Die hart van ‘n vreemdeling

Soms, veral tydens ’n reis, sien jy iemand deur ’n motorruit, by die ingang van ’n supermark of op die roltrap en jy vergeet die gesig nooit weer nie. Iemand kyk skielik op net wanneer jy ’n boek terugsit op die rak in ’n biblioteek of boekwinkel en glimlag vir jou. Iewers in jou binneste herken jy iets van jouself in daardie persoon en jy glimlag terug. 

So is ons eendag by Fransmanshoek naby Mosselbaai. Dit is ’n beskermde gebied, rotsagtig en die branders slaan woes teen die rotse. Bolle skuim ry op die wind bokant die rotse uit. Die dag is stormagtig met wolke en son. En wind. Ons skuil teen die oerrug van ’n rots en kyk uit oor die skuimende see, die geweld van die branders en die tierende wind.

’n Vrou staan op een van die hoogste rotse en die wind pluk haar hare in blonde slierte uit die swart doekwat sy om haar kop het. Sy strooi iets in die wind. Die wind gryp dit gretig en dra dit ’n ent weg.  Dit verdwyn buite sig.

               “Voer sy die meeue?” vra my man.

               “Dan moet sy simpel wees, want die wind maak dat hier nie eens ’n gulsige meeu isnie,” weerlê ek sy stelling. “Kyk, sy is heel in swart. Sien jy die kissie. Ek sweer sy kom strooi ’n geliefde se as oor die see. Dalk was hulle lief om hierna toe te kom toe hy nog gelewe het,” borduur ek, ewig die skrywer, voort.

               Man lag. “Jy kan nogal reg wees!”

               Die vrou kom stap by ons verby. Haar gesig het swaarkrylyne, maar sy is aantreklik op ’n verweerde manier. Haar mond is baie rooi Sy huil nie. Sy stap net. Haar gang is soepel en haar treë het die beslistheid van iemand wat ’n onaangename taak afgehandel het.

               Dalk, dink ek toe sy in die luuksemotor  klim, begin haar lewe nou eers.

               Die volgende dag ry ons terug. Ons laat die see en sy slegte weer agter en my hart loop al digby die huis toe ons in Meiringspoort stop vir koffie en dies meer. ’n Vrou en haar vriendin is entjie van ons af ook besig met koffie en ’n padkosbroodjie. Die vriendin kan ek glad nie meer onthou nie, maar die vrou self, onthou ek in detail tot vandag. Sy was ’n groot vrou. Lank en goed gebou. Lieflike gesig enhouding en wonderlike lang, donker, krulhare wat in die geniepsige wind om haar kop dwarrel. Sy dra ’n geelgroen rok wat mooi afsteek teen haar donker vel. En toe lag sy. ’n Lag wat jou aanraak, jou ligter maak, jou laat glo in voëls envisse; in drake en drakedoders.

               So ’n vrou, dink ek is ’n koningin uit eie reg. Ons ry en ek bêre die vrou in my kop.

               Vanoggend toe ek die eerste geelgroen bloeisels van die soetdoring sien, dink ek weer aan die vrou in Meiringspoort. Ek wonder, nie vir die eerste keer nie, wat is háárstorie?

               Maar die hart van ’n vreemdeling bly ‘n geslote reistas vir die verbyganger, al het julle ook ’n oomblik in die wind gedeel.

(c) Brechje Visagie

Die bruinvy

Van altyd af was vye vir my spesiaal. Lank voordat dit nog modekos was, was dit al my geliefkoosde vrug.

“Woestynkos,” het Pa gesê. “Dit en granate en turksvye en dadels. Dis hoekom die Bybel van die vroegste tye af daarvan praat en dis hoekom dit hier groei.”

Op ons bykans waterlose plaas in Namibië, was die twee reuse vyebome, die turksvye langs die dam en die granaatbos langs die watertenk vir ons kosbaar. By Ouma en Oupa op die dorp, was daar dadelbome langs die voor van die waterputs wat nog uit die Duitse tyd dateer het. Tot vandag toe, is dit vir my ondenkbaar om die lewe in te dink sonder vye, granate, turksvye en dadels.

