Christo du Plessis

1 week ago

Bettiesbaai se alleen winter

Die wintervuur brand in die vuurherd
in ons Bettiesbaai se huis
terwyl ek klein teugies van my rooiwyn
sluk verbeel ek my jy het teruggekom
al is dit net vir vanjaar se winter.

Ons speel huis-huis, kook, maak skoon,
skrop in die tuin en as die nag vroegaand
‘n goordyn oor die dag trek lê ons knus
in mekaar se arms voor dieselfde vuur
op die langhaarmat tot ounag se uur.

Dan is jou lyf naby en warm en bekend
voel ek jou liefde deur jou stoom omdat
jy ook van my hou en dit geniet om my
vrede met my te deel omdat jy
teruggekom het want jy weet
ons het mekaar nodig om te oorleef
want jou asem is my hartklop.

Maar toe ek koud wakker word
ook op die langhare van die mat
en die vuur saam met die ounag
gaan rus het sodat die dooie kole
my aan ons liefde herinner, het ek
teleurgesteld besef dat ons vuur ook
geblus is deur afstande tussen ons
gemeet in harde woorde omdat ons
dit nie kon regkry om die see en die bos
te laat versoen soos wanneer ons saamsmelt
in eenwees omdat ons liefde geen grense gehad het nie.

Ek oorweeg dit om weer vuur te maak
nog wyn te skink en jou te bel sodat ek
jou woorde en my stilte saam kan indrink
die oomblik as die horison verkleur vir die
nuwe dag met die hoop dat jy sal weet
dat ek, die Bos en Bettiesbaai op jou wag.

© Christo du Plessis – 13 Aug 2019

1 week ago

Ouma en die hofmakery

“Ouma, wat is dit as mens hofmaak? Speel mens dan hof-hof en iemand moet tronk toe gaan?” Sussie frons hewig terwyl sy vra.

“Nee Kindjie dit is wanneer mens by iemand aanlê, vir mekaar ogies maak.” Voor Ouma nog kan wonder waarom sy dit vra, skiet Sussie met die volgende vraag: “Is dit soos Ouma en oupa Adonis, net voor julle vry?”

Ouma hyg na asem en gaan aan die hoes. Die beste wat Ouma kan uithoes is: “Hoe … kom … vraaa … jy …?”

Sussie is die ene onskuld as sy vertel: “Ek het gehoor toe Oupa vir Pappa sê as tannie Sarie nou Engeland toe trek sal Pappa maar die tannie wat haar huis gekoop het die hof moet maak.”

Ouma herstel nog van die hoes-aanval. Haar gelaat se kleur keer net terug van pers-blou na rosig. Sussie babbel ongestoord voort: “Mamma sê Pappa se hart is bietjie seer omdat Tannie Sarie sommer net besluit het om die werk in Engeland te vat. Mamma sê Pappa wou vir tannie Sarie vra om te trou.”

Ouma trek haar wenkbroue op. Sy het nie verwag Stefaans voel so erg oor Sarie nie. Maar dit is duidelik dat Sarie nie ‘n trouery met Stefaans ingedagte gehad het nie.

Sussie praat vandag soos ‘n masjiengeweer: “Ouma, as Pappa en tannie Sarie met mekaar trou, is tannie Sarie dan my stiefma?

Ouma trek haar nader en hou haar styf vas terwyl sy haar in haar hare soen: “Ja my Skapie. Maar stiefma is tog vir my ‘n baie lelike woord. Kom ons verander dit eerder na ‘n “aangetroude-mamma.” Sy sus vir Sussie heen en weer met haar lyf.
“Wie leer vir jou van stiefma, tannie Sarie?”

Al sussende kyk Sussie teen Ouma se lyf op na haar: “Nee Ouma, Samantha het gesê as Pappa met tannie Sarie trou, is sy my stiefma. Sy sê stiefmaens is wrede mense wat eintlik hekse is. En sy sê tannie Sarie gaan soos Aspoestertjie se wrede ma en susters wees en my in die wendyhuis laat slaap. En dan moet ek die hele huis skoonmaak en kosmaak en wasgoed was en as ek dit verkeerd doen gaan sy my slaan en dan moet ek sonder kos gaan slaap.”

Ouma trek vir Sussie bank toe. Vou haar hande weerskante om Sussie se gesig en kyk diep in haar oë: “My Hart, Samantha praat bog. Jy ken mos vir tannie Sarie en jy weet sy is nie ‘n wrede mens nie. Sy raas soos enige mamma as jy stout is. En jy moet onthou Pappa sal nooit toelaat dat enige mens jou mishandel nie. En dan is ek en oupa Adonis darem ook nog in hierdie huis. En enige stiefma wat jou in die wendyhuis laat slaap, sal met ons te doen ... See more

1 week ago

Misoeste

Alleen lê hy in die “gutter”
die fetus van gisteraand se fees
modderwater spoel
oor sy naaktheid en nageboorte
want dié wat sy lewenssaad geplant het
het hom vrygelaat sonder
om hom ooit te bemin.

Môre is die land weer braak
word saad weer geil gestrooi
in akkers van onwelkome asems
verknog aan ‘n willose moeder
geensins gereed om die oes te ontvang nie.

