Leopoldt van Wyk

Bibliografie

Leopoldt is gebore en het opgeroei op familie skaap/beesplaas in Kalahari. Hy koester vele aangename herinneringe van hierdie ou plaas is omdat dit reeds in familie besit is sedert 1894. Na voltooing van sy Tersiere studies (B.Comm + Onderwys diploma) het hy begin werk as sake -adviseur in Korporatiewe wereld. Hy het nog altyd ‘n on-afhanklike streep gehad en daarom het hy na 5 jaar die korporatiewe wereld verlaat en sy eie besigheid begin. Na ‘n dekade as entrepreneur het hy alle sake belange verkoop en na Kaapstad verhuis om sodoende nader aan die Universiteit van Stellenbosch te kon wees waar sy seun en dogter met hul tersiere opleiding begin het. Hy het toe begin om Besigheid studies te onderrig by ‘n Sekondere skool op die Kaapse vlakte. Nadat sy matriek leerlinge uitermate goed presteer het, was hy ‘n pos aangebied by een van die top 10 skole in die Wes-kaap. Hy doseer nog steeds Besigheid studies en is sy matriek uitslae die afgelope 5jaar konstant die beste (uit ‘n lys van 53 skole) in die streek. Hy is danig trots op sy hoogste gemiddelde. ( 83% vir ‘n leerlingtal van 68) wat hy behaal het in 2015 Hy verkies om onderrig te gee sonder enige beperkende kantoor titels waarvan hy genoeg gehad het in die sake wereld Hy verkies om net ‘n gewone “onderwyser” te wees en hierdeur meer kontak tyd vir interaksie en opvoeding met sy leerlinge te he.

 Leopoldt is verslaaf aan braaivleis….lamtjops, regte, egte boerewors met kalaharie oesters vir “starters” Hy knie self sy deeg en bak of braai sy eie brood. Hy is die enigste een in sy gesin wat nie nee gaan se vir ‘n bebakte skaapkop en kook hy dus ook sy eie afval (pens en pooitjies) wat hy dan allen kan verorber.! Soms, as die gier hom pak, berei hy van die oorskiet afval sy eie kerrie braun. Leopoldt maak ook sy eie biltong wat deur al sy gesins lede verslind word. Hy het by sy woonhuis ‘akkers aangele waarin hy sy eie tamaties, groente en kruie vir die huishouding kwee. Die van Wyk woonhuis word omhels met ‘n hanepoot en sultana prieel wat hy self geplant en elke jaar snoei. Hy het ook vrugte bome soos Oom Sarel geelperskes, Adamsvye, Los-skil naartjie en Advokade bome aangeplant wat elke jaar vol in drag staan. Volgens Leopoldt gee min dinge in die lewe meer satisfaksie as om uit jou eie tuin vars groente en vrugte te kan eet.

Hy hou daarvan om gelyk met hane-kraai uit die vere te wees en saam met die eerste sonstrale ‘n beker koffie te kan drink. Leopoldt geniet ‘n potjie golf alhoewel hy nie kans kry om gereeld te kan speel. Hy is ‘n plaaskind in murg en been en verkies die samesyn van vriende rondom ‘n lui-vuurtjie eerder as ‘n fancy restaurant. Bismarck, die Rotweiler reun, en Milo-‘n Jack Russel tefie, is sy kopdokters as die lewe met sy gatkant na hom toe staan.

GEDIGTE

of soos ek dit noem “Dig Degies”

25) WIL JY TAXI RY?

Lekkerkry se petrol is goedkoop en die olie is verniet.
Vrylus handelaars se motors word dag en nag voos gery.
Waarom dan die haas en dolle gejaag?
Die plek se naam is erens, geleë in die distrik van nerens.

Hebsug is die gunsteling fabrikaat.
Geldmaak is die gewildste slagspreek.
Gees se stem is nie meer ’n passasier. 
Babbel spraak op hoê volume terwyl inkyk-ruite toe wasem.

Spoed word nie verminder, tyd is mos geld. 
Geloofs se rigtingborde flits onleesbaar vinnig verby.
Lewens buitebande verweer want slaggatte word nie vermy.
Op pad na Erens, geleë naby Nerens.
Gees se opvang sein is daarlangs baie swak

Wrakwrokke en leegbloeiende lywe hokaai net tydelik.
“Omdraai” het Gemoed sugtend die toneel gemerk.
Hebsug se stem fluister ’n nuwe transaksie geleentheid.
Geestes-oog koevoet moeisaam die hart se rotswand.

Lewe gewende petrol uit my siel se vuil olielap gewring.
Tydelike lyf is deur die aardse lewe voos gevry.

Gerustellend stop en luier die huurmotor op my duimgooi.
Hemel is die bestemming se naam. “Gaan jy saam?”

Leopoldt van Wyk 
12/10/2018

55) EGBREEK

Ons doodskleed het vir ’n rukkie oor gewete se stoel gehang.
Jul samesyn raak ’n opdringerige skadu.
Wie is hy wat in jou skede ronddwaal
en jou lyf met plesier laat tril?

