Meer oor Moekie

0 $

                                                          Tweede kans

Hy het lelik drooggemaak. Soos wat hy al in sy lewe verbrou het, is dit geen wonder dis nou pay back time nie.

Gustavo van Zyl is ʼn gesogte vrygesel. Sy ouers het seker toentertyd al baie gelees om hom so ʼn nie-Afrikaanse naam te gee.

Vir jare het hierdie naam met sy eksotiese klank deure by die skoner geslag vir hom geopen. Net by die aanhoor van sy naam, nog voor hulle hom ontmoet het, swymel hulle al. Menige blind date het in ʼn ernstige verhouding ontaard. Maar trou en rustig raak? Aikona.

Die lewe was nog altyd een wipwarit van partytjies, jol en in die bondel vry. As hy in die jare toet geleef het, was hy waarskynlik ʼn casanova, laventelhaan of pierewaaier genoem. Nou noem die meisies hom ʼn hunk of ʼn vangs. Deesdae lyk dit egter asof slim sy baas gevang het.

Hy loer in die spieël en sien die kommerlyne op sy gesig. Hy lyk ouer as sy drie-en-veertig jaar; die ouderdom waarop mans getroud is, kinders in beide die hoërskool en die laerskool het, en vroutjie wat in haar eie beroep staan. Wat het hy om te wys behalwe sy reputasie?

Sy vriende wil gedurig weet: “Gustavo, ou pêl, wanneer raak jy rustig? Is daar dan regtig geen meisie wat jou kansel toe wil sleep nie of wil jy alleen oud word?”

Hy trek dan maar net sy skouers op en verander die onderwerp. Hoe kan hy verduidelik dat hy in sy binneste onseker is? Wie sal hom glo?

Die sleutel knars in die deur se slot. Hy moet net ʼn bietjie gaan stap en vars lug skep. Hy is so moeg; hy wonder hoe ver hy sal stap.

Dis dan hoe dit is om dood te gaan, dink hy. In sy verbeelding sien hy ʼn begrafnisstoet grafwaarts beweeg. Hoe sal sy kis lyk? Goedkoop dennehout of dalk van daai duur, blink gepoleerde swaar embuiahoutkiste? Nee, nee dit kan nie wees nie. Nie nou nie. Hy is glad nie gereed hiervoor nie. Waaraan dink hy?

“Hallo Gus,” hoor hy. Hy is so ingedagte, dat hy amper oor sy voete struikel.

Dis Santa met die muisvaal haartjies wat in die kerkkantoor werk. Na haar het hy nog nooit twee keer gekyk nie. Hy knik vinnig en versnel sy treë. Sy kyk hom verleë agterna.

“Net die ou wat ek soek,” hoor hy. Die blonde bom met die wulpse lyf, Bridget, kyk hom uitlokkend aan. Hy het twee jaar met haar uitgegaan voordat hy moeg geraak het vir haar. Dis nou ʼn meisie wat die lewe met al twee hande aangryp en mans vir ontbyt opeet. Sy suig die lewe uit jou uit en smyt jou soos ʼn vrot vel weg.

Genade, sal hy dan nou vandag al wat ʼn vroumens is, raakloop? Hy wil dan juis so bietjie van die radar af verdwyn tot hy sekerheid het waar sy lewe heen op pad is. En of daar hoegenaamd nog lewe in hom oor is.

Sy staan jou waarlik waar nog steeds en kyk hom met ʼn pruilmond aan. Vervlaks, hy is besig om te verander. Vroeër sou hy geen tyd verspil het om pret met haar te hê nie. Sy spel net een ding en dis ligsinnige vermaak.

“Jy het nie dalk lus vir ʼn bietjie vermaak nie?” vra sy hoopvol, haar oë gly ewe voorbarig oor sy liggaam. In die verlede sou dit hom gevlei het, maar deesdae is dit asof hy ʼn weersin ontwikkel in die tipe dinge.

“Ek het ongelukkig ander verpligtinge,” antwoord hy.

“Verpligtinge? Behoed my,” laat sy spottend hoor. “Van wanneer af het ou Gus ʼn droë drup geword? Nee, nou is jy darem regtig ʼn suurknol. Ek glo nie wat ek hoor nie!” Sy probeer ongeërgd klink, maar hy hoor tog ʼn teleurstellende klank in haar stem. Sy kan tog net verkas, dink hy.

Was dit die tipe vroumens wat ek my tyd mee verspil het, wonder hy. So vlak soos ʼn broeis hen. Genade, maar hy self was ook maar van ʼn ander stoffasie gemaak.

Wat is besig om met hom te gebeur? Dis die ding in sy binneste, die vrees en die ding wat soos ʼn kanker aan hom vreet. Dis besig om iets in hom te laat ontwaak, iets wat hy nie verstaan nie.

“Nou, ja meneer Suurpruim, geniet jou dag!” groet Bridget uiteindelik en stap met swaaiende heupe weg. Die Barbie-pop tipe is skielik glad nie meer so aanloklik vir hom nie. Dis asof sy oë besig is om werklik te begin sien. Hy voel ook ʼn verskerping in sy emosies aan.

Hy stap nou al vinniger, sien weer sy volmaakte liggaam in ʼn winkelvenster. As hy sy spiere moet verloor, sal dit darem ʼn ramp wees. Hy is deesdae so uitgeput dat hy nie eens meer gym toe gaan nie.

Sy oë val op Grootnood Apteek. Hy stap binne, kyk rond of daar bekendes is. Gelukkig is sy beursie in sy sak. As iemand hom nou sien, ag hemel tog, niemand moet hom tog nou herken nie. Sweet pêrel op sy voorkop.

