Dis verkeerd

ek kan nie weer nie
nie nog ’n keer nie
my god dis verkeerd
dis onmenslik wreed

eers my moeder
op agt en veertig
en nou my sussie
sy’s agt en veertig

wat is die kanse
vir dieselfde simptome
dieselfde uiteinde
verydelde drome

fok jou kanker
jou onmenslike dief
jy steel elke anker
en los ons in grief

ek kan nie weer nie
nie weer ’n keer nie
my god dis wreed
dis goddelik verkeerd

Meraai

Digkuns Gr 8 – 9 #2

Griffel Wenners

Alleen deur Beatri Turner van WHS

Alleen

Alleen op ‘n stoep sien
sy die horison glinster.
Die verte bly leeg –
wit seile waarna sy soek.
Duskant die ewenaar
druis golwe sonder genade:
berge water
waardeur die skip vaar.
Die bodem
die vyand wat die matrose roep –
‘n gekners en gekraak
breek hul moed.
Alleen op ‘n stoep
staar sy oor die verte.
Die koue brander wat binne haar spoel
laat haar verdrink
in die bodemlose poel …
Met trots geborg

Digkuns Gr 5-7 #2

Griffel Wenners

2de plek:  Wilhelm Pieterse van WAP, Windhoek

‘n BOEK

Met ‘n lekker boek 
kan jy allerhande plekke besoek.
Jy hoef net in jou bed te lê
en hoef niks vliegtuigkaartjies te hê.
Maak net oop, 
miskien ‘n rivier vol stroop.
Miskien besoek jy die maan,
of ‘n vuurspuwende vulkaan.
‘n Boek het hope pret
vir klein, groot, maer of vet.
O, konsternasie ...
miskien ontdek jy ‘n dierasie!

Met trots geborg

Kortkuns Gr 10 -12 #2

Griffel Wenners

2de plek: Susanne du Toit van WAP, Windhoek

Genadelose genade

(Petteri Sianio)

Die vroeë briesie ritsel die vars groen blare wakker na die lang winterkoue. Kinderlaggies warrel op en meng met die sagte agtergrondmusiek komende uit die sitkamer van die ou klassieke huis. Vrolike stemme smelt in die geselligheid wat homself afspeel in die lowergroen tuin voor die huis. Die huis is wit afgeëts teen die golwende groen heuwels.  Lanings vrugtebome vorm die roete huis toe. Helderkleurige blomme breek die wit mure en die reuk van jasmyn kan duidelik uitgeken word. 

Die afbeelding van ‘n man en ‘n vrou skyn helder teen die wit muur waar hulle grasieus dans.  Klein kinderhandjies klap vrolik saam.  Langs die ou bloekomboom kreun tafels onder borde vol geurige kos en vul die area met harmonie en geluk. 

En dan word die geselligheid gebreek deur die weergalming van die harde klanke van geweerskote.  Verwarring en die reuk van kruit omskep hierdie geselligheid in ‘n warboel van bewegings.  Perdepote klink helder op soos die hoefysters die plaveisel tref.  Skril stemmetjies meng met die angs van onsekerheid.  Bevele word uitgeskree en almal word soos vasgekeerde diere omsingel. 

‘n Dreigende soektog word geloods en soldate in bruin uniforms geklee, marsjeer tussen hulle deur.  Voetstappe weerklink op die houttrappe van die huis.  ‘n Skaduwee skuif stil-stil agter die eeu-oue staanhorlosie in die hoek van die sitkamer.  Stewels klink helder op en die asemhalings skeur die oomblik.  Die formidabele skaduwee smelt ineen met die afbeelding van die staanhorlosie en tyd gaan staan stil.  Sekondes tik af.  Die reuk van sweet en angs vul die vertrek soos  vyand en vriende mekaar aanvoel, maar fisies ontwyk.  Kamerdeure word oop en toe gemaak en die soektog duur voort.  Die lang geweefde gordyne hang swaar en geruisloos, terwyl die miershoop van bedrywighede die lug vul.  Swaar voetstappe sleep tot voor die staanhorlosie en sekondes word minute en ewig word ‘n moontlikheid.  Die staanhorlosie slaan hard en stadig begin die tyd weer tik-tik.