Ploegskaar het ’n enkel voor oopgedolwe.
Rooi water suifer stadig deur.
Wandel weg van die plant akker.
Die klei maak my hartsool-voete vuil.

‘n Sondedaad maak my van ‘n skuldverlede vry.
Hoekom buk jy af……?
My voete is alreeds gewas

Vrugtelose daad raak ‘n klontjie klei.
Rol-rol ek my kommerkraal.

Leopoldt van Wyk
23/10/2018

49) Vonnis

Kalahari is my verkose kelnerin wat by Jou veldrestaurant werk.
Sy…..ja sy, wat koketterig staan met haar skinkbord-lyfie, duin rooi mooi.
Bedien haar eenvoud cuisine wat vir voetspoor fooitjies smeek.

Windpomp-hart se vogloop hou my drankbeker vol.
Dagbreek verkondig ’n nuwe bottel babelaas
oopgewring vir nog ’n aangename vonnisdoop.

Kalahari vodka skyn ’n edel rein
Sonop spreek ’n ligstraal vonnis uit.

“Hunkering lewenslank opgeskort
Afwesigheid op parool toegelaat.”

Laat prut jou dagvaar-skenkels in geheue se bredie pot.
Smuk-proe verskaf ’n na-smaak wat draai en draal. 
Jaloers-bui buffet, opgedis as ’n maal.

Ek sprei my arms in ’n wydsbeen staan
en proe die reën as dit oor my lippe juig
terwyl my dorsland toe-oë dankbaar na bo staar.

Nooit weer sal ek áppeleer.

Leopoldt van Wyk 
22/10/2018

33) LETTERS PETIT

Jul klitorisse hang soos ’n vleismoesies aan ‘n wenkbrou paar
Waarom is dit altyd julle wat in my sigveld versper?

Elkeen uniek in hul waternat uitklim in ‘n eenstuk bikini.
Granaat tepels, sirkelbruin areool sprei hul knip-oog rondom my … 
Nes rooi sandduine uitdagend skedes bult in die soel van ‘n laatmiddagson

Jul ryp feromoon geure draal in die id van my super ego.
Elke muis-speentjie op my lyf ‘n ooglid klit.

Onbeskaamd die groter en groter stu….
Salueer ek die Generaal letters van my taal.

Elkeen ‘n pagter, en ek die veetrop wagter.

Leopoldt van Wyk 
19/10/2018

102) SUID-WES SKOOLBUS

Staan aangeleun teen die pad se rigtingbord.
Voel hoe skouerhang my khaki skoolrugsak.
Koue-loop laat my neusvleuels op aandag staan.
Meisies se bo-lip bibber hoorlose deuntjies vir die winter-wind se wals
hul slanke hande vermaan oranje rompe om nie saam te dans.

Hoor weer King kong se dieselstem, kranklik die bult uitbeur.
Draad en spar kam ‘n middelman vir die melkbosrant. 
Aalwyn soldate salueer my met hul gewere na bo gerig.
Leë patroondoppies hang gloeiend-rooi teen hul spier arms dun.

Kolskote spel jou weggooi naam.
Fusilleer my teen die son se oggendmuur. 
Koeël-gate waar blonde donsies tot welige borshaar groei
haar matras waarop ek jou so graag sou wou laat lê.

Ek het jou naam lank gelede as ’n rigting uitgekerf.
Suid-wes se naam is dood geverf, my pad verlê.
Bacchus regimente groen het die melkbosrant se rooi vervang.
Noodlot tepels vol wyn, kon my nie van jou borsvoed speen.

Jy met jou leeubekkie glimlag
en jou nuwe stokkielekker naam.
Waar is die vrou wat my tamatie-taal verstaan?

Leopoldt van Wyk 
18/09/2018

93) VOORBODE

My gemoedpoel is met ou rietbos om-soom 
sien lit-vir-lit lywe kaal wat mini silo’s bou
en ankers word vir ‘n sweef-huis droom.

Spaansriet staan regop skuins, en vertel aweregs sy verhaal :

“Ek het jare gelede ook my kop as jongeling deur modderlae gebeur.
Staanplek kon ek self nie kies, voetholte was ‘n moer se besluit.
Voel ek verskriklik broos as vreemde windhande my laat skoppelmaai 
en familielede uit noodsaak mekaar se bestaan skuur-skuur verduur.

Eerbiedig moet ek buig as vlerk-gaste vir sitplek soek.
Die oopbreek pyn as hulle groen servettjies uit my klere skeer
en tjortse op my los as ek durf waag om fooitjie’s te vra.

Ontelbare voete op-en-af, vryf my wande vaalgroen blink
want die mier se spitsverkeer is ‘n hoofweg op my lyf. 
Sekondes lank, dag in en nag uit, water drink – sonder versuip.