Angs oorval hom. Hy bewe so dat hy eers doodstil moet staan. So ongemerk as moontlik beweeg hy na die rak waar die tuistoetse uitgestal is.

Hy gryp ʼn tuistoets en ʼn bottel sjampoe net om die toets te verberg. As ek dit betaal, sal ek dit so hou dat net ek en die dame by die kasregister dit raaksien. Hy gaan staan in die ry met die pakkie beskermend voor hom.

“Volgende!” hoor hy. Is hy volgende? Hy kyk rond. Ja gelukkig is hier niemand naby nie. Hy betaal vinnig. Kan sy tog nie die pakkie vinniger in die papiersak sit nie? Hy sweer hy slaan nou net hier neer. Morsdood. Ag, hemel tog.

“Meneer, jou kleingeld!” hoor hy toe hy by die deur uitspring. Hou tog die kleingeld, dink hy. My lewe is op die spel. Hy stap huis toe. Die pakkie soos ʼn skild voor sy bors. Sy treë lank, sy knieë knakkend.

Hy sluit die deur oop. “Here,” bid hy, “wees met my!”

Dis nou of nooit. As die doodsvonnis oor my uitgespreek is, dan leef ek ook nou net-net. Hy skeur die pakkie met bewende hande oop. Daar staan die uitslag is binne vyftien minute bekend.

Net gou die vinger prik, vervlaks, vinger hou op bewe, ek moet jou prik, ek benodig net ʼn druppel bloed, dan is alles verby! Uiteindelik drup hy die druppeltjie op die apparaatjie en wag. Vyftien minute het nog nooit so lank gevoel nie. Dis soos vyftien ure se sand wat stadig uit ʼn uurglas loop.

Uiteindelik. Die toets is … negatief! Nee dit kan nie wees nie, die apparaat is nie betroubaar nie, ek gaan nou dokter toe, dis nog nie vieruur nie, miskien is daar nog ʼn opening. Die keer klim hy in sy motor in en ry na die spreekkamer. Gelukkig is daar nie meer pasiënte in die spreekkamer nie.

“Ek wil my vir MIV laat toets, trek tog net my…my bloed!” beveel hy die dokter paniekbevange. Hy bewe soos ʼn riet. Die spanning van die afgelope tyd is besig om sy tol te eis. Hy kan nie nou al dood gaan nie. Mense dood soos vlieë en daar is nog nie ʼn kuur gevind vir MIV nie en hy sal ook maar net deel van die statistiek word.

“Kalmeer eers, my ou vriend, ons gaan nou bloed trek.” sê dokter Brits vertroostend. “Ek sal reël dat jy onmiddellik gaan vir terapie, ongeag die uitslae van die bloedtoetse. Ek gee jou solank ʼn kalmeerinspuiting.”

“Daar is ʼn paar ander kleiner roetine toetse ook wat ek terselfdertyd wil laat doen.” Hy kyk die dokter skaapagtig aan. Knik net. Sy mond gaap oop.

“Daar,” sê hy en kyk na die venster, maar gee die tuistoets vir die dokter. Die dokter kyk hom simpatiek aan.

Hy kyk na die uitslae en sê: “Hierdie toetse is gewoonlik betroubaar, maar net om doodseker te maak, gaan ons jou bloed na die laboratorium stuur. Dit sal nie lank neem nie, dan weet ons vir seker.”

Die volgende dag sit hy lank by die terapeut. Hy het die vorige aand beter geslaap as die afgelope tyd.

“Het jy enigsins siek gevoel?” vra die terapeut later.

“Ja, moeg, depressief en e…e…onkapabel, ek het ʼn jaar gelede ʼn bordeel besoek en sedertdien bly ek onrustig,” kom die gejaagde woorde. “Ek besef natuurlik hoe groot die risiko is wat ek geloop het. In hierdie moderne eeu!”

“Die feit dat jy nie vir die laaste drie maande aan die virus blootgestel was nie, tel in jou guns,” verseker die terapeut hom.

“Hoe kon ek tog so onnosel wees? Uit vrees en onkunde het ek my nooit laat toets nie,” kom sy bewerige stem. Die week daarna is hy by dokter Brits.

“Kom sit.” Sy stem is saaklik.

“Laat ek verduidelik: Jou simptome, naamlik lae libido, depressie en gebrek aan energie is tekens van Andropouse. Die testosteroonvlakke se afname is meer geleidelik as met estrogeen in menopouse.”* Jy kan dus ontspan, Gustavo. Die MIV toetse is negatief. Jy is in jou manlike oorgangsjare.” Hy bedank die dokter in ʼn waas.

Buite roep ʼn straatkind agter hom aan: “My Lanie, daai lip hangie vi’dag soe oppie grond tie, nie soes laas keerie.” Hy kyk om en glimlag vir die eerste keer in ʼn lang tyd.

Die lug is blouer, skielik sien hy weer hoe helder die son skyn. Sy tred is veerlig toe hy die kerkie wat al sedert die vorige eeu daar staan, binnestap. Snaaks hoedat hy baie dinge nou eers raaksien. Voor die kruis kniel hy.

“Dankie, Here vir ʼn tweede kans,” kom die woorde oor sy lippe. Hy kyk om. Santa kniel agter hom. Sy lyk dan nou glad nie meer so asvaal nie.

My boek “Eggo’s van die hart,” is n kortverhaalbundel met Christelike fiksie stories en een ware verhaal in. Dis regte hartstories oor die mens se soeke na sin in die lewe. Daar is ook stories oor vergifnis en selfs n paar komiese verhale en een oor borskanker.

Prys: N$ 130-00

Dis by my e-posadres: Maria Mouton beskikbaar –

sowel as by Groep 7 drukkers en verspreiders se aanlynwinkel epos@groep 7.co.za beskikbaar.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.