Bruin uniforms en swaar stewels beweeg uit en in gelid verlaat die bedreigings die huis en saam ook die angs wat soos ‘n donderslag gedreig het. 

‘n Skaduwee verskyn van agter die staanhorlosie en die groot beeld van ‘n man kom staan weer sy plek vol voor sy vrou en kinders.  Genade knak sy knieë en hy sak stadig neer tot op die plaveisel.  Liefde en verligting slaan sy arms om die ewigheid van nou.

Met trots geborg

Kortkuns Gr 8 – 9 #2

Griffel Wenners

2de Plek Gr 8 – 9 – Engela Genis

WHS, Windhoek. (Sy het ook die derde plek verower, maar op grond van die kompetisiereëls, ontvang sy slegs haar beste prestasie.)

My kaalvoetdae op die plaas

Die skoolklok lui. Uiteindelik het die vakansie aangebreek! Ek gryp my boeke en prop dit in my tas. My maag borrel van die opwinding. Ek gaan saam met my neefs plaas toe!

Na drie ure se ry kom ons oplaas by die plaas aan. Ek en Pieter hardloop tot by die groot wit hek, klim oor en jaag resies tot in die Skaaprivier. Die water is heerlik koel nadat ek my warm gehardloop het. Ek asem die vars lug diep in.

Ek staan nog so en geniet die koeligheid toe iets my onverwags agter my kop tref. ’n Modderbal! Nou begin die oorlog. Ek en Pieter is saam in ’n span, ons twee teen Adriaan en Gerhard. Die “ Veldvinke” teen die “Bosbobbejane”. Soos blits raap ons ’n paar klippe bymekaar en bou ’n muur vir skuiling. Ek maak die modderballe en Pieter vuur hulle af. Na ’n ruk ruil ons om. ’n Modderbal tref my reg in die gesig dat ek net sterre sien! Gou-gou is ek weer regop en die Bosbobbejane moet maar net koes en keer. Ons oorlogstrategie het gewerk soos ’n bom, die Bosbobbejane gee oor en ons wen die titel van “Moddermeesters”. Wat ’n eer!

Ons hardloop deur die sproeiers om skoon te kom en vat die pad beeskraal toe. Elkeen soek ’n stok en ons begin die beeste rondjaag. Ek skrik my boeglam toe die een bees skielik omdraai en in my rigting storm. Sy hoewe dawer op die grond soos hy al hoe nader kom … Adriaan is gelukkig naby en met ’n paar wilde swaaie van sy stok jaag hy die bees weer in die teenoorgestelde rigting. In die verte kom Oom Jan aangestap, hy lyk nie baie ingenome met die saak nie … Nou staan ons in ’n ry en wag ons pak af.

Na ses van die bestes gaan speel ons maar eerder seerower. Ons klouter rond in ons boomskepe en swaai rond aan toue. Ons silwer swaarde blits gevaarlik in die son. Kaptein Grootbek Gerhardus se skatte word gesteel deur Seerower Een-oog Adriaan en nou raak die speletjie eers pret! Ons speel en lawaai tot die son water trek en die uile begin roep.

Na aandete spring ons almal deur die bad en trek ons snoesige nagklere aan. Tannie Marie lees vir ons “Jakkals en Wolf”. Geamuseerd luister ons met groot oë na al die goed wat Jakkals en Wolf aanvang. Hulle het wraggies alweer boer se skape gesteel!

Doodmoeg en dolgelukkig kruip ek diep onder my komberse in. My ooglede raak swaar en ek droom van al die avonture wat ons nog op die plaas gaan hê.

