Phalaenopsis

pronk teen ʼn spierwit muur
flankeer met brose briese
van die wind – in skaduwee
en son troon jy trots bo ander uit

eksoties in eenvoud uniek
duidelike delikate dele
inmekaar gestrengel
kunstig aanmekaar geweef

skouspel sigbaar in kleur
kan ook uiters geurig wees
vlinderorgideë feëvlerk vrolik 
verfraai jy enige vertrek …

©Marlene Erasmus
01/02/2019

cumulus mediocris

sigbare massa vloeistofdruppels

of selfs bevrore kristalle wat

hoog in die atmosfeer hang

bo die aarde of hemelliggame

soms selfs verwys na as: nebulae


hoe dit ook al sy – wolke maak

ons nederig dankbaar vir reën

drie dennebome kyk hoopvol

op na die hemel en sug sag

wanneer kom die reën uit Sy hand?


©Marlene Erasmus

31/01/2019

oëverblindery

jou voorkoms in stervorm

fyn haartjies dans op jou

so vredig volmaak gevorm

vlesig blare in maroen omvou


met jou mooie aansien

verblind jy menigte mens

dit moet egter ander doel dien

voortbestaan is jou enigste wens


vlesig blare in fyn fluweel

met dansend diep donker kleure

wil jy insekte se vryheid steel

lok hul aan met vrot vleis geure


Vader, gee dat ons eie geur

U prent in ons mooi sal kleur ...

©Marlene Erasmus

30/01/2019

sonsoekende sonneblom

al in jou botselstadium soek jy die son
draai jy jou kop om son se spoor te volg
met sonop tuur jy blindelings ooswaarts

soos die dag sleepvoet aanstap volg jy
slaafs die son van die ooste na die weste
geveerdes en soogdiere klein baljaar in jou

met jou giggelgeel blomblare straal jy 
sonstraal vreugde uit in gerwe geluk 
Helianthus annuus – sonnige suksesverhaal …

©Marlene Erasmus
29/01/2019

saad-woorde

saad-woorde

 

gedagtes word woord-sade

uit my siele-huis groei genade

my gedagtes wat groei en bloei

dra vrugte: ink wat op papier vloei

 

soms sê dit min en soms meer

alles wat my droom en begeer

versorg met omgee en verstaan

in my siel se herfstuin bestaan

koester ek my hart met sonskyn lag

beskerm teen kil koue wintersnag

mag daar in my sielstuin geen verniel

wees want woorde is sade van my siel ...

 

©Marlene Erasmus

24/01/2019

 

 

voëls van die hemele

 

 

o weë ons skarrel en dwarrel

ywerig dit raap en dit skraap

soeke na geluk wil ons insluk

 

tjirp-tjirp soos ywerige tjirpers

worstel ons swoeg en sweet

vergeet om te kyk na die voëls

 

hadida wat wurms woelend grawe

vlieëvanger wat insekte vang

duif wat dansend sy maat hofmaak

 

koester-kwikkies en kalkoentjies

jolige janfrederik en janfiskaal

kelkiewyn kanarie en klopkloppie

 

soos ʼn hen wat haar kuikens toedek

word ons bewaar deur Hom wat

ons liefhet – mag ons dit nooit vergeet ...

 

©Marlene Erasmus

23/01/2019

 

adiós y aureola

OUJAARSDAG 2018 …

Soos die uurglas se sand uitloop, loop die minute van 2018 uit … Met ‘n mengelmoes van gevoelens kyk ek terug op hierdie jaar. Die jaar het verbygesnel waar dit tog soms gevoel het of die dag nooit einde wil kry.

By tye ‘n “klipperige grondpad”-jaar en by tye “sweef op die wolke”-jaar. As mens gespaar word om aan die einde van nog ‘n jaar stil te word en terug te kyk op die jaar wat was, slaag jou binneste ‘n sug van verlugting …

Soveel om voor dankbaar te wees – soveel om oor opgewonde te wees, ja – met tye het dit gelyk of die donker wolke op jou lewenshorison geen silwer randjie het nie – maar as ek vandag terugkyk, besef ek: ek is deur die minder aangename tye.

Wanneer ek stil word en asem skep – besef ek weereens: God is en bly in beheer … niks gebeur sonder ‘n rede of sonder Sy wil, al lyk dit dikwels vir ons nie so nie.

As ek dan terugkyk en ek beskou my voetspore in die sand is dit met groot dankbaarheid dat ek vol verwagting vorentoe kyk en opgewonde die nuwe roete in jou geestesoog sien …

Nuwe jaar …

Nuwe begin …

Nuwe kanse …

Hiermee vaarwel aan 2018 en hallo aan 2019 …

Marlene Erasmus

31/12/2018