Dark Horse
Wys my jou donker-
die dele
wat jóú bang maak-
sodat ek
jou kan liefhê
tot dit gemaklik
en heel raak.
Gee my die wonde,
die skeure wat bloei;
daar waar jou drome wou groei -
dat ek jou kan laaf
en met omgee toegooi.
Sal jy my binne nooi,
na die kamers van skaamte, van liefs vergeet?
Dat ek jou seer
en niksheid
kan meet,
opsny
en las,
aan my
eie seer
vas.
©ANGELHEYNS 2017
Hoe ons was
As hoogmiddag
begin horrelpoot horison toe,
begin sleepvoet raak,
stof opskop tot sweempies wolk...
is "onthou" die skerpste dolk....
Ek mis hoe ons was
voor
Sielstiltes, seerstil geword het
Asem-deel, afstand geword het
Uitsien, weersin geword het
Heuningsoene, sweep-tong stry geword het
Huistoe gaan, hel toe gaan geword het.....
en verdriet my verniel en verdrink.
Silwernag kom my soek.
Sy maak my stil,
en sus saggies
die seer tot sluimerslaap....
Ek voel verlos;
bevry in vlug,
terug
na tóé -
na hoe ons was.
Toe ons liefde
verteer het
soos vuur
voor
ons sou uitbrand
tot
gisters
en
as.
ANGELHEYNS
OKT 2018