Die Namib Skryf – sonder grense

Waar Afrikaans bymekaarkom

As Petrus Kraai

(’n Wekroep)

Petrus kraai. Iewers in die agtertuin kraai Petrus met soveel oorgawe dat ek in my slaap verwarde geestesoog sien hoe die kam op sy kop skoon skeef sit. Dit is vieruur in die môre en Petrus is seker soos ek al vir ‘n tweede keer bedseer gelê. Stadig sit ek regop en swaai my bene oor die rand van die bed. My voete soek ywerig en bang na my pantoffels. Ywerig, want hulle hou nie van kaal loop nie. Bang, want wie weet wat het in die nag in my pantoffel huis kom maak.

Saggies trek ek ‘n ou ietsie oor my kaal skouers en sluip uit kombuis toe. By die kamerdeur loer ek om na die ander gestaltetjie in die bed. Ek wil nie graag die meisie van my hart so vroeg wakker maak nie. Ek trek die deur versigtig toe. Vier-twintig gorrel die koffiemakertjie die laaste spoegsel water deur. Ek skink vir my ‘n beker troos en stap by die deur op die agterste tronk stoep uit.

Petrus bekla nog steeds sy lot terwyl die soel oggend bries my verwelkom. Die voorspel van nog ‘n snikhete dag. Ek kom tot rus in my stoel en skakel die leeslamp aan. Ek neem my Bybel en my Pitkos en Padkos en slaan dit oop. Ek laat toe dat die skrywer maar voorskryf: Spreuke 15:1-4
“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord…” 

Vyf-vyftien, die buurman se badkamer word wakker. ‘n Venster word oop gepluk deur ‘n lyflose arm met ‘n stem. “Sharap, jou stupid hoener!” gil die venster op Petrus, wat, na al die jare by ons onderdak, natuurlik nog geen woord Afrikaans kan verstaan nie. Dig soos ‘n klip dink Petrus dis ‘n belediging ten opsigte van die uitvoering van sy ingeskape taak, en antwoord met mening terug.

‘n Sagte antwoord, meen ek toe en roep terug: “More, neef. Pragtige oggend.”

“Neef se moe…voet! Ek maak Kentucky van daai blerrie hoener van oom, as oom hom nie gou uitsort nie!”

Die lyflose arm pluk die venster met soveel geweld toe dat ek verbaas sit en wonder hoekom die fyne glas dan nie gebreek het nie. Aan die oosterkim gee die son uiteindelik gehoor aan Petrus se geroep en sien ek die eerste tekens van die nuwe dag. Ek bedink die môrestond, my buurman, die goud in die mond en ‘n sagte antwoord, terwyl ek na binne stap om nog ‘n beker troos te kry.

Terug in my stoel leun ek agteroor en verdrink my aan die prag van kleur. Die son straal lewe in die nuwe dag en stadig maar seker ontwaak ons dorpie hier tussen duin en see. Die duine verander in goud, en die donker, duister water van die see in prag-blou.

Hier neffens my kry die arm ‘n lyf, en ‘n blou Maandag. Neef buurman tornado by sy voordeur uit en spring in sy maand oue, vuurwarm, Ferrari-rooi Ford en ry sonder seremonie teen die hek paal vas. Sy taal laat my wonder of matrose ook ’n graad kan vang, want lyk my buurman het dit met onderskeiding geslaag. Gelukkig is daar genade, anders het ons op die plek ‘n Sodom gehad na alles wat hy uitroep. Terwille van vrede vir siel en gees, koers ek maar binne toe, my koue koppie leeg en my pensie warm. Dit is tyd om my Meisiekind te gaan wakker maak.

Ek gaan sit op die bed langs haar, en kyk na die fyn lyntjies om haar oë. Na dertig jaar verkyk ek my nog steeds aan hoe sy frons terwyl sy slaap. Ek soen haar saggies op haar voorkop en vroetel my neus in haar hare. Klein verskuilde handjies trek aan die hoeke van haar mond, en ‘n sagte glimlag ontwaak oor haar gelaat. Die gordyntjies van haar oë trek oop en Doringrosie mompel iets soos: “Môre.”

