COUNTRY HEIMWEE

Liewe DNS’er, ek hoor in die verte ‘n radio speel country musiek en die onderstaande prentjie kom by my op. In my storm en drang jare het ek in Windhoek gewoon en sluit my skrywe af met ‘n tikseltjie onthou van daardie tyd. Hoop julle geniet die een.

WESTERN SALOON

Ek stap in by die swaaideure van die enigste kroeg en hotel op die klein dorpie waar ontwikkeling van die omgewing sy ontstaan gekry het.

Buite staan perde aan ‘n reëing vas en dit reën saggies terwyl  iemand op ‘n klavier in die kroeg ‘n honkey tonk wysie tokkel.  Sy voete trap ‘n riel op die plank vloer wat lyk of hy op warme kole loop.  ‘n Ander een, wat duidelik meer as een druiwe korrel in verwerkte vorm gesluk het, probeer saam sing. Sy stem stry verbete om wysie te hou maar so af en toe spring daar ‘n jodel uit wat kompleet klink of iemand op ‘n kat se stert getrap het maar die glimlag op die sanger se gesig spreek van momentele geluk en lekkerte wat regmaak vir ‘n kopseer  die volgende dag en gedagtes wat die vog van die druif uit sy lewe gaan verban. Twee voortande van die sanger is gebreek, moontlik weens ‘n geveg voorheen en die “s” se uitspraak klink eerder soos sjewe sjakke sjout want die glimlag op sy gesig laat nie toe dat sy onder en bo-lip lank genoeg sluit om woorde reg uit te spreek nie.

“Hand me down that wottel of sequila “ sing hy vir die meisie agter die toonbank en trap twee tree vorentoe, een sywaarts en twee terug en beland met ‘n sug op die sofa wat neffens die klavier staan en daar sit hy.  Sy arms wil hom nie genoeg stut om op te staan nie en sy bene vou soos swembad noodles onder sy gewig wat dreig om hulle te gebruik. Die spore aan sy stewels klingel moedig om hom te laat weet hulle is nie weg nie.

Links van die swaai deure sit ‘n paar manne en kaart speel.  Gesigte uitdrukkingloos.  Oë nou getrek dat niemand tog enige emosie moet lees nie.  Elke paar lippe klou verbete vas aan ‘n rokende sigaar in die een mondhoek wat nou en dan soos ‘n klein stoom treintjie ‘n wolkie uitstoot om te wys daar is nog lewe.  Kaarte wissel hande en  geld word met minagting neergegooi om die beeld van selfversekerdheid verder uit te dra.  “Don’t count your money when the dealen’s done” klink op van die klavier se kant af en die spanning onder die spelers is duidelik sigbaar hoewel hulle voorgee om rustig en berekenend te wees.  Poef, poef stoom die sigare een na die ander en die deler werk versigtig om die spelers betrokke te hou.

Die meubels in die kroeg is modern vir die tyd en duidelik sorgsaam met die hand gemaak.  Teen die mure hang ou gewere en pistole wat uit die oorlog kom wat die westerlinge teen plaaslike volke van die tyd geveg het. En ‘n ou wawiel en “wanted” plakkate  vir skelms wat gesoek word.  Een geweer se loop het oopgebars  en ‘n swaard wat iemand iets mee gekap het en vol happe is, hang verder weg.  Die spieels teen die mure lyk of hulle al te veel gesigte en gebeure gesien het want daar is ‘n dofheid wat geen prentjie meer baie duidelik teruggee nie.

By die toonbank sit ‘n paar manne en drink. Elkeen het ‘n bottel  met ‘n klein glasie wat gereeld volgemaak en agter in die keel gegooi word.  Gesigte trek ‘n gril vir die smaak wat die tong tref want die goed smaak nie lekker nie, dit maak net lekker.  Hulle is almal duidelik op hulle hoede want vir elke kraak van die swaai deure kyk almal versigtig en nuuskierig om om die nuwe aankomeling te takseer en te weet wie hy is.

Die kaggel vuur brand gesellig in die een hoek en ‘n paar dames met wye rokke en lae halse waarvan die prentjie soos ‘n nuwerwetse kitskos restaurant advertensie lyk ,kyk ook belangstellend na elke nuweling.  Lippies en wangetjies is baie baie rooi en die oë geplak met genoeg blousel om ‘n hele hotel se lakens spierwit skoon te was.  Wimpertjies wat met inlegsels verleng is knip stadig en versluier die blink oë wat dit laat lyk soos ‘n neon advertensie wat van boodskap verander en ‘n elektriese impuls by tye verloor om langer te neem om te ruil as wat nodig is.

Die ou op die sofa is baie ongelukkig met die sheriff wat op sy hand getrap het toe hy by die kroeg wou uitkruip.  Hy dreig om die gereg van die dorp hof toe te vat oor die disrespek wat die sheriff hom betoon het.  Hy is baie haastig om buite te kom want die eentand kelnerin wat hy nounet ontmoet het en nie eers haar naam ken nie, het gesê sy sal met hom trou en hierdie kans kan hy nie laat verbygaan nie.   Die pianis kap nou die klavier met mening om sy klanke bo die geruis van die kroeg te laat geld terwyl ‘n country orkes gereed maak om te speel.  Daar is kitare en viole en die onmisbare steel guitar wat in elke lied die geloei van die wind laat hoor om die ervaring van elke lied met passie tuis te bring.  En ‘n banjo speler wat tussenin sy stem met mening uitbring om ook sy bydrae te beklemtoon.  Die voorsanger nooi iemand om saam met hom te kom, skoene uit te skop, die ligte af te sit en ‘n aand van passie mee te maak.  Elkeen van die orkes lede het cowboy hoede op wat laag oor die oë hang sodat die meisies daar nie kan sien wanneer hulle onderlangs beloer word nie.  Net so swaai die hoek se dames die groot “M” advertensies met swier rond vir voornemende gebruikers om te waardeer.