Wiegend sus ek met reëlmaat alleen my ween
hulpeloos as geliefdes knak en kadawers na bodem sak.
Voel hoe rimmpels hul leeftyd teen my voete skuur.

Verstaan jy nou waarom ek verseg om ooit te blom?

Met stofstorms begin ons toekomsverlede neuroties brom
Gryp en klem elke knobbelhand ’n spaansriet-steel
en vlymskerp krom, wals die sekelmaan op jou tyd se koms.”

Leopoldt van Wyk 
14/09/2018

30) LUIER

Gedagtes dwaal en enkel denke dweep.
Albei span saam en hou vas my in ’n ystergreep. 
Verbeeldingsparte van ’n ou-lyf enjin begin te luier.

Staan en betrag talryke patent in vliet gestonk.
Al wil ek soms, kan ek kan hulle nie altyd vermy.
Uitsoek enkeles koester ‘n weer-opsoek.

Kom lê tog ’n bietjie by my.

Dralend die swanger talm.
Eie vrugwater oor en oor gedrink
weer en weer op gebraak.

Wegraak futiel verwek.

Leopoldt van Wyk 
19/10/2018

101) FLIKKERVLIEGIE-LIEF

Hardloop weg van Miskien en gewaar Dalk voor my.
Gryp hom aan sy kam vir ‘n nek-om draai.
Laat hulle lê as padkos vir die verposings-pad.

Spikkel skitter my siel se rekenaar-oog.
Sien die glanspienk van jou roombleek vel.

Trap vas en gly na bo.
Vuur tonge lek my braairooster skoon. 
Staar-sien die oranje vonk, die geel flikkerlig.

Uitbundige gaste lag, raak uitskot kole wat diens doen en sterf.
Swart versteende as word griffies vir my lei.
Trek rooskleur ariole, al donker meer en meer.
Sien hoe troebel water traanbiggel oor jou linkerbors.
Kyk hoe die riete bewe, ek en jy uitgelate in die Gariep wat menstrueer.

Jou saamwees was ’n oomblik vonk, my flikkervliegie-lief.

Leopoldt van Wyk 
21/09/2018

40) KAMEEL BOOM

Donderblitse stêrvonk ‘n chroompad teen die koepelruim.
Meester beeldhouer staan wydsbeen oor die Kalahari.

Bulderdreun die hemel as die Heer vryhand sweis
terwyl die dorsland gieters-water vir afkoel smeek.

Lê die rooi duine, ritmies krom en skeef.
In sagte sand plof ‘n sweis staaf uit sy hand
en kom ’n kameelboom hard tot stand.

Rooi ystergrein bars oop, dekades lank in eerbied staan, het ‘n knie laat knak.
Die Noorde wind versprei jou lyfgeur na elke lidmaat van die veld. 
Die windasem fluister gewyd….. terwyl stilte se roep-stem oor jou ween.

Bakhand staan ek by die hemel se agterdeur.
My siel se jakkalsproef hang gans te lank krom en skeef.

In my Kalahari-hart se wei kamp plant ek ‘n kameelboom ankerpaal.

Dit is daar….ja net daar
waar ek nou veilig en rustig
myself tot wasdom wei.

Leopoldt van Wyk 
19/10/2018

10) LIEFDE GESKEUR

……….. dwalend in dorsland strate, soekend na jou my Ranonkelblom.
Ons hart se geheimnate is nou met lieslap naairiempies teder toegewerk.

Druppende heira verseël ons gisters se vele kaalvoet wals.
Met hartseer sonder huil probeer salf ek die immer pyn

Sal gedagtebot ooit verligting bring?

Die lang pad na Windhoek kronkel-strek in die nag.

Twee ligte in harmonie verlig ‘n donker oormag. 

Verdwyn na die kim om daar met skadu’s wegkruipertjie te speel.

Kort duskant dagbreek knip-oog die maan – ’n aftrek wink.

Sien hoe die môre stêr jou kroon laat skitter – die liefdes-glimlag jou oe laat blink.

Kry jou blonde kop lê-plek teen my armholte as jy by my kom staan.
Die laat-aand stilte fluister vrede – streel beskermd oor jou hare.

Ek talm weer by ons stilhouplek in die dagbreek van my geheue.

Jy staan by ’n kol pers tilpe wat in verwondering na jou opstaar.
Die reënwindjie trek lui aan jou wit somers romp se voorpant.
Ek betrag die prentjie, maak my tongpunt nat en lek oor my droë lippe.

“Is dit ‘n sonde om té gelukkig te wees Leopoldt lief?”
wil jy weet terwyl jou haarsliette my stoppelwang kielie.

Windhoek is nou die Brandvlei van my onthou.

Toe ek jou stad verlaat het ons motor van die pad gegly.

Hartseer sonder huil, skenk sap in ’n bitterbeker sonder boom.

Dagbreek het vir ’n wyle gaan stilstaan en my betrag.
………..staar verbaas na my wilde kyk

want in my arms sien hy, lê jou lyk.

