Rita Smit
BESINNING
Soms kom die winter met sagte snikke
In die somerstof
En die bome skinder saam
Oor verskroeide lentedrome
Soms donder die wolke in malende woede
En streep die bliksems my met sambokhale
Totdat ek bibberend skuil
In die holtes van ‘n winterhart.
Eentonig en ysig is die inkeertyd
Gedagtes wat verkil
tot blinkwit sneeu van vergeet en verspoel
in strome droefheid oor die gisters
en môre se leegtes waar eens drome was.
16 Junie 2015.
Prins Albert
Karoo-son kombers om my
En stilte- salf vir die seer,
Trooskos van vye, olywe en wyn
en skape se blêr waar die bergwater ruis.
Hier o, Skepper Gees,
Kraak die dop van verstarring in my en
ek hoor die woorde en wil dans
op die wysie van die ek wat nuutgebore
weer kan kyk en kan sien,
Kan droom en kan dig.
Julie 2012