Die drank vloei en die mense lag en gesels oor wie weet wat alles en die hotelier glimlag breed want die wolle rol en die sakke word vol.  Die trappe wat na die bo-vertekke toe loop dra swaar verkeer weens die verdowing van sinne wat manne kry as die wingerdstok se wortels te diep in sy hart kom nesskop en die stof  en sweet van die lang rit te perd sy klere soos gestyselde lappe om sy lyf laat sit. Stoppelbaarde kort net ‘n cut throat skeermes, ‘n skeer kwassie en warm water om verdere groei in te perk en die draer weer soos iets te laat lyk wat in die samelewing opgeneem kan word.  Slierterige hare wat dae laas bietjie water gesien het moet gewas word en sokkies wat vanself regop staan en die vorm van die stewel waarin dit diens doen aangeneem het.  

‘n Paar casa novas wat onder die bedekking van sweet, stof en nog sweet en nog stof soos uitgediende slang vangers gelyk het, kom die trappe af  na die bad en skeer sessie,  en laat die “M”  advertensie draers weer met hoop vir die mensdom na nuwe besigheid uitreik.  Tande wys en wimpers flikker opnuut om die nuwelinge te verwelkom want netnou praat die tequila weer ons taal.

Die perde staan buite sopnat gereën en wag geduldig vir hulle ruiters om strompelend uit ‘n plek te kom waar daar net geraas word en soms ‘n skoot of twee van ‘n six shooter gehoor kan word as iemand en iemand anders daar binne oor ‘n saak verskil. ‘n Geluid wat perde van die tyd goed ken.  Hulle weet ook om versigtig te trap as ruiter in die saal is want uit die saal val gebeur maklik as die greep op die lewe effens verloor is.  Maar hulle gaan nog lank wag want Goodnight Irene word dalk eers heelwat later gespeel.  Hier maak die kroeg toe wanneer daar nie meer gelag word nie en elke stoel in die vertek beset word met ‘n zombie-agtige figuur wat voor hom uit staar soos iemand wat hout soek en die koppie wikkel onvas op die nek rond wat hom nie meer kan regop hou nie en die oë net so dof soos die spieëls teen die mure lyk. Elke oog kyk waar hy wil en om op iets te focus vat baie konsentrasie want die kop, nek en oë volg mekaar teësinnig in dieselfde rigting.

Hier stap ‘n groot man nou in.  Die geluide in die kroeg versag merkbaar want by die toonbank sit ‘n aantreklike vrou .  Het haar in ‘n spieel gesien en besluit om kennis te maak.  Die groot man in die spieël  stap reguit na haar toe.  Hy het groot vereelte hande wat duidelik harde werk gewoond is en ek verbeel my vir ‘n oomblik dat ek oorlede is.  Hy kom staan by haar en hy bewe soos ‘n riet.  Ignoreer almal om hom  en sê dat sy nou ‘n goeie tyd gekies het om hom te verlaat terwyl die oes op die veld ryp is en daar vier honger kindertjies in die huis is.  Ek weet nie wat om te doen nie. Sit net versteend in my stoel en verloor die mistigheid wat ook my oë verdof het en sien die tragedie wat voor my afspeel.  Ek het die wil om te sluk verloor en sien net die vlamme van die vuur in die kaggel teen my glas weerkaats.  Die lewe staan stil en soos baie ander staar ek ook net voor my in ‘n tydgleuf waar die verlede soos ‘n rolprent ook in my gedagtes afspeel. Die stof op die toonbank praat ook met my.

Ek dink aan dae wat nutteloos verbygegaan het en iewers in die asdrom van die lewe lê en verrot.  En ek wonder wat die nut van Sheila en haar tequila is en die ligte afsit met iemand wat  skaars bekend, en die uittand kelnerin wat sommer met die top heavy kruiper wil trou op wie se hand die sheriff getrap het.

En toe word ek wakker en sien die grys mure om my en weet dat dit net ‘n droom was soos in die bekende liedjie beskryf is wat praat oor die sad old padre en die groen gras waarop Mary en ek so gereeld gespeel het.  Hier gaan die lekkerte van die lewe by ‘n mens verby en voeg geen waarde toe nie. Nutteloos en tyd verkwistend.   Soos die Prediker skryf; Dis net’n gejaag na wind.

Ek hou van Country musiek.  Elke liedjie vertel ‘n storie. Soms tragies en soms plesierig en die instrumente wat dit vergesel onderskryf die gevoel van wat gebeur.  As die viool en die steel guitar kerm om klem te lê op die gebeure, roer dit my hart se snare en stem ek saam met die sangeres wat gevra het om die lewe een dag op ‘n slag te kry en te doen wat gedoen moet word.

Nie baie lang jare terug nie, in Windhoek se Ausspannplatz was daar ‘n hotel genaamd Wesfälisher Hoff waar dit amper gegaan het soos hierbo.  Kyk, as jy lus was vir een sluk bier en ses fights voor die tweede, moes jy daarheen gaan.  Groot manne met groot hande en vroue met kekkel laggies was volop en polisie karre het soms vanself van die stasie af vertrek om hulle bestuurders hotel toe te vat om ‘n nuwe fight te gaan aanskou. Bloed, spoeg en………….

