Oom Fred, die leeu en die stadshond

0 $

Oom Fred Siemens het op die plaas Robyn geboer, doer in vandag se Damaraland (dit was nou voor die Odendaal-komissie die plase uitgekoop het om die gebied te vorm wat vandag bekend staan as die Kaokoveld, oftewel Damaraland).

Daardie jare was daar ongelooflik baie leeus in daardie gebied en die boere het baie beeste en kleinvee verloor. Die leeus het gou agter gekom dat ‘n bees makliker vang as ‘n gemsbok. Die geveg tussen boer en leeu was dus ‘n realiteit. Oom Fred het baie honde verloor in sulke gevegte, want ‘n hond moet van anner stoffasie gemaak wees om ‘n leeu te pak.

So bel ‘n kennis van die Siemense eendag uit Windhoek. Oom Fred tel die telefoon op: “Siemens hier.”
“Middag, Fred, dit is Klaas hier van Windhoek wat praat. Hoe gaan dit?”
“Middag, Klaas, dit gaan goed man, dis goed om van jou te hoor, die leeus pla net baie, maar die veld is geil vanjaar en die bees blink van die vet!” antwoord oom Fred.

“Wel, Fred, dis nou juis hoekom ek bel, jong, ek het hier ‘n verskriklike stuk hond,’n bullmastiff gekruis met n Rhodesiese rifrug. Hy verskeur al wat hond en kat is in die omgewing. Dalk kan hy vir jou ‘n aanwins in die stryd teen die leeus wees,” antwoord Klaas.
Daar was ‘n wyle stilte en toe oom Fred weer antwoord was dit ‘n definitiewe ja, hierdie hond kon hy dalk gebruik.

‘n Week later het oom Fred die lang en stowwerige pad Windhoek toe aangepak. Hy moes vir besigheid gaan en sou dan ook die monster van ‘n hond gaan haal.

Wel, dit was nou liefde met die eerste oogopslag en oom Fred en Boelie het onmiddellik ‘n band gesmee, wat later sou nodig wees in die stryd teen die leeus.

Terug op die plaas het oom Fred eers ‘n stryd gehad om net sy geliefde foksterriërs se lewens te red. Boelie moes leer dat ander honde nou sy makkers is en nie sy vyande nie. Vir ‘n maand lank het oom Fred die nuwe inwoner op die plaas gewoond gemaak aan geweerskote, spoorsny, jag, gehoorsaamheid en die algemene plaaslewe van ‘n plaashond.

Een Sondagmiddag ry oom Fred veeposte na, net hy, Boelie en sy betroubare geweer. Boelie was teen die tyd so eie aan die plaas dat hy by elke pos afgespring het van die bakkie af en eers ‘n verkenningstog om elke dam en krip geneem het. Daarna het hy doodluiters weer op die bakkie gespring, heel in sy skik met dit wat sy neus hom vertel het.

By die laaste pos het hierdie ritueel hom herhaal. Oom Fred was besig om die dam se watervlak te kyk, toe die hel agter die dam losbars. Boelie het in sy vaart om die dam tromp-op binne in ‘n slapende leeumannetjie vasgehardloop. Eers het oom Fred ‘n tjank gehoor, gevolg deur ‘n onaardse gebrul. Toe trek daar ‘n stofwolk agter daardie dam uit!

Wel, Boelie het aan die een kant van die dam verskyn en die leeu aan die ander kant. Die een het geblaf en tergelykertyd getjank en die ander het gebrul dat hoor en sien vergaan. Beide was vol op spoed, reguit in ‘n rigting voor hulle, beide het so af en toe oor die skouer geloer en dan maar weer hul vaart voort gesit. Boelie het so na elke drie treë ‘n blaf oor sy skouer gelos en verder gehol. Die leeu het presies dieselfde gedoen, met ‘n gebrul wat nooit wou ophou nie.

Oom Fred het so gelag vir die toneeltjie dat hy skoon vergeet het om sy geweer uit die bakkie te haal om die leeu te skiet. Nadat leeu en hond oor die horison verdwyn het, het oom Fred huis toe gery. Daar het hy Boelie uitgerus op die stoep gekry. Dit was Boelie se eerste kennismaking met ‘n leeu, maar beslis nie sy laaste nie.

Wel, na hierdie dag was Boelie ‘n baie versigtiger hond, maar toe hy eers leeus leer ken het, was hy ‘n bobaas leeuhond en van groot waarde vir oom Fred.

Vertel deur Pieter Brand

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

Een gedagte op “Oom Fred, die leeu en die stadshond”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.