Met trots geborg

KORTKUNS GR. 6 – 7 #2

Griffel Wenners

TWEEDE PLEK:  LUCA COFFEE, WINDHOEK GYMNASIUM

Daar is nie meer werk nie!!

Dis 24 Desember en Kersvader se spesiale Jingle Bells-alarm gaan klokslag 03:00 af … soos elke jaar vantevore. Hy gee een laaste snork deur sy dik, wit snor en besef dan dat dit mos die lekkerste dag van die jaar in die Noordpool is!  Hy wikkel sy groot voete opgewonde, en sy pantoffels se klokkies klingel vrolik die laaste versie van Jingle Bells saam.  Maar dan kom daar skielik ‘n Vreemde Vlieënde Voorwerp deur die lug gevlieg en voor hy kon keer, tref ‘n soetkoekie, so groot soos sy gewese boepens, hom.  Nou’s hy nugter wakker en die nare waarheid tref hom selfs harder.  “Ek is ge-retrench!”  Ja, jou wraggies … liewe Kersvader en sy klein dwergbende is werkloos!  Erger nog:  die Paashaas, Tandemuis en Klaasvakie sit in presies dieselfde bootjie!

Kersvader gly traag uit die bed.  Mens kan ook net só lank Netflix kyk.  Hy gaan staan voor die spieël en bekyk sy uitgeteerde Kersvader-lyfie. “My liewe vrou, dis mos jóú skuld dat ek so wegsmelt.  ‘n Kersfeeskoekie is mos nie ‘n koekie sonder regte meel nie?” kla Kersvader.  “Miskien nie, maar vandag se mense glo mos glutenvry is die moderne weergawe van Weighless!” sê Paashaas.  “Hoekom, dink julle, steek mense nie meer so graag paaseiers weg nie?  Want gewone sjokolade is mos nie meer goed genoeg nie.”  Kersvader en Paashaas kyk vir mekaar en skud maar net hulle koppe.

“En om nie eers van hulle slaapgeite te praat nie!” sê Klaasvakie terwyl hy die sandjies uit sy lui ogies vee.  “My sandjies is mos nie meer goed genoeg vir daai Japsnoete nie.  Deesdae moet die mense mos ‘n pilletjie drink om te kan slaap of joga doen om kamstig te kan rustig raak.” 

“Wat ‘n klomp nonsens!” gil Tandemuis met sy fyn stemmetjie.  “Kry jy ook so swaar?” vra Kersvader. 

“Julle wil nie weet nie! My tandekasteel staan al vir meer as ‘n jaar en stof vergader, want daar’s net nie meer tande nie.” 

“Hoekom nie?” val Paashaas hom in die rede. 

“Het julle nog nooit van Vegan gehoor nie?” 

“Wat op aarde is dit?” vra Kersvader.  “Al wat ek weet, is dat melk uit is soos koekies in ʼn weeshuis, want dit kom mos van ‘n koei af.” 

“En wat het dít met die prys van eiers te doen?” vra Klaasvakie. 

“Goeie vraag, want eiers is ook uit!” 

“Wat Tandemuis eintlik probeer sê, is dat Vegan ouens niks eet wat van ‘n dier af kom nie,” sê Kersmoeder.  “Dié dat die volksvreemde kinders van vandag se tandjies so vrot is … van te min kalsium!”  En daar tref die harde werklikheid vir Tandemuis:  hy gaan nooit ryk word nie, want daar is eenvoudig te min gesonde tandjies!

So sit Kersvader, Kersmoeder, Klaasvakie, Paashaas en Tandemuis om die etenstafel en kom met ‘n groot skok agter:  “Ons is ge-retrench!!” 

G’n wonder hulle moes beurte maak om daardie een groot soetkoekie in ʼn koppie sójamelk te doop nie, want daar is nie meer werk nie en ook nie geld vir nog nie …

Met trots geborg

DIE SKRYFSPORE GRIFFEL VOORT!

