Droom Jy Nog Alleman

0 $

Deur: Jan N. Alleman

 

Walt Disney het gesê dat as jy dit kan droom, kan jy dit doen.

Die warm windjie woel tussen die blare van die palmbome. Goue strande lok mense uit hulle huisies na waar vonkelende waters rond baljaar. Naby die pragtige wit sand, droom houthuisies met glas vloere, hulle voete ‘n meter diep in die vlak water. Net ‘n gedagtesprong verder, langs die rotse, steek ‘n klein hout kaaitjie sy vinger die see in. ‘n Soel somersaand op ‘n paradys eiland. … Ek staar, ek dink, en ek dink en ek staar. PARADYS EILAND.

Later die oggend wys ek, bedeesd opgewonde, steeds dromend en heel onnadenkend, die kleur brosjure aan my Vlam. Vroulief kyk, en kyk, en kyk, vlug met my Suid-Pool toe en druk my kop die ys water in: “Jan, kom terug aarde toe…,”

En Jan kom terug aarde toe.

Geveg gereed kom Jan terug aarde toe. “Ek droom. Dit kos mý niks en dit kos jou nog minder.” Vies dat mý droom op mý paradys eiland so wrede aborsie moes ondergaan, tog kalm en bedaard, ten volle in beheer, giet my Vlammetjie olietjies op die troebel stormwaters: “Ek weet, ou Strooi, en ek is vreeslik jammer om jou droom so te verpletter, maar…”

Oe! Ek VERPES daardie maar. Elke keer as daardie maar hom vier voet hier voor my kom staan maak, dan… dan neem ‘n ongekende Jan my oor, en daardie Jan wil dan sommer met ‘n olifant stoei.

“Jy weet wat die werklikheid is,” maal sy soos ‘n trekkende trop buffels deur my gedagtegang. “Daar is op dese aarde geen manier dat ek en jy so vakansie sal kan bekostig nie. Inteendeel, jy weet dat ons nie eers ‘n vakansie in Suid-Afrika kan bekostig nie. Om die reine waarheid te praat; Ons kan nie enige vakansie bekostig nie. Punt.”

My Vlam brand. Sy skroei my verysde hare. Smelt my weerstand teen die werklikheid weg, en brand die waarheid pik-steenkool-swart in my hart vas. Sy draai weg en raak besig met die werklikheid: Skottelgoed, wasgoed, allerhande ander goed. Skoorvoet, en met ‘n ontluikende middeljarige kwaai mus, vlug ek, weg, ver weg, tot in my motorhuis se kleinste hoekie. Daar waar my werkbank, en my draaibank, en my ander hout gereedskap staan. Ek smeul.

In my binne goeters is daar ‘n opstand op pad – ‘n staatsgreep. Nee, ‘n volskaalse rewolusie! Mý persoonlike rewolusie. Een wat die Franse rewolusie, die Rooi rewolusie, na ‘n klapper in ‘n Hoëveld storm sal laat lyk. My draaibank se omwenteling is skaars twee tellings meer as die in my kop. Sowat ‘n uur later lyk ‘n friserige stomp meer na ‘n vuurhoutjie. Boonop is dit sonder vorm of doel, en ek broei.

“Werklikheid,” ek rol dit, soos kleintyd se spinasie, in my mond rond. Ek rol dit in my gedagtes rond totdat die woord later geen smaak of sin meer het nie. “Werklikheid.” ‘n Opstand is gebore!

Middagete kom kry my waar ek peinsende in my halfklaar droom-stoel sit en tokkel op my halfklaar droom-kitaar. Vol houtstof van my werklik heel klaar boomstomp-vuurhoutjie. Die osse het aangestap deur die stowwe, ‘n boompie het terug gebuig, en stormwaters is weer vaarbaar. Leed is vergete en die werklikheid is dat ek ontbyt verdroom het. Vrek honger sluip ek uit my stofkas weg. Kwaai mus bly in die houtstof agter en skoorvoet word katvoet wanneer ek na binne dwaal vir middag ete. Innig dankbaar dat ete, deur die ongeskrewe ordinansies van die Allemans, tot neutrale grond verklaar is. Hier word geen struwelinge of strydigheid geduld nie. Die Despoot van hierdie “Oikos” het verklaar dat Dokter plegtig sal getuig dat tafel-ongeruimdhede tot slegte spysvertering lei.

Na middagete keer my Vlam weer terug na haar werklikheid. ‘n Pragtige groot wit lap word op die werktafel in haar kuns kamer oopgespan om bekuns te word. Lapverf is Vlammetjie se stokperdjie. Die ruimtes waar haar drome die doek met werklikheid bevlek, waar droomgedagtes tafeldoeke word.

