Carla van der Spuy – Kuier by Omaruru Kunstefees saam met Die Namib Skryf

31 Augustus 2019 – Carla stel haar splinternuwe boek vry by Omaruru Kunstefees en gesels met Die Namib Skryf oor hoe om woorde te vleg.

Gesprekleier is Marco van der Berg – Marco het ‘n 4 jaar graad in Bedryfkommunikasiekunde en spesialiseer in film, joernalistiek, skakelwese en bemarking.  Hy is tans werksaam by die ATKV as Streekbestuurder en is betrokke by skryfskole, toneelwerkswinkels, teatertegnologie en sangwerkswinkels.

Carla vertel oor haarself:

Ek het BA Beeldende Kunste geswot maar is al 44 jaar lank ‘n joernalis waarvan ek die afgelope 23 jaar ‘n vryskutjoernalis is. Ek het vir talle koerante soos Beeld en tydskrifte soos Vrouekeur en Rooi Rose vryskutwerk gedoen. Ek het sewe boeke geskryf.

Ek het ook begin om voornemende skrywers op te lei en is gevra om vanaf Augustus vanjaar as aanbieder by die ATKV se skryfskole betrokke te raak.

Ek het twee keer die toekenning vir die “Best Real Life” storie by die Caxton Magazine Excellence Awards en ses ander merietetoekennings vir onder meer Skrywer van die Jaar en vir stories oor gesondheid ontvang. My boek Bloed op haar hande is aangewys as een van Books Live se “Jaw dropping (nie breaking nie!) crime books of 2015.”

Wat skryfwerk betref skryf ek baie aktuele stories oor enige onderwerp veral gesondheid, mensestories en nie-fiksie misdaad.  Ek gee graag ‘n stem aan mense wie se stories ons normaalweg nie hoor nie, soos geweldsmisdadigers en slagoffers van misdaad, sowel as die geweldsmisdadigers self soos vroue wat moord gepleeg het en oor hoekom dinge so verskriklik skeef in hul lewens geloop het.

My eerste boek was Platsakwenke en daarna het ek Mens of Monster- die psige van ‘n misdadiger vir LAPA-uitgewers geskryf. Dit het binne twee maande ‘n tweede Afrikaanse druk beleef.

Daarvoor het ek met geweldsmisdadigers (meestal moordenaars) in tronke gaan gesels om uit te vind hoe hulle koppe werk. Ek het ook nou saam met sielkundiges en kriminoloë en ander kenners gewerk.

Ek het daarna Plaasmoorde- slagoffers vertel self vir Prof Maritha Snyman van Wordworx Uitgewers in opdrag van Bargain Books geskryf wat ook in Engels vertaal is. My volgende boek was Bloed op haar hande – vroue agter tralies wat ook deur Lapa uitgegee is.

Daarna het Misken mishandel misbruik – Joey Haarhoff was my ma (MMM) gevolg wat ‘n vierde druk beleef het. Dit was bykans 3 maande lank op die Nielsenlys van top-100 niefiksie boeke.  Sielsiek het in 2017 verskyn. Al my misdaadboeke is in Engels vertaal.

Liefde agter tralies het pas geland.

Ek woon op Hartbeespoort en is ‘n deeltydse water aerobiese instrukteur by die plaaslike gim.

Ek het aan die volgende TV-programme deelgeneem:

* Pasella met Platsakwenke

* Op Rian sowel as Kwêla (twee keer) op kykNET met Mens of Monster en Liefde agter tralies wat eerskomende Sondag op 14 Julie 2019 uitgesaai gaan word. Hannes van Wyk het ‘n onderhoud met my gevoer.

* Op Ontbytsake met Dawie Roodt – as krimiskrywer en joernalis. (twee keer.)

* Op Fiesta na ‘n boekbekendstelling by die tronk op Tulbagh tydens hul Lentefees

* Op Flits oor Plaasmoorde.

* OP ETV met Bloed op haar hande.

*Prontuit (Bloed op haar hande) met krimiskrywer Martin Steyn

*Fokus (MMM)

*Special Assignment (MMM).

* In die bed met Bibi oor my boeke.

* My water aerobiese klas was vir “vier minute van roem” in die program ‘n Huppel in die stap op kykNET – die program vir senior burgers.(nogal.)

