Om weer te droom
vernietig, verydel
keer op keer weer gesteel
sprinkaanswerms, rot en mier
elke tipe vernietigende dier
warm winde, pes en plae
het elke keer my droom gesteel
opgevreet en uitgedroog
tot niks
tot niks en nooit meer
saad of droom
tot nou … tot nou
‘n enkel pit sommer so
argeloos in die grond gedruk
het sonder sorg self gegroei
by my venster ingebloei
my huis se dak toegerank
purper blomme in die wind
ek dink ‘n droom het my gevind