Maar net hier was daar nie reëlings vir perde nie maar parkeerplek vir Datsun SSS’e, en Capri Peranas en  Shev SS’e wat nie sonder tollende wiele kon wegtrek en mekaar “dice” nie.  Six shooters was nie gedra nie maar kort broeke met lang sokkies met ‘n staal kam en manne met lang kuiwe wat gereeld met ‘n swaai van die kop in plek geskud is.  En Gunsten en Texan plain.

Good Night Irene good night Irene, I’ll see you in my dream!!!  En selfs die perde weet dis huistoegaan tyd.  Waar’s my kar?????

Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

Ek Onthou


Om te onthou is om dinge wat vergeet geraak het weer te laat lewe- is dit van enige nut?

Die onthou wat uit die dieptes van die emosionele wegbêre plekke kom het gewoonlik ‘n stimulus nodig om wakker te word uit die slaap- die drome word weer werklikheid voor die geestes oog en oortref gou die werklikheid want dis omhul deur ‘n waas van heerlikheid.

Die waas verdof dit in die verlede tot ‘n vaagheid wat selfs met ietwat van ‘n goue raam ook deelmaak van die onthou. Wat sal die onthou wees as jy nog steeds in die werklikheid sit?- daarom is die onthou veral lekker vir diegene wat nie meer daar is nie: jy sit weg van dit wat jy wil onthou -veral as dit met konkrete werklike aardse goed te doen het: onthou van ‘n afstand maak die beeld tog mooier. 

Jy voel die warmte dorheid van die Oostewind teen die Weskus met minder felheid- die Suidewind stof raak jou nie, en net die sleepmis van die Weskus sit op jou vel, tong en in jou oë. Dis dan wat die gevoel van emosionele onthou inskiet en als mooi maak, selfs die dorheid en stof begin deel raak van die emosionele wentelbaan.

En jy onthou als-ook die pyn en goedheid en hartseer en blydskap en ..pik ‘n traan weg. 

En jy dink en wil terug na was, maar wil ook nie.  

(uittreksel uit die inleiding tot my boeke -Ek Onthou, boeke 1 tot 3- wat tans by Malherbe-Uitgewers beskikbaar is: dis die volg van my voetspore vanuit die stofstrate van Alexanderbaai tot in die operasiekamers van Rusland, Ukraine, Verenigde Koninkryk, Nederland, België en Turkye. Die onthou van jou komvandaan is egter die grootste onthou, want dis waar jou wortels is)

Ek’s so moeg

0 $

Vroeg oggend staan hy op
Sy treë weer swaar en stadig
Skiffel, skiffel skuif sy voete vorentoe
langsaam, tree vir tree

Sy kop hang, asof dit te swaar is vir sy nek.
Die selfde nek wat eens op ‘n tyd net spiere was.
Nou, sag en vol lewenslyne. 
Lewenslyne van lief, leed, swaar kry en gelukkig wees.

Sy gesig is somber, sonder enige emosie.
Hy lyk ver weg. Sy eens glinsterende oe, 
nou sag; maar dof, amper leweloos

Sjhloep sjhloep beur hy vorentoe.
“Ek kan nie meer nie”, fluister hy
“Ek wil nie meer nie”, met ‘n amper nie hoorbare stem.

Stadig vorentoe. Tot by sy stoel. 
‘n Stoel wat al jare lank op die selfde plek staan.
Met ‘n sug sak hy op sy stoel neer.
“Hoe lank nog”, fluister hy

Dan kyk hy stadig op. 
Hy kry so ‘skelm glimlag’ op sy gesig terwyl hy vir my kyk.
Ëk lief jou ou dier” sê hy met ‘n sagte stem.
Vir ‘n oomblik is daar ‘n vonkel in sy oë,
maar dan’s dit weg. Die smile, die vonkel, die opkyk.

Hy haal swaar en stadig asem.
“Ïs jy ok?”vra ek
Met moeite lig hy weer sy kop. 
Hy kyk na my met swaar dowwe oë….
Eens op ‘n tyd die mooiste blou vonkelinde oe vol ondeundheid en liefde.

Om die oë, nou net sagte lag plooitjies vir onthou.
Sy gesig, vol sterk lewens lyne deur ons Vader gevorm en geplaas vir elke tree gestap.

Dan praat hy saggies dog ernstig
“Ëk kan nie meer nie” sê hy sê hy sag.
“Ek is moeg”. Hy haal diep asem:
“Ek is so moeg. Ek wil huis toe gaan”
Fluister hy. Sy kop sak weer stadig.

Ek vat sy hande styf tussen myne waar ek langs hom sit. Ek skyf nog nader en sit my arm om sy eens gespierde lyf en lê met my kop op sy skouer.
Ek haal stadig diep asem, en sê in ‘n sagte, rustige stem:-
“Hy sal kom, ou man. Hy sal kom. Op Sy tyd, sal hy jou kom haal”. 
Ek sluit my oë en dank my Vader vir nog ‘n dag.

Die likeur-sjokolade en die boerpampoen

0 $

Nou sal jy my vra, wat op aarde het die twee dinge in gemeen. Oor die algemeen niks, maar dit is wat die lewe en mense so interessant maak.

Net soos likeur-sjokolade en boerpampoen hemelsbreed van mekaar verskil, so verskil mense van mekaar, en is dit nie wat die lewe so oneindig interessant maak nie? Ek weet daar is diegene wat nie met my sal saam stem nie, wat graag sou wou hê almal moet tog net ‘soos hulle wees’. Maar o! wee, wat ‘n oneindige, eentonige, verwarrende gemors sou dit tog nie afgegee het nie.

