Die Namib Skryf – sonder grense

Waar Afrikaans bymekaarkom

En Tyd Vlieg – Onthou Jy Nog?

Iewers in die laatmiddag, in ’n plaaslike uithang plek, trek ’n jong sekuriteitsbeampte sy .38 diensrewolwer uit. Hy verwyder die ammunisie, rol die magasyn, en rig die rewolwer op die jong kroegmeisie. Die hamer klik metaal op die slagpen. Sy lag vir sy verspotte grappie en draai om om nog ’n kliënt te help.

Wanneer sy weer die rol van die rewolwer magasyn hoor draai sy om en speel teiken vir die onbesonne jong beampte…Iewers in die laatmiddag knal ’n skoot by ’n plaaslike uithangplek. ’n Jong kroegmeisie stort op ’n hopie agter die toonbank neer met ’n .38 koeël deur haar hart. ’n Verslae jong sekuriteitsbeampte gooi sy diens rewolwer op die toonbank neer en vlug by die deur uit.

Êrens huil ’n familie omdat hulle ’n geliefde verloor het en kwel ’n ander familie hulle oor die lewe en toekoms, van ’n jong man.

Vir maande lank volg almal op ons dorpie, en die hele Namibië, die verwikkelinge in die verhoor van die jong beampte. Hy verloor sy werk, sy vryheid… en sy onskuld.

Vir maande lank is almal seker hulle weet presies wat daardie dag gebeur het toe jong Theuns vir jong Jesica “vermoor’ het.

Vir maande lank klink dit asof daar meer as net drie persone daardie middag, op daardie oomblik, in daardie kroeg was.

Jare later en weinig mense onthou daardie middag. Nog minder onthou hulle vir Jesica, of vir Theuns. Jare later praat almal op ons dorpie, en ander dorpies soos ons s’n, oor ’n ander hartseer gebeurtenis. Skielik word almal rondom my “Pistoriuloë”.

Skielik weet elkeen meer oor Oscar en Reeva as die volgende persoon. BBC het ’n spesiale besprekings geleentheid oor die “sensless slaying of Pistorius’ girlfriend”. Hulle bespreek sy verskuilde karakter in diepte. Koerante saai sensasie met al die “donker kante van die held” en bespiegel oor motiewe, aksies en voorbedagte rade. Basuine klink duidelik: “FROM HERO TO ZERO!”

Êrens huil ’n familie omdat hulle ’n geliefde verloor het en kwel ’n ander familie hulle oor die lewe en toekoms, van ’n jong man.

Êrens probeer baie ander sin maak uit die sinneloosheid van alles.

Mense bedink redes en argumente oor die waaroms en hoekoms. Sommige gebruik dit om die politieke toestand onder ’n meerderheidsregering die skuld te gee. Ander weer, druk die vinger onder die duiwel se neus – want hy het al die liefde op die aarde kom steel en haat kom saai en ons almal kom dwing om boos te wees en verkeerde goed te doen en… en… dis alles sy skuld… Moenie die talle vergelykings tussen Reeva se dood en die aborsies in Amerika vergeet nie!

En ek, Jan N. Alleman, wat dink ek? Hoeveel antwoorde het ek? Niks.

Ek was nie daar nie. Ek ken hom en haar nie. Ek volg maar die sage soos wat dit afspeel – ’n rolprent storie in die regte lewe.

Ons huil omdat ’n jongmens haar lewe verloor het en omdat ’n jong man sy toekoms, sy vryheid… sy onskuld kan verloor.

Ons huil, want jare later sal min nog die name Oscar en Reeva onthou.

Net hulle wat die seer aan hulle harte voel sal onthou.

Related Posts

Totsiens Kaspaas Totsiens
Hartklop FM oor Meraai
Die Meester van Verdwaal

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

Translate »