Leopoldt van Wyk
16/10/2018

52) VERLANG

Stervonkies uit my braaivleis vuur
flikkervlieg deur die donker stad
en hou my nagskemer vir altyd jonk.
Leopoldt van Wyk 
16/10/2018

105) DAGBREEK LIEFDESBLOM

Dagbreek skink ‘n lentebeker vol oggenddou
my ranonkeldroom nooi jou vir ’n oggendwals
en met fanta-glimlaggies begin namakwa-liefies flikkers gooi.

Wandel ek-en-jy hand-aan-hand in ons blomlaning vol jonk onthou.

Gemoed drink vandag uit ’n bitterbeker sonder boom
en teken argeloos ons mooi verlede tot ‘n slaapkontrak

Ranonkel blom my ontvlugting.
Aldagmooi jou versugting.

Vasgevang bly ons liefde nou….in ‘n geheue stokkie om my nek.

Leopoldt van Wyk 
18/09/2018

29) Selfhoêr

My siel het ’n advertensie geplaas.
Lees die mense dan nie meer koerant?
Is dit net ek wat die skrif verstaan ?
Die uitnodiging is in hart-ink gedruk.

Siel agumenteer en murmureer
Moedeloos word plastiek toekoms afgesê.
Hart en verstand koppeleer vir die eerste keer.
Klimaks verkondig kortstondige satisfaksie.
Siel baar glimlaggend nektaar vir regstellende aksie.

Leopoldt van Wyk 
12/10/2018

92) JY IS MY SPOOKASEM

Nostalgie draai ‘n spookasem ragfyn mooi
en bied dit nonchalant pasella aan.

Lekkerkry trek ’n borslap aan. 
ons lywe smelt ’n handtekening saam.

Ironie in ’n wrang greep gebaar.
Denke vasgevang in dweep… 
word gestolde nektaargreep.

Spookasem ragfyn rooi gedraai.
Ons stil-lewens op tamatie wange gekwas
laat krul koggelkindertjies van die lag.

Leopoldt van Wyk 
14/09/2018

70) KOPKRUIE

Stroom brandertjies kabbel reëlmaat kamermusiek kalmte.
Vleiriette beraadslag kopskuddend die kadawer se simptome. 
Wilger sprinkel sproei haar blaarsweet oral op my moeë lyf. 
Kurp en baber jaag deur waterstrate, soekend na ’n wegneem-ete kafee. 
Geel vink bou ’n hemelbed waarin vaakword en rus wiegend wink. 
Geelhoutboom se takke is ’n blaar plafon wat sonstraal operasie ligte reguleer.
Reier reinig skalpelbek en oefen in waterpoel sy sny tegniek. 
Naaldekoker tegnici inspekteer rankplante wat my drip houvas.
Skoenlappers fladder gerusstellend oral-oor sout poeier van my lyf.
Liewenheerbesie bekyk my voetsole soekend na ’n kleilose plekkie om my temperatuur te meet.
Miskruier verwyder bedpan vuil, en sonbesie sirene ’n noodgeval op pad.

Visarend predikant roep-skreeu’n gesondword gebed hoog van bo.
Tink-tinkie verwilder muskiet agies wat wil prik om te kyk of my bloed nog vloei. 
Heuningby verpleegsters dien narkose toe en dreig met inspuitings as ek my nie stil gedra.
Windbries matrone kam liefderyk my hare en fluister die veld se skindernuus in my oor. 
Bleshoender se laboratoriumspan ontleed argeloos weefselmonsters.
Blou apie politici kraalogie nuuskierig en bespreek luidkeels die meriete van my saak:

“Jy soebat helingsbalsem vir jou verskrompte siel, maar toon geen respek vir ons natuur praktyk. 
Wees ontvanklik vir die oorlewings advies, dan is jou medikasie gratis – vrygewig toepas.
Onthou net :
Moet niks agterlaat, teken net ons rekening met jou voetspore, as jy jouself ontslaan”

Leopoldt van Wyk 
11/10/2018

99) DELORES

Verfkwas in ‘n wilde vye se mik, palet onthou. 
Terugblik huppel oor jou rantjies, granietpienk sag.
Gifstok kwikstert op my onderlip, nikotien rol van hoek tot hoek. 
“Hoekom” is my reënmeter se droogte naam.

Bestel ’n skryfblok net vir jou, gebruik die tiekkie boks in my kop.
Oproepe wat spraakloos dobber in die kuber ruim.
Strepe maer, sirkels boepens, vol van punt finaal.

Sluise stroom rooi in vele inkvoor aar. 
Jou stil-lewe dobber dryf teen iemand se wen akker wal.

Skets-lief ek jou hartseer-naam.

Leopoldt van Wyk 
21/09/2018

57) KREDIETKAART VAN DIE WIND

Uitsteek elmboog skeur repe in die wind
en slinger ou rookwalm gedagtes by die motorvenster uit.
Pinkie en haar maats kam die wind se kuif.
Wuif uitbundig na my feniks wat wegswem na die son.