En elke keer se misoes blom
in die stormwaterslote
verkondig vryheid waarvoor
niemand betaal nie
slegs die fetus in
stinkende
slik en
modder.

© Christo du Plessis - 21 Jul 2019

2 weeks ago

Ouma … die régte een of die verkéérde een

Ouma sit in die sitkamer op die uitskopstoel. Haar regterbeen in ‘n maanskoen en ‘n kruk staan byderhand as sy moet opstaan.

Sussie kom staan dig teen haar en terwyl sy met haar hand heen en weer oor die stewel vryf vra sy: “Is dit seer Ouma?”

“Nie as ek stil sit nie my Kindjie.”

“Was dit seer toe Ouma van Ouma se hoëhakskoene afgeval het?”

Ouma rol haar oë en sug dramaties: “Ja dit wás baie seer. Maar gelukkig was jou Oupa Adonis daar om my op te help.”

“Met hierdie kierie waarmee Ouma nou moet loop, lyk ouma net soos ‘n regte ouma.”

“Huh?” glip oor Ouma se lippe. Sy frons en trek haar mond op ‘n plooi.

“Ek sê Ouma lyk nou soos ‘n re … “

“Ja Kind dit het ek gehoor. Hoe lyk ‘n regte en verkeerde ouma dan vir jou?” Ouma is verontwaardig en boos.

Sussie besef nie dat sy ‘n baie gevaarlike pad betree het nie en borduur lustig voort:
“’n Regte ouma se hare is grys en dit is oor haar ore gekam sodat die mense nie haar ore sien nie, want sy het lang ore.”
Ouma proes en gaan dan aan die hoes sodat Sussie dit nie moet agterkom nie.

“Ja en?” vra Ouma met onderdrukte lag-trane in haar oë.

“En haar hare is styf gespuit met haarsproei want sy gaan net een keer ‘n week na die salon toe om haar hare te laat doen, so dit mag nie deurmekaar raak nie.”

“Nou ja toe, dan is ek sekerlik nie ‘n regte ouma nie.” Ouma se uitlating is amper gelate.
Dit is nét die gaping waarvoor Sussie gewag het: “’n Regte ouma het ook ronde wange en hulle het skote waarop mens kan sit, al is dit partykeers te klein.”

Sussie skep diep asem, vee haar hare uit haar oë en hervat tot Ouma se groot vermaak. Sy pas tot op hierdie stadium glad nie in Sussie se prentjie van ‘n regte ouma nie.

“Regte oumas dra nie hoëhakskoene nie want hulle het al te baie keer van hulle skoene afgeval en dan mag hulle net skoene met plat hakke dra.”

“Sussie waar kom jy aan al die nonsens oor regte oumas wat jy so praat?”

“Ek en Pieter het gespeel en boom geklim toe Samantha daar aankom en sê sy wil ook saam met ons speel. Maar sy speel nie lekker nie Ouma. Sy wil altyd eerste wees en sy kan ook nie eens boomklim nie. Dan moet ons lank wag voor ons in die boom kan klim, want sy wil nie hê ons moet eerste in die hoogste takke wees nie.”

“Nou hoe kom ‘n regte en verkeerde ouma toe by die boom uit?” wonder Ouma hardop.

“Nie by die boom nie Ouma. Ek en ... See more

4 weeks ago

Vlam van die natuur

My hart
loop alleen
maak geen bemoeienis
verdra net die aanslag
sonder om bes te gee

My hart
loop alleen
tot teen jou kleed
se soom waarin jy
my toevou om sodoende
die vuur uit die dag te blus

Toe vlam die natuur
op binne-in ons huis en haard
streling tussen hande en liefde
bedaard met vreugde vure
wat hoog brand in my hart

© Christo du Plessis – 25 Jul 19

4 weeks ago

Teenstellings …

Die arend sprei sy vlerke
gly deur dale oor berge
tot op die hoogste krans
waar hy sy oë priem na die ver
kim waar die sonuitbarstings
die horison in vlamme verswelg

lekkend
honger

om die nag te verteer
en die dag te verbrand

Die prooi wag vir die jagter
om hom stuk vir stuk
uitmekaar te skeur as voeding
vir die oningeligte wat oopmond
hang om die laaste keer kos te kry

afwagtend
angstig

Storm see en wind raap
die karkas op en rol dit diep
onder die rotse in vir wagtende
knypers en kloue wat ritmies
klap-klap in die feesmaal
wat rustig wieg in die skommel water

om die lewe te vier
om die dood uit-te-oorlê

© Christo du Plessis – 23 Jul 2019

1 month ago

Praat is onnodig

Praat is onnodig
want die tyd loop uit
hartseer wag in die koue buite
stil wys die vinger
na die ryp op die gras
wat kraak as jy daarop trap

En die hart wat smoor
in die felheid van pyn
laat woorde verdor
in die winter van liefde
in gange lank vergete

Geel fotos teen mure
wat ‘n glimlag laat grynslag
vir die spoke van gister
wat sinister wandel oor klank
laat stilte vry sodat die stormweer
in die hart bedaar tot die spore
in die stof op vreemde paaie
na geen tuiskoms reis.