Die 2019 Nasionale Waltons-Griffelkompetisie was weereens ’n groot sukses. Altesaam 12 skole oor Namibië het deelgeneem.
50 kortkuns- en 78 digkunsstukke is ontvang. Die beoordelaars ontvang die stukke anoniem.
Baie geluk aan elke deelnemer!
Die NASIONALE WALTONS-GRIFFEL SKRYFKOMPETISIE word sedert 2007 deur WAP (Windhoek Afrikaanse Privaatskool) geloods. Die doel van die kompetisie is om kreatiewe skrywers aan ‘n groter leserspubliek bloot te stel.

‘n Hoogtepunt vanjaar is dat Karli Rudolph (WBPHS) die wenner in Kortkuns sowel as Digkuns is.
Twee ander deelnemers, Jana van Zijl (Pro- Ed Akademie) en Engela Genis (WHS), het beide meer as een plek in ‘n kategorie losgeskryf: Van Zyl was eerste én tweede in die kategorie Digkuns Gr. 10 – 12. Genis het ‘n tweede en derde plek in die kategorie Kortkuns gr. 8/9 verdien. Volgens ‘n besluit van die ouers en deelnemers self tydens ‘n vergadering in 2009 het elkeen egter net haar beste toekenning ontvang sodat meer deelnemers in wenposisies betrek kan word.

Lees meer DIE SKRYFSPORE GRIFFEL VOORT!

Carla van der Spuy – Kuier by Omaruru Kunstefees saam met Die Namib Skryf

31 Augustus 2019 – Carla stel haar splinternuwe boek vry by Omaruru Kunstefees en gesels met Die Namib Skryf oor hoe om woorde te vleg.

Gesprekleier is Marco van der Berg – Marco het ‘n 4 jaar graad in Bedryfkommunikasiekunde en spesialiseer in film, joernalistiek, skakelwese en bemarking.  Hy is tans werksaam by die ATKV as Streekbestuurder en is betrokke by skryfskole, toneelwerkswinkels, teatertegnologie en sangwerkswinkels.

Carla vertel oor haarself:

Ek het BA Beeldende Kunste geswot maar is al 44 jaar lank ‘n joernalis waarvan ek die afgelope 23 jaar ‘n vryskutjoernalis is. Ek het vir talle koerante soos Beeld en tydskrifte soos Vrouekeur en Rooi Rose vryskutwerk gedoen. Ek het sewe boeke geskryf.

Ek het ook begin om voornemende skrywers op te lei en is gevra om vanaf Augustus vanjaar as aanbieder by die ATKV se skryfskole betrokke te raak.

Ek het twee keer die toekenning vir die “Best Real Life” storie by die Caxton Magazine Excellence Awards en ses ander merietetoekennings vir onder meer Skrywer van die Jaar en vir stories oor gesondheid ontvang. My boek Bloed op haar hande is aangewys as een van Books Live se “Jaw dropping (nie breaking nie!) crime books of 2015.”

Wat skryfwerk betref skryf ek baie aktuele stories oor enige onderwerp veral gesondheid, mensestories en nie-fiksie misdaad.  Ek gee graag ‘n stem aan mense wie se stories ons normaalweg nie hoor nie, soos geweldsmisdadigers en slagoffers van misdaad, sowel as die geweldsmisdadigers self soos vroue wat moord gepleeg het en oor hoekom dinge so verskriklik skeef in hul lewens geloop het.

My eerste boek was Platsakwenke en daarna het ek Mens of Monster- die psige van ‘n misdadiger vir LAPA-uitgewers geskryf. Dit het binne twee maande ‘n tweede Afrikaanse druk beleef.

Daarvoor het ek met geweldsmisdadigers (meestal moordenaars) in tronke gaan gesels om uit te vind hoe hulle koppe werk. Ek het ook nou saam met sielkundiges en kriminoloë en ander kenners gewerk.