My hand ry ’n koel windgolf…… op en af.
Baljaar uitbundig in die branders
saam met my blou oog huppel-kind.
Sy wat onverwags afduik uit die hemel ruim.

Die koelwind branders breek ‘n aardse ankertou
en plons-fluister oor my lyf….. 
my lankverlore pin.

Leopoldt van Wyk 
24/10/2018

Kortverhale

Sonbrokkies onthou

Sit ek mos anner dag heel versonke met die koelte van ‘n ou akkerboom. Die rustige rondwandel van kolgans, hadida en ruiers op die uitgestrekte groen grasperke laat my heel vergenoegsaam voel met die lewe, onge-ag die dwarsklappe wat hy so af en toe uitgedeel.

Lui my selfoon onverwags so uit die bloute uit…..’n lank vergete neef wil mos toe he ek moet konsuis met iemand praat wat ek lank trug glo goed geken het – gee hy mos toe die foon vir die “iemand” terwyl ek nog opi lyn is……a..ttataaaa.!

Bokspring my gedagtes toe soos ‘n pronk-springbok eenklaps 40jaar in gister se dounkerte in toe ek daai meisiekind se stem herken…..

Onthou julle daai tyd toe die meisies nog mini rokkies met sulke op-pof-moue gedra het.? Daai crimpelene rokke was gedra saam met hoe-polfy skoene en die meisies het na olie-kolonie geruik het – selfs die klein katoen sakdoekie met pienk blommetjies in die hoek geborduur, het na parfuum geruik. Daai einste sakdoekie was onder die dun stapie van ‘n ewe klein Lanco of Rotary pols horlosie’tjie ingeskuif. Daai tyd toe ‘n man nog sy meisie drive-inn toe kon vat in ‘n 1963 Ford Barracuda of in ‘n Ford Fairlane met een lang voor-suit. ….gin niks gears of handbrieke in beenruimte se pad nie..!). (Daai karre se gear-lever was langs die stuurwiel gemonteer.)

Die tyd toe jongmanne nog kortbroek safari-pakke gedra het met hare ge-braillecream. Die swart plestiek kammetjie was netjies by die regterbeen se kous ingesteek. Iewers in jou broeksak het jy pienk, of swart, liqoruice drop lekkertjies versteek. Soms was die “drops” vervang met ‘n pakkie “peach beechies” Dit alles in ‘n poging om die dikmelk asem so af en toe te verfris. Toe jy nog vir haar ‘n groovy kon koop (blikkie koeldrank) Daai einste meisie het jou withemp se rugkant bewonder……want jy het ‘n foto van Roger Moore uit die Huisgenoot geskeur en met ‘n kole-strykyster op jou hemp afgestryk…….haar bewondering en nuuskierige gevat het jou soos James Bond laat voel – vir ‘n wyle “sjakken en gestirrr”

Toe die enigste Bollie nog in die binneblaaie van Huisgenoot te vinde was.

Toe jong seun dagdrome kon droom oor Tessa en Suster Saal…..my eie Sus was stilletjies verlief op Kid die Swerwer en het Rocco-die grensvegter…..nie te on-aardig gevind nie.

Toe winkels nog toonbankdiens gehad het en jy net vir aardigheid met ‘n tiekie ‘n Dirkie kon koop (buis vol kondensmelk) Toe die joodse winkelier jou niekerbolls in ‘n cone, gedraai van blaaie uit die landbouweekblad, gee. As jy die lekkers opge-eet het, het jy die advertensies op daai einste blad rustig sit en lees.

Ek mis daai opgewonde gevoel van afwagting as Pa uit die dorp terugkom en uit die kombuis roep.:”Boeta…….hiers ‘n pienk-koevert briefie vir jou…!!” Terwyl hy sy koffie rustig slurp en na jou kant toe knip-oog – en ma half vererg laat hoor : “Ghmf…!!….hy sal hom wat verbeel……kyk so….pienk brief nogal….” 
My gunsteling lees-plek was onder my eie Navel boom in die lemoenboord wat langs ons huis aangele was. Die mistiek om daai brief oop te maak …..die reuk van parfuum wat so stadig uit haar briefie jou omsweef …….en daai rooi lippe se lipstiffie af-etsing op die laaste blad……..baie meer romanties as deesdae se emojie goeterse.

Vervloee dae ………toe ‘n boer nog ekstra trots was op sy vrou en sy hande deurgewerk het vir sy huis en haard. Vrouvat issi perde koop nie…….eers moet jy spook om die niggie se aandag, as sy einde ten laaste van jou begin notisie neem…..dan is die volgende hek haar Pa by wie jy moes verby kom. Sommige boere was erg onmoontlik met hulle se ge- deur kyk van die vryers klonge. Die opsitkers was aspris middeldeur geknip as jy hom nie aangestaan het nie ……jy moes behoorlik eers ‘n vuurdoop slaag voor jy in sy teenwoordigheid aan haar hand mag raak.