Praat is onnodig
want die tyd loop uit
waarin ons nog kon droom

Praat is onnodig
tyd is min
dag en nag ruil plekke
ons staan verleë op die kant
sonder om koue of ryp
somer en son
of liefde lank geleë
klaar geblom te begryp

Jy in joue
ek in my eie
stom hartseer

Praat is só onnodig

© Christo du Plessis – 21 Jul 19

1 month ago

Ouma en die slang

Ouma sit en lees op die stoep terwyl Sussie onder die stoepmuurtjie in die tuin speel.

“Ouma, wat is verbode vrugte?” Ouma hoor vir Sussie maar sy sien haar nie. Boonop is sy nie vandag lus vir Sussie se baie vrae nie.
Gelukkig gaan Sussie aan voordat Ouma kan antwoord: “Tannie Sarie het vir Pappa gesê oom Werner, wat langs haar bly, gaan nog moeilikheid kry, want hy is besig met verbode vrugte.”

Ouma antwoord “ja” sonder om ag te slaan op wat Sussie alles praat.
“Dink Ouma verbode vrugte is soos die boom wat in die middel van die Paradys gestaan het?”

Weer kom die antwoord slegs “Ja”.

“Ouma, hoe het die slang gelyk wat in die Paradys was?”

Sonder om op te kyk van haar boek af antwoord Ouma belangeloos: “Ai Sussie, seker maar soos ‘n gewone slang wat mens vandag nog kry.”

“Soos hierdie een Ouma?” vra Sussie onskuldig.
Toe Ouma opkyk staan Sussie by die stoepmuur met ‘n yslike slang in haar hand. Die lyf verberg haar maer voorarm totaal. Sy het die slang in so greep agter die kop beet dat sy, sy bek wyd oopdruk.

Ouma se poging om Sussie aan te spreek gaan verlore toe sy in ‘n beswyming van haal stoel af gly. Al wat sy uitkry is: “Susssssss …”

Sussie skrik haar in ‘n ander dimensie in en storm op Ouma af wat met wit oë op die vloer lê. Sy gil diep uit haar maag uit: “Oumaaa!” Die slang vergeet, steeds vasgeknyp tussen haar vingers en om haar arm gedraai.

Met dié dat sy oor Ouma buk en haar skud gaan Ouma se oë oop. Al wat vir haar sigbaar is, is die gapende oop bek reg bokant haar gesig.
Met ‘n diep sug word alles swart om haar en verval sy in diep bewusteloosheid.

Toe Ouma weer wakker word en bewus is van haar omgewing, lê sy op haar bed en Sussie sit kordaat regop langs haar op die bed. Sy probeer van die bed af spring maar haar ledemate laat haar nie toe nie.
Histeries roep en beduie sy na Sussie: “Die … die slang, die slang …!”

“Toemaar Ouma. Pappa en Oupa het hom …”

“Ek hoop hulle het hom vrek gemaak. Slange is van die duiwel!” kryt Ouma dit uit.

“Nee Ouma. Hulle het hom net na die oom toe gevat wat slange vang. En Ouma, slange kan nie van die duiwel af kom nie want liewe Jesus het hulle ook gemaak.”

“Ghmpf” brom Ouma, “daarvan is ek nie so seker nie.”
Sussie babbel asof Ouma niks gesê het nie: “Juffrou Sanet by die sondagskool het vir ons geleer van die oom wat die ark moes bou. Die diere moes twee, twee in die ark in. As die ... See more

1 month ago

Die nag daal in stilte neer

Kerf
Snipper
Sny

laat die lem deur murg
en been gly
om vryheid te verleen
aan die een wat in die geraamte
vasgeklem sit sonder stem
om sy lot te bekla maar
nie sy naaste kan verdra

Klief
Swenk
Swaai

deur die lug
oë op afstand gerig
waar rus moontlik wag vir die vermoeide siel
aan die einde van die dag se tollende wiel
om die laaste skof van die regters
te bepaal totdat die donker duisternis
van die slikwater deur lugkanale
diep deur lewens maal

Stilte

En die nag daal in stilte neer

© Christo du Plessis – 10 Jul 2019

1 month ago

Ouma en die blomdief

Toe Ouma by die sitkamer inkom vind sy vir Sussie toegerol in die sitkamergordyn in ‘n kokon. Net haar voete steek uit.

“Hoekom is jy toegerol in die gordyn soos ‘n krismis-klapper Sussie?”
Daar kom net ‘n gemompel deur die gordyn.

“Ek kan jou nie hoor nie Sussie. Klim uit die gordyn en praat ordentlik met my.”

Sussie draai al in die rondte totdat sy uit haar ‘krismis-klapper’ kan klim.
Die traanstrepe op haar wange getuig daarvan dat sy gehuil het. Sy kyk kort, kort bang die gang af.
Ouma merk dit op en vra besorgd: “Wat is dan verkeerd Liefkind?”

Sussie storm vorentoe en kry vir Ouma om die lyf beet met soveel geweld dat Ouma struikel en hulle kom albei op die bank te lande. Ouma sit haar hande weerskante van Sussie se kop en vee haar oë en wange droog met haar duime:
“Laat Ouma hoor wat jou so ontstel het.”

