentoe
langsaam, tree vir tree

Sy kop hang, asof dit te swaar is vir sy nek.
Die selfde nek wat eens op ‘n tyd net spiere was.
Nou, sag en vol lewenslyne. 
Lewenslyne van lief, leed, swaar kry en gelukkig wees.

Sy gesig is somber, sonder enige emosie.
Hy lyk ver weg. Sy eens glinsterende oe, 
nou sag; maar dof, amper leweloos

Sjhloep sjhloep beur hy vorentoe.
“Ek kan nie meer nie”, fluister hy
“Ek wil nie meer nie”, met ‘n amper nie hoorbare stem.

Stadig vorentoe. Tot by sy stoel. 
‘n Stoel wat al jare lank op die selfde plek staan.
Met ‘n sug sak hy op sy stoel neer.
“Hoe lank nog”, fluister hy

Dan kyk hy stadig op. 
Hy kry so ‘skelm glimlag’ op sy gesig terwyl hy vir my kyk.
Ëk lief jou ou dier” sê hy met ‘n sagte stem.
Vir ‘n oomblik is daar ‘n vonkel in sy oë,
maar dan’s dit weg. Die smile, die vonkel, die opkyk.

Hy haal swaar en stadig asem.
“Ïs jy ok?”vra ek
Met moeite lig hy weer sy kop. 
Hy kyk na my met swaar dowwe oë….
Eens op ‘n tyd die mooiste blou vonkelinde oe vol ondeundheid en liefde.

Om die oë, nou net sagte lag plooitjies vir onthou.
Sy gesig, vol sterk lewens lyne deur ons Vader gevorm en geplaas vir elke tree gestap.

Dan praat hy saggies dog ernstig
“Ëk kan nie meer nie” sê hy sê hy sag.
“Ek is moeg”. Hy haal diep asem:
“Ek is so moeg. Ek wil huis toe gaan”
Fluister hy. Sy kop sak weer stadig.

Ek vat sy hande styf tussen myne waar ek langs hom sit. Ek skyf nog nader en sit my arm om sy eens gespierde lyf en lê met my kop op sy skouer.
Ek haal stadig diep asem, en sê in ‘n sagte, rustige stem:-
“Hy sal kom, ou man. Hy sal kom. Op Sy tyd, sal hy jou kom haal”. 
Ek sluit my oë en dank my Vader vir nog ‘n dag.

Trane kind

My trane kind
In my hart vas gebind
Onder my hart was jy toegevou
Reeds toe was ek lief vir jou

Maar groot word is seer
En die lewe is wreed
Jou lewens bad was breed
En niemand kon die groot word einas keer

Op jou eie wou jy gaan
Op jou eie twee bene staan
So, dag en nag het ek gebid
In my gedagtes het jy altyd gesit

Die lewe het jou rond gegooi
Elke dag was nie so mooi
Maar diep in jou hart het jy geweet
Is daar ‘n ma wat jou nie vergeet

Jou donker wolke het nou verdwyn
En die son begin vir jou nou skyn
Met al die lesse deur die lewe geleer
Is jy daar vir ander met seer

Wie is ek

Wie is ek?
Waar vind ek myself?
Op ‘n wolk met ‘n silver rand,
Of in die son wat als verbrand?

Soms droom ek ek val en val
Sonder einde in ons heelal
Soms voel dit of ek sweef na bo
Die lekkerste vryheid, ongesteurd

Dan sit ek weer uitbarstend van die lag
Ek onthou so goed daai komiese slag
Nou’s dit weer trane wat rol
‘n Mens wil net vir die wêreld weghol

Maar dan kyk ek om my heen
En ek besef; Ek’s nie alleen
Soveel mense daakliks om heen
Wat se goedheid op MY neer’reen!

Die likeur-sjokolade en die boerpampoen

0 $

Nou sal jy my vra, wat op aarde het die twee dinge in gemeen. Oor die algemeen niks, maar dit is wat die lewe en mense so interessant maak.