Die plaasboer was ook heilig op sy rygoed (mouterkar/bakkie/perde/meile/kapkarre en waens) Hy het ook gin niemand toegelaat om op sy plaas te laat slap-le en gereedskap en dier te laat verwaarloos nie. Baie van des-jare se suip-krippe vir die vee se drinkwater, gebou van lei-klip netjies ingemessel, was skoner as deesdae se Munisipaliteite en hul toeslyk damme en geroeste pype.

“Seun…..moet nooit jou plaas verkoop nie…….as die boorgat droog word……verskuif jou pomp……maar moet nooit jou plaas verkoop of van jou vrou skei nie” Hierdie tipe raad was mildelik uitgedeel en ook as voorbeeld vir jong mense deur die ouer gardes uitgeleef. Daarom seker, dat boervrouens harte so groot soos hul instap spense gehad het. Daar was altyd ‘n vetmaak hoender op die hok en gaste het nooit lee hande ‘n plaas verlaat. Etens tyd het die tafels gekreun van die overdaad vleis, gebraaide aartappels en geelrys. Doekpoeding of kasterd met opgekookte droe vrugte was nagereg.

Die tyd toe jongmeisies se vlytige deugde besing was. …as die niggie dan nog boonop mooi van aansien was……”Dan ou seun, het jy ‘n pers veld tulp raakgeloop”. Wyse en waar woorde van my oorle oupa.

Ek draai die volume se knop so effens harder. Die ou grammofoon se naald skuur oor die “Springbok Radio Hits” langspeelplaat wat ek op ‘n vlooi mark raakgeloop het – gelukkig ken ek en vroulief altwee die woorde van die Staccatos se 1969 lied :”Cry to me” …….ek neem haar in my arms en stuur haar in ‘n stadige wals oor my men-cave se teelvloer. Sy laat le haar kop rustig op my bors …..daar waar sy hoort en veilig voel.

Ons albei beleef die goue middeljare van ons lewe en stap sonder huiwering die “sonsak” fase tegemoet – hopenlik hand-aan-hand.

“Jy sal altyd my jong steenbok ooitjie bly” fluister ek in haar oor terwyl sy liefderyk in my oe opkyk.

Onthou jy ook die tyd…eens toe almal van ons nog vol-ini-blom gestaan het?

Lemoenbloesel groete
Leopoldt van Wyk 
03 Februarie 2018


Stokroos liefde en Olie-boom geure.

Hoe gaan die ou liedjie….?? “My nooi is in ‘n naartjie…..my ouma is in kaneel….daar is iemand in anys…daar’s ‘n vrou in elke geur..”

Toe vroulief vroeer vandag vars tiemie uit ons kruie tuintjie kom afpluk vir vanmiddag se “rooi-kos” stap sy mos verby my en Bischmark, die rottweiler, waar baas en hond behaaglik ledig onder die koelte van die prieel sit en ginne-gaap.
Tref daai vars tiemie reuk my mos vol in albei neusgate……….vat daai reuk my toe op ver paaie……Droedra paaie…..daai tingerige plantjie wat so saam-saam met die “agt-dae gras” mondig word na ‘n goeie landsreen…..Pa het my mos as klein seuntjie, ek was toe so konka-hoogte, nader geroep om aan sy hand te ruik.
Tussen sy duim en voorvinger het hy ‘n klompie van die sagte doedra blaartjies fyngedruk – onmiddelik was daai reuk vir ewig in my geheue vasgemessel. “Ruik die veld se parfuum-plantjie….droedra se skoon geur…..kom ruik bietjie hierso boeta…”

Snaaks hoe al my grootmens verlange en hunkerings ‘n voetpad het …’n voetpad van verskillende geure. Hierdie reuke gewaar jy soms op die mees onverwagte tye en plekke. Dit is dan dat jou gedagtes uit hul wegspring blokke nael…..reguit na kleintyd se opgroei en vele lekker nostalgie onthou se hoekies in jou gemoed.

Ek vat jou graag op so ‘n onthou trippie…..einste daai bossie tiemie wat my hierdie onthou- voetpaadjie se spoor laat kry het.

Gee my jou hand……dan kan ons lekker stap.