“Ek is bang vir die ‘vampires’ Ouma. Ek het by Ousus se kamer ingeloop – Ouma weet … soos altyd.”

Ouma glimlag sag en kry ‘n vonkel in haar oë. Die ‘soos altyd’ beteken sy het ongenooid by Sussie se kamer ingeloop en moeilikheid gekry.

Sussie het nie aanmoediging nodig om verder te praat nie: “Toe sê Greg vir my as ek weer sommer so in Ousus se kamer instap sonder om te klop sal hy my aan my nek kom byt en al my bloed uitsuig, want hy is ‘n ‘vampire’.”

Ouma klap haar tong verergd: “Ag hy praat nonsens Sussie. Daar is nie mense wat ‘vampires’ is nie. En as hy een is kap ek sy kop af.”
Ouma soen vir Sussie teen haar voorkop.

“Wat het jy in Ousus se kamer gaan doen Sussie?”

“Niks nie Ouma” sê Sussie besonder vinnig, op so ‘n manier dat Ouma haar wenkbroue optrek en haar wysvinger vir Sussie lig.
Dit is waarskuwing genoeg dat Sussie weet om nie kanse te vat nie.

“Ek wou maar net gaan kyk hoe mens vry Ouma.” Haar stem buig sodat dit amper klink of sy vir Ouma wil vra of sy iets anders verwag het.

Ouma versmoor haarself amper as sy probeer om haar asemsnak te verberg.

“En …? Het jy gesien hoe mens vry? En hoekom wil jy sien hoe mens vry? Jy is nog te klein om sulke goed te weet.”

Sussie sug diep en skud haar kop: “Ek wil ook ‘n kêrel hê Ouma. En dan moet ek mos weet hoe om te vry.”
Ouma druk Sussie se kop styf teen haar lyf vas sodat sy nie die glimlag om Ouma se mond moet sien nie.

“Ek het nie gesien hoe hulle vry nie Ouma. Want hulle het net daar in die bed gelê. Ousus het seker baie koud gekry want sy het helemal onder ... See more

1 month ago

Ouma en die vermiste kind

Ouma stap uit swembad toe waar Pappa en oupa Adonis in die son sit.
“Het een van julle twee vir Sussie gesien?” Ouma frons bekommerd. “Sy is al die heel oggend soek.”

Oupa Adonis wys met sy duim oor sy skouer na die pophuis se kant toe. “Het jy daar gekyk?”
Ouma skud haar kop ontkennend: “Sy is nie daar nie. En ook nie op al die ander plekke waar sy gewoonlik speel nie.”

“Ontspan Ma. Sy speel seker by Sarie of by ta’ Hannie langsaan. Sy sal wel netnou hier aangesit kom … “

“Stefaans! Jy, as haar pa, behoort meer bekommerd te wees as ek. Het jy nog nie in die nuus gesien hoeveel kinders vermis word nie? En as hulle eers wegraak, kry mens hulle nooit weer nie. Kyk nou maar wat met die meisies gebeur het wat Gert van Rooyen beetgekry het …”

“Maaa …” is al wat Stefaans uitkry voordat Oupa hom in die rede val:
“Albertha, Stefaans is reg. Jy weet die kind loop Saterdae die hele buurt vol en kuier oral.” As Ouma se mond oopgaan om iets te sê, hou Oupa sy hand ferm op en gaan voort: “En Stefaans jou ma is ook reg. Dogtertjies soos sy is vandag ‘n teiken vir ontvoering ens, ens. Maar dit help nie ons gaan haal die bobbejaan agter die berg nie. Albertha gaan jy om na Hannie, Stefaans jy gaan na Sarie toe. En geen gevryery nie hoor, jy gaan vir Sussie soek.”

Ouma draai haar kop skeef en kyk vir Oupa op en af: “En jy Adonis, wat gaan jy doen?”

Oupa lyk heel verbaas terwyl hy vir Ouma antwoord: “Ek gaan natuurlik by die huis bly. Net vir ingeval sy by die huis aankom. Of as iemand haar dalk iewers kry en hulle bel moet hier tog iemand wees wat die telefoon kan antwoord.”

Hy lyk heel ingenome omdat hy so vinnig op sy voete kon dink.
Ouma gee hom ‘n vuil kyk en snork onvroulik deur haar neus: “Die gerieflike opsie. Sit by die huis en drink whiskey terwyl jy die so af en toe na die voordeur loer.”

Stefaans staan op: “Ek gaan by Sarie kyk. As sy nie daar is nie sal ons saam op ‘n paar ander gaan kyk. Ek dink net ons moet ‘n tyd vasmaak wanneer ons mekaar weer hier by die huis gaan kry om terugvoering te gee.”

Hulle kom ooreen om mekaar ‘n uur later weer by die huis te ontmoet om verslag te doen. Alhoewel hulle dit nie hardop sê nie, hoop hulle in die stilligheid dat Sussie dan al by die huis sal wees. Waar sy dan ookal gekuier het.
As Ouma by oupa Adonis verbystap, gluur sy hom met nougetrekte oë aan.

