My dagboek oor jou (7) …
Seisoene gaan en kom … soos die dae van ons lewe. Party beter en party slegter. Maar elke dag bring ‘n nuwe more, selfs al voel dit of jy nie nog ‘n dag in die oë wil staar nie.
Elke oggend as ek wakker word, dink ek eerste aan jou. Aan hoe dit was toe ons saam wakker geword het. Ek sal nooit vergeet hoe jy altyd in die vroeë môreure ‘n soen in my hare of teen my voorkop of enige plek waar jy met toe oë kon bykom, gedruk het nie. “Môre Engel” was jou woorde altyd. Ek was meeste van die tyd nog deur die slaap, maar ek het altyd daarvan geweet. Dan het ons verder geslaap. Na al die tyd, mis ek dit steeds. Ek mis om in jou arms wakker te word. Ek mis om jou stem te hoor. Ek mis om ‘n dag saam met jou te begin.
Ek dink daardie tyd was my somer seisoen. En ek vermoed my winter seisoen hou langer aan as wat ek ooit wou hê. Tog sien ek die mooi in die natuur raak. Van somer na herfs, van winter na lente. Ek sien die wingerde vaal en koud raak. Ek sien hulle bot en dan in volle drag. Ek ruik die lente in die lug en ek voel hoe dit kouer raak as die herfs plek maak vir winter.
Elke seisoen bring ‘n stukkie van jou na my gedagtes. Ons het saam deur vele seisoene gegaan. Die seisoene van die natuur, maar ook die seisoene van ons lewens. Deur goeie dinge en slegte dinge. Deur lag en huil.
Wanneer het dit gebeur dat ek nie meer jou seisoen-mens was nie? Wanneer het jy besluit dat jy nou op jou eie wil wees?
.
In my kop het die besluit lankal kom lê dat hierdie briewe aan/oor jou liewer moet stop, want dit bly eensydig. En eensydig maak seer waar niemand kan sien nie. Maar my hart weier nog halstarrig om te glo wat my kop sê. Want “mis jou” lê my hele wese vol. En net ‘n besluit van my kop kan dit nie verander nie.
Onthou jy toe ons die een vroeg lente oggend na Worcester se kant gery het. Ons het besluit om nie deur die tonnel te gaan nie, maar eerder oor die berg. Jy het by elke aftrekplek gestop sodat ons kon foto’s neem. En by elke plek waar ons gestop het en ek jou in die natuur kon sien, het ek geweet dat jy vir altyd in my hart sou wees. As ek my oë toemaak, kan ek jou steeds ruik in bossies van die veld.
Ons het koffie gedrink in plastiek koppies wat ek ingepak het en broodjies met kaas op, geëet. Die groot berge was agter ons en die kloof voor ons, maar ek was skaars daarvan bewus, want jou arms was om my. Jy was nog altyd my rots en anker.
Nou lê ek in my bed en weet ek moet opstaan, al is dit bibber-koud. Die dag wag nie vir ons nie. Vanmôre kan ek maar net saggies fluister: “Môre Engel” … en hoop jy het dit nie vir altyd vergeet nie.
Want vanoggend mis my slaapwarm hart jou erg… ... See more