aan die Vaal
My kinderdae is gegiet
diep in Vaal rivier graniet
droom gedagte tuimel-dans
struikel stroom af en verder langs
twee vissers wat mik-stok in stiltes wag
waar die son sy lig vingers sny
in die donker keel van die water
geel vis gly, skuim bank, plaas en oord verby
ons jong lywe bruin oor die rotse gebak
louter lui gemak saam, die hang wilge
lang are nat en groen gedrink
ewig tuis onder die somer siklus
wie weet blink daai vink nog tussen die riete
waar die likkewaan ys-koud vir jou loer
van klip spring en klei-lat looi na sy lê en roer, dan
by son ’s onder, biesies vleg, vleg en bind, ma se kind
my wese is daar gegiet
diep in Vaal rivier graniet…
van die kranse weerklink
Visarend en voet-pad se Piet-my-vrou
ons roep-stemme stilweg in klowe gevou
doof gefluister in ‘n varkens oor
en so kamp ons teen die nag se wal
vuurvliegies weerskante van die Vaal se loop
beelde glinster spat uit die teater maan
swem dan terwyl jy kan, maak los jou hou vas
Die swart modder peul tussen my tone
ek maak toe my oë
en die wêreld dryf geblinddoek voort…
Pragtig!