“Ek wens dit was,” skerts ek, “maar honderd jaar is reeds verby, Prinses. Dit is tyd om op te staan en jou ewige dienskneg te hiet en gebied.”

Sy draai haar rug op my en gelukkig is ‘n vrees vir verwerping nie iets wat ek uit my kinderdae saam dra nie.

“Onthou, dit is julle maandelikse skinder klub byeenkoms twaalfuur,” herinner ek haar.

“Die Kook Kuns Klub,” word ek reg gehelp.

“En wat het daardie nuwe dametjie by die apteek se lae hals bloesies met kook kuns uit te waai, behalwe om ‘n paar ou tannies se bloed te laat kook?”

Die kussing vlieg rakelings by my kop verby, byna by die venster uit. Macavity vlieg orent, gereed vir baklei soos net ‘n kat kan wees, en ek doen nabetragting oor sagte woorde en woorde op hulle tyd gespreek…

Die oggend glip verby en verander in ‘n bloedig warm woestyn dag. Neef buurman kom vir middag ete huis toe, en van agter die skuiling van ‘n gaas gordyn kan ek sien dat as sy Maandag blouer moes wees, dat dit pik donker nag vir hom is. Ek wonder onwillekeurig of ‘n inligtings besoekie  aan ons plaaslike KFC nie dalk vir Petrus sou oortuig dat die enigste ding wat opgaan as hy kraai, nie die son is nie, maar die buurman se bloeddruk.

Teen laat middag steek die Suidwester op en bring ‘n welverdiende lafenis oor ons dorpie. Mens, dier en bure slaak ‘n sug van verligting. In die awend koel van die see bries vergeet almal van hulle sorge. Ek en die Koningin van my hart gaan stap hand aan hand langs die see. Die son sterf en bloei sy laaste lewe in die golwe uit. My arm om haar skouer, gediggie in my hart lei ek my Meisiekind huis toe.

Na ete kerf ek die woorde in my hart op die geheue van die harde skyf, wyl my beter helfte haar besig hou met alles en nog wat. Kort na nege flikker my liggies en weet ek dit is aanstons slaaptyd…

Petrus kraai. Dit is vieruur in die môre en Petrus is seker weer bedseer gelê. Stadig sit ek regop. Die oggend is koeler as die vorige paar oggende. Die Suidwester asem deur die kamer venster, en êrens in die nag het Meisiekind ‘n kombers oor ons getrek.

Ek sluip uit kombuis toe, en by die kamerdeur loer ek om na haar gestaltetjie in die bed. Ek trek die deur versigtig toe. Vier-dertig gorrel die koffiemakertjie die laaste spoegsel water deur. Ek skink. Ek stap by die deur op die agterste stoep uit.

‘n Koel oggend bries verwelkom my. Ek kom tot rus in my stoel, skakel die leeslamp aan, en neem my Bybel en my Pitkos en Padkos en slaan dit oop. Vanoggend lees die skrywer Psalm 8:5-10
“Wat is die mens…” 

‘n Pyn skiet deur my bors. Swaar kom in my hande sit, my kop, my lyf. My Bybel plof op die grond. Alles word swart rondom my.

Meteens kan ek weer sien. Sonder vrees gewaar ek my waar ek steeds in my stoel sit, effens na links gekantel. My koppie vol en warm, my oë koud en leeg, en soos ek hoër sweef besef ek dat as ek sou kon huil daar seker ‘n traan in my oog sou wees, en hoop ek dat daar iewers in ewig ‘n oomblik sal wees dat ek weer die frons tussen haar oë sal mag sien… en my neus deur haar hare sal kan vroetel… en verskuilde handjies aan haar mondhoeke sal sien trek…

Related Posts

One thought on “As Petrus Kraai

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

Translate »