JAKOB, STAAN OP!

 

 

 

 

 

 

 

 













Dis Saterdagoggend. Die son maak groot oog op die oosterkim. Hy verf die paar wolkies met 'n prag keuse van rooi en oranje. Die skril gil van 'n paar sonbesies voorspel 'n snikhete dag. Almal, mens en dier, verstaan dat 'n rusplekkie in die skaduwee vandag 'n genadige voorreg is.

Ek sit hier op my naweek stoel en staar oor die vroegoggend vlaktes; diep versonke in gedagtes oor die lot van die wêreld. Gevoelentes woel hier in my borskas en breinkas! Ek sukkel om die haat en nyd en verdriet en woede van die mensdom te verstaan. Die arms van rede kry dit nie reg om die oorsaak van die goeters vas te gryp nie. Ek sukkel en... ek staar.

“Waarna staar jy?” vra die oulikste, en mooiste, mens in my lewe hier neffens my.

“Mense,” antwoord ek.

“Waar,” en sy loer oor die vlaktes.

 “Hier binne,” sê ek.

“O,” antwoord sy terug. My Oulik verstaan my. Sy tel die “nuuspapier,” soos ons Ingelse vriend dit sou noem, van die tafel af op. “Ai tog, ek sien.”

“Ja, dis die probleem. Ons almal sien maar niemand verstaan nie.”

“Jan, die wêreld se probleme is nie joune om op te los nie,” word ek berispe.

“Ek weet, maar jy ken my,” en dit is op die punt van my tong, maar voordat ek die woorde kan uiter, praat my Liefste weer.

“Ja, al wat nodig is vir bose mense om vooruit te gaan is vir goeie mense om terug te sit en niks te doen nie. Ek weet. 'Sir Edmund Burke, 1770,” voltooi sy my gedagtes.

“Mmmm.”

Ek staar en sy lees. Dan vou sy die koerant en plaas dit terug op die tafel, ietwat buite my bereik.

“Koffie?”

“Asseblief.”

Stilte.

Ek peins en sy maak koffie.

“Hier,” sy sit die koppie langs my neer en vou haar arm om my skouers.

“Dankie.”

“Dis 'n plesier.”

“Nee, jy verstaan nie. Dankie vir die drukkie.”

Haar glimlag verander die bloedige son in 'n helder somers blom.

Die oggend draal verby met oomblikkies hier en daar: Bokkies byna op die voorstoep, ons vlakvark-buurvrou wat kom snuffel na oorskiet, vinkies in die bome...

Teen die middag hang my gemoed halfmas. 'n Jong seun verloor die stryd teen 'n slang se byt. Ek lees soveel mooi boodskappies aan die ouers, en soveel ander wat roep om al wat roerende, wriemelende reptiel gedierte is uit te roei. My hart gaan uit na die ouers en in my diepste wese kan ek nie eers begin om te dink hoe so iets moet voel nie. Ek het nog nooit 'n kind, of kleinkind, aan die diep leegheid afgestaan nie. Die verlies, die smart, die gemis, die vrae!

Ek en Vroulief bespreek en bespiegel oor 'n mes-moord en 'n byl-moord en 'n “slang-moord,” en alles wat daarmee saam gaan. Ons praat oor mense en hulle wreedheid. Ons gesels oor diere en hulle maniere. Ons raak sku oor die rou wonde van mense met diep seer. Ouers sonder hulle seuntjie, 'n dogtertjie sonder haar ma, 'n vrou sonder haar man.

“Maar hoe kry jy al die goeters bymekaar,” vra vroulief, “Ek verstaan dat die geweld van mens teen mens jou so hinder, maar waar pas die slang in jou prentjie?”

“Net die seer. Die seer van die mensies pas saam.”

“O”

“Die diere is anders. Hulle staan nie op in die oggend met moord gedagtes in hulle harte nie. Hulle reageer. Dis 'n reaksie, nie 'n aksie nie. Mense werk nie so nie. Hulle is ander soort dier. Hulle maak dood wat hulle nie kan eet nie. Hulle vergaar wat hulle nie nodig het nie. Hulle word gedryf deur hulle begeertes, gierigheid en afguns. Hulle moor en almal raas en more is alles weer vergete. Mense...” Haar hand op my arm word ’n sluis wat die golf in my gemoed stuit.

“Nie almal nie.”

Die storm in my hart wyk wanneer ek in haar oë kyk. Die sagte glans daarin, soos die kalm waters van 'n stille meer, kalmeer my hart.

Teen middernag sit ek steeds op die stoep. Vroulief het in die bed gaan skuiling soek. Die volmaan maak blink oog oor die donker bos, en in die helder lig sien ek hoe 'n koedoebul skugter na die watergat toe koers. Volmaan oor 'n donker bos...

Ja, Jakob! Ons is Jakob en ons moet ons verraad besef en opstaan. Ons moet mekaar se seer in 'n swart lappie toebind en ons moet saam daaraan dra. Ons moet mekaar omgrens met vrede en mekaar beskerm. Ons moet opstaan en uitskree teen dit wat verkeerd is. Ons moet vir mekaar volk word en na mekaar omsien. Ons kan maar vir mekaar 'n koel rusplekkie in die skaduwee wees.

Die sagte wind deur die doring bome fluister: “Staan op, Jakob!”

“The only thing necessary for evil to triumph is for good men to do nothing.”

(Sir Edmund Burke - 1770)

 

Gepubliseer deur

Jan N. Alleman

Ek is Jan: My hartland is dié dorsland, hier waar duin en see-in ’n liefdesverhouding lê. Waar bos en bok skugter wegkruipertjie speel. Waar mens maar net ’n kuier-kind is. ’n Kuier-kind wat lewe vind wanneer hy stil raak en op sy knieë sak. Ek is Jan: Ek skryf oor die goeterse en gevoelens wat alleman mee ploeg. Ek skryf dit op 'n ander manier. Ek is net Jan N. Alleman...

Een gedagte op “JAKOB, STAAN OP!”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.