Skoenmaker, Wiskunde en Lees – Deur Jan N. Alleman

0 $

Daar is redes hoekom sekere onderwysers sekere vakke aanbied. Ek dink dit het iets met vakkunde te doen. Daar is beslis ’n rede hoekom wiskunde onderwysers, soos skoenmakers, hulle by hulle lees moet hou.

Die klas luister aandagtig en werk spontaan mee terwyl ons na die lees gewoontes en vaardighede van ander volke regoor die wêreld kyk. Ons is besig met statistiek en die voorstelling daarvan in persentasie op grafieke. Die gemiddelde Amerikaanse kind spandeer slegs ’n baie klein persentasie van sy of haar tyd aan lees oor die algemeen. In ’n poging om vas te stel of my leerlinge lees en wat en hoe hulle lees, wend ek my tot van die meer klassieke werke…

“Wie van julle kan vir my sê wie of wat Camelot was?” Soos blits skiet ’n hand omhoog en my hart raak aan die bons by die gedagte daaraan dat hier iemand in die klas is wat LEES.

“Ja,” vra ek die hand vir ’n antwoord.

Vinniger as wat die hand opgegaan het kom die antwoord: “Dit is die woestyn in Israel.”

’n Geskokte stilte volg. Myne, nie die klas nie, hulle blyk totaal onbewus te wees van wat aan die gang is.

“Die woestyn in Israel…” laat ek die vraag in die lug hang.

“Ja, dis waar Armageddon gaan plaasvind.”

Flitse van jare gelede ploeg deur my kop, net soos ’n Boeing wat neerstort. ’n Besonderse flits: Die keer toe ons wegkruipertjie gespeel het en ek in ouma se hangkas ingeklim het. Haar laventel het my neus laat jeuk het en ek kon nie anders as om te nies nie, welwetende dat my niggie iewers om die hoek na my soek. Ek probeer keer. Die nies is ’n vulkaan! Ek probeer dit inhou maar uiteindelik breek Krakatoa vry en ek nies so hewig dat ek my kop teen die kas deur stamp. Die kas deur vlieg met geweld oop en sloop my niggie aan die ander kant soos ’n ou gebou.

Dieselfde vulkaan dreun hierbinne terwyl ek omdraai en na die syfers op die bord staar.

Wanneer ek terugdraai is daar seker iets in my gesig wat aan die kinders ’n wenk gee.

“Ek is amper seker dis waar Armageddon gaan plaasvind…” kom die regstelling.

Met byna bonatuurlike selfbeheersing vra ek: “En so wat kan jy my van koning Arthur vertel?”

“Nee, ek ken hom nie, maar ek is seker Camelot is die woestyn in Israel.”

Nodeloos om te sê dat Usain Bolt net in my skaduwee sou kon sluip so vinnig is ek klas uit. Buite staan ek met trane in my oë en pyn op my maag en die enigste verband tussen Camelot en Israel wat ek kan op toor is dat iets iewers soos Kameel moes geklink het…

Die klok lui en die les oor persent was 100% ’n mislukking. Dit is hoekom wiskunde onderwysers liefs maar by wiskunde moet hou en toelaat dat die taal onderwysers met koning Arthur, in die woestyn van Camelot, iewers in Israel, spook en spartel.

Gepubliseer deur

Jan N. Alleman

Ek is Jan: My hartland is dié dorsland, hier waar duin en see-in ’n liefdesverhouding lê. Waar bos en bok skugter wegkruipertjie speel. Waar mens maar net ’n kuier-kind is. ’n Kuier-kind wat lewe vind wanneer hy stil raak en op sy knieë sak. Ek is Jan: Ek skryf oor die goeterse en gevoelens wat alleman mee ploeg. Ek skryf dit op 'n ander manier. Ek is net Jan N. Alleman...

Een gedagte op “Skoenmaker, Wiskunde en Lees – Deur Jan N. Alleman”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.