Ma het van die die vye vir ons vyelekkers, vyerolle en gedroogde vye gemaak. Daarvan van gedroogdevye my heel, heel gunsteling.  Die dadels het sy in plastieksakkies laat sweet en weggepak vir die vrugtehonger wat saam met die winter en die westewind kom. Sy het turksvystroop en turksvykonfyt gekook. Natuurlik het sy ook vyekonfyt gekook. En granaatstroop wat ons in die somer met water en ys gedrink het. Baie werk, liefdeswerk.

Maar die lekkerste, die heel, heel lekkerste, was as ek soggens kon opstaan, die vye uit die boom gaan pluk , met die nag se koelte nog tussen die blare en in die pienk blommetjiesharte van die witvye. Die jeukerigheid wat die blare veroorsaak het, het jy sommer in die krip gaan afspoel. Daar was vye wat papryp was. Pure stroop, heerlike soetheid.

Natuurlik wou ek my eie vyeboom hê toe ek uiteindelik die grond, die tyd en die plek het om tuin te maak. Ek kry nêrens vyebome te koop nie. Tot nou die dag. Ek koop twee boompies. ‘n Kaapse bruinvy en ‘n adamsvy. Ek kon die eerste ryp bruinvytjie Sondag pluk. Ek neem die foto. Ek ruik aan hom en dra hom op ‘n glasbakkie na my Lief in sy kantoor. Ek lees Opperman se  gedig vir hom:

DANK

Ek bring aan jou die eerte vrugte van die land/ met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:

‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand/gedra as nuwe hulde van seisoen en tyd;

jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei/ waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel

sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my / en val die geil reëns van die berge sonder doel.

Toe deel ek die vye in twee. Dit smaak hemels, dis kosbaar, dis dankbaarheid. Een enkele vy wat my so ryk en bevoorreg laat voel.

Geskryf deur: Brechje Visagie

 

Rooikappie #2018

0 $

Rooikappie #2018

Geskryf deur Brechje Visagie.

Die man se skaduwee raak-raak aan die soom van Rooikappie se mantel. Rooikappie loer oor haar skouer. Die straatlig gooi die man wat haar agtervolg se lang skaduwee voor hom uit en sy gesig is in die donker, maar sy herken hom onmiddellik.

“Ag nee, dêmmit!” brom Rooikappie en rek haar treë om van die man weg te kom. Die eeue het hul merk gelaat en gister se pilatesklas was straf. “Sal die bleddie houtkapper nooit leer dat ek nie sy hulp nodig het nie,” skel sy saggies. Sy stap weer stadiger.

Die houtkapper het haar sprokie gesteel. Dit is wat daardie dag in die bos gebeur het. Sý was die mooi kind met die lang, goue vlegsels en die rooi manteltjie. Haar regte plek in die geskiedenis moes langs die van Raponsie, Sneeuwitjie en Aspoestertjie gewees het. Húlle tree as heldinne, prinsesse en koninginne uit die stryd. Maar nie Rooikappie nie. Sy is die stout kind, die een wat afdwaal en vir Ouma laat opvreet van die wolf! Almal is altyd verlig as die houtkapper in haar storie opdaag, vir Ouma red en Wolf doodmaak. Wolf was die enigste opwinding in haar lewe op daardie stadium. Nou is sy eeu na eeu niks meer as ’n sedelessie vir kinders nie.

Lees meer Rooikappie #2018

‘n Nuwe maand, ‘n ou onthou.

’n Nuwe maand, ’n ou onthou.
Deur Brechje Visagie.

Waar is die jaar tog heen? Die eerste dag van November en ek het nog nie eens gedink aan die vrugtekoek wat vir Kersfees gebak moet word nie.
Die heerlikheid van so ’n koek darem. Al die geure wat die rypheid van die jaar vasvang en verdiep tot ’n smaaksensasie wat digters kan laat swymel. En skrywers, natuurlik. Saam met die droom oor die Kerskoek, onthou ek die groot bakdag op die plaas voordat Kersfees aanbreek.

Lees meer ‘n Nuwe maand, ‘n ou onthou.