*Daar was ook onlangs ‘n skrywerprofiel oor my op Die Groot Ontbyt.

* In Julie vanjaar met Liefde agter tralies op Kwêla.

Ek het ook by die Woordfees, die Boekejol, Prince Albert Leesfees, die KKNK, Aardklop en die Vryfees  oor my boeke gesels en ook onderhoude met ander skrywers gevoer.

My dogter Tanya is ‘n skrywer, joernalis en skakelbeampte en my seun Louwtjie, is ‘n prokureur.





Vasgevang

Vasgevang in hoop, liefde en pyn

Vasgevang in n warboel gedagtes

Vasgevang in lewe vol vraagtekens

Wie weet, wie besef, wie verstaan

Hoeveel kan mens vat voor mens vergaan

Die lewe loop sy loop

Die hart huil sy traan

Is daar iemand wat verstaan?

Wat bly oor van gee en gee?

Ontvang van houe sonder slaan!

Moeg vir gee, moeg vir soebat, moeg vir staan

Wie sal ooit verstaan

EIE FOTO

https://blog.namibskryf.com.

Diere ABC

A a 
Die aasvoël kla,”Ek is nie mooi nie,
en daarom het ek nie ‘n nooi nie.
Ek wens ek was ‘n pou,
want hy is mooi en hy’t ‘n vrou.”

B b 
Bobbejaan, bobbejaan, jy dink jy’s slim,
omdat jy oor Boer se draad kan klim,
maar Boer is vir jou baie kwaad,
en span nou orals hakiesdraad.

C c 
Ch, ch, ch , ch, snork oupa beer.
nag vir nag en weer en weer.
Oumatjie beer is desperaat,
en wil nou sommer die land verlaat.

D d 
Die dassie spring van klip tot klip.
Sy ore gespits, sy stertjie wip-wip.
Hy’s vinning soos blits en baie rats.
Nou sien jy hom, dan’s hy weg woert-warts.

E e 
Vyf klein eendjies stap in ‘n ry
om te gaan swem in die vlei.
Ag nee, die vlei is dan kurkdroog,
en die plaasdam se muur is veels te hoog.

F f 
Die hele familie fisant
Krap heel dag rond in die sand.
Wat hulle doen , wil jy weet?
Hulle soek wurms om te eet.

G g 
Ek loop teen mure op en af,
partykeer is ek sommer net laf,
en lat val myself – kadoef – op jou bedjie
en dink dis baie snaaks as jy skree: “Mamaaa, ‘n geitjie!”

H h 
As ‘n honderdpootjie skoene nodig het,
is dit vir sy papa geheel en al geen pret.
“Vyftig paar skoene”, sug hy swaar,
“kos ‘n klomp geld so wrintie waar”.

I i 
As ietermago is ek bekend.
Ek is ‘n baie komieklike vent.
Raak jy aan my, rol ek myself op,
en jy weet nie, waar’s my stert en waar’s my kop.

J j 
Jakkals wou gaan hoenders steel, 
op Tant Ralie se perseel.
Min het hy geweet, die stomme dier,
die hoenders het by die bure verjaarsdag gaan vier.

K k 
By die rivier bly Krokodil Morkel.
Hy wil so graag sy tande borsel.
Sy ma dink wat dan nou gedaan,
waar kry ek so ‘n groot tandeborsel vandaan?

L l 
Op ‘n dag wandel koning leeu deur die veld.
“Ek is vir niks bang nie,” spog hy, “ek is ‘n held,
Ek hardloop vir niks en niemand weg nie”.
Toe trap hy in ‘n byenes en kon nie ophou hardloop nie.

M m 
Kyk ‘n bietjie na die flukse mier, my kind,
Iemand wat harder werk sal jy nêrens vind.
Oplaai, aflaai, heen en weer geskarrel, dag vir dag.
Geen gekla nie, nooit ooit lui nie, dit is sy gedrag.

N n 
Naaldekokertjie so fraai en so fyn,
met vleuels wat blink in die helder sonskyn.
As ek so sit en na jou kyk,
sien ek dat jy amper soos ‘n helikopter lyk.

O o 
“O, grote Griet”, roep olifant
“my toonnaels is veels te lank!”
Te hulp kom veearts, Oudok Byl,
Met sy groot skêr en almintige vyl.

