So lyk ‘n man

Iemand sê nou die dag  “hulle maak nie meer mans soos in julle se tyd nie” en ek begin herkou hieraan.

Wat het dan verander wat maak dat vandag se mans anders is?

Ek sien hoe die modes verander, die selfoon era neem die mens oor, manne word “huisvrouens” terwyl die vroue broodwinners word. Manne kook kos en karwei kinders skool toe en terug, sport toe en terug terwyl die vrou haar plek in die korporatiewe wereld vol sit.

Ek sien mansmense met slap houdings. Skouertjies wat hang en voete wat sleep met sloffies aan wat lanklaas houding gehad het.

Het die man sy plek verloor, het hy eenvoudig ge-abdikeer of is daar ander redes vir veranderinge in die man se wereld?

Dan dink ek aan my eie ou vader. ‘n Fris man met ‘n doelgerigte stap waarheen hy ookal wou gaan. Hy was baie sterk en hy het leiding in sy huis gegee. Hy het die kinders betrek in die huishouding sodat ma nie alles moes doen en kinders nie leer om die lewe te lewe nie. Hulle moes verantwoordelikhede kry en leer om dit nougeset uit te voer. Kinders moes skool vakansies werk soek waar hulle ‘n geldjie kon verdien het om te spaar vir na matriek.

So het ek my eerste kar met my eie spaargeld gekoop wat ek in vakansie tye verdien het en ek kon van my klere ook self koop.

Pa het oggend en aand godsdiens gehou want dit was die basis waarop hy sy gesinnetjie gevestig het. Pa was ‘n man van sy woord. As hy ja gese het, was dit ja al wou hy agterna sy besluit verander het. En as hy nee gese het kon jy op jou kop staan. Nee is nee.

Pa het altyd sy beloftes nagekom en as dinge so verander het dat hy dit nie kon doen nie, het hy dit uitgepraat met die een waaraan belowe is.
My pa was ‘n reguit man. As iets hom gepla het, het hy dit aangespreek en die resultaat aanvaar. Al het hy soms verloor in die proses. Hy het ons geleer om dinge met belanghebbendes te bepraat sodat alle betrokkenes in ‘n saak elkeen presies weet waar hy staan.

En hy het altyd gese, ” wys my nie wie jou vriende is nie, wys my hoe lyk jou kar en jou skoene, en ek sal jou se wie jy is”.

‘n Trotse man se kar is skoon en daarom breek hy nie maklik nie. En as ‘n man se skoene skoon is, sal hy sy vrou ook goed behandel. (Snaaks hoe gereeld ek na manne se skoene kyk waar daar manne bymekaar is).

Pa het altyd die swakkere beskerm. Hy het diere liefgehad en hulle goed versorg want hulle kon dit nie self doen nie.

Ek dink my pa was ‘n man der manne en ek sou graag soos hy wou wees. Foute en al.

4 kommentare op “So lyk ‘n man”

  1. In die ou dae het Ma vir die stout kinders gesê, as julle pa vanaand by die huis kom gaan hy julle stukkend slaan. Nou sê die pa, as jou ma vanaand by die huis kom en ek vertel haar hoe stout julle was, sal ek maar in die spaarkamer moet slaap.

    1. Jaaaa!! Jan, party manne is bang vir hulle vrouens. Met die tendense vandag waar die vrou haar “man” moet staan in die korporatiewe wereld, kan dit soms rof raak.

  2. Sowaar ook is manne soos daai aan die uitsterf. Min van vandag se mans het nog daai imbors en trots en innerlike krag. Weet nie hoe ons wereld oor nog ‘n generasie gaan lyk nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.