BESINNING

Soms kom die winter met sagte snikke

In die somerstof

En die bome skinder saam

Oor verskroeide lentedrome

 

Soms donder die wolke in malende woede

En streep die bliksems my met sambokhale

Totdat ek bibberend skuil

In die holtes van ‘n winterhart.

 

Eentonig en ysig is die inkeertyd

Gedagtes wat verkil

tot blinkwit sneeu van vergeet en verspoel

in strome droefheid oor die gisters

en môre se leegtes waar eens drome was.

©Rita Smit

16 Junie 2015.

 

Meer oor Koster

Uittreksel uit Straatligte in die mis:-

 

12. My Moeder

Ek sien my moeder glimlag uit die hemel vir my

Sy was die beste mamma op aarde te kry

Sy het ons laat opgroei om mekaar lief te hê

Die heel beste mamma kan ek met reg sê

 

Lees meer Meer oor Koster

Meer van Marsofine

Woorde wat waai

Marsofine se debuutbundel is pas vrygestel.

Sy het verskeie ATKV toekennings vir die gedigte in hierdie bundel ontvang.

Bestel hierdie “moet hê”  direk by haar teen 

N$ 150-00

Jy kan haar vonkpos by marsdrey@yahoo.com

of ‘n boodskap op hierdie blog los of op kontak haar op haar skryfblad

https://www.facebook.com/Marsofine-Skryf-163290104621296/

My liefde is nie pyle uit ‘n boog nie

My liefde is nie…

my  liefde is nie pyle uit ‘n boog nie
my liefde vir jou is diep voue in my aardkors
in flennie vou ek jou frummellyfie
in die voue van my bors bêre ek jou
en voed jou wit goud
ek laat jou neerlê in my lyf se boog
gespan vir elke asemteug
my boog skuil skerpskutter in die nag
ook in die dag kokon ek jou
maar soos boë van jou mates ontvou,
larwespartel jy teen my
pyle tong ek op jou
tot jou bang kokon verfrummel en, geskud
tot in my aardkors, ek my lyf om joune doekvou
om my pyle af te weer.
©Marieta McGrath

Proeflees


ek vra nie
vir wonderwerke en weelde nie.
ook nie vir oplossings of antwoorde nie.
al wat ek begeer,
is om gelees te word.
verdwaal in my grysdoolhof, waar verlange en behoeftes gekerf is,
waar onthou-skatte en wil-wese lê en wag.
lees tussen my lyne,
sien dieper as die kurwes en letsels,
die rondings en smag-lippe.
blaai rustig deur die girtselings van gisters en harsingshades.
lees my, skaaf aan my gedig,
en maak van my ‘n meesterstuk

@ANGELHEYNS

Karsinoom

Die Siekte
het jou leeg gesuip,
tot op die been.
Jy het lankal Vader Tyd se hand in die heelal gevoel,
selfs skalks vasgehou met tye…
Todat die laaste bietjie murg,
weer oorlog verklaar het teen verganklikheid.
Vir jóú vriend,
sal ek die son gaan haal,
deur die lug sleep van waar die hemel en aarde een word.
Vir ‘n leeftyd lank was jy
klipstom,
of donderweer duidelik,
deel van my beskeie pad.
En kon ek op jou reken
In tye van vreugdesfees, of, al was my oë dik en wange nat.
Hoe kan ek in jou laaste dae
kla…
Oor hoe ek jou nodig het
En hoe my hart sal bloei daar waar jy stadig los skeur?
Ek wil jou klingel-lag en “I told you so” wéét,
vasmessel in my nou,
en jou hê in my “Eendag op ‘n reëndag” kasteel-stories.
Sielsgenoot:
Jy weet waar jou “wil nie meer nie” begin.
Ek sal daar ook jou hart in my hande neem
En steeds vir ewig bemin.

©ANGELHEYNS

Jy en My

Kokon my toe
in ragfyn sy.
Bely dan,
herhaaldelik,
jou gevoel vir my.
Stryk my neer,
maak glad my siel;
Laat my vergeet
ek was ooit verniel.
Beveg die drake,
ontbind die vloek…
Oortuig my
dat ek
al een is,
waarna jy na soek.
Gee
aan my
asem,
en maak my weer heel:
met die hartswoorde
en
smagsels,
Wat my
heelhart
steel.
©ANGELHEYNS

Sielsbede van ‘n man

 * Foto krediet – google

waar my oë
bakhand na jou staar
fontein die skelle wete
die son het in die siel
van jou oë gesterf en
jou skouers het
pikkewyn-dom
oor die westerkim
gestrompel
terwyl vreugde
binne jou gal braak
bly jou hande
in gebed geklem

ontrukking het
oor jou wange gedrup
en soos doudruppels
deur die hitte
van jou seer verdamp
genadestrale het
oor jou gebloei en
jou treurgreep het
bewend in ‘n lofsang
uitgebreek