P p
Nou die dag stap Pikkie Pikkewein al langs die strand,
en sien kinders in bont klere kastele bou in die sand.
Net daar en dan het hy toe besluit:
“As ek weer strand toe kom, trek ek my manelpak uit.

Q q
Quentin sit by die tafel met ‘n groot woordeboek.
‘n Dier wat met ‘Q’ begin, nes sy naam, dis waarna hy soek.
Maar dis alles verniet, glo my vry.
want so ‘n dier sal hy nie kry.

R r
Renoster se beste vriend sit op sy rug,
Dis renostervoël wat hom waarsku as hy moet vlug.
En as die bosluise renoster pla op sy lyf en sy kop,
Pik-pik sy kleine vriend hul een vir een op.

S s
Stadig, stadig, trap vir trap,
kom skilpad hierlangs aangestap.
Nou is hy moeg en trek sy kop
en al vier sy voetjies binne in sy dop.

T t
Toktokkie, jy’s darem ‘n oulike goggatjie.
Klop-klop hardloop jy rond op soek na jou meisie.
As jy skrik, val jy – woeps – op jou rug,
En speel-speel jy’s dood met jou beentjies stokstyf in die lug

U u
Professor Uil is ‘n knap onderwyser,
maar die ouers is erg geteister,
omdat Prof. Uil die hele dag net slaap,
en die kinders in die klas sit en ginnegaap.

V v
Verkleurmannetjie, ek wonder hoe jy dit doen,
loop jy oor ons grasperk word jy groen,
klim jy stadig langs die boomstam op,
word jy grys van jou tone tot by jou kop.

W w
So ‘n wurmpie is darem ‘n vraat,
dink net aan kos van vroeg tot laat.
Vreet gate dwarsdeur appels, pere en lemoene
en sowaar ook deur die harde skille van pampoene.

X x
Met sy bekkie klein speel die voëltjie 
op die xilifoon ‘n opgewekte deuntjie.
Die brulpadda-koor sing saam uit volle bors,
Almal dans en lag, net ou vlakvark bly steeds nors.

Y y
Miena Krimpvarkie is verlief op Jan Ystervark.
En nooi hom vir ‘n piekniek in die park.
Haar mandjie vol gepak met vlieë, muskiete en lekker goggas.
Jan is nie verheug nie, want hy eet net plante, blare en groen gras.

Z z
Zoem, zoem,zoem vlieg ‘n by
Hier by my neus verby.
Gaan sit op my koeldrankblikkie
en drink ewe astrant ‘n slukkie.

Z z
Weet jy wat is ‘n zoempie?
Dis ‘n oulike, klein duikertjie.
Sy vel het ‘n blou skynsel en is snoesig sag,
as jy hom wil sien, moet jy opstaan in die nag.

©Kopiereg Gisela Tietz-Santos (2010)

Illistrasies deur
© Gerrie van Zyl

Verganklikheid

onverganklike spatsel lig
in vergangklike vrotvleis
vasgevang, gevangene

stry en stryd om te skyn
sukkelend deur tralies
wat jou hart omhein
en gordyne, sluiers
oor jou vensters

ooo om uit te breek
los te maak
hoog te sweef 
kuns en kwas
woorde verweef
in sprokie en sprak
siel skeppend
gedwing bo-oor die grense
van stoflike sel
uitvlug uit hierdie hel
van menslikself
skep jy tyd
en skep jy tydelik
in nabootsing 
van die Lig

spatsel lig onverganklik
polsend lewend wagtend
groeiend in die dieper donker
spartelend teen die grendels

jou tyd van tydloosheid 
en ewige vryheid
sal ook kom …

Meraai

Bestaan môre se leef?

Ons sukkel so
om ‘n bestaan te maak,
dat ons heel vergeet
om te strewe na lewe.

En dan!

In pyn en angs stop die klok.
Benoude donkerte,
lugleë longe,
‘n bees op jou bors
wat wil in …
‘n Tier wat wil uit!

En jy weet –

Dis klaar. Die stryd is verby.
En daar is geen wenner
of verloorder.
Daar is net een plek op die podium,
stom spoke applous op die stadion.

En die sproeiligte gaan aan:

Spotlight op jou.
En jy is stil. Kalm. 
En dan bedonnerd!

Nog? Nog tyd?
Om mee te wat?
Fok die onafgehandelde!
Fok die stukkende drome!
Fok die verlore jare!
Fok die potensiële niks
van môre se miskien!