Voordat Ouma omstap na Hannie toe, gaan maak sy eers weer ... See more

1 month ago

‘n Storie oor my daaglikse paaie (2)

Vandag het ek die voorreg gehad om namens my werk na Ceres, die dorp toe te ry. Ek moet sê Ceres die dorp, want die naaste wat ek aan Ceres was, was die kersieplaas Klondyke.
Dit was opsigself ‘n bonatuurlike ervaring. Daardie soet, donkerrooi vrug van verleiding waarvan mens te min kry as jy versot is op kersies.

Hoe dwaal ek nou af. Omdat ek talle waarskuwings gekry het dat ek en my vyfton lorrie nie gaan pas oor die Bainskloofpas nie, neem die GPS my Worcester toe, om my bestemming te bereik.

Elke keer as ek oor die DuToitskloofpas ry, tref die skoonheid van die berge, die wolke, ag man sommer alles my.

Toe gebeur vandag. Ek ry onder laagliggende wolke deur oor die pas, met misreën wat my noop om kort, kort die reënveërs te gebruik. Die pieke van die berge lê iewers verskans agter die water wat nog versamel is in die wolkemassa. En dit is beeldskoon.

Toe ek oor die pas is en afsak Worcester toe, ontbloot die berge aan my linkerkant vir my genadewater wat in watervalle teen die berg afloop.
Ek tel vier, maar my assistant wys vir my ‘n vyfde en sesde een.
So mooi is dit dat ek vergeet om te ry. Ek haal my voet van die versneller af en luier teen die bult af. My seëninge reis saam met my.

Omdat die GPS sê ek moet afdraai Rawsonville se kant toe, doen ek dit. Hier en daar speel die sonstrale baldadig deur die wolke en heet my welkom op ‘n splinternuwe pad Ceres toe.

By die T-aansluiting waar ek links moet draai, troon die berge een bo die ander een uit in spoggerige vertoon. Hulle vou hulle pieke toe in winter-warm-wolkkomberse en sus mekaar in die wind wat koud deur die lorrie se vensters suis, net om my daaraan te herinner dat dit nog nie op die berge wat Ceres omring gesneeu het nie.
My gedagtes strek oor wit velde en bergtoppe, met die wete dat ek dit wel nog gaan beleef.

Die deel van die dorp waar ek moet wees, lê snoesig in die kom van die omringende berge wat om die beurt met die wolke en sonstrale speel. Niemand is haastig nie en niemand raak ongeduldig vir hierdie lorriedrywer wat pad soek nie.
So bereik ek my bestemming. Regoor die plek waar ek doenig moet raak met ou motorolie is ‘n kleuterskool, Die Babbelbekkies. Toe ek nader gaan om kennis te maak weet ek waar die skool sy naam gekry het.
Met my vertrek staan al die babbelbekkies saam met Juffrou en waai vrolik om my uit te nooi om weer te kom kuier.

Plek, plek staan die aalwyne met hulle rooi krone soos vlamme in bondels. ... See more

2 months ago

Ouma en die plate

“Ouma, is dit seer om dood te gaan?”

Ouma wen so bietjie tyd met stilte voordat sy stadig antwoord: “Dit hang af hoe mens doodgaan my Kindjie.”

“Dink Ouma Mamma het seergekry toe sy doodgegaan het?”

“Hoekom vra jy haar nie Sussie? Julle gesels mos baie met mekaar.” druk Ouma weer om die tyd so bietjie langer te rek.

“Ek het Ouma, maar sy sê sy kan nie onthou nie. Waar sy nou is, is alles rustig en sonder seer of hartseer en dan onthou mens nie of jy seergekry het toe jy doodgegaan het nie.”

“Nee my Skat, ek dink nie Mamma het seergekry toe sy gesterf het nie. Sy het net siek geword en die dokter het gesê sy het nie gely nie.”

“Ouma, is Ouma se man-oupa al lankal dood?”

Ouma frons met die aanhoor van al die vrae oor die dood, maar sy antwoord: “Ja my Lam. My man en jou oupa is dood vier jaar voor jou geboorte.”

Sussie tel op haar vingers, ses, sewe, agt, nege, tien … Dan roep sy verwonderd uit: “Dit is vreeslik lank Ouma! Verlang Ouma partykeers na Ouma se man-oupa?”

“Ja my liewe Kind. Hy was ‘n mooi, sterk man en is helemal te vroeg oorlede.”

Sussie stoot haar onderlip gemaak hartseer uit: “Was hy ook siek Ouma?”

Ouma antwoord heel duidelik, erg onvergenoegd: “Nee die ou bogger moes opsluit gaan perd inbreek. Want die ander manne gaan sy perd seermaak het hy gesê.”

Sussie luister oopmond en Ouma laat haar frustrasie uit deur die vertelling: “Ek het vir hom gesê die Appaloosa is te groot en wild en nog nie reg om gery te word nie. Maar nee! Wat weet ek nou? En toe val hy van die verdomde perd af en breek sy nek!”

“Sjoe Ouma dit was seker seer om sy nek te breek?”

Ouma gluur na Sussie sonder dat sy dit besef en met haar vinger wat heen en weer swaai sê sy: “Ek hoop hy het baie seergekry. En as die perd nie sy nek gebreek het nie sou ek dit gedoen het, net omdat hy van die perd moes afneuk.”

