Gedenkdiens op veertig


Toe hy die deur agter hom toemaak, is haar oë droog. So droog dat sy haar haas na die medisynekassie. Daar staan die botteltjies in netjiese rytjies, gesorteer volgens elke mediese probleem wat oplossing soek. Sy kyk skewekop vir die dak en skiet die oogdruppels sekuur in elke vlesige traanhoekie. Knip – knip haar oë ‘n paar keer.

Maar realiteit bly realiteit, al knip jy jou oë hóé. Niks gaan verander nie, dis finaal verby. En nou is sy ook al veertig volgende week. Gerhard het iemand anders gekry, een wie se medisynekassie soos ‘n muisnes lyk, om mee te begin. Thea weet, want hulle het een aand daar gebraai en sy het kopseer gehad. Die gasvrou het haar na die badkamer verwys en gevra of sy sal regkom. Terwyl Thea in die kassie gekrap het, kon sy hoor hoe haar Gerhard vir een van Lee-Anne se lawwe grappe lag. En die pyn in albei haar slape het diep gedolk.

Thea het nog altyd geweet wanneer twee mense vir mekaar bedoel is. Dis of dieselfde helder lig in twee pare oë brand, asof die een die ander aangesteek het en hulle net wag om mekaar te vind in onblusbaarheid. Sy kon die liefde al van ver af sien kom, lank voor die betrokke paartjie in verdwasing moes toegee. In twee gevalle moes sy ‘n bietjie aansporing toepas op die steeks wederhelftes, wat haar op hul troues dankbaar geprys het vir haar pasmaakvaardighede.

Sy het nooit kon dink die vaardigheid sou terugkom om haar te byt nie. Sy kon nie die twee helder ligte, wat so stil en standhoudend in gelid brand, miskyk nie. Toe moes sy die knagende kommer besweer in die dowwe spikkels lig wat haar verlowingsdiamant teen die wintersonmuur gooi. Vir maande het sy Gerhard subtiel probeer oorreed om op ‘n troudatum te besluit, subtiel, want hy laat hom nie in ‘n blik druk nie; sy het geleer dat te veel druk hom laat onttrek. En die laaste ding wat sy wou wees, was ‘n jaloerse meisie.

Toe kom die troue waarna hulle vriendekring al heeljaar uitsien. Deon, die ewige oujongkêrel, trou op vier-en-veertig met Anja, nog heel onaangeraak deur ouderdom in haar middel twintigs, ‘n rietskraal lyfie in wit satyn en kant wat net liggies aan die heupies raak. Thea het oud gevoel, en jaloers. Anja het tyd aan haar kant gehad, tyd om haar huwelik te geniet voordat hulle rustig, met al die tyd in die wêreld, ‘n gesin kan begin. Die wete het Thea se keel verstop en sy kon niks afgesluk kry nie. En as sy na Gerhard gesoek het, was hy by die tafel waar Lee-Anne sit, diep in haar geselskap. Het hy Thea se oë op hom gevoel, het hy vinnig verskoning gemaak en weer by sy verloofde kom sit. Uiteindelik het Thea maar met Marinda se babatjie gespeel – die pragtigste ou dogtertjie – ‘n servet oor haar eie gesig gegooi en die dogtertjie met waar’s-hy-waar’s-hy-daar’s-hy vermaak.

Daardie aand, of eerder eenuur die volgende oggend, toe sy en Gerhard voor haar woonstel stop, wou sy antwoorde hê. Sy wou haar kleim afsteek, daardie aand nog.

“Gerhard, wanneer besluit ons op ‘n troudatum? Ons is al ‘n jaar lank verloof, weet jy,” het sy hom konfronteer.

Hy het eers nie geantwoord nie. Toe kook haar impulse oor.

“Wat gaan aan met jou en Lee-Anne?”

Hy het haar verbaas aangekyk. En toe het sy gewete sy wange verkleur.

“Kan ons môre hieroor praat? Dis laat, Thea.”

“Ek wil nou weet.”

“Thea, asseblief, gaan slaap. Môre lyk alles beter.”

Sy wou hom glo. Maar sy rooi wange het haar slaap gesteel, haar nag was vol nagmerries met verbaasde, rooi wange.

Hy het kom om verskoning vra dat hy haar afgeskeep het by die troue. Hulle het op ‘n troudatum besluit. Sy was verlig en het die stemmetjies van waarskuwing ignoreer. Sy het tydskrifte met trou-idees gekoop. Hulle het saam ‘n wynplaas besoek as ‘n moontlike trou-lokaal.

Dit was verlede week.

Vanaand het hy hier opgedaag met neergeslane oë. En sy het geweet.

“Thea, jy was reg.”

“Waaroor was ek reg?”

“Oor my en Lee-Anne. Daar is iets tussen ons. Ek… Ons… Ek dink nie ek en jy moet trou nie.”

“Maar… Ons is al so lank saam. Ons staan op trou!”

“Thea, dink mooi daaroor.”

“Gerhard, ek is… ek is… lief vir jou.” Sy het gesukkel om dit geloofwaardig te laat klink.

“Thea, ons moet omdraai voordat dit te laat is. Ek gaan nou eers. Ek sal môre my goed kom haal wat hier is.”

Gerhard was nooit die tipe wat ‘n groet wou uitrek nie.

Twee dae later loop sy met ‘n tweemandjietrollie in die supermark. Sy het nog steeds nie gehuil nie en sy is nog steeds volgende week veertig. Sy wonder of sy ‘n partytjie kan hou as sy nie regtig haar vriende kan nooi nie. Dit sal mos nou ‘n ongemaklike bedryf afgee, want almal is gemeenskaplike vriende van haar en Gerhard.

Hoe sy daar geland het, weet sy nie, want dis nie ‘n gangetjie wat sy normaalweg sou besoek nie. Sy staan skielik voor die rak met weggooidoeke en staar na ‘n babatjie: poeiersagte velletjie, pofknietjies en pofhandjies wat ‘n lyfie stut, blink ogies en ‘n tandelose lag. Sy staan lank so en skielik, asof vanuit ‘n tonnel, hoor sy hoe water plop-plop op plastiek drup. Dit neem ‘n tydjie voor haar oë fokus en sy besef dis haar eie trane wat in lang straaltjies afloop teen ‘n pak doeke, wat sy krampagtig teen haar lyf geklem het. In ‘n dwaal laat sy die pak doeke vry, vee haastig met haar mou oor die nattigheid en plaas die pak versigtig terug op die rak.

Toe is haar hande leeg. Haar bors voel verdroog van onbruik. Haar hele lyf voel léég. Die kans dat sy ooit ‘n poeiersagte lyfie sal vashou, iemand vir wie sy ‘n naam kan kies, iemand in wie sy haar vrouwees tot vervulling kan bring, het weggesyfer, oornag.

Verpletter stoot sy die trollie verder en wonder: As sy dan nie ‘n verjaardagpartytjie kan hou volgende week nie, sou sy ‘n gedenkdiens kon hou? En kan ‘n mens ‘n gedenkdiens hou as niemand gesterf het nie?

©Marieta McGrath

Een gedagte op “Gedenkdiens op veertig”

  1. Og dis goed geskryf, maar los my met klomp gemengde gevoelens.

    Jammer vir haar wat die tyd voel uitloop – en die desperaatheid wat begin deurslaan.

    Hoop sy vind sommer gou vreugde.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.