Net soos likeur-sjokolade en boerpampoen hemelsbreed van mekaar verskil, so verskil mense van mekaar, en is dit nie wat die lewe so oneindig interessant maak nie? Ek weet daar is diegene wat nie met my sal saam stem nie, wat graag sou wou hê almal moet tog net ‘soos hulle wees’. Maar o! wee, wat ‘n oneindige, eentonige, verwarrende gemors sou dit tog nie afgegee het nie.

Dink nou maar net – as jy twee vriende gehad het wat dieselfde was, sou dit jou sekerlik nie vreeslik gepla het nie, maar berge val op my en heuwels bedek my as jy 30 vriende het en nog dalk ‘n stuk of 20 kennisse en almal van hulle het dieselfde gepraat, die selfde besluitnemingspatroon gehad, dieselfde gelag, dieselfde belangstellings gehad, dieselfde voertuie gery, in dieselfde huise gebly en dan seker heel moontlik, as hul dan almal so dieselfde is, nog in dieselfde dorp of stad ook gebly!

Ek dink nie ek is ver verkeer as my menig is dat jy voor die einde van die eerste dag wat jy in al hierdie mense se teenwoordigheid moes deurbring tot rasserny gedryf sou wees en sterk selfmoord gedagtes sou koester om net van die onuithoudbare verveling af weg te kom nie.

Nou dit is hoekom ek van mening is dat dit is baie baie meer pret is om vriende te hê wat so anders van mekaar is soos likeur-sjokolade en boerpampoen.

Interessant op hul eiesoortige maniere. Want wees verseker dat daar geen ooreenstemming is nie.

Likeur-sjokolade, bruin van kleur, met daardie sagte, romerige, aromatiese room likeur binnekante. Jy kan nie anders as om jou oë te sluit as jy een in jou mond sit nie, weg gevoer in ekstase deur die sjokolade wat sag en warm op jou tong smelt, en dan die geur ontploffing as die likeur jou hele mond vul. Dit is ‘n onwillekeurige reaksie, soos wanneer daardie man, met die dimpels, blouste blou oë, atletiese liggaam en vol sensuele lippe, wat nou al vir jare in dieselfde gebou werk, jou een dag tromp-op loop en vurig soen. Jou brein skree, ‘klap hom, wie dink hy is hy’ maar genadetjie toggie, jou hart skree ‘mag dit nooit ophou nie’.

Boerpampoen daarinteen, ‘n harde wit, ronde ding. Niks vreeslik interessant daaraan so op sy eie nie. Dit raak al meer interessanter as jy dit begin oopsny, die sagte geel vleis laat jou dink aan die son. Maar eers as jy geleer het hoe om pampoen te bewerk, en te berei, kom pampoen sy ware geure navore. Dan eers kom die watertand soetpampoen met kaneel, die pampoenkoekies met karamelsous, die pampoensop wat ‘n warm wintersaand omtower na knus vergenoeglikheid, daardie pampoenbredie soos ouma dit gemaak het, met ‘n Namakwalandse vet skaapvleisie. Soos Oom Jan Spies gesê ‘ryk en lekker man, ryk en lekker’.

En ek sien jy frons nog steeds, hoe kom die sjokolade-likeur en boerpampoen nou by mense en hul individualiteit uit. Pak weg jou frons, en gee die hond wind.

Daar is ook likeur-sjokolade-mense en boerpampoen-mense. En erg ammusant het ek dit gevind om toeskouer te wees van ‘n kuier waar twee sulke interessante mense mekaar vir die eerste maal ontmoet het.

Met die eerste oogopslag kan jy jou maklik misgis deur te dink dat die likeur-sjokolade mense nou eintlik jou soort mens is, maar dit is net omdat jy nog nie die boerpampoen-mens leer ken en beleef het nie of die tyd geneem het om dit te doen nie.

Die likeur-sjokolade-mens, ooglopend sag en volrond. Fyn uitgevat, besorg oor die siening van diegene wat haar nog nie ken en weet van haar soet, aromatiese binnekant nie. Half broos soos die sjokolade, geliefd deur mense wat haar ken, en word gereeld misken as hoogmoedig of onbereikbaar.