Sussie bring Ouma vinnig terug na die hede as sy ewe onskuldig vra: “Is Ouma al oud genoeg om dood te gaan?”

“Hoe nou Kind! Wil jy dan hê ek moet dood?”

Nou gaan Sussie regtig aan die huil: “Ne … nee Ou … ma. Ek … ek is bang … Ouma gaan … doooood!” Sy rek die woord dood uit en volg dit op met ‘n hartlike huil diep agter uit haar keel met ‘n wye oop mond.

Ouma wil haar eers bestraf, maar dan besef sy die angs waarmee die kind worstel. Sy trek haar styf teen haar vas en vee die trane wat onophoudelik oor die wange rol geduldig af terwyl sy ... See more

2 months ago

Kom lê jou kop hier teen my skouer
dat ek jou kan vertel
selfs al word ons ouer sal jy
my hart’s liefde bly

Hou vas my hand styf teen jou hart
dat ek kan voel hoe dit vir my klop
want jou woorde blom in my wese
en tooi die heelal onder bloeisels mooi

Laat ek jou omhels tot drome
ons op wieke van vry winde
laat gly tot daar waar ons liefde
gestalte kry tussen die sterre in die melkweg

Gun vir ons die visioene waarmee ons
ongesiens ons paaie kan merk
deur die luik na vir-altyd kan speel
sonder dat die winterkoue
ons tot die hier en die nou beperk

Deel my liefde, my hart, my stiltes
laat ek jou sonder woorde bemin
koop die tyd saam met uit wat gaan verloop
totdat ons, ons harte een kan maak
sonder om kosbare minute aan te raak.

© Christo du Plessis - 8 Jun 19

2 months ago

Ouma en die tandemuis

“Ouma, hoe boer mens met bye?”

“Nee my kind daarvan weet ek maar min. Ek weet van byekorwe wat hulle in die veld neersit. Maar dit is ook maar al.”

“Dink Ouma ons kan eendag op ‘n byeplaas gaan kuier? Dan kyk ons hoe werk dit?”

“Ek weet darem nie Sussie. Is bye nie gevaarlike goed nie? Mens hoor darem maar gruwelstories oor bye.”
Sussie draai haar kop heen en weer. Sit haar vinger in haar mond en kyk dan ernstig na Ouma: “Toemaar Ouma, die bye sal nie vir Ouma byt nie. Hulle is mos darem in hokke … dink ek.”

“Bye byt nie Sussie, hulle het nie tande nie, hulle het angels en daarmee steek hulle.”
Sussie verskil duidelik met Ouma as sy haar kop vinnig heen en weer skud met ‘n luide: “Hu uh … Oupa Adonis sê bye byt.”

“Tsk …” klap Ouma haar tong … “Wat weet die ouman? Hy hou vir hom onnodig alwys.”

Sussie is dadelik by met ‘n antwoord: “Oupa het vir Pappa gevra of hy weet wanneer vrouens oud word. En toe Pappa nee sê, sê Oupa as vrouens oud word, steek bye hulle nie, hulle byt die vrouens.”

Ouma slaan eers haar hande saam asof in stil gebed met haar mond wat van verontwaardiging effens oophang. Dan vou sy dit oor haar rooi wange, maar voor sy iets anders as: “ Ooooooo … kan uiter.” gaan Sussie voort:
“En Ouma is mos nou al baie oud. So die bye kan nie meer vir Ouma steek nie.”

“Sussie!” roep Ouma uit terwyl sy opspring en by die vertrek uitstorm.
Sussie kyk Ouma verwonderd agterna, want sy wil verder weet van die bye. Sy wonder of Ouma nou kwaad is vir haar.

Ouma staan in die kombuis en drink stadig aan die yskoue water wat sy in die glas het. “Die vervloekte ou Adonis!” praat sy saggies met haarself. “As die man net nie so verdeksels aantreklik was nie! Vir sy jare is hy goed gebou … sterk … atleties …”
Sy rol haar oë dakwaarts.

Toe Sussie skielik agter Ouma praat, laat val sy die glas in stukke en sy uiter swetswoorde wat Sussie nie veronderstel is om te hoor nie.
“Ouma! Ouma praat vloek!”

“Wat verwag jy Kind? Jy sal mens graf toe laat skrik.”

“Is Ouma kwaad vir my?” vra Sussie terwyl sy Ouma styf om die lyf beet kry en haar kop teen Ouma vasdruk.

Ouma wieg haar sag heen en weer: “Hoekom sal Ouma vir jou kwaad wees my Liefkind?

“Oor die bye wat vir Ouma gaan byt, Ouma.” sê Sussie met ‘n klein huilstemmetjie.

Emosies van woede vir Oupa Adonis en deernis met Sussie wissel deur Ouma se gemoed. “Die kind tel goed op ... See more

2 months ago

Ouma en die haredos

“Ouma! Wat makeer Ouma se hare?” gil Sussie ontsteld toe Ouma by haar verby storm. Pers-rooi in die gesig. Haar hare hang slierte en is plek-plek, maar veral agter haar kop, bedek met iets wat teeragtig swart en taai is.

Ouma hakkel van boosaardige ontsteltenis: “Loop, loop vra dit vir jou e… e… ellendige ou oupa Adonis!”