Dink nou maar net – as jy twee vriende gehad het wat dieselfde was, sou dit jou sekerlik nie vreeslik gepla het nie, maar berge val op my en heuwels bedek my as jy 30 vriende het en nog dalk ‘n stuk of 20 kennisse en almal van hulle het dieselfde gepraat, die selfde besluitnemingspatroon gehad, dieselfde gelag, dieselfde belangstellings gehad, dieselfde voertuie gery, in dieselfde huise gebly en dan seker heel moontlik, as hul dan almal so dieselfde is, nog in dieselfde dorp of stad ook gebly!

Ek dink nie ek is ver verkeer as my menig is dat jy voor die einde van die eerste dag wat jy in al hierdie mense se teenwoordigheid moes deurbring tot rasserny gedryf sou wees en sterk selfmoord gedagtes sou koester om net van die onuithoudbare verveling af weg te kom nie.

Nou dit is hoekom ek van mening is dat dit is baie baie meer pret is om vriende te hê wat so anders van mekaar is soos likeur-sjokolade en boerpampoen.

Interessant op hul eiesoortige maniere. Want wees verseker dat daar geen ooreenstemming is nie.

Likeur-sjokolade, bruin van kleur, met daardie sagte, romerige, aromatiese room likeur binnekante. Jy kan nie anders as om jou oë te sluit as jy een in jou mond sit nie, weg gevoer in ekstase deur die sjokolade wat sag en warm op jou tong smelt, en dan die geur ontploffing as die likeur jou hele mond vul. Dit is ‘n onwillekeurige reaksie, soos wanneer daardie man, met die dimpels, blouste blou oë, atletiese liggaam en vol sensuele lippe, wat nou al vir jare in dieselfde gebou werk, jou een dag tromp-op loop en vurig soen. Jou brein skree, ‘klap hom, wie dink hy is hy’ maar genadetjie toggie, jou hart skree ‘mag dit nooit ophou nie’.

Boerpampoen daarinteen, ‘n harde wit, ronde ding. Niks vreeslik interessant daaraan so op sy eie nie. Dit raak al meer interessanter as jy dit begin oopsny, die sagte geel vleis laat jou dink aan die son. Maar eers as jy geleer het hoe om pampoen te bewerk, en te berei, kom pampoen sy ware geure navore. Dan eers kom die watertand soetpampoen met kaneel, die pampoenkoekies met karamelsous, die pampoensop wat ‘n warm wintersaand omtower na knus vergenoeglikheid, daardie pampoenbredie soos ouma dit gemaak het, met ‘n Namakwalandse vet skaapvleisie. Soos Oom Jan Spies gesê ‘ryk en lekker man, ryk en lekker’.

En ek sien jy frons nog steeds, hoe kom die sjokolade-likeur en boerpampoen nou by mense en hul individualiteit uit. Pak weg jou frons, en gee die hond wind.

Daar is ook likeur-sjokolade-mense en boerpampoen-mense. En erg ammusant het ek dit gevind om toeskouer te wees van ‘n kuier waar twee sulke interessante mense mekaar vir die eerste maal ontmoet het.

Met die eerste oogopslag kan jy jou maklik misgis deur te dink dat die likeur-sjokolade mense nou eintlik jou soort mens is, maar dit is net omdat jy nog nie die boerpampoen-mens leer ken en beleef het nie of die tyd geneem het om dit te doen nie.

Die likeur-sjokolade-mens, ooglopend sag en volrond. Fyn uitgevat, besorg oor die siening van diegene wat haar nog nie ken en weet van haar soet, aromatiese binnekant nie. Half broos soos die sjokolade, geliefd deur mense wat haar ken, en word gereeld misken as hoogmoedig of onbereikbaar.

Die boerpampoen-mens, hard en ongenaakbaar sou jy dink. Maar inteendeel, sonder fitterjasies, plat op die aarde, half ‘plain’ soos die engelse sou sê. Maar dit is nou net daar waar jy die pot geheel en al mis sit, en met jou sitvlak op die vloer beland. Sy is ‘n totalle verrassing vir die wat die moeite en tyd wil spandeer om haar te leer ken, om haar te beleef en in haar brein en hart in te kyk, haar sagte geel-oranje binnekant te vind. Haar kennis is soos die disse van die boerpamoen, veelsydig, smaaklik en aanloklik. Haar passies vir kuns en kultuur is soos die rypgeel binnekant van die boerpampoen – warm en behaaglik. 

Wat ‘n besonderse ontmoeting was dit nie – die dame kom optyd met haar geskenk van likeur-sjokolade by die ander dame aan. Sy was maar redelik snenuagtig, want hierdie vrou weet sy het aansien en is bekend. Maar wanneer sy deur die hek ry en die glimlaggende vrou sien staan, weet sy sommer net, hierdie is ‘n ander vrou as so vele wat sy al in haar lewe leer ken het.

Haar verwagting word nie teleurgestel nie, haar tuiste is interessant, kleurvol en kunssinnig net soos sy, maar daar is geen aansit of aanstel of gedoentes nie, net plat op die aarde met haar voete in stewels. 

Gou gou is daar gesels soos voëljies in ‘n versamelnes, oor kultuur, liefdes – oud en jonk, lewens verhale gedeel, musiek geluister, glasies geklink en die kersie op die koek – vleisgebraai.

Tyd om huis toe te gaan – en dit is waar die likeur-sjokolade vrou toe beloon word met ‘n boerpampoen, vasgepluk van die rank deur haar nuutgevonde vriendin.

Of jy nou ‘n likeur-sjokolade-mens of boerpampoen mens is – sorg net dat jy met een van die twee vriende is, dit is ‘n helse aanwins vir jou siel, dit kan ek jou verseker.