© Anzé Bezuidenhout

My denke

* foto krediet – google

huilend wolf my verlange
oor die krom van die sekelmaan
aandblomreuke salf die
kneusings van my siel
terwyl bidwoorde fetus
op die hemel van my tong

blindelings
klingel windklanke
in braille deur die
heilige branders
van my denke
wat in algeblaar huil

dan kry my woorde
nuwe voetvlerke
en ry sorgloos
oor die pieke
van ‘n saffierwind

© Anzé Bezuidenhout

Phoenix

Die son se blas en bleek gety
laat lyf- en sielseisoen gedy,
asem-wasem
bloed uit klip
Tyd
wat soos water deur my vingers glip.
My nuwe hemel kom
My wegkruip-mure is weer afgebreek-
om in te nooi
dit wat ek vir so lank wou vergeet.
Die troebelbrak
en bibberbang
sal steeds in die nag vir my kom vang,
maar ek is gewapen
met krygerskleed
en moed en sweet,
en weet,
en wéét…
©ANGELHEYNS
SEPT 2017

 

As die heelal huil

0 $

  (*foto krediet aan google)

smeltend huil die heelal
en vlerkloos het die skanse weggeval
as die kettings van vervloë sprokies
anker in vandag se treurverhaal
my treë dein oor lawastrome
verby die tralies in jou oë
wat onder woorde – grofgeskut –
ongeuiterd tussen ons kom lê

my verlange kerm hoonend
oor die kromming van die sekelmaan
en aandblomreuke bring salwing
soos botsels vir my siel
gebede fetus op die hemel van my tong
terwyl blinde windklanke klingellui in braille
en my somber denke spoed deur
die heil’ge branders van verset

dan draai ek bakhand na jou – my lief
want die son het dan reeds
in jou oë se siel gesterf
as jou vreugde bitter gal raak
kniel jy in wrang ontnugtering;
die vingers stram geklem
in die stille kreet
van jou gebed

© Anzé Bezuidenhout

Kippakiewiet

kiewiet

hoe bly jy staande? jy’s dan

net ‘n opgepofde bondeltjie dons op

een rooi rietjiebeentjie  

die ander kloutjie gevou in ‘n vuis

teen jou lyf terwyl jy kywie hou

 

kiewiet

ek dink ek weet wat jy maak as jy waarskuwend

kras in crescendo accelerando

jy het ‘n kippa op jou kop

jy het ‘n kippa en jy bid en bly staande

Skedelkus

in ‘n oer en vreemde land
op ‘n afgeleë verlate strand
soekend na vergane skepe
– net nog dryfhout in die sand –
skedel skulp en seewier in die son
kaats lig in pers en perlemoen
en aan ‘n soutlagune se soom
lê die karkas van ‘n kormorant

waar heuwels teen die blou lug welf,
in golf en lyn en kleur vervloei
word klip en rots en bleker sand
‘n skeidslyn aan die horison
in hierdie groot verlatenheid
waar wind en see my siel wil sus
hier vind ek vrede, vind ek rus
in die stilte van die skedelkus

©Estelle Rubow

My lentelied

My lentelied het ‘n vals akkoord
die wysie deur die wind verwaai
‘n seevoël hang in eensaam vlug
in ‘n grou en somber lug

‘n vreugvolle dag het rooi gebreek
rooi soos ‘n ryp granaat
bome bot hul bloeisels wit
– elders, waar dit lente is

My lente is maar ewig laat
verdwaal in die groot woestyn
om bloeisels te maak tussen klipskeure
is ‘n enorme taak

©Estelle Rubow

Ons kombuistaal, Afrikaans

0 $

Om die kospotte van ons moeders
in die smeltkroes aan die kaap
in gesellige kombuise
het ons ons taal leer praat

kaaskop en duusman,
maleier en khoi
het elkeen sy deel in die potjie gegooi
‘n knippie van dit, ‘n knypie van dat
met ‘n skeutjie wyn so reg uit die vat,
van springbok en koedoe is biltong gemaak
bobotie met blatjang en borrie vir smaak
‘n mengelmoes Hollands en Engels en Frans
word toe ‘n aitsa gesels-Afrikaans!

©Estelle Rubow

Digter van Gister

Dalene Mellet

Dalene Mellet is een van DNS se talentvolle skrywers. Sy slaan gereeld my asem weg met haar pragtige gedigte.