Terwyl Sussie by die agterdeur uitgaan om by oupa Adonis te gaan hoor wat aangaan, bestorm Ouma die badkamer om die gemors uit haar hare te probeer kry.

Sussie het net weer by haar inkleurboek op die koffietafel gaan sit toe Ouma haar benoud uit die badkamer roep: “Sussie, Sussie kom dadelik hier!”

Duidelik het Ouma dit nie reggekry om die teer-gom uit haar hare te was nie.
“Waar is Ousus?” Ouma se stem wil-wil deurslaan in histerie.

“Sy is hokkie toe Ouma … “
“Dan moet jy dit doen Kind.” val sy vir Sussie dwars in die rede.
“Wat moet ek doen Ouma?” vra Sussie grootoog as Ouma ‘n skêr na haar toe uithou.

Ouma klap die haarslierte, besmeer met die teeragtige gom, weg van haar gesig af met die rugkant van haar hand.

“Jy moet hierdie goed uit my hare sny. Maar moet nou nie klosse hare afsny nie kind, Net die puntjies wat swart is. Dan kan Sally dit Saterdag net reg kap sodat dit weer in vorm is.”

Sussie kyk benoud van die skêr na Ouma se kop en terug: “Ouma ek weet nie of ek dit sal kan doen nie. Daar is baie gom in Ouma se hare.”
“Sussie moet nou nie aant’ grense gaan nie.” Ouma vat die skêr by haar en knip versigtig die taai, swart punt uit die kastaiingbruin hare: “Dit is al wat jy moet doen.”

Die skêr bewe in Sussie se hand vir die eerste paar knippe. Ouma sit op die toilet sodat Sussie lekker kan bykom.
Dit vat langer as wat Ouma gereken het. Maar so sit sy maar sodat Sussie darem haar lokke kan red.

Dit kook egter in haar gedagtes: “Die blêrrie ou man. Vir wat wil hy juis vandag die dak seël en dan met daardie gemors wat hyself gemeng het. En om vir haar te wil skree om te koes toe die emmer van die dak afval.”

Toe Sussie die skêr versigtig op die bad se rand neersit, staan sy haastig deur se kant toe. Maar wegkomkans is daar nog nie.
“Gee vir my die handspieël daar agter jou aan Kind, dat ek kan kyk wat jy gedoen het.”

Sussie druk die spieël vinnig in Ouma se hand en dan hardloop sy. Toe sy haar pophuis se deur agter haar toeklap en sluit, hoor sy Ouma se bloedstollende gille wat uit die badkamer weergalm en sy weet haar voorland ... See more

2 months ago

Die skoen in die straat

Jou skoen het in die straat agtergebly
op sy kant gedraai met veters nog vas
helemal in die verkeerde rigting
as wat jy vir jou laaste reis sou ry.

Dit was so 'n pienke
die hardloopskoen wat as laaste
getuie in die straat beduie het
daar was ‘n mens in dit vir haar laaste uur.

Ek het jou nie in die lykswa gesien nie
net die skoen en meters daarvandaan verwyder
die bloedkol waarmee jy jou laaste verblyf
gemerk het leweloos, onpersoonlik, koud.

Net jou pienk hardloopskoen het in die straat
op sy kant bly lê totdat ‘n kar ook daaroor gery het.

© Christo du Plessis – 3 Jun 2019

2 months ago

Ouma en die pretloop

Ouma, geklee in haar stywe jeans en hoëhakskoene, trippel by Sussie verby waar sy op die stoep sit en teepartytjie hou met haarself en Mamma.

“Waar gaan Ouma heen?”
Ouma antwoord sonder om te gaan staan: “Ek gaan om die blok stap om te oefen.”

Sussie byt vas soos ‘n bosluis: “Waarvoor oefen Ouma?”
Ouma sug en steek vas.

“Ek gaan oefen vir die pretloop wat volgende maand aangebied word by die Ouetehuis.”

Sussie kreukel haar neus en vra nuuskierig: “In Ouma se hoëhakskoene?” Sy kyk wysneus met een opgetrekte wenkbrou na Ouma se skoene.

“Wat anders moet ek aantrek?” vra Ouma verontwaardig.

“Mens oefen met ‘n sweetpak en tekkies, Ouma. As mens aan die pretloop deelneem moet mens dit ook met oefenklere doen.”

Nou wat weet jy sodanig van oefen jonge dame?” vra Ouma om vir Sussie te toets.

“Ek weet Greg het vir Ousus gesê mens moet net baie oefen dan is dit nie so seer soos in die begin nie.”

Ouma snak na haar asem maar probeer om nie haar ontsteltenis vir Sussie te wys nie. Die mannetjie het net een ding op sy brein en sy wat Ouma is gaan hom nog voor stok kry daaroor. Dit is nou te sê as dit nie te laat is nie.
Tòg wil sy meer inligting uit Sussie trek om haar aanval te versterk.

“Het Greg gesê wat se klere hy en Ousus nodig gaan hê vir hulle oefening Hartjie?”

Sussie druk haar ken in haar hand terwyl sy ernstig oor die saak dink.
“Ek kan nie onthou of hulle oor klere gepraat het nie Ouma.”