©Marsofine Krynauw
8 Januarie 2019

Die Berghaan Bid

0 $

Ek onthou so goed toe ek die berghaan afgeneem het en gedink het, die voël bid dan! Dit was half vier die middag, skroeiend warm. Die sweet het sulke straaltjies teen my rug afgeloop, maar ek wou nie die kamera neersit nie. Die kar se ruite was almal oop, en nie ‘n luggie het getrek nie. En al wat jy hoor, is die stilte, jy kon tot die versengende hitte se hortende asemhaling hoor.

Soos die berghaan, het ek die een oog in die lens gehou en met die ander ene na bo gekyk. Op soek na ‘n wolkie. ‘n Wolkie wat belofte kan bring…of hoop…

Maar daar was niks. Net die blou blou uitspansel, met ‘n groot geel kol agter my, wat alles verskroei het. Daar is geen genade nie. Jy moet dit uitsweet, jou versugtinge, jou hoop, jou onuitgesproke gebede, jou verlange na wie weet wat.

Die berghaan het sy kop laat sak, en begin bid. Ek het saam met hom gebid. Vir uitkoms, vir lafenis, vir vergifnis.

©Rae de Lange 5/01/2019
foto’s geneem deur myself

adiós y aureola

OUJAARSDAG 2018 …

Soos die uurglas se sand uitloop, loop die minute van 2018 uit … Met ‘n mengelmoes van gevoelens kyk ek terug op hierdie jaar. Die jaar het verbygesnel waar dit tog soms gevoel het of die dag nooit einde wil kry.

By tye ‘n “klipperige grondpad”-jaar en by tye “sweef op die wolke”-jaar. As mens gespaar word om aan die einde van nog ‘n jaar stil te word en terug te kyk op die jaar wat was, slaag jou binneste ‘n sug van verlugting …

Soveel om voor dankbaar te wees – soveel om oor opgewonde te wees, ja – met tye het dit gelyk of die donker wolke op jou lewenshorison geen silwer randjie het nie – maar as ek vandag terugkyk, besef ek: ek is deur die minder aangename tye.

Wanneer ek stil word en asem skep – besef ek weereens: God is en bly in beheer … niks gebeur sonder ‘n rede of sonder Sy wil, al lyk dit dikwels vir ons nie so nie.

As ek dan terugkyk en ek beskou my voetspore in die sand is dit met groot dankbaarheid dat ek vol verwagting vorentoe kyk en opgewonde die nuwe roete in jou geestesoog sien …

Nuwe jaar …

Nuwe begin …

Nuwe kanse …

Hiermee vaarwel aan 2018 en hallo aan 2019 …

Marlene Erasmus

31/12/2018

2018 – Dankie

Hello DNS’ers

Vanmore wil ek sommer so losweg met julle gesels oor ‘n paar dingetjies:

Eerstens wil ek vir elkeen op hierdie blad dankie sê vir hul deelname hier. As skrywers, as lesers en as saamgeselsers.

Ek dink nie julle ouens besef hoeveel julle vir jul lesers / volgelinge en medeskrywers beteken nie. In die laaste paar weke het ek baie terugvoer gekry in vonkpos, whatsapp, messenger, telefoon oproepe en sommer mense wat my op straat en in die winkels voorgekeer het – Wat dankie en voorspoed sê vir die groep, die Skryf Blaaie (selfs daar sien ek gedurig nuwe boodskappe aan die skrywer bedoel van dankie en mooi wense) en die Blog. Daardie dankie en wense behoort aan julle.

Tweedens wil ek net weer die doel van DNS noem.

Hierdie is ‘n platform vir jou as skrywer. ‘n Wegspring en ondersteuning. ‘n Plekkie om jou vlerke te oefen en te sprei. Om jou voete en selfvertroue te vind.

Gaan uit daar buite en toets die water en jouself. Daar is baie nuwe en ou groepe wat dalk vir jou nuwe deure kan oopmaak. Toets elkeen. Kuier ‘n rukkie daar. Neem wat jy kan om jou te help groei. Wen nuwe ondersteuners en ondersteuning.

Neem deel aan kompetisies. Doen ‘n slypskool of twee. Gaan kyk na groepe en plekke soos:

Potpourri https://www.facebook.com/groups/malherbepotpourri/

PADLANGS
https://www.facebook.com/groups/815895471945763/

PENdit.za
https://www.facebook.com/groups/1916633848454903/

en daar is vele meer.

DNS bly steeds jou Moederhuis waar jy altyd welkom sal wees en met ope arms ontvang word. Hier sal ons jou troos as jy ‘n nare ondervinding daar buite opgedoen het. Of saam met jou juig as jy êrens sukses behaal.

Laat jou woorde wyd en vêr vlieg! Dis my wens vir jou.

‘n Pandora boks vol terug blik

‘n Pandora boks vol terug blik

Aan al my gewaardeerde DNS vriende : Die afgelope paar maande was behoorlik ‘n skoppelmaai pret-rit….alles te danke aan daai “poesje” meisie wat, ons as wilde pampoen ranke – sommige al heup-hoogte gegroei, boerpampoene laat kweek het…!

Veeltal bydraes het soms ‘n traan laat biggel, baie keer weer ‘n komiese lekker-kry lag laat opklink. Sommige skrywes weer, het ‘n mens nederig en klein laat voel met die “grootsheid” daarvan.

Die luukse om deel te wees van ‘n uitgelese en veel berese platform…….waar veeltal woord-geeste jou werklikwaar gewys het hoe om nou eintlik op die Namib-woestyn se wye vlaktes…….kaalvoet en aards…… in die stof te wals…….op die maat van “Johan Strauss” se “Blue Danube”, was absoluut hemels en ‘n voorreg min beskore.

