Die Taal van die Hart

0 $

Deur Jan N. Alleman

 


Geliefdes, dierbares, vriende, vriendinne, familie, kollegas, volgelinge, vervolgers en belangstellendes, elke horende en nie horende oor:

Ieder het al ietwat te sê gehad oor ’n sanger en sy politieke polemieke. Lief my. Loof my. Draai maar ’n dowe oor of ’n blinde oog of braai my, maar my stoelkussing brand rooi-warm stoofplaat onder my agterend.

Dit is hoogtyd dat ek ook tog ’n stuiwertjie in die beurs moet plaas. Let wel, plaas, nie gooi nie. Nee, gooi klink gewelddadig en dit is allermins my bedoeling. Ook nie werp nie, dit klink soos roekeloos wegslinger. Plaas, netjies en sagkens met innige gevoel van deernis en ‘n deur dronke empatie met hoe andersdenkendes van my volkie voel.

Dink ek aan die nuwe Phoenix van Afrikaans en sy welkome pogings om so ’n Louis Botha van ouds die Afrikaner volkie tot nuwe hoogtes aan te roer. Dié streef om hulle te verenig in mensies met ’n doel! Dan kan ek nie anders as om aan die ou tante op die klein dorpie iewers in die suiderland te dink nie. Die tante was welbekend vir haar geduld, wysheid en onvermoë om kwaad in enige mens te sien.

Welbekende storie hierdie, welbekend. Dit was juis die tante se roekelose onvermoë wat die plaaslike kerkraad en bekleër van die toga warm onder die boordjie gelaat het. Tog! Daar is waarheid: Elke mense moet een of ander tyd besef dat daar nie net goed in alles is nie. Gewapen met ’n strikvraag, nes ’n fariseër van ouds, neem dominee die plig op hom om die tante te besoek en te verlig. Dit is nou verlig soos in die Oosterse konteks – om die oë te laat oopgaan!

“Tante, u sien net altyd goed en praat net altyd goed van ander, maar daar moet tog iemand wees wat u as boos, of sleg, of minder goed beskou, dan nie?”

Die tante kyk van haar hekelwerk op en dominee raak effens op sy senuwees en las haastig aan: “Ek bedoel nou neem die ou listige duiwel, wat goed is daar in hom?”

Die tante sit haar hekelwerk op die tafel neer en staar stip in die man van die kleed se oë. Na ’n lang, baie ongemaklike stilte sê sy: “Dominee, jy moet erken, die duiwel het geen lui haar op sy kop nie…”

Nou laat dit baie duidelik en onomwonde hier op skrif staan: Vir geen oomblik vergelyk ek onse sangertjie met die duiwel nie! Nooit sal ek dit durf waag om so iets kwyt te raak nie! Wat my wel roer is hoe die herder en die raad so innig meegevoer was deur die vloed van hulle begeertes om iets te probeer bewys dat hulle die kruks van die saak gemis het! “Die pot mis gesit het,” sou my Oumatjie gesê het, en vir al die minder jonger garde wat weet van katels, koffers en kose sal die prentjie in my geestesoog baie mooi verstaan.

Ek betwyfel vir geen oomblik dat onse sangertjie belang daarin het om Afrikaans en die belange van die Afrikaner te bevorder nie, maar, soos die Ingelse sal sê, wat is die “spinoff” daarvan vir hom? Wag, wag! Moenie my sê nie. Gratis bemarking. Gratis massa bemarking en ’n ondersteuners aanwas van… wie weet en wie kan raai – en wie gee ‘n duit om.

Ons vir jou Suid-Afrika. Ons werp ons stuiwers, munt en noot, in beurse – beurse wat soos voerkraal beeste gedy. Solank iemand net tog asseblief die regte goeterse sê. Solank die voor-praters tog net klink asof hulle ons “song” sing. Solank my ras verkleurde hart net ’n strooihalm hoop kan vasgryp en glo dat God ons uitverkies het…

Sit ek hier voor my rekenaartjie en ek wonder hoeveel van Meester Adam Small se mense se stemme saam sal opklink oor hulle se taal – Afrikaans. Of ou Maria, ons Sotho huishoudster in die 70’s, wat sonder skroom niks ander as Afrikaans wou praat nie. Hoe voel sy? Hoe voel die kinders van die Kaapse vlaktes wat net in Afrikaans kan speel, maar wat swart onder die Afrika-son verbrand is! Ja, Afrikaans is GROOT! Dis groter as ’n kleur, ’n sanger, ’n politikus of enige groep mense.

Hier is my stuiwer, wat ek sagkens, liefdevol in die oorvol koffer wil plaas: Afrikaans is die taal van ’n hart, nie die taal van ’n velkleur nie.

 

Gepubliseer deur

Jan N. Alleman

Ek is Jan: My hartland is dié dorsland, hier waar duin en see-in ’n liefdesverhouding lê. Waar bos en bok skugter wegkruipertjie speel. Waar mens maar net ’n kuier-kind is. ’n Kuier-kind wat lewe vind wanneer hy stil raak en op sy knieë sak. Ek is Jan: Ek skryf oor die goeterse en gevoelens wat alleman mee ploeg. Ek skryf dit op 'n ander manier. Ek is net Jan N. Alleman...

Een gedagte op “Die Taal van die Hart”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.