“Nou ek gaan gou my tekkies aantrek. Ek besit g’n sweetpak nie.”

Sussie huppel saam met Ouma: “Kan ek saam met Ouma gaan oefen?”
“Ja Kindjie gaan trek jy ook maar jou tekkies en sweetpak aan. Ek wag vir jou.”

Ouma hyg en sweet langs Sussie se trippelgang. Haar hare hang in slierte en is natgesweet teen haar kop vasgeplak.
Toe hulle by ‘n bankie verbystap, trek dit Ouma se sitvlak soos ‘n magneet en sy gaan ook summier sit.

“Kom Sussie, kom ons sit so rukkie dat Ouma kan rus. Greg was reg, hierdie oefeningsake is baie seer in die begin.”

Sussie kom sit styf teen Ouma.
“Ek is baie lief vir Ouma.” Sy druk haar kop teen Ouma se arm vas.

“Dankie Kindjie. Ouma is baie erg lief vir jou ook.”

So sit hulle vir ‘n rukkie in stilte totdat Sussie soos ‘n masjiengeweer lostrek.
“Ouma, Mamma sê mens …”
Ouma val Sussie sag in die rede: “Skatjie, hoe praat jy en Mamma met mekaar?”

Sussie trek haar gesig op ‘n plooi en kreukel haar neus terwyl sy ... See more

2 months ago

Tot die dood ons skei

Tot die dood ons skei
hou ons aan baklei
met liefde wat deursypel
deur die krake en aan skerwe
val om van seerkry te vertel.

Ons lippe hou aan praat
maar ons ore is doof vir
die woorde wat kwetsend
op die hart val om splete
te kloof waardeur bloed
en liefde vloei sonder om te heel.

En as die dood intree
en ons steeds baklei
sonder om daeraad en sonskyn
te gewaar spoel die gevaar
van eensame-laaste-asemteue
oor die kim waar die doodsengel
die oes-sekel swaai as finale septer.

Tot die dood ons skei
het ons aanhou baklei …

© Christo du Plessis – 31 Mei 2019

2 months ago

Ouma en die hallusinasie

“Ouma wat beteken sêbielaat?”

Ouma hou nie op om deur haar tydskrif te blaai nie terwyl sy vir Sussie oor haar leesbril kyk en vra: “Semi-laat?”

“Neeee Oumaaa, sê-BIE-laat!” Sussie se ongeduldige stem laat Ouma opkyk, haar bril afhaal en die tydskrif sak.

“Waar hoor jy daardie woord Sussie?”
“By Oupa Adonis. Hy het vir Pappa gesê Pappa hoef nie sêbielaat te bly net omdat Mamma dood is nie. Hy het ook gesê geen man kan vir sewe jaar sonder DIT bly nie.”
Ouma trek haar asem vinnig in en hoes ‘n rokers hoes tot sy rooi in die gesig is.

“Praat hulle sommer so voor jou al die grootmensdinge, Sussie?”

“Ek het my oorfone op gehad en fliek gekyk Ouma. Toe dink hulle ek kan hulle nie hoor nie. Maar Mamma het gesê ek mag nie die klank so baie hard luister nie, dit gaan my ore seermaak.”

“So toe luister jy grootmense se geselskap af?” Ouma frons kwaai. Swaai haar wysvinger deur die lug asof sy Sussie se geheue wil uitvee.
“Ek wonder wat jou mamma daarvan gaan sê. Is sy hier Sussie, dan kan ek sommer vir haar vertel wat om te sê.”

Sussie lyk nie vreeslik skuldig of gesteurd deur Ouma se teregwysing nie: “Neeee Ouma, sy is nie nou hier nie. En ek het net gehóór, nie afgeluister nie.”

“Wat het jy nog gehoor?” Ouma vra, maar sy vrees dit wat sy gaan hoor.

“Oupa het vir Pappa gesê hy moet ophou kieskeurig wees. Almal kan nie soos Mamma wees nie. Hy het gesê ouer dames is ook glad nie so vrygewig soos jong meisies met rooi hakskene nie.”

Soos net Sussie dit kan doen verander sy die onderwerp met een asemteug.
“Hoekom kry meisies rooi hakskene, wat maak hulle hakskene rooi en wat gee die meisies dan weg Ouma?”

Ouma sug, dop haar oë dramaties om en sit haar hande oor haar mond.
“Ai Sussie, party goed moet dogtertjies soos jy nog nie weet nie. Ek hoop nie jy het jou pa se antwoord gehoor nie.”

“Ek het gehoor Pappa sê tannie Sarie is darem nie te suinig nie en hy is lankal nie meer sêbielaat nie, nou nie dat dit iets met Oupa te doen het nie. Maar Oupa het net gelag en gesê Pappa moet weet hy ken hom nie net van vandag af nie.”

Sussie probeer op haar tone al vinniger in die rondte draai. Haar stem kom en gaan terwyl sy verder met Ouma praat.
“Sussie! Jy draai my kop dronk! Kry end!”

Sussie val op die bank langs Ouma neer.

“Wat het jy gesê toe jy soos ‘n mal haas al in die rondte spin?”

“Ek gaan eendag ‘n ballerina wees Ouma. Ek oefen solank. ... See more

« 1 of 4 »

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.