Heitsi Eibeb

Image result for eland jackal

Heitsi Eibeb.

In my kinderdae was daar ‘n paar Boesmans wat vir my pa op die plaas Scott gewerk het. Hul het almal ‘n deel van my lewe geword. Dis immers by hul wat ek baie van my veld kennis geleer het.

Alex was die baas storie verteller en nabootser. In die aande het ek en my broer ure by die boesmans se vure gesit en luister na sy stories. Alex was die enigste Jul’hoansi of soos ons sommer gesê het, Tsumkwe boesman.

Die ander boesmans op die plaas was almal Hi//Kum ( direk vertaal boomslapers) Hul taal het ‘n bietjie van ‘n ander dialek as die Tsumkwes. Maar die gode, gebruike en spoke was maar by altwee die selfde.

Kinders mag nie skilpad eet nie, dis vir die ou jagters en huis-bly oumense. Springhaas is jongmense en kinders se voorkeur kos. Op die manier is daar ‘n balans in die veld, want dit sal ‘n skande wees as ‘n jong jagter ‘n skilpad moet doodmaak wat nie kan vlug nie. Wat sal die ou jagter wat nie meer kan hardloop nie, dan eet?

Wie is Heitsi Eibeb? Heitsi is een van hul gode; die slingse een. Hy kan van gedaante verander, die meeste van die tyd is hy ‘n jakkals. En as hy die dood kom verkondig – kom hy in die vorm van n stokgogga wat sy pers vlerke oop vou.

Hy kan hom self ook in ‘n mens verander. Dan loop hy voor jou uit na die volgende gemeenskap en stel hom voor as jy. Dan eet hy al die kos op wat die mense vir jou as besoeker gebêre het. Om dit te verhoed moet jy ‘n klip in ‘n boom se mik sit wat dan die pot se deksel sal vashou tot jy self daar opdaag.

Om jou kuierpad, jagpad, veilig te maak en dat jy nie op die pad deur Heitsi Eibeb lastig geval word nie, sit jy ‘n klip op een van die klipstapels, nog beter as jy dalk ‘n stopseltjie twak of ‘n repie droë vleis saam jou klip op die stapel sit.

Heitsi het ook n paar Maroelabome waar offerhandes onder teen die stam gesit moet word. Heitsi is goed in die sin dat hy vir jou n goeie jag kan gee of die stokgogga van jou huis af kan weg hou. Heitsie is sleg of boos as hy jou bok wat jy geskiet het se uier uit vreet en die soetvleis met pensmis bemors. Of as hy sy stokgogga stuur met jou vrou se eerste kind en hul altwee doodbloei.

Ek onthou nog al die jakkals en wolf (hiëna), tier en bobbejaan stories. En hoekom ‘n Eland huil as jy hom skiet ( die eland is die reëndier en mag net in die winter geskiet word, sy trane is die laaste reën wat hy kan gee voor hy dood gaan).

Vertel deur Paul S Cloete

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

3 kommentare op “Heitsi Eibeb”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.