Digter voor die Here

0 $


Ek het vermetel gestaan voor die Here

en gepraat oor die brandende spoelklip.

Here, hy gloei rooi van skeppingsvuur –

dis ‘n stom klip wat swaar klots

aan gedompelde ongekende gesange.

Neem U die skroeiende rots

en stort dit in die see

sou dit U Naam geval

Maar die Here laat die klippe kabbel.

Gloeiing word ‘n branding,

swiep my suinige verwagting

nuut.

O gloed van vervulling as die woord

volrond kom lê in die mond!

O vloek van die aanskyn se sweet!

O vloek van ‘n nuutgeskape god

aan wie ek offer my vrede vir ‘n lensiepot vol nyd!

Ja, ek beitel ‘n beeld uit die bot klip –

‘n stoornis van heilige stiltes.

Ek veg om die groter gloed,

‘n binneaarse wete van Woord en Gees.

Here, ek bid: hoe maak ek hierdie klip

ondergeskik?

©Marieta McGrath

Digter voor die Here

Ek het vermetel gestaan voor die Here
en gepraat oor die brandende spoelklip.
Here, hy gloei rooi van skeppingsvuur –
dis ‘n stom klip wat swaar klots
aan gedompelde ongekende gesange.
Neem U die skroeiende rots
en stort dit in die see
sou dit U Naam geval


Maar die Here laat die klippe kabbel.
Gloeiing word ‘n branding,
swiep my suinige verwagting
nuut.


O gloed van vervulling as die woord
volrond kom lê in die mond!
O vloek van die aanskyn se sweet!
O vloek van ‘n nuutgeskape god
aan wie ek offer my vrede vir ‘n lensiepot vol nyd!


Ja, ek beitel ‘n beeld uit die bot klip –
‘n stoornis van heilige stiltes.
Ek veg om die groter gloed,
‘n binneaarse wete van Woord en Gees.
Here, ek bid: hoe maak ek hierdie klip
ondergeskik?
©Marieta McGrath

Gedenkdiens op veertig


Toe hy die deur agter hom toemaak, is haar oë droog. So droog dat sy haar haas na die medisynekassie. Daar staan die botteltjies in netjiese rytjies, gesorteer volgens elke mediese probleem wat oplossing soek. Sy kyk skewekop vir die dak en skiet die oogdruppels sekuur in elke vlesige traanhoekie. Knip – knip haar oë ‘n paar keer.

Maar realiteit bly realiteit, al knip jy jou oë hóé. Niks gaan verander nie, dis finaal verby. En nou is sy ook al veertig volgende week. Gerhard het iemand anders gekry, een wie se medisynekassie soos ‘n muisnes lyk, om mee te begin. Thea weet, want hulle het een aand daar gebraai en sy het kopseer gehad. Die gasvrou het haar na die badkamer verwys en gevra of sy sal regkom. Terwyl Thea in die kassie gekrap het, kon sy hoor hoe haar Gerhard vir een van Lee-Anne se lawwe grappe lag. En die pyn in albei haar slape het diep gedolk.

Thea het nog altyd geweet wanneer twee mense vir mekaar bedoel is. Dis of dieselfde helder lig in twee pare oë brand, asof die een die ander aangesteek het en hulle net wag om mekaar te vind in onblusbaarheid. Sy kon die liefde al van ver af sien kom, lank voor die betrokke paartjie in verdwasing moes toegee. In twee gevalle moes sy ‘n bietjie aansporing toepas op die steeks wederhelftes, wat haar op hul troues dankbaar geprys het vir haar pasmaakvaardighede.

Sy het nooit kon dink die vaardigheid sou terugkom om haar te byt nie. Sy kon nie die twee helder ligte, wat so stil en standhoudend in gelid brand, miskyk nie. Toe moes sy die knagende kommer besweer in die dowwe spikkels lig wat haar verlowingsdiamant teen die wintersonmuur gooi. Vir maande het sy Gerhard subtiel probeer oorreed om op ‘n troudatum te besluit, subtiel, want hy laat hom nie in ‘n blik druk nie; sy het geleer dat te veel druk hom laat onttrek. En die laaste ding wat sy wou wees, was ‘n jaloerse meisie.

