Afrika
as die gemsbok teen die duin
se horings in die fel-son blink
… sien ek Afrika
as die eerste donder-druppels
op die dorheid van sy aarde val
… ruik ek Afrika
as die jakkals teen die sekelmaan
sy eensaam lot hartseer bekla
… hoor ek Afrika
as sy son my brand
waar ek kaalvoet loop
na waar wye horisonne roep
… voel ek Afrika
as ek op my maag plat gaan lê
my dors met sy soete waters les
waar rooivin vissies dartel-swem
in sy blinkskoon bergstoom koel
… proe ek Afrika
as ek vanaand my kop neerlê
onder sy nagswart sterkombers
in stilte ongehoord
… lief ek Afrika
dan skrik ek uit my droom
met vreemde onverstaan
ek sien die meslem blink
sy reuk is bitter-rubber rook
ji-ji-ji sy haatspraak taal
sy waters groen geslik
hy brand … hy brand
en die donderwolke trane
sis in sy haat se vlam
die troos … my troos
as die kluite op die blinkplank val
dan oplaas in ongekende vredeslied
word ek geheel-en-al
… deel van my Afrika