Tuin in Damaraland
Bring jou Hilux Namib toe,
ek sal jou die modderhotel gaan wys
Nou raak ek lus om julle na my agterplaas te laat reis.
‘n Paar kilometer weg, loop Bennie in die sand
Dorre rou land !
Waar die Namibwoestyn se eindelose tweespoor paadjie,
jou in die nimmer einde laat verdwaal.
Jou laat vergeet van die sleg van die lewe …
Waar God Sy skoonheid wys, word jy vergewe …
Daar waar die sinkplaat jou vat
verby die Brandberg binne die Gobobos in.
Verby Amatismyne en klipkappers wat hoop,
wat die volgende gelukkie sal bring.
Langs die rots waar die Ai-Aiba jag maak om te oorleef.
en die varkie hom tuis maak tussen mens
om ook na sy deel te streef.
Tussen skelm kronkels wat styg en skielik wegsak
om jou maag te laat draai …
Okombahe verby.
Tot waar die son sy kop in skaamte sak agter die Brandberg …
tot more toe …
En die reisigershoop jou gretig laat gryp na klip
om ook deel te word van die monument.
Om dan n pizza te kan deel met Basil,
die ou legende van die Brandberg.
hy sal jou vertel die berg is honderd en dertig miljoen en 15 jaar oud.
Op die ou tinmyn se hoop kyk ons wes en kry koud.
So het Damaraland my verlief gemaak op sy son,
sy skurwe klippe,
en ook sy berg.
Waar is jy dat ek jou my tuin kan wys?
kom gou …
die tyd is nie op onse lys
EPENETUS © 2020
Ai ai meraai, jy maak groot verlang los. As mens self daar was, verstaan jy hoekom jou hart pyn as jy sulke mooi goed lees…..
Kyk mooi na die outeur – Nuwe talent in Uis ontdek. Penny du Toit is die skrywer van hierdie pragtige vers.
Dankie vir jul kommentaar – elke skrywer hou van terugvoer. Lees gerus ook van die ander artikels en laat weet wat julle dink.
Pragtig!
Wens ek kon inklim….en kom kyk!
Wens ek kon ry en langer bly…
Dankie vir die saamkuier op ons blog.
Dit is besonders. Ek word meegevoer
Ag dis pragtig!!!! Maak daai grense oop en ons is daar in groot getalle?????????