Toe kom die troue waarna hulle vriendekring al heeljaar uitsien. Deon, die ewige oujongkêrel, trou op vier-en-veertig met Anja, nog heel onaangeraak deur ouderdom in haar middel twintigs, ‘n rietskraal lyfie in wit satyn en kant wat net liggies aan die heupies raak. Thea het oud gevoel, en jaloers. Anja het tyd aan haar kant gehad, tyd om haar huwelik te geniet voordat hulle rustig, met al die tyd in die wêreld, ‘n gesin kan begin. Die wete het Thea se keel verstop en sy kon niks afgesluk kry nie. En as sy na Gerhard gesoek het, was hy by die tafel waar Lee-Anne sit, diep in haar geselskap. Het hy Thea se oë op hom gevoel, het hy vinnig verskoning gemaak en weer by sy verloofde kom sit. Uiteindelik het Thea maar met Marinda se babatjie gespeel – die pragtigste ou dogtertjie – ‘n servet oor haar eie gesig gegooi en die dogtertjie met waar’s-hy-waar’s-hy-daar’s-hy vermaak.

Daardie aand, of eerder eenuur die volgende oggend, toe sy en Gerhard voor haar woonstel stop, wou sy antwoorde hê. Sy wou haar kleim afsteek, daardie aand nog.

“Gerhard, wanneer besluit ons op ‘n troudatum? Ons is al ‘n jaar lank verloof, weet jy,” het sy hom konfronteer.

Hy het eers nie geantwoord nie. Toe kook haar impulse oor.

“Wat gaan aan met jou en Lee-Anne?”

Hy het haar verbaas aangekyk. En toe het sy gewete sy wange verkleur.

“Kan ons môre hieroor praat? Dis laat, Thea.”

“Ek wil nou weet.”

“Thea, asseblief, gaan slaap. Môre lyk alles beter.”

Sy wou hom glo. Maar sy rooi wange het haar slaap gesteel, haar nag was vol nagmerries met verbaasde, rooi wange.

Hy het kom om verskoning vra dat hy haar afgeskeep het by die troue. Hulle het op ‘n troudatum besluit. Sy was verlig en het die stemmetjies van waarskuwing ignoreer. Sy het tydskrifte met trou-idees gekoop. Hulle het saam ‘n wynplaas besoek as ‘n moontlike trou-lokaal.

Dit was verlede week.

Vanaand het hy hier opgedaag met neergeslane oë. En sy het geweet.

“Thea, jy was reg.”

“Waaroor was ek reg?”

“Oor my en Lee-Anne. Daar is iets tussen ons. Ek… Ons… Ek dink nie ek en jy moet trou nie.”

“Maar… Ons is al so lank saam. Ons staan op trou!”

“Thea, dink mooi daaroor.”

“Gerhard, ek is… ek is… lief vir jou.” Sy het gesukkel om dit geloofwaardig te laat klink.

“Thea, ons moet omdraai voordat dit te laat is. Ek gaan nou eers. Ek sal môre my goed kom haal wat hier is.”

Gerhard was nooit die tipe wat ‘n groet wou uitrek nie.

Twee dae later loop sy met ‘n tweemandjietrollie in die supermark. Sy het nog steeds nie gehuil nie en sy is nog steeds volgende week veertig. Sy wonder of sy ‘n partytjie kan hou as sy nie regtig haar vriende kan nooi nie. Dit sal mos nou ‘n ongemaklike bedryf afgee, want almal is gemeenskaplike vriende van haar en Gerhard.

Hoe sy daar geland het, weet sy nie, want dis nie ‘n gangetjie wat sy normaalweg sou besoek nie. Sy staan skielik voor die rak met weggooidoeke en staar na ‘n babatjie: poeiersagte velletjie, pofknietjies en pofhandjies wat ‘n lyfie stut, blink ogies en ‘n tandelose lag. Sy staan lank so en skielik, asof vanuit ‘n tonnel, hoor sy hoe water plop-plop op plastiek drup. Dit neem ‘n tydjie voor haar oë fokus en sy besef dis haar eie trane wat in lang straaltjies afloop teen ‘n pak doeke, wat sy krampagtig teen haar lyf geklem het. In ‘n dwaal laat sy die pak doeke vry, vee haastig met haar mou oor die nattigheid en plaas die pak versigtig terug op die rak.

Toe is haar hande leeg. Haar bors voel verdroog van onbruik. Haar hele lyf voel léég. Die kans dat sy ooit ‘n poeiersagte lyfie sal vashou, iemand vir wie sy ‘n naam kan kies, iemand in wie sy haar vrouwees tot vervulling kan bring, het weggesyfer, oornag.