Aan diegene wat nie weet hoe om ‘n bokdrolletjie te blaas nie……vir jou los ek spesiaal ‘n ‘Kudu-drupsel” of beskuitjie vir daai voordag-koffie’tjie…..as jy dit met opregte boere-troos deurweek sal die Liewe Heer hopenlik ‘n Kalahari-roomlaag oor al jou bekommernisse trek……nes daai kaalklos woerlap klong, van Kathu se Kameelboom woud, dit so gereeld met reelmaat doen.

Hoe geseend kan ‘n mens wees om jou “Tas vol Namib” te pak en by die “Gwarri-gat se Queen te gaan kuier.? Daar waar jy ‘n sakkie pekanneute as verwelkomings geskenkie, by ‘n Groot-gees gasheer met ‘n grys stoppelbaard, sal kry. As jy mooi vra….sal hy na sy getroue groen motor stap en ‘n 2l bottel water uit sy “cooler boks” opdiep om jou dors te les…..solank jy net beleefd, met ‘n hoed-lug, daarvoor vra.!!

Dit alles terwyl iemand uit George/Knysna se omgewing bereid is om die “weg-gooi-hasie” in jou te pamperlang met ‘n pedi-en-manikuur. As jy dalk kaalvoet deur die lewe gaan …..wees verseker….by haar “haven” sal jou voetmassering altyd gratis en verniet wees.

Wie sal vir jou, soos klokslag elke keer…. vroeg oggend en soms ook laat aand ……groet met ‘n minne-brief…?

Voel jy ook, soos ek, spesiaal omdat ‘n aweregse ou-gees jou genooi het na sy kombuistafel vol geel sonneblomme bestrooi….waar julle twee dan behaaglik gaan aansit vir ‘n kaas-maal..?

Het Glen McGrath se mooi niggie jou ook menigmaal skoon geboul met ‘n wip-bal uit haar doktors pen…?

Hoop jy ook, soos ek, om eendag ongevraagd by ‘n “Anze- padstal” stil te hou en “siel-klontjies” …..in ‘n vaal kardoes toegedraai…..vir jou reis te koop.?

Sien jy ook uit na wanneer die Koster weer die kerk-klok gaan lui met ‘n diep-dink vraag..?

Verlang jy ook, nes ek, na die vlinder-besoekies van ‘n vuurvliegie-Mallet wat met haar voetspoortjies op jou DNS palet haar soet boodskappies flankeer?

Sal jy saam met my…..in ‘n ver af roostuin, ‘n sout-van-die- Okavango Grootgees se houtbeen siel met druppeltjies van jou mens-wees olie blink wil vryf….? Net vir die lekker van sommer-maar-omdat-jy-so-voel….want jy het besef hy is uniek en spesiaal??

As jy dalk nog nie jou komplimentere kaartjie raakgelees het nie…..moenie bekommerd wees nie….. ‘n Heili en Henriette juffrou, onder toesig van Trixie, is miskien dalk nog besig om op ‘n spesiale Grammy-toekenning……geduldig met woestyn-sand….korrel-vir-korrel…jou naam te graveer..!!

Wees asseblief saam met my vol afwagting….want iewers smelt ‘n inkennige virtioos vir ons ‘n skeppie nikkel van die Namib se sekelmaan…….en maak vir jou en my ‘n unieke DNS hangertjie om met trots aan die bors te dra.

Waardeer intussen solank jy wag, al die klein dingetjies in jou lewe….soms, sonder dat jy en ek dit besef, is dit juis hierdie soet oomblikke wat pryslose plesier en herinneringe vir ons oudag se herkou verskaf…. Soos wanneer skatlike engel-kindertjies hul slap armpies om jou nek slaan en jou met ‘n tuitbekkie en ‘n nat soen op jou wang verras ……

Ek hoop van harte jy leef sodanig dat, as jy eendag by die poorte aankom….. die Groot meester trots na jou aardse rapport sal kyk en se : “Welkom my kind….ek sien jy het jou klerkskap as leer meester in my Namib se DNS kollege gedoen….. Daar is ‘n hemelse klas vol ” haas-bekkies wat al lank op jou koms wag….!”

Geseende onderwyser groetnis….en maak ‘n mooi verskil……..

(Hoop bygaande foto [geleen op FB] laat ontwaak weer die kind in jou ?

Met die aanskoue daarvan, het my ou hart se “plaashek” sommer vanself wyd oop geswaai….!! Kalahari seenwense vir die kersdag…)

Leopoldt van Wyk 
25/12/2018 …02h00-05h20

Vir Pa’s en Seuns

0 $

Deur: Jan N. Alleman

Hierdie werk is opgedra aan my pa; vir hom wat vir my kosbaar is – waar ek ook eers pa moes word om werklik kind te kon wees


My trane lê hoogwater vanaand. My gedagtes woel soos springgety branders. Beelde van vervloë jeugdigheid spoel teen die strande van my herinneringe aan. Dit kasty my strande. Tog, soos net ’n springgety kan, breek dit ook die kosbaarhede oop. Skatte wat lank vergete onder die sand van tyd verberg was word opnuut ontbloot.

Die 380 kilometer van die kus terug na wat ons tans huis noem, lê uitgerek deur die woestyn en doring bome. Twee ure later word ek bewus dat ek die skoonheid van my hartland heel gemis het. Die klip-vlaktes van die Namib het geluidloos by my verby geswiep, so diep was ek in my gedagtes versonke. Ons draai die bosveld in. Die sonsondergang kom lê gehoorsaam hier aan ons linkerkant, byna gereed om die laaste wolkies met goud te verf voordat die koel grys die nag aankondig. 

