Kat (k?) en hare

Moeg geveg.

Nee, ek sit nie 4hoo in die oggend en skryf omdat ek insomnia het of niks beters het om met my tyd te doen nie.

Ek sit en skryf omdat ek die oorsprong van die gesegde K@k en hare bedink.

Iemand het êrens in die verlede hierdie ding verkeerd gehoor en toe is hy maar so verkeerd-verkeerd voortgedra.

Laat ek by die begin begin.

Karolus my vetkat is ‘n baie besitlike en veglustige kat. Nie altyd nie – slegs as ander diertjies op sy erf kom.

Nadat ek in die cottage ingetrek het, het ek gehoor van die arme kietsie wie se mense ook getrek het en dat hy baie swaar kry in pleegsorg. Nie omdat hy verwaarloos word nie – maar omdat hy verskriklik bang is vir die ander kat en honde daar. Gevolglik bly hy toe al meer as drie maande net onder in een van die kaste.

Elk geval, ek bied toe aan om hom te vat. Sonder dat ek eens geweet het hoe hy lyk of wie hy is. Kort storie – ons het sommer dadelik aanklank by mekaar gevind en sonder enige drama is hy in my arms, in die kar en huis toe.

Drie dae nadat Karools nou by my ingetrek het, kom kuier ‘n vriendin en sy bring haar JR, genaamd Roxy saam. Dit was die eerste tekens van Karolus se gesplete persoonlikheid.

Arme Roxy het nog heel opgewonde die huis besnuffel toe is daai kat met al 5 skerpkante bo-op haar. Arme Roxy het die res van die kuier bewend op haar ma se skoot gelê en ‘n week lank kruppel geloop.

Daarna was daar nog ‘n paar gevalle van kuiermense wat se diertjies deurgeloop het.

Die groot moeilikheid kom toe nou met die buurkatte.

Sien ons bly op die grond met ‘n lekker klein erfie en baie hoë mure. Die ander twee woonstelle is op die eerste verdieping van die gebou in wie se erf ek bly. Hulle het ook katte.

Groot vet siamese vegters.

Tot onlangs toe het die katte net tot op my dak gekom en dan het hulle daar van bo af en Karools hier van onder af op mekaar gevloek en belowe…

Wel laasnag het een dit nou tot in die erf gemaak.

Die eerste keer word ek wakker teen die ceiling soos ek skrik vir die onaardse lawaai reg voor my kamer. Liewe genugtig! Ek het al katte hoor skel op mekaar, maar hierdie was soos demone uit die hel! Die geluide wat daar uitgekom het en my uit my slaap geruk het is nie oorvertelbaar nie.

Wel, ek skel toe saam en vir ‘n rukkie stel hulle die volume genoegsaam af dat ek weer kan insluimer.

Ek word wel nog so paar keer teen die ceiling wakker. Die semi-finaal was hier net na 3 wat die geveg tot binne-in my kamer gevorder het! Nou is ek al hoogs bedonnerd, kopseer van te min slaap en gatvol om elke halfuur wakker gemaak te word.

Ek verjaag die inbrekerkat en maak die skuifdeure toe met Karools binne en die siamees buite. EN hoop om nog ‘n bietjie rus in te pak, alhoewel dit ongemaklik warm is met die toe deure.

Tot dusver was dit nog net ‘n belowe sessie. Korreksie – ‘n hele klomp belowe sessies met die 2 wat om mekaar draai – hare en sterte opgepof, spoegende en skellende. Maar daar was nog nie kontak nie.

Met Karools op my voete, dommel ek weer weg.

Sowaar as vet breek daai vreemde kat weer ‘n keer in my huis in en ek word wakker van die geveg reg voor my bed, bo-oor my bed, teen die kaste op, teen die mure op…

Dis net kat en hare waar jy kyk! Ek moet koes en keer om nie in die middel van hierdie twee furies te beland nie. Om hulle te probeer keer is onmoontlik – daar is nou 10 skerpkante betrokke in hierdie malende skellende wolbol wat met die spoed van witlig deur my kamer bons en alles in hul pad vernieting.

Ek pluk die deure oop en besem in die hand kry ek die boef verwilder.

Daar lê genoeg hare deur die vertrek versprei om nog 2 katte te bou!

Nou ja, toe sit ek maar die ketel aan en begin die kathare opvee. Bollings van hulle.

Ek dink die oorspronklike gesegde was “Kat en hare”. Dit maak nou vir my ook sin.

Dagbreekgroete

Meraai

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.