Ouma was altyd omgewe met die reuk van kamfer-olie en menthol snuif……. Al is ek ook vandag aan die verkeerde kant van 50…..as ek die reuk van kamfer of bloekom olie gewaar….dan is ek weer ‘n klein seuntjie wat op waggelbene ‘n steen vars gebakte steen brood vir haar wegneem.”Hierso ouma….ma het gestuur…. Ouma moet tog met Wouwou praat….hy’t my amper ge-hakke-pooitjie ..” Wouwou was my eerste hondjie en my skadu….’n spierwit poedeltjie….baie dae net so vol stof en vuil na ons twee se gespeel op die plaaswerf. 
Ouma het ‘n olie boom in die hoek van haar plaaswerf geplant. Daai olie-boom se pitte was gebrand en fyn gemaal. Saam met wilde-als en kaster-olie het sy menigte kleinkind van haar gesond gehou en reg gedokter. Sy was voedvrou vir al haar dogters sowel as skoondogters. Oral in die streek was sy bekend vir haar lyfsmeer om vasdruk winde of spiere te verlos. Ek het haar bok melk kaas verkies. Niemand kon van heuning tamaletjie kook soos ouma nie. Sy het liefderyk vir ek en my broers onderbroeke aanmekaar gestik op haar “Singer” naaimasjien. Die materiaal het sy gekry van ‘n 100 pond meelsloop wat sy geloog het. Trots het ons in die Molopo se kuile geswem in einste onderbroeke. As jy mooi gekyk het, kon jy nog “boermeel” oor ons sitvlakke lees.

Og mense ….daai unieke geur van die blink blikkie menthol snuif en kamfer/bloekom olie terwyl ouma my styf teen haar boesem aandruk…….

“Ouma Cellie…. jou snuifblik het gerol en oopgeval.
Jou oorskot is nou met sand vermeng.
Nes mentolgeure sal herinnering aan jou altyd by my talm
en in my geheue altyd voortbestaan.”

As ek heira eet of daai sagte koelronde geel blommetjies van ‘n soetdoring boom sien ,….dink ek aan my prille jeug en die meisie kind met die lang bruin vlegsels….sy was die dogter van ons buurplaas……sy was die eerste meisie vir wie ek blomme gepluk het…..geel soetdoring boom blommetjies ….tussen-in was daar rooi vuurhoutjie kelkies van ‘n voel-ent in-gedruk.

Pronkertjies en Jakop-reg-op …….hierdie blommetjies met hulle nederige eenvoud vol aardse skoonheid……..laat dink my altyd aan die geur van wit Lux seep en my ma. My ma se liefde oor die jare was sag, skoon en geurig…..nes daai koekie seep waarmee sy my soms ook mee gewas het.

Sunlight skeer room…….daai reuk en oorle Pa….attataa….hoor en sien nou nog in my gedagtes hoe hy behendig sy knipmes op die sluipklip sit en sluip…….sien die effentjies-bloed-drippeltjies waar pa hom met die manora skeermes per ongeluk stukkend geskeer het. Ruik ek weer daai sunlight skeer room se geur in die lug hier waar ek my nou verbeel ek as klonkie afbuk om die erde beker vol moerkoffie versigtig langs hom neer te sit.

Aan die einde van die huis se lang gang hang daar ‘n portret van die “Smal en die Bree weg” Ek het as kind my verkyk aan daai portret en my altyd verbeel dat ek ‘n effense weerkaatsing van die prent op die blink sement vloer gewaar. Stu die reuk van daai pers laventel gegeurde Cobra vloerpolitoer nou in my neusgate op – soms het ma die Cobra polish gemeng met parrafien en gesmelte kerswas vir langer se hou.
Daai vloerpolish se reuk het my altyd veilig en gebonde laat voel.

Vandag sal ek graag weer, onskuldig en opreg, soos ‘n kind wil glo en bid : “Eenje kindje swak en teer – Liewe Jesus maak my hartjie rein. Amen”

Die aanwindjie se reuk dra ‘n belofte van reen…..ek ruik dit aan haar asem. Hier waar sy speels haar watersoet asem teen my wang aanblaas.

Doedra groete van huis tot huis.
Leopoldt van Wyk 11/02/2018


 

ALDAGMOOI GEITE

Ek is, as ‘n reel, nie ‘n man wat met ‘n bos blomme (die wat ek so nou en dan in “droogte-tyd” by die bloemis op die straathoek koop, is die uitsondering) by die huis aankom nie. Dit voel mos so half-en-half vir my asof ek daai goddelik-geskape blom ‘n onreg aan te doen deur dit, nadat dit “kop-af-gesny was deur einste kweker, en nou halfpad aan’t vrekte, net vir aanskou, in ‘n vaas in ons huis moet laat paradeer-staan. Die skoonheid van ‘n halfgestorwe blom- kadawer is vir my ‘n kontrasterende ironie…..

Dit is ook weinig dat ek van my gunsteling blomme in ranskikkings raaksien….ek weet die skoonheid van ‘n roos( baie rangskikking rose is meestal sonder hul roosgeur…) is direk in botsing met die natuur se wens, spesiaal gekweek as sny-blomme vir tydelike verfraaing in koue-teelvloer voorkamers.

Baie rangskikkings bevat diesulke spesiaal gekweekte ” ferrari ” blomme, by wyse van sprake. Ek het nog weinig, indien ooit, ‘n fency rangskikking gesien met Jakop Regop’s, ‘ Afrikanertjie of dalk ‘n Aldag-mooi blommetjies as deel van die rangskikking…..daai blomme en varingblare wat meestal net vir halfdag se mooi lyk uitgestal word.

