Herlewing in rou – deur Christo du Plessis

Herlewing in rou

Neef Sas is op die jeugdige ouderdom van vier en dertig met sy eie dienspistool vermoor. 
Die dag het dié Saterdag gebreek soos enige ander Saterdag.
Die familie se lus om die lewe te omhels en die sonnige Saterdag-
planne het met ‘n enkele oproep verswart.
“Sas is gisteraand vermoor. Hy het ‘n motordiefstal ondersoek. 
Die diewe het sy pistool gegryp en hom geskiet – drie skote. 
Deur sy nek, in sy oog en die finale skoot deur sy oor, het hom gevat.”
Skoonma het na haar kamer onttrek. Skoonpa dwalend, omdat die
mure hom vasdruk. Want neef Sas was ‘n ordentlike Mannetjie en ‘n 
deeglike Polisieman. Die beste!
Ta Atta, Sas se ma en Skoonma se suster, se trane loop binnekant toe. 
Deur haar siel en haar are en haar skelet. Net nie by haar oë uit nie.
Oompie Flip, Ta Atta se stil anderhelfte, het die vlaktes in gevaar. 
Hoe treur mens oor die dood as jy nooit geleer het om die lewe te vier nie?
Nou is Jasper hulle enigste lewende kind. Hoe kry hulle die boodskap by hom uit? 
Niemand weet waar hy is nie. As hy tog maar so betroubaar was soos Sas.
Jasper, wat nog nooit daarin kon slaag om sy goeie kant te bewys nie, 
kon nie op gespoor word nie. Telefoon oproepe, koerant- en internet-advertensies. 
Maar te vergeefs.
Antie Poppie, die oudste van Skoonma se “bloedsusters” tree toe in. 
“Dan lê ons vir Sassie te ruste sonder sy broer. 
Die man dink nooit aan ander nie, net aan homself.”
Die dag van begrafnis breek aan. Die seer wil uit mens se borskas skeur as jy die menigte aanskou wat Sas, met trane, vir oulaas kom groet. 
Net Ta Atta en Oompie Flip se oë bly droog. Want hulle hartseer lê waar geen oog kan sien nie.
Toe die familie om die graf vergader merk ek hom op – Jasper. 
Hy aan die eenkant van die graf en sy ouers aan die anderkant. 
Vir die eerste keer in ‘n lang tyd verenig hulle. In rou bereik hulle mekaar, oor die kis wat sak, herlewe hulle.

Christo du Plessis – 20 Okt 2018

Verlatenheid

Ons ry deur die verlatenheid van die Skedelkuspark, ‘n oerlandskap wat lyk of dit nie aan hierdie wêreld behoort nie. Ons ry stadig want die pad is sleg en ek wil niks mis nie. Ek wil stadig elke faset van hierdie verlatenheid opsuig soos ‘n spons, elke nuanse van vorm en kleur ervaar wat voortdurend vloei en verander, soos ‘n enorme seedier wat gewigloos en grasieus deur die water kronkel.

Ons ry met ‘n paadjie tot by die see. ‘n Pragtige baai omkelk ‘n silwerskoon strand en ek verwonder my aan die skatte in die opdrifsels… stukkies spoelhout deur die see gevorm en geskuur, pers en rooi seegras vervleg met ‘n klossie mosselskulpe wat oopkeel in perlemoenkleure vir die son lê en lag.
Die lug is skoon met ‘n ligte seebriesie, die son is aangenaam, ek kry die vars reuk van die see en hoor die stilte, die wind, die branders, ‘n damara sterretjie se hoë skril roep. Ek sien vlietend sy wit vlerke in die son weerkaats voor hy versmelt met die grond waar hy gaan sit.

Verderaan by die Huab lagune lê die water helder in die sonlig, omsoon met ‘n glinsterende wit soutrand. ‘n Klompie trekduikers sit op die strandjie, vlerke wyd gesprei om af te droog. Ek stap nader sodat hulle kan opvlieg vir ‘n foto. Stadig, luierig vlieg hulle een vir een op om net ‘n entjie verder onverstoord weer te gaan sit. Tussen hulle ‘n verdwaalde flamink, seker op pad terug na sy blyplek ‘n entjie verder by Kaap Kruis se soutpanne.

Daar heers ‘n totale vreedsaamheid in hierdie bo-aardse, amper buitewesenlike verlate landskap, ‘n vreedsaamheid wat ek in my diepste binnewese vind. Daar waar ek volkome stil kan raak, waar my kreatiwiteit se oorsprong lê, waar my spirituele bewussyn lê. In hierdie verlatenheid voel ek volkome een met die skepping.

Skielik, in ‘n helder oomblik is dit asof ek weet waarheen ek sal gaan as my rol as menslike wese hier op aarde vervul is. Dis waar ek sal wees, ‘n drywende energie wat onvermoeid in hierdie veratenheid sal voortbestaan, interaktief met ander van my soort, in ‘n woordelose bewussyn. Geen soeke meer na die waarheid, geen soeke na woorde om my gevoelens te beskryf, geen woorde wat verkeerd verstaan kan word, kan kwets nie.
Net ‘n bewussyn “in ‘n lewe iewers ná die dood waar ek gewigloos oor die maan sal seil soos die spook van parmenides, ‘n energie soos waterdamp só yl…”.

©Estelle Rubow