Fok my stukkende hart
Wat weier om op te hou klop.

En môre?

Dis te vêr. 
Nou, hier in hierdie oomblik
is daar stilte en kalmte.
En storms en orkane.
En stilte en kalmte …

En die tyd vir leef?

Kloppedie klop – met elke slag
Tel dit af
en af
Lup – een minder dup
om te leef.

Intussen?

Intussen bestaan ons –
miskien kan ons môre begin leef.

(c)Meraai

GEBEDE MET DIE WIND

ek is jou mamma,
dra jou teen my bors, voel jou in my hart
beleef jou pyn met smart

ag waarom kon ek dit nie keer nie
dat die lewe jou van droefheid leer nie

ek wil dit als by jou kom haal
dit stukkend trap en weggooi in die see

hier staan ek so verleë

want my hande is leeg, al pyn dit in my gees
ek kan nie die oorwinning vir jou gee nie
kan jou hart nie heelmaak
jou nuwe blydskap bring nie
of soos kleintyd vir jou liedjies sing nie
kan nie in jou plek kom staan nie
vooruitloop op die pad wat jy moet gaan nie

my liewe liefste kind
vir jou stuur ek duisende gebede op met die wind

– Dalene Mellet

KLAASVAKIE

wat is Klaasvakie tog ‘n wonderstoute ding, hoor-hoor! *

soms is hy pure stuitig en suinig met sy sandjies
dan slaan hy my sommer oor

ek lê dan wawyd wakker
tot ek byna al my sluimer verloor

saggies roep ek na die nagtegaal
om vir my wiegeliedjies te kom sing

dít is vir jou ‘n luisterryke ding

tippie-tap-tip-tap hoor ek later
iemand stap op toontjies in die gang

wie sou dan wakkerword van die skone voëltjie se soete sang?

MAAR

dáár laat die nagtelik besoeker ietsie plotsend val
en om die deur wat na my kamer lei
loer ‘n stoutgesiggie van ‘n alte bekende karnallie
jy kan mos nooit jou hele sakkie sand
laat val nie…

‘n hele nag en nog ‘n dag, ek weet glad nie eens hoe lank nie
raak ons toe almal aan die slaap, van hier tot in die Kaap,
Klaasvaak inkluis, slaap toe heerlik snoesig in ons huis!

  • Dalene Mellet
  • dankie DF Malherbe: “Wat is die slaap, ‘n wondersoete ding”

Ja, Jan Alleman …

Sommer net – deur Ta’ Meraai

Ag jong ek wou al so lankal terugskryf, maar dit was ‘n paar maande van breke en breuke.

Die een demmitse ding na die ander het speek gebreek en die wiele bly stukkend.

Die moeilikheid het al hier einde 2018 se kant begin. Klein jakkaltjies … Probleem is teen die tyd wat ek begin besef het – toe staan die moeilikheid geil op die land. Dis tog vreemd hoe ons so blindloop tussen die probleme. Jy sien en weet en neem selfs so in die verbygaan notisie – en stel dan uit vir later, want dis mos nog nie ernstig nie.

Seker die dat ons in Afrikaans so baie spreekwoorde daarvoor het. Die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. Of die strooihalm wat die kameel se rug knak.

In elk geval – hierdie jaar is op ‘n stewige drafstap oppad middel toe en die meeste van die vet jakkalse (hulle het nie klein gebly nie) is geslag en die velletjies brei mooi vir ‘n winterskaros.

Ek wou jou maar net laat weet dat alles weer glad loop en sien tog uit na jou volgende gesels.

Stuur groete vir die vrou en soen die kleinkenners – hulle is tog al wat nou nog ‘n sonopkoms die moeite werd maak.

Liefgroete

Ta’ Meraai

Die Wêreld is Reg?

Deur: Jan N. Alleman

Hi Ta’ Meraai,

Ek skryf sommer net.

Nee, eintlik skryf ek om te sê hierdie jaar het my bestorm. Kompleet nes my oom se befoeterde ou  Brahman bul dit sou doen. ’n Spreekwoordelike bul in ‘n glas winkeltjie. Nou lê my drome, wat ek doer op Voëlroepersfontein se stoep gedroom het, op die vloer versprei, amper soos ‘n oorvol boks legkaartstukke wat op die vloer geval het.