Dalk ook goed so…..elke hoenderhaan skrop mos maar verkieslik in sy eie akker…..ek verkies die eenvoudige skoonheid van ‘n Jakop-Regop, Stokroos of ‘n Josef’s-kleed wat lewendig na my glimlag in my tuin, daar waar hulle sommer van self opgekom het waar wind vir hul saad help kraamplek kry het……….eerder dit as die hormoon deurdrenkte affodille, tulpe en ander asters, opgedollie met uitermatige groot krone.

Laat dink my aan nog ‘n paradoks wat pla…..

Het jy al opgemerk hoe voorstedelike huise beur vir ‘n voorstaan status plek? . Die agterkop van ou Tafelberg lyk al kompleet soos ‘n mof-ooi, besmet met uitgeswelde bosluise op haar uier, soos hierdie huise uitswel rondom die trotse ou berg in haar “lankal eenkant- alleen-staan” Hierdie voorstaan huise voel so half plastiekerig met daai kontoer gedwonge blombeddings en elektriese heinings vir die veilig voel in ‘n selfgemaakte tronk.

Gee my eerder ‘n stingel of twee van ‘n eenvoudige vygie-tjie met haar glinster-pienk blommetjie…..in nat koerant papier toegedraai en in my hand gestop deur die kromrug tante wat dit vir my half skaam aanbied terwyl sy voor-oor leun op haar half-skeef tuinhekkie. In ‘n half dor hoekie van haar eina-tuintjie le ‘n taaier waarin Jakop Regoppies hul oranje, geel en rooi kopdoekies trots vir my wys. Toe ek in my kar klim gewaar ek die stokroos…..daar waar sy, met haar middelvinger oortrek met ligpienk ringblommetjies, tussen die skakelhuisie se voordeur en straatvenster groei. Kompleet asof die eenvoudige stokroos met einste middelvinger na die verweerde huisnommer wys……”Vergeet-my-nie” …..verbeel ek my mos haar vingerwys terwyl ek inbuk en wegsak in die luukse van my motor.

Nie verniet het Opperman, met sy diep waarneming, opgemerk dat die Liewe Heer se blomsak iewers oor Namakwaland gelek het, en van Sy hemeltuin se blomsaad uit geval het……gaan kyk maar hoe opreg beeldskoon mooi laat skitter namakwa-duisies hul fanta-glimlaggies vir besoekers wereldwyd…..sommige besoekers juis woonagtig in daai boepens-huise en gemanikuurde blombeddings vol kunsmatige voeding.

Hoop jou naweek is opreg……..opreg vol van die nederige eenvoud van ‘n Jakop-Regop se trots staan…..en dat jou bestaan mildelik besprinkel sal word met die diep-rooi van ‘n roos se mooi……..daar waar sy nonchalant vir jou ‘n dekblaar laat wapper om aan die hemel-geur van God se skepping te mag ruik.

Leopoldt van Wyk
21/10/2018


 

HET JY AL……

Die skilderwerk op ‘n kwik-kwikkie se eierdop waargeneem en die grootsheid daarvan waardeer.? Die vryheid van swaeltjies in hul vlug gevolg?. Die handewerk van hul moddernessie, met niks anders as ‘n bek-troffeltjie, sagkens gebou, gade geslaan en bewonder?.

Gekyk hoe dorre veldrantjies ‘n groen baadjie aantrek na milde reen – agtdae gras, poeierpers wildetilp en droedra rankies wat om voorstaan vir jou aandag beur?. ‘n Soetdoring wat haar haredos in klein geel krullers draai en as toegif van haar heelende heira ongevraagd aanbied vir jou siel se eina-pyn. Geluister hoe jakkals en korhaan meeding en vir jou ‘n gratis serenade sing?. Hoe ‘n kwe-voel wip van die skrik as sandpatrysies wegtrek in ‘n koor en ver bo jou wegvlieg na waterpannetjies se lafenis koel?.

Gaan wandel deur die veld vir ‘n slag. Sy is ‘n ewig lewende museum wat geen toegangs gelde van jou vra….solank jy net agterna niks anders as jou spore agterlaat. Dis daar waar jy, omgewe met haar siel, weer die natuurkind in jou kan ontdek. Onder die koelte van ‘n veranda kan jy dan die wind uitnooi om met haar asem jou lyf sagkens te streel. Sit gerus behaaglik agteroor en onspan.

Dan eers kan jy luister na die roepstem van die stilte….die lokstem van haar liefde. As jy gelukkig is, sal jy ‘n steenbok ooitjie se ver-af geroep na haar maat kan hoor. Hoop dan jy ervaar hoe die vrede in jou siel nes-skop en beginte bot. Hopelik sal jy stadig aan weer daai lankverlore edelgrein iewers in jouself ontdek.

Het jy al..?

Leopoldt van Wyk
22/09/2018

3 kommentare op “Leopoldt van Wyk”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.