Sport is myne, en in my seun se eie woordeskat, het “couch pattato” toe sommer Bank patat geword. Vandag besluit hierdie bank patat toe maar om op te hou droom dat sy span sal wen en iets daaraan te doen. Ek mars na my studeerkamer, sak voor die rekenaar neer. Die eerste blitse van die donderstorm klief deur my bewolkte gemoed. Agt bladsye later besluit ek dat die Transvaalse Rugby Unie niks daaraan kan doen as die spelers nie die toeskouers se droom in werklikheid kan verander nie. Die rede blyk vir my voor die hand liggend: Of hulle hou van droom en vlug van die werklikheid, of hulle lewe so plat op die aarde dat hulle nie meer kan droom nie…

Terwyl ek tussen mymering en verspreide donderbuie strompel, lui die voordeur klokkie. My seun en sy oulike vroutjie betree ons heiligdom. Dis Saterdag – Familiedag – Braaivleis-dag! Vandag droom ek egter nie oor ‘n rustige aand gevul met die geur van boerewors nie. Ek bly op die aarde, waar die warm vlamme woel, en rook jou oë en neus brand.

Ek raak bewus dat hy my dophou en voel meteens soos ‘n veldmuis voor ‘n slang.

‘Dads, wat knaag?” pik hy. Ek kon hom nog nooit flous nie. My seun was van kleins af ‘n baie skerpsinnige persoon.

“Drome en werklikheid,” hyg ek tussen die rook en vlamme, en gedagtes aan Springbok glorie, deur.

“O!”

Ek het mos gesê dat hy baie skerpsinnig is. Hy weet presies wanneer ‘n man moet praat – en wanneer dit raadsaam is om die stilte voor die storm te bewaar.

“Dads, jy weet…

Dis ‘n groot storm met ‘n kort stilte.

“… soms voel dit vir my asof almal rondom my die begeerte om groot te dink verloor het. Ek het hierdie drome vir my besigheid en ‘n klomp ou nat lappe wat my met elke geleentheid terug rem…”

Dis ‘n GROOT storm!

“Dads, vertel my weer van drome en werklikheid?”

“Ek het nog niks vertel nie.”

“Okay, so vertel anyway.”

Praat ons jong mense nie meer Afrikaans nie, moet hulle immer in een sin wys dat hulle meertalig is?

“Laat staan, dis ‘n lang storie, my seun. ‘n Baie lang storie.”

My seun is nie net skerpsinnig nie hy is ook baie wys.

Die res van die aand terg die reuk van boerewors soms tussen die rook en vlamme deur, en later wil die sosatie walms soort van oorneem. Tog word daar versigtig geskerts oor koeitjies en kalfies, ramme, prosesseerders en grafiese kaarte. Sport en kuns en lang vakansies moet maar eers Raka in die donker buite kring bly.

Skielik, teen die middel van die aand is ons eensklaps alleen, heilig, veilig.

My Vlam is besig om die laaste van haar werklikheid op te ruim terwyl ek na buite vlug met ‘n lang beker koffie. Ek sak in my gunsteling stoel op ons kamer se balkon neer, en begluur die maan.

Sonder waarskuwing of wekroep van die wagter op die mure, slaan my Vlam op my toe.

“So, het jy al die antwoord op die vraagteken tussen jou oë?”

“Ja.”

“En…”

“Wel, soort van.”

“Én?”

“Hoeveel van jou werklikheid is iemand anders se droom?”

“Wat bedoel jy?”

“Presies dit. Hoeveel van dit wat jy as werklikheid beleef, is iets wat iemand anders gedroom het, en nou werklikheid geword het. Meer, nog wat iemand anders dalk nou oor droom…”

“Ek luister.”

Kyk na jou werk en my werk. Waar ons is, was nie van altyd af daar nie. Julle onderneming was George se droom, wat hy werklikheid gemaak het. Julle werklikheid was eers iemand se droom. Nou leef julle daarin asof dit altyd so was en vir altyd so moet wees. Iemand het gedroom…”

Woorde raak te veel.

‘n Klein wolkie trek voor die maan verby, en ons staar oor die balkon se reeling na die liggies van die dorp. My Vlam vat my hand, en gee dit ‘n ligte drukkie en soen my saggies op my wang.

“Ek verstaan,” fluister sy in my oor, “soos ek oor jou gedroom het…”

Werklikheid ontplof soos vuurwerke in die donker nag. Paradys eiland se sonnetjie sak in my gedagtes terwyl ek die Werklikheid van my lewe styf teen my bors koester.

 

Gepubliseer deur

Jan N. Alleman

Ek is Jan: My hartland is dié dorsland, hier waar duin en see-in ’n liefdesverhouding lê. Waar bos en bok skugter wegkruipertjie speel. Waar mens maar net ’n kuier-kind is. ’n Kuier-kind wat lewe vind wanneer hy stil raak en op sy knieë sak. Ek is Jan: Ek skryf oor die goeterse en gevoelens wat alleman mee ploeg. Ek skryf dit op 'n ander manier. Ek is net Jan N. Alleman...

Een gedagte op “Droom Jy Nog Alleman”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.