Ek het daarna Plaasmoorde- slagoffers vertel self vir Prof Maritha Snyman van Wordworx Uitgewers in opdrag van Bargain Books geskryf wat ook in Engels vertaal is. My volgende boek was Bloed op haar hande – vroue agter tralies wat ook deur Lapa uitgegee is.

Daarna het Misken mishandel misbruik – Joey Haarhoff was my ma (MMM) gevolg wat ‘n vierde druk beleef het. Dit was bykans 3 maande lank op die Nielsenlys van top-100 niefiksie boeke.  Sielsiek het in 2017 verskyn. Al my misdaadboeke is in Engels vertaal.

Liefde agter tralies het pas geland.

Ek woon op Hartbeespoort en is ‘n deeltydse water aerobiese instrukteur by die plaaslike gim.

Ek het aan die volgende TV-programme deelgeneem:

* Pasella met Platsakwenke

* Op Rian sowel as Kwêla (twee keer) op kykNET met Mens of Monster en Liefde agter tralies wat eerskomende Sondag op 14 Julie 2019 uitgesaai gaan word. Hannes van Wyk het ‘n onderhoud met my gevoer.

* Op Ontbytsake met Dawie Roodt – as krimiskrywer en joernalis. (twee keer.)

* Op Fiesta na ‘n boekbekendstelling by die tronk op Tulbagh tydens hul Lentefees

* Op Flits oor Plaasmoorde.

* OP ETV met Bloed op haar hande.

*Prontuit (Bloed op haar hande) met krimiskrywer Martin Steyn

*Fokus (MMM)

*Special Assignment (MMM).

* In die bed met Bibi oor my boeke.

* My water aerobiese klas was vir “vier minute van roem” in die program ‘n Huppel in die stap op kykNET – die program vir senior burgers.(nogal.)

*Daar was ook onlangs ‘n skrywerprofiel oor my op Die Groot Ontbyt.

* In Julie vanjaar met Liefde agter tralies op Kwêla.

Ek het ook by die Woordfees, die Boekejol, Prince Albert Leesfees, die KKNK, Aardklop en die Vryfees  oor my boeke gesels en ook onderhoude met ander skrywers gevoer.

My dogter Tanya is ‘n skrywer, joernalis en skakelbeampte en my seun Louwtjie, is ‘n prokureur.





Diere ABC

A a 
Die aasvoël kla,”Ek is nie mooi nie,
en daarom het ek nie ‘n nooi nie.
Ek wens ek was ‘n pou,
want hy is mooi en hy’t ‘n vrou.”

B b 
Bobbejaan, bobbejaan, jy dink jy’s slim,
omdat jy oor Boer se draad kan klim,
maar Boer is vir jou baie kwaad,
en span nou orals hakiesdraad.

C c 
Ch, ch, ch , ch, snork oupa beer.
nag vir nag en weer en weer.
Oumatjie beer is desperaat,
en wil nou sommer die land verlaat.

D d 
Die dassie spring van klip tot klip.
Sy ore gespits, sy stertjie wip-wip.
Hy’s vinning soos blits en baie rats.
Nou sien jy hom, dan’s hy weg woert-warts.

E e 
Vyf klein eendjies stap in ‘n ry
om te gaan swem in die vlei.
Ag nee, die vlei is dan kurkdroog,
en die plaasdam se muur is veels te hoog.

F f 
Die hele familie fisant
Krap heel dag rond in die sand.
Wat hulle doen , wil jy weet?
Hulle soek wurms om te eet.

G g 
Ek loop teen mure op en af,
partykeer is ek sommer net laf,
en lat val myself – kadoef – op jou bedjie
en dink dis baie snaaks as jy skree: “Mamaaa, ‘n geitjie!”

H h 
As ‘n honderdpootjie skoene nodig het,
is dit vir sy papa geheel en al geen pret.
“Vyftig paar skoene”, sug hy swaar,
“kos ‘n klomp geld so wrintie waar”.

