Veg of vlug – deur Martha Poller

“Goeie dôner, Emma, het jy nou wragtag gedink ek gaan jou nie herken nie?”

Die woorde galm in haar ore. Sy was dan so seker dat sy dit vanaand sal vryspring. Koue rillings gly op en af met haar rug.

Wanneer het dit dan alles so verander? Wie het wanneer haar vrede kom steel? Was dit die dag toe Phillip … . Nee! Moenie daaraan dink nie, bly weg daar, Emma. Dis nie veilig vir jou om daar te gaan nie. Hulle gaan jou gryp en seermaak, Emma. Los uit! Bly weg!

Sy asem brand in haar nek. Sy loop vinniger en vinniger, maar die asem kom nader, al nader. Die boosheid ruik na salpeter en verbrande bloed, dink sy by haarself. Sy weet sy moet hardloop, maar haar bene is soos met lood gevul – sy kan haar voete beswaarlik oplig om voort te vlug.

Nee! Nou is hulle twee of drie wat op haar spoor is. Sy weier om om te kyk, maar sy weet hulle is besig om haar in te haal … en dit terwyl sy so seker was haar vermomming sou hulle flous. Vlug, Emma, vlug!

“Kom, Emma, kom saam met ons, toe?” blaas dit in haar nek. “Ons wil met jou mors, Emmatjie. Gee ons net ‘n kans om vir jou te wys hoe mors ‘n man met ‘n rondloper soos jy,” hyg ‘n ander een. “Emma, my Emma, ek soek jou lyf, jong!”

Hoe hard sy ookal probeer, sy kom nie weg van hulle af nie. Sy huil en smeek om genade, maar dit lyk nie of een van hulle eens hoor dat sy praat nie. Hulle soek haar lyf en dit is wat hulle nou gaan kry!

Watter planne kan sy nog maak om vry te kom van hierdie agtervolging?

Eers het hulle net saans begin saamloop. Sy het geglo dat sy dit op haarself gehaal het. Goed, dan loop sy nie meer saans rond nie. Dit behoort hulle te oortuig dat sy nie rondloop en soek na moeilikheid nie.

As dit aand word, kruip sy in die diepste, donkerste gaatjie weg. Sy maak nie lig nie. Sy maak geen geluid nie. Sy mag niemand laat weet waar sy is nie. ‘Sjuut,’ sê sy vir haar asemhaling, “moenie so raas nie, hulle gaan jou hoor, Emma.”

Soggens, wanneer die son skyn, is dit veilig. Ja, nou kan sy uit haar donkerste wegkruipplek wriemel en die wêreld in die oë kyk. Dankie tog! Die vryheid is onbeskryflik. Kyk, die son skyn vir my ook! Kyk, daar is regtig niemand wat my spoor vat en agter my aan sluip nie. Regtigwaar, ek is vry as die son skyn.

Sy het al byna begin vergeet van ‘hulle’ en het minder waaksaam begin raak. Ja, voormiddae raak toe namiddae en namiddae … !

En opeens, in die helder sonskyn, is hulle agter haar, by haar, rondom haar, elke oomblik van die dag. Eers is dit gewoonlik net die vae gevoel van een wat haar volg, dan kom hy nader en nader, en dan is dit ‘n hele spul wat om haar swerm.

“Emma, my Emma, waar was jy die hele tyd? Ons het jou gemis, man,” lag die een skor in haar oor.

“Is jy bang vir die oom, Emmatjie? Agge néé, man, die oom gaan jou niks maak as jy mooi soet is nie. Kom, Emmatjie, kom loop saam met die oom.”

Die hande wat gryp-pryp na haar elke keer wanneer sy ‘n oomblik stop om asem te kry. Dit gryp en gryp en gryp. Dis vreemd, maar die hande maak nie so seer soos wat sy verwag het dit sou nie. Gryp. Vat vas en los nie weer nie. Vat en streel en … is dit my bloed wat so loop? Hoe is dit moontlik? Ek kry nie seer nie, maar die bloed loop in strale met die straat af. Nee, dis nie my bloed nie, dit kan nie my bloed wees nie.

Sy strompel met taai bloedspore tot by haar wegkruipplek. Kruip weg, Emma, kruip diep weg sodat niemand jou kan sien nie en niemand jou kan raak nie. Dis mooi, Emma, jy is ‘n soet dogtertjie. Kruip weg, al skyn die son helder. Kruip weg sodat hulle jou nie kan kry nie.

“Emma, maak asseblief oop dat ek jou gesig kan sien,” raas iemand nou met haar. Nee, moenie my oopmaak nie, ‘seblief toggie. As ek oopmaak gaan hulle my kry. Sy klou verbete aan die laken wat sy oor haar kop getrek het. Sy sal nie oopmaak nie, want hulle wil haar seermaak, sy weet mos.

Sy maak klein huilgeluidjies en kerm dat hulle haar asseblief moet los.

“Emma, niemand wil jou seermaak nie. Kom asseblief uit dat ons met jou kan gesels,” vra die stem weer.

Dit raak stil in die kamer. Emma se gekerm het nou ook opgehou. Hulle weet sy sal nou-nou onder haar laken-skuiling uitkom. Hulle moet net geduldig wees, want Emma het tyd nodig om gewoond te raak aan hulle teenwoordigheid voordat sy sal uitkom.

Uiteindelik lig sy die laken van haar gesig af. Bloederige rooi krapmerke is afgeëts op haar bleek gesig. Sy hou haar oë styf toe, want sy wil hulle nie sien nie – hulle wil haar seermaak, glo sy.

“Ai, Emma, jy het dan weer jou gesig seergemaak, ha? Jy het my mos belowe dat jy dit nie weer gaan doen nie.”

Emma draai haar rug op hulle. Sy het nie lus vir gesels vandag nie. Sy weet ook nie waarom hierdie man haar vals beskuldig oor haar gesig nie; hy weet mos dis nie sy wat dit gedoen het nie!

“Kollegas, hierdie is Emma. Sy is al sestien jaar by ons. Emma ly aan ‘n ernstige angsversteuring nadat sy vroeg in haar lewe deur ‘n familielid verkrag is.”

Gepubliseer deur

Meraai

Net nog 'n kaalvoet dromer van die Namib.

Een gedagte op “Veg of vlug – deur Martha Poller”

  1. Martha – hier het jy ‘n seer, maar afgeskeepte onderwerp aangeraak. Ons is geneig om geestesversteurdheid te ignoreer – maar dis ‘n baie tasbare deel van baie van ons lewens en behoort meer male direk in die oë gekyk te word. Goeie werk!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.