Vir oulaas, net buite Omaruru, kyk ek uit oor die son-bestreelde Kameeldoring land kort voordat die son sy skemer werk begin. Die woorde wat hier, aand die einde van Sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en moeisaam spoor ek agterna…

Baie ken die eens sterk profiel wat nou uitgeteer die kanker veg. Van trots en waagmoed is daar geen sprake meer nie, maar nederig vra hy vir Ma om die kombersie oor sy bene te kom gooi. Sy moeder maar. Ek laat toe dat my gemoed gordyne voor die vensters van my siel kom span, terwyl sý weerloosheid mý meer weerloos laat. 

Die aand snel traag verby. Die muur-horlosie beduie dat die nag wag en dat ons totsiens moet sê. Die kinders groet en my seun soen Oupa op sy voorkop soos hy altyd doen. Soos hy altyd ook met my doen en in ’n onbewaakte oomblik gee ek my pa ’n druk… Pa… ek en Pa was nooit kontak mense nie. ’n Handdruk is korrek, mans soen net vrouens, mans wat mans druk is besig met verbondenhede: So het die reëls vas gestaan. 

Ek stap regop by die deur uit en kyk vol in die tere oë van my vrou, ’n traan strompel oor haar wang. “Hy’t jou nodig Johan,”fluister sy en toe ek om kyk toor Pa sy sakdoek weg. Sy oë is rooi en sy skouers ruk. Rebellie maak my hart sy huis en reëls, wat geen reëls moes wees, verdamp soos mis voor die son. Ek draai nogmaals om en gee hom weer ’n druk en vir ’n wyle hou ek hom vas. My hart hervorm onder die voorbeeld van my seun.

Die woorde wat hier, aand die einde van sy dag, in my hart kom lê, speel nog skugter koedoe kalf met my: Dit dartel, staan, koggel en glip in die skemer weg. Dit wek die jagter in my en vasberade spoor ek agterna. Ek keer dit teen die grensdraad van my gedagtes vas. 

Ek moes ook eers vader word voordat ek waarlik kind kon wees…

Ek en Krismis

Deur: Jan N. Alleman

Op mooi Engels sê ons baie gemaklik, na ’n besonderse indringende verskil van opinies: “to each his own.” Ek struikel nog so effens met ’n mooi, suiwer Afrikaansevertaling. Nogal soos ek worstel met “rollercoaster” en “gut feeling.” Wipkarretjies en kropgevoel doen dit nie vir my nie.

Iets soos ek en krismis! Ons loop jare al saam. Ons het mekaar doer iewers in die sestigs leer ken, maar ek het hom later jare “ontvriend.” En elke jaar, soos klokslag dan loop klop hy hier aan my deur. En elke jaar, soos soveel jare in die verlede, dan staan en stry ek en krismis dat die spoeg spat.     

Maar hierdie jaar is anders. Hierdie jaar het ek die deurklokkie se batterye uitgehaal en om alles te kroon, ek ry weg! Weg na ’n ander oord toe. Daar waar daar nie ‘lektrisiteit is nie, of selfoon ontvangs, of enige draadlose internet, of enige iets in dier voege nie. ik heb een broertje doodaan alle krakelingen.

Verstaan tog, asseblief: Ek glo aan ’n skeppende Vader wat Sy Seun gestuur het vir die deurmekaar gedolwe, die Nederlanders sê dit tog so raak, rommelig gedolwe mensdom. Rommelig klink vir my besonders raak…

Daar is legio wat nie met my saam gesels nie, maar, dan is daar legio wat glad nie eers met my WIL gesels nie. Dit is ook goed, ek verstaan. Julle het, soos ek, ook binnegoedjies. Verstaan tog asseblief, ek dink ek het dit al gevra, ek hou nie van die ou met die rooi jas wat die kinders so belieg nie. Soos ’n vrind van ouds sou gesê het: “Ek laaik hom niks!”

Dis nou hier waar ons by daai vertaling kom en ek dink dis nogal gepas om te sê: “elkeen maak soos hy smaak.” Vir die wat verkies om Afrikaans uit ’n porseleinkoppie, pinkie in die lug, teugie vir teugie te proe: Elkeen na sy eie smaak …

Droom Jy Nog Alleman

0 $

Deur: Jan N. Alleman

 

Walt Disney het gesê dat as jy dit kan droom, kan jy dit doen.

Die warm windjie woel tussen die blare van die palmbome. Goue strande lok mense uit hulle huisies na waar vonkelende waters rond baljaar. Naby die pragtige wit sand, droom houthuisies met glas vloere, hulle voete ‘n meter diep in die vlak water. Net ‘n gedagtesprong verder, langs die rotse, steek ‘n klein hout kaaitjie sy vinger die see in. ‘n Soel somersaand op ‘n paradys eiland. … Ek staar, ek dink, en ek dink en ek staar. PARADYS EILAND.

Later die oggend wys ek, bedeesd opgewonde, steeds dromend en heel onnadenkend, die kleur brosjure aan my Vlam. Vroulief kyk, en kyk, en kyk, vlug met my Suid-Pool toe en druk my kop die ys water in: “Jan, kom terug aarde toe…,”

En Jan kom terug aarde toe.

Geveg gereed kom Jan terug aarde toe. “Ek droom. Dit kos mý niks en dit kos jou nog minder.” Vies dat mý droom op mý paradys eiland so wrede aborsie moes ondergaan, tog kalm en bedaard, ten volle in beheer, giet my Vlammetjie olietjies op die troebel stormwaters: “Ek weet, ou Strooi, en ek is vreeslik jammer om jou droom so te verpletter, maar…” Lees meer Droom Jy Nog Alleman

Kunstenaars Palet!