I i 
As ietermago is ek bekend.
Ek is ‘n baie komieklike vent.
Raak jy aan my, rol ek myself op,
en jy weet nie, waar’s my stert en waar’s my kop.

J j 
Jakkals wou gaan hoenders steel, 
op Tant Ralie se perseel.
Min het hy geweet, die stomme dier,
die hoenders het by die bure verjaarsdag gaan vier.

K k 
By die rivier bly Krokodil Morkel.
Hy wil so graag sy tande borsel.
Sy ma dink wat dan nou gedaan,
waar kry ek so ‘n groot tandeborsel vandaan?

L l 
Op ‘n dag wandel koning leeu deur die veld.
“Ek is vir niks bang nie,” spog hy, “ek is ‘n held,
Ek hardloop vir niks en niemand weg nie”.
Toe trap hy in ‘n byenes en kon nie ophou hardloop nie.

M m 
Kyk ‘n bietjie na die flukse mier, my kind,
Iemand wat harder werk sal jy nêrens vind.
Oplaai, aflaai, heen en weer geskarrel, dag vir dag.
Geen gekla nie, nooit ooit lui nie, dit is sy gedrag.

N n 
Naaldekokertjie so fraai en so fyn,
met vleuels wat blink in die helder sonskyn.
As ek so sit en na jou kyk,
sien ek dat jy amper soos ‘n helikopter lyk.

O o 
“O, grote Griet”, roep olifant
“my toonnaels is veels te lank!”
Te hulp kom veearts, Oudok Byl,
Met sy groot skêr en almintige vyl.

P p
Nou die dag stap Pikkie Pikkewein al langs die strand,
en sien kinders in bont klere kastele bou in die sand.
Net daar en dan het hy toe besluit:
“As ek weer strand toe kom, trek ek my manelpak uit.

Q q
Quentin sit by die tafel met ‘n groot woordeboek.
‘n Dier wat met ‘Q’ begin, nes sy naam, dis waarna hy soek.
Maar dis alles verniet, glo my vry.
want so ‘n dier sal hy nie kry.

R r
Renoster se beste vriend sit op sy rug,
Dis renostervoël wat hom waarsku as hy moet vlug.
En as die bosluise renoster pla op sy lyf en sy kop,
Pik-pik sy kleine vriend hul een vir een op.

S s
Stadig, stadig, trap vir trap,
kom skilpad hierlangs aangestap.
Nou is hy moeg en trek sy kop
en al vier sy voetjies binne in sy dop.

T t
Toktokkie, jy’s darem ‘n oulike goggatjie.
Klop-klop hardloop jy rond op soek na jou meisie.
As jy skrik, val jy – woeps – op jou rug,
En speel-speel jy’s dood met jou beentjies stokstyf in die lug

U u
Professor Uil is ‘n knap onderwyser,
maar die ouers is erg geteister,
omdat Prof. Uil die hele dag net slaap,
en die kinders in die klas sit en ginnegaap.

V v
Verkleurmannetjie, ek wonder hoe jy dit doen,
loop jy oor ons grasperk word jy groen,
klim jy stadig langs die boomstam op,
word jy grys van jou tone tot by jou kop.

W w
So ‘n wurmpie is darem ‘n vraat,
dink net aan kos van vroeg tot laat.
Vreet gate dwarsdeur appels, pere en lemoene
en sowaar ook deur die harde skille van pampoene.

X x
Met sy bekkie klein speel die voëltjie 
op die xilifoon ‘n opgewekte deuntjie.
Die brulpadda-koor sing saam uit volle bors,
Almal dans en lag, net ou vlakvark bly steeds nors.

Y y
Miena Krimpvarkie is verlief op Jan Ystervark.
En nooi hom vir ‘n piekniek in die park.
Haar mandjie vol gepak met vlieë, muskiete en lekker goggas.
Jan is nie verheug nie, want hy eet net plante, blare en groen gras.