Die boerpampoen-mens, hard en ongenaakbaar sou jy dink. Maar inteendeel, sonder fitterjasies, plat op die aarde, half ‘plain’ soos die engelse sou sê. Maar dit is nou net daar waar jy die pot geheel en al mis sit, en met jou sitvlak op die vloer beland. Sy is ‘n totalle verrassing vir die wat die moeite en tyd wil spandeer om haar te leer ken, om haar te beleef en in haar brein en hart in te kyk, haar sagte geel-oranje binnekant te vind. Haar kennis is soos die disse van die boerpamoen, veelsydig, smaaklik en aanloklik. Haar passies vir kuns en kultuur is soos die rypgeel binnekant van die boerpampoen – warm en behaaglik. 

Wat ‘n besonderse ontmoeting was dit nie – die dame kom optyd met haar geskenk van likeur-sjokolade by die ander dame aan. Sy was maar redelik snenuagtig, want hierdie vrou weet sy het aansien en is bekend. Maar wanneer sy deur die hek ry en die glimlaggende vrou sien staan, weet sy sommer net, hierdie is ‘n ander vrou as so vele wat sy al in haar lewe leer ken het.

Haar verwagting word nie teleurgestel nie, haar tuiste is interessant, kleurvol en kunssinnig net soos sy, maar daar is geen aansit of aanstel of gedoentes nie, net plat op die aarde met haar voete in stewels. 

Gou gou is daar gesels soos voëljies in ‘n versamelnes, oor kultuur, liefdes – oud en jonk, lewens verhale gedeel, musiek geluister, glasies geklink en die kersie op die koek – vleisgebraai.

Tyd om huis toe te gaan – en dit is waar die likeur-sjokolade vrou toe beloon word met ‘n boerpampoen, vasgepluk van die rank deur haar nuutgevonde vriendin.

Of jy nou ‘n likeur-sjokolade-mens of boerpampoen mens is – sorg net dat jy met een van die twee vriende is, dit is ‘n helse aanwins vir jou siel, dit kan ek jou verseker.

©Marsofine Krynauw
8 Januarie 2019

Die Berghaan Bid

0 $

Ek onthou so goed toe ek die berghaan afgeneem het en gedink het, die voël bid dan! Dit was half vier die middag, skroeiend warm. Die sweet het sulke straaltjies teen my rug afgeloop, maar ek wou nie die kamera neersit nie. Die kar se ruite was almal oop, en nie ‘n luggie het getrek nie. En al wat jy hoor, is die stilte, jy kon tot die versengende hitte se hortende asemhaling hoor.

Soos die berghaan, het ek die een oog in die lens gehou en met die ander ene na bo gekyk. Op soek na ‘n wolkie. ‘n Wolkie wat belofte kan bring…of hoop…

Maar daar was niks. Net die blou blou uitspansel, met ‘n groot geel kol agter my, wat alles verskroei het. Daar is geen genade nie. Jy moet dit uitsweet, jou versugtinge, jou hoop, jou onuitgesproke gebede, jou verlange na wie weet wat.

Die berghaan het sy kop laat sak, en begin bid. Ek het saam met hom gebid. Vir uitkoms, vir lafenis, vir vergifnis.

©Rae de Lange 5/01/2019
foto’s geneem deur myself

Tik-tak

Daar loop sy in haar mini
Manne, jul wil dit nie sien nie
Tik-tak, tik-tak trippel sy daar
Ek moet net keer om nie te staar

Die boudjies swaai heen en weer
Ek kan my glimlag nie keer
Waar gaan sy so arrogant heen
Met haar slanke lyfie, soos geeneen

Met haar onberispelike houding
Lyk dit of sy vir die sterre kan sing
Met wimpers wat wapper en wink
Wonder sy wat almal van haar dink

“My mens, en toe gebeur dit mos:
Daar trek sy met n geblaf los!
Boeta, jy verstaan nie, jy moes dit hoor-
Die gekef klink toe soos ‘n “kief-kief” op die oor!

(c) Katrien