Griffel Wenners

Engela Genis – 2 Toekennings

Oomblikke vasgevang in foto’s

My foto-album – een van my mees geliefde besittings. Die goeie ou dae is vasgevang in ‘n beeld op ‘n stuk papier…

Ek blaai dikwels deur my foto-album. Dis een van my heel gunstelling maniere om tyd te verdryf. Elke foto bekyk ek aandagtig en herroep die ou herinneringe.

My babafoto’s gee my soveel vrede – gaan terug na die tyd waar alles net lekker en jolig was. Daar was geen eksamen en geen vriendskapsprobleme nie. Alles was net ‘n plesier vir die klein rondekop dogtertjie.

Graad sewe afskeid. Die foto’s is so mooi, maar die herinneringe is so seer – herinneringe van bedrog en verlore vriendskappe.

My kroonverjaarsdag, een Mei. Daar is foto’s van ‘n witkop dogtertjie in ‘n fraai rokkie. Haar gesiggie is bruin van die sjokoladekoek. ‘n Herinnering wat ek nie het nie, maar die foto’s kan my wys van daardie kosbare tyd.

Ek en my boetie. Ons speel en lag in die foto’s, so natuurlik, so opreg. Kaalvoetkinders in ‘n modderbad, hulle baljaar tog te lekker. Veelkleurige balle en twee klein koppies wat uitsteek bo die water van Oupa se swembad, deurmekaar hare en blink ogies. Skuldige gesiggies met ‘n lekker in elke hand. Kindertjies wat in hulle swembroeke op miniatuur swart motorfietsies in die gang afjaag. Ja, dit was die dae toe ons nog enige iets kon dra. My kinderdae van Adam en Eva se skoene dra.

Jaco, my baba-pop. Baba op die heup en handsak oor die arm loop die dogtertjie die hele wêreld plat in haar ma se skoene. Gesinsfoto en Jaco moet mos ook by wees. Jaco en my boetie met dieselfde klere aan, kamstig ‘n tweeling. Prettige herinneringe van my geliefkooste “kind”.

Ek maak my album toe… ek weet: mense wat verander en my verlaat sal altyd by my bly in my foto-album.

Met trots geborg

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.