Stadig, op my kniegies, sal ek maar die stukkies by mekaar skraap en weer begin bou en kyk wat pas waar. Die tyd snel voort en die jaar se lont brand korter. Maar, miskien is dit goed so, al hierdie voortsnellery, want dan kom die trein vinniger by die stasie uit. En, Ja, Ta’ Meraai, ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie, die bene raak nie jonger nie. Daar’s nie meer regtig sprake van huppel oor die klippe nie. Net voort struikel! So wat kan snel moet maar snel.

Die reën het ook nog nie gekom nie en die viervoet kinders van die veld gaan sukkel hierdie jaar. Dis droog en daar gaan hongersnood in hulle land wees, maar nie so groot hongersnood soos in die twee voetvolk se land nie. Nee, in die tweevoet volk se veld is daar ook hongersnood, maar dit is ‘n ander soort hongersnood. Dis ‘n hongersnood aan eerlikheid, opregtheid, en ordentlikheid. Dis ‘n hongersnood van omgee vir ander wesens, tweevoet, viervoet en die voetlose volkies van die veld. Maar gierigheid het hulle pense vol wind gemaak en hulle dink hulle is versadig. Hulle belieg hulle self.

Ta’ Meraai, ek sukkel maar met die mensdom. Wie het gedink ons moet praat van mensdom? Dis seker maar iemand wat verstaan het van dom. Mense maak hope skuld om goeters te koop wat hulle nie gaan gebruik nie. Alles om ander mense te beïndruk van wie hulle nie hou nie. Ons almal ken die storie. Dis dom, maar mensdom maak so. Dan praat hulle van rykdom!

Mensdom laat te veel bees al die gras van die vlaktes opvreet en dan loop die viervoet kinders na ’n ander vlakte. Dan kom vreet die leeus hulle beeste. Dan ruk hulle vir hulle op en vermoor die groot jagters van die veld. Maar ons noem vooruitgang en vooruitgang bring rykdom en as ek meer rykdom as my buurman het dan’s die wêreld reg. Dan klim ons op sosiale media en skel almal uit omdat daar geen beheer oor die arm gepeupel op die straat hoeke is nie. Miskien, na al die geskryf verstaan ek mensdom en rykdom bietjie beter.

Ta’ Meraai, dis sommer net ek, Jan, wat bietjie skryf. Moenie bekommerd wees nie, die wêreld is reg…   

Vrymaker


© Jaco Groenewald

Elke haar staan soos soldate ingebaan
hoendervleis van kroontjie tot toontjie
as wel die oë die venster van die siel is
die vel die plek waar wisseltrofees staan

Uit my binnekamer ñ stem se angs-sein
bring my vir ñ kortstondige blik tot halt
maar asem haal en dink voor jy praat..?
slegs ñ gawe gegee aan die skoon en rein

Soos ñ renperd reg vir die hek se oopslaan
haas my hofie na handgemaakte spoke
warmbloedig gemaak sonder ommekeer
toe jou bom-botsing met my wentelbaan

Nes ñ kurkprop op die oseaan rondgeswerf
elke golfbesluit geneem sonder my seël
elke stormwind wil dien as ñ kristalkyker
tot jy jou naam op my hart moes kom kerf

Jesus het jou lief

Dit is net die Heer

Wat jou kan oortiug om te bekeer

Dan wil jy hê meer en meer

Van wat die Heer jou kan leer

Ek maak heel en Ek genees

Aanvaar jy net die Heilige Gees

In my arms wil Ek jou vas hou

Doen My wil en wees getrou

‘n Groot getuie sal jy vir my wees

Selfs daar waar hulle van jou gaan lees

Orals oor sal jy van My getuig

En met My teenwoordigheid

Sal hulle My toejuig!

Katrien

eie foto

In die Weskaap

Wat ek vandag hier beleef

Sal ek nimmer ooit vergeet

Met blomme wat dans in die wind

Net so uitgelate soos ‘n kind

Die kleure het my weg gevoer

Op ‘n rustige gemoets toer

Die blomme is onbeskryflik mooi

Ek moet myself weer hierheen nooi

Om self die blomme so te kan aanskou

Sal ek my lewe lank onthou

Met ‘n mengelmoes van kleur so mooi

Die natuur so in blomme getooi

Katrien

eie foto