Mens!

Mens!

My liefste mens, het jy enige idee hoe gelukkig en bevoorreg jy is om te wees?

Net die feit dat jy bestaan maak jou uniek en fantasties, maar ook intiem deel van Die Lewe.

Ons Aarde is ’n wonderlike fantastiese plek om te wees. Selfs tussen – en ten spyte van – die gemors en seer en oorloë en droogtes en brande en derduisende ander aaklige goed wat jou hartseer en bang maak, is daar soveel mooi en geluk en wonderbaarlike ondervindings om in te deel.

Hoe sou ons ooit kon juig en dans oor reën, as ons nie die aakligheid van droogte kon beleef nie?

Hoe sou ons ooit ’n baba (diertjie) kon vashou en vertroetel met verwondering in ons harte as ons nooit die hartseer van weggooi en mishandeling kon sien nie?

Hoe sou ons ooit die kosbaarheid van lewe kon besef, as dood nie deel is van ons ervarings nie?

So kan ek aanhou en voorbeel na voorbeeld noem. Die feit is dat elke ervaring in hierdie lewe deel uitmaak van die mosaiek van Lewe. Dis die modderbruin en gitswart wat die pastelkleure uitlig en verhef.

Verheug jou in jou emosies. Almal van hulle. Lag uitbundig vir jouself in jou oomblik van woede. Spot maar bietjie met jouself as jy trots is op iets wat jy vermag het. Lief jouself in jou tye van hartseer. Wees intens dankbaar as die eensaam jou oorval. Verwonder jou in die ekskwisiete pyn van ’n honger maag en besef jou liggaam is ’n fantastiese masjien. Wees dankbaar vir jou pyn en hanteer dit met deernis.

Die Engelse sê: “Own it”. Alles wat jy voel is JY. Eers wanneer jy ophou veg en jouself begin verheug in alles wat hierdie aarde bied, sal selfs die lelike begin sin kry en vreugde jou vind.

Meraai

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.