Ek is 'n jong, skugter meisietjie wat pas as klerk by die Rehoboth Regeringskantore begin werk het. Rofweg so 900 jaar gelede.
Dedda is op vervroegde aftrede - hy's siek en kan nie meer skoolhou nie. So terwyl my ouers wag vir die geld om uit te betaal (die verlof-gratifikasie eerste en daarna sy pensioen), was ekke vir 'n rukkie die ‘broodwinner’!
Ons ontvang ons geldjies elke 15de van die maand en het nie veel rekenings nie behalwe vir my goue horlosie en kleertjies wat ek by Ou Sylvanus, die man met die lang, blou, slap kar en mondvol goue tande wat maandeliks in Rehoboth kom smous het, op skuld gevat het … maar dit was al!
Die res het als net so na Mamma gegaan vir wat ookal die behoeftes was.
Ek en Mamma het 'n ongesproke ooreenkoms gehad. Sy sal elke 15de se môre vir my bel. So het my foontjie dan ook elke maand klokslag gelui met Mamma aan die anderkant:
“Het jy ge-uhhmmmm?” Ek sou dan sê: “Ja Mamma” en dan sal sy aankom met die blou Toyota bakkie om haar deeltjie by my te kom kry. Ons het in sulke bruin koevertjies ons maandelikse geswoeg gekry.
Destyds was Lorraine Bussel die pay-meester en van my kollegas was Aunty Barbara Januarie (Ferreira); Aunty Ella Wellmann; Kleine Esterhuizen (Christ); Helga Stumphe; Hans Swartz (Kolekamer); Poppie Möwes (Junius)
Weet nie wie van hulle is nog daar nie … soos ek sê, dis ‘n hele paar honderd jaar gelede!
Maar dis nie waaroor my storietjie vanoggend gaan nie … dit gaan oor Mamma se telefoonoproep en die vraag: “Het jy geuhhmmm?”
Die bordjies is nou verhang … ek het 'n meisiekind wat oorkant die waters bly … en so nou en dan maak my selfoon 'n geluid … so 'n sagte melodie … amper soos goetertjies wat in die wind waai. Dis dan my boodskap, met net 'n nommer op! En ek weet ek’s geseën. Met 'n hele paar Euros!
En ek kry so 'n lekker knop in die keel … want ek onthou … my ma se oproep en die ou spreekwoord wat sê: Wat jy saai sal jy maai
Pragtig – nou kan jy woeker!
Hi Ria!
Ek’s in! Jipeeee!