Verpletter stoot sy die trollie verder en wonder: As sy dan nie ‘n verjaardagpartytjie kan hou volgende week nie, sou sy ‘n gedenkdiens kon hou? En kan ‘n mens ‘n gedenkdiens hou as niemand gesterf het nie?

©Marieta McGrath

Wedloop van geloof

Hoe slu besluip die kettings my
en klou my enkels, besitlik;
‘n ruie verstrikking teen my voortstromp’ling.
Hulle bloedsleep my boos en honend,
my vingers slym papperig in die klei,
die waarheid word ‘n lugspieëling
soos water op die warm teer…
O God, my God,
waarom voel ek jou so ver?

Sal ek soos ‘n brute
keelstootkragtend beur teen kettings?
Het my liggaam maar aanhou knik
in ritme van oorwinning en nie verpoos
by die bou van moddermonumente nie!
Hoe sal ek, stof-en-moddermens,
in stofloosheid verrukking vind?
Hoe smag ek om die korrels van my klein geloof
uiteindelik in die kelk te skink!

Toe is my God nie meer so ver nie.
Kettings kom gly soos palings om my voete.
Ek verrys uit die slym
en stip my spiere op die laaste strek en einde –

sterker as met elke struikeling tevore.

(c)Marieta McGrath

Lied van die sondaars

0 $

(‘n pastiche nav Lina Spies se “Lied van die kinders”)
“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die SS soldaat
wat sy geweer gerig het
op ‘n Jood,
sy lip in nare krul,
op sy skoen ‘n groot, rooi vlek.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Kongolese militant
tronend op swaar stewels
van haar, wurm, weggedraai
terwyl aan sy penis
bloed en skande hang.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”
Die Hamas-heilige
swaai sy hande langs ‘n vuur
spuug bloed en bomme
om vryheid van onskuld te verhaal.

Kom na my toe, almal wat moeg soek na vergewe
saamgespan voor Pilatus en Herodes
honde wat honger na lug hap
Kom na my toe, volk van die Messias
wat julle aan ‘n kruis gehang het
toe in bloed en vloek en skande
my Vader jul vergeef het.

Ek sal julle rus gee
moordenaars
verkragters
verloënaars
tollenaars
sondaars

Julle moet ek by tuisgaan
Julle hou leë hande uit
en voete om te was

Kom na my toe

Petrus
Saggeus
Rower aan die kruis

Ek sal saam met julle
in die paradys wees

©Marieta McGrath

‘n Meisie loop op met die bult

Sy tree vernuftige kwashale
‘n heuningkwas swiep in die naat
gety van die lyf wat stoot teen die lyne
geanker, lig, aan die raam
sy’ s figuurtjie in haar eie skets
haar voete verf ‘n seker droom
en as sy bo kom
is sy heuning in die vlug
sonskadu’ s oor die aarde

Meisie wat die bult op loop
mag jou hande altyd odes verf
mag jy nooit jou eie hale prys
want meisie wat die bult op loop
ons vlerke is ons net geleen

©Marieta McGrath

My liefde is nie pyle uit ‘n boog nie

My liefde is nie…

my  liefde is nie pyle uit ‘n boog nie
my liefde vir jou is diep voue in my aardkors
in flennie vou ek jou frummellyfie
in die voue van my bors bêre ek jou
en voed jou wit goud
ek laat jou neerlê in my lyf se boog
gespan vir elke asemteug
my boog skuil skerpskutter in die nag
ook in die dag kokon ek jou
maar soos boë van jou mates ontvou,
larwespartel jy teen my
pyle tong ek op jou
tot jou bang kokon verfrummel en, geskud
tot in my aardkors, ek my lyf om joune doekvou
om my pyle af te weer.
©Marieta McGrath

Kippakiewiet

kiewiet

hoe bly jy staande? jy’s dan

net ‘n opgepofde bondeltjie dons op

een rooi rietjiebeentjie  

die ander kloutjie gevou in ‘n vuis

teen jou lyf terwyl jy kywie hou

 

kiewiet

ek dink ek weet wat jy maak as jy waarskuwend

kras in crescendo accelerando

jy het ‘n kippa op jou kop

jy het ‘n kippa en jy bid en bly staande