GEBEDE MET DIE WIND
ek is jou mamma,
dra jou teen my bors, voel jou in my hart
beleef jou pyn met smart
ag waarom kon ek dit nie keer nie
dat die lewe jou van droefheid leer nie
ek wil dit als by jou kom haal
dit stukkend trap en weggooi in die see
hier staan ek so verleë
want my hande is leeg, al pyn dit in my gees
ek kan nie die oorwinning vir jou gee nie
kan jou hart nie heelmaak
jou nuwe blydskap bring nie
of soos kleintyd vir jou liedjies sing nie
kan nie in jou plek kom staan nie
vooruitloop op die pad wat jy moet gaan nie
my liewe liefste kind
vir jou stuur ek duisende gebede op met die wind
– Dalene Mellet