Z z
Zoem, zoem,zoem vlieg ‘n by
Hier by my neus verby.
Gaan sit op my koeldrankblikkie
en drink ewe astrant ‘n slukkie.

Z z
Weet jy wat is ‘n zoempie?
Dis ‘n oulike, klein duikertjie.
Sy vel het ‘n blou skynsel en is snoesig sag,
as jy hom wil sien, moet jy opstaan in die nag.

©Kopiereg Gisela Tietz-Santos (2010)

Illistrasies deur
© Gerrie van Zyl

Verganklikheid

onverganklike spatsel lig
in vergangklike vrotvleis
vasgevang, gevangene

stry en stryd om te skyn
sukkelend deur tralies
wat jou hart omhein
en gordyne, sluiers
oor jou vensters

ooo om uit te breek
los te maak
hoog te sweef 
kuns en kwas
woorde verweef
in sprokie en sprak
siel skeppend
gedwing bo-oor die grense
van stoflike sel
uitvlug uit hierdie hel
van menslikself
skep jy tyd
en skep jy tydelik
in nabootsing 
van die Lig

spatsel lig onverganklik
polsend lewend wagtend
groeiend in die dieper donker
spartelend teen die grendels

jou tyd van tydloosheid 
en ewige vryheid
sal ook kom …

Meraai

Bestaan môre se leef?

Ons sukkel so
om ‘n bestaan te maak,
dat ons heel vergeet
om te strewe na lewe.

En dan!

In pyn en angs stop die klok.
Benoude donkerte,
lugleë longe,
‘n bees op jou bors
wat wil in …
‘n Tier wat wil uit!

En jy weet –

Dis klaar. Die stryd is verby.
En daar is geen wenner
of verloorder.
Daar is net een plek op die podium,
stom spoke applous op die stadion.

En die sproeiligte gaan aan:

Spotlight op jou.
En jy is stil. Kalm. 
En dan bedonnerd!

Nog? Nog tyd?
Om mee te wat?
Fok die onafgehandelde!
Fok die stukkende drome!
Fok die verlore jare!
Fok die potensiële niks
van môre se miskien!

Fok my stukkende hart
Wat weier om op te hou klop.

En môre?

Dis te vêr. 
Nou, hier in hierdie oomblik
is daar stilte en kalmte.
En storms en orkane.
En stilte en kalmte …

En die tyd vir leef?

Kloppedie klop – met elke slag
Tel dit af
en af
Lup – een minder dup
om te leef.

Intussen?

Intussen bestaan ons –
miskien kan ons môre begin leef.

(c)Meraai

Ja, Jan Alleman …

Sommer net – deur Ta’ Meraai

Ag jong ek wou al so lankal terugskryf, maar dit was ‘n paar maande van breke en breuke.

Die een demmitse ding na die ander het speek gebreek en die wiele bly stukkend.

Die moeilikheid het al hier einde 2018 se kant begin. Klein jakkaltjies … Probleem is teen die tyd wat ek begin besef het – toe staan die moeilikheid geil op die land. Dis tog vreemd hoe ons so blindloop tussen die probleme. Jy sien en weet en neem selfs so in die verbygaan notisie – en stel dan uit vir later, want dis mos nog nie ernstig nie.

Seker die dat ons in Afrikaans so baie spreekwoorde daarvoor het. Die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. Of die strooihalm wat die kameel se rug knak.

In elk geval – hierdie jaar is op ‘n stewige drafstap oppad middel toe en die meeste van die vet jakkalse (hulle het nie klein gebly nie) is geslag en die velletjies brei mooi vir ‘n winterskaros.

Ek wou jou maar net laat weet dat alles weer glad loop en sien tog uit na jou volgende gesels.

Stuur groete vir die vrou en soen die kleinkenners – hulle is tog al wat nou nog ‘n sonopkoms die moeite werd maak.

Liefgroete

Ta’ Meraai