Die bruinvy

Van altyd af was vye vir my spesiaal. Lank voordat dit nog modekos was, was dit al my geliefkoosde vrug.

“Woestynkos,” het Pa gesê. “Dit en granate en turksvye en dadels. Dis hoekom die Bybel van die vroegste tye af daarvan praat en dis hoekom dit hier groei.”

Op ons bykans waterlose plaas in Namibië, was die twee reuse vyebome, die turksvye langs die dam en die granaatbos langs die watertenk vir ons kosbaar. By Ouma en Oupa op die dorp, was daar dadelbome langs die voor van die waterputs wat nog uit die Duitse tyd dateer het. Tot vandag toe, is dit vir my ondenkbaar om die lewe in te dink sonder vye, granate, turksvye en dadels.

Ma het van die die vye vir ons vyelekkers, vyerolle en gedroogde vye gemaak. Daarvan van gedroogdevye my heel, heel gunsteling.  Die dadels het sy in plastieksakkies laat sweet en weggepak vir die vrugtehonger wat saam met die winter en die westewind kom. Sy het turksvystroop en turksvykonfyt gekook. Natuurlik het sy ook vyekonfyt gekook. En granaatstroop wat ons in die somer met water en ys gedrink het. Baie werk, liefdeswerk.

Maar die lekkerste, die heel, heel lekkerste, was as ek soggens kon opstaan, die vye uit die boom gaan pluk , met die nag se koelte nog tussen die blare en in die pienk blommetjiesharte van die witvye. Die jeukerigheid wat die blare veroorsaak het, het jy sommer in die krip gaan afspoel. Daar was vye wat papryp was. Pure stroop, heerlike soetheid.

Natuurlik wou ek my eie vyeboom hê toe ek uiteindelik die grond, die tyd en die plek het om tuin te maak. Ek kry nêrens vyebome te koop nie. Tot nou die dag. Ek koop twee boompies. ‘n Kaapse bruinvy en ‘n adamsvy. Ek kon die eerste ryp bruinvytjie Sondag pluk. Ek neem die foto. Ek ruik aan hom en dra hom op ‘n glasbakkie na my Lief in sy kantoor. Ek lees Opperman se  gedig vir hom:

DANK

Ek bring aan jou die eerte vrugte van die land/ met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:

‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand/gedra as nuwe hulde van seisoen en tyd;

jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei/ waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel

sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my / en val die geil reëns van die berge sonder doel.

Toe deel ek die vye in twee. Dit smaak hemels, dis kosbaar, dis dankbaarheid. Een enkele vy wat my so ryk en bevoorreg laat voel.

Geskryf deur: Brechje Visagie

 

Een gedagte op “Die bruinvy”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.