Kyk op ons Spyskaart / Menu het ‘n nuwe item bygekom:

Palet – Kunstenaarsblog   –  https://palet.namibskryf.com

Op aanvraag van ons lede het ons besluit om ook vir die kunstenaars en fotograwe in Namibië en Suid-Afrika (Ook die in diaspora) hul eie blog te skep.

Sluit gerus aan en deel jou fotos en kunswerke op die blad. Laat weet ons wat jy dink.

Namib Groete

Die hart van ‘n vreemdeling

Soms, veral tydens ’n reis, sien jy iemand deur ’n motorruit, by die ingang van ’n supermark of op die roltrap en jy vergeet die gesig nooit weer nie. Iemand kyk skielik op net wanneer jy ’n boek terugsit op die rak in ’n biblioteek of boekwinkel en glimlag vir jou. Iewers in jou binneste herken jy iets van jouself in daardie persoon en jy glimlag terug. 

So is ons eendag by Fransmanshoek naby Mosselbaai. Dit is ’n beskermde gebied, rotsagtig en die branders slaan woes teen die rotse. Bolle skuim ry op die wind bokant die rotse uit. Die dag is stormagtig met wolke en son. En wind. Ons skuil teen die oerrug van ’n rots en kyk uit oor die skuimende see, die geweld van die branders en die tierende wind.

’n Vrou staan op een van die hoogste rotse en die wind pluk haar hare in blonde slierte uit die swart doekwat sy om haar kop het. Sy strooi iets in die wind. Die wind gryp dit gretig en dra dit ’n ent weg.  Dit verdwyn buite sig.

               “Voer sy die meeue?” vra my man.

               “Dan moet sy simpel wees, want die wind maak dat hier nie eens ’n gulsige meeu isnie,” weerlê ek sy stelling. “Kyk, sy is heel in swart. Sien jy die kissie. Ek sweer sy kom strooi ’n geliefde se as oor die see. Dalk was hulle lief om hierna toe te kom toe hy nog gelewe het,” borduur ek, ewig die skrywer, voort.

               Man lag. “Jy kan nogal reg wees!”

               Die vrou kom stap by ons verby. Haar gesig het swaarkrylyne, maar sy is aantreklik op ’n verweerde manier. Haar mond is baie rooi Sy huil nie. Sy stap net. Haar gang is soepel en haar treë het die beslistheid van iemand wat ’n onaangename taak afgehandel het.

               Dalk, dink ek toe sy in die luuksemotor  klim, begin haar lewe nou eers.

               Die volgende dag ry ons terug. Ons laat die see en sy slegte weer agter en my hart loop al digby die huis toe ons in Meiringspoort stop vir koffie en dies meer. ’n Vrou en haar vriendin is entjie van ons af ook besig met koffie en ’n padkosbroodjie. Die vriendin kan ek glad nie meer onthou nie, maar die vrou self, onthou ek in detail tot vandag. Sy was ’n groot vrou. Lank en goed gebou. Lieflike gesig enhouding en wonderlike lang, donker, krulhare wat in die geniepsige wind om haar kop dwarrel. Sy dra ’n geelgroen rok wat mooi afsteek teen haar donker vel. En toe lag sy. ’n Lag wat jou aanraak, jou ligter maak, jou laat glo in voëls envisse; in drake en drakedoders.

               So ’n vrou, dink ek is ’n koningin uit eie reg. Ons ry en ek bêre die vrou in my kop.

               Vanoggend toe ek die eerste geelgroen bloeisels van die soetdoring sien, dink ek weer aan die vrou in Meiringspoort. Ek wonder, nie vir die eerste keer nie, wat is háárstorie?

               Maar die hart van ’n vreemdeling bly ‘n geslote reistas vir die verbyganger, al het julle ook ’n oomblik in die wind gedeel.

(c) Brechje Visagie

DNS Uitleg

Hier volg ‘n kaart van hoe alles op DNS inmekaarpas. Ons wil ons besoekers vra om met ons te gesels en terugvoer te gee. 

Ons wil julle ook nooi om aan te sluit by ons fb groep Die Namib Skryf. Dit is ‘n geslote groep – so jy kan net aansoek doen tot toelating.

Ons is huidiglik besig met ‘n klompie projekte soos jul op die kaart sal sien.

Dagboek van ‘n Straatkat – Oor wegloop.

Moortjie

Waar loop die Moorkat vanaand?

Laas nag het hy nat en druipstert kom skuiling soek na sy kos vir meer as ‘n week onaangeraak buite staan en oud word het.

So met die nadersluip vertel hy my – geen vrae nie asseblief. Ek kry ‘n vinnige vryf en dan verdwyn hy die huis in om homself êrens op te krul en droog en ordelik te maak.

Vanmore is hy weer weg sonder n woord.

Nou sit ek op die trap en wag vir die straatkat om sy verskyning te maak. Die wereld is nat en koud… en hier is mos ‘n droë warm plekkie.

Màar daar is g’n teken van hom nie.

Les… Moenie jou hart vir ‘n straatkat gee as jy nie bereid is om die wegloop te aanvaar as deel van die pakket nie.

Les… Moenie verwagtinge omtrent ‘n straatkat hê nie. Lief hom as hy opdaag, seën hom as hy weglam.

Hoop jy het êrens ‘n warm droë kolletjie vanaand, Moortjie…

Sien